Ondersoek na privaat gesondheidsorg ’n slinkse set vir staatsinmenging

Hospitaal_wagkamer_vuurvreters_pixabay-2.jpg

Foto: pixabay.com

Daar hang so baie vraagtekens oor die Mededingingskommissie se twyfelagtige en belaglik duur ondersoek na die privaat gesondheidsorgmark dat dit moeilik is om te weet waar om te begin om dit te ontleed en te kritiseer.

Na berig word, het dit meer as R200 miljoen gekos en vyf jaar geneem om te voltooi. Met deeglikheid is daar niks fout nie, maar die koste van hierdie verslag is buitensporig en die geld kon beter aangewend gewees het. Bowendien is die verslag se omvang onvoldoende in die lig van die bevindings, die onvolledigheid daarvan en hoe lank dit geneem het om saam te stel.

Die verslag beskuldig Netcare, Mediclinic en Life van monopolistiese gedrag in die privaathospitaalsektor. Dat hulle die leeueaandeel van privaat hospitale in Suid-Afrika besit is waar, maar dit is belaglik en onredelik om hulle vir hul sukses te veroordeel.

Volgens die verslag monopoliseer hierdie rolspelers die mark en hou hulle kleiner rolspelers uit terwyl hulle pryse hoog hou. My eie navorsing vanjaar toon dat groter rolspelers nie toegelaat word om uit te brei of bykomende fasiliteite in stede en dorpe landwyd te bou nie, maar dat kleiner rolspelers ook nie die gaping benut nie.

Uitvoerende hoofde van privaat hospitale in verskeie dele van die land het aan my gesê dat hulle al so lank gelede as 2016 en 2017 aansoeke vir ekstra beddens en fasiliteite (om meer spesialisdienste te lewer) ingedien het. Die staat bring eenvoudig nie sy kant om hierdie aansoeke goed te keur nie. Daar is dus ’n groeiende vraag na meer gesondheidsorgdienste van gehalte op baie plekke oor die hele land, grond is beskikbaar, die hospitaalgroepe loop al die risiko’s en tog verseg die regering om die lisensies toe te staan.

Die rede wat dikwels verstrek word, is dat daar genoeg beddens in ’n sekere gebied is. Dit is moeilik om te bepaal of dit wel so is, maar waarom sal ’n privaat hospitaal ’n risiko loop as hy nie seker is dat hy die vraag sal kan absorbeer nie? Die ander aspek van hierdie berekening is dat dit openbare hospitale in die prentjie bring. In die Wes-Kaap is dit dikwels nie ’n probleem nie omdat gesondheidsorg in die openbare sektor in ’n goeie toestand is. Maar selfs daar is die vraag groter as die aanbod omdat die bevolking op baie plekke groei, en die privaat sektor het ’n groeiende rol om te speel.

In landelike provinsies soos, byvoorbeeld, Limpopo staan sake egter heeltemal anders. In hierdie provinsies is die openbare hospitale en die sorg wat hulle verskaf, oor die algemeen van uiters swak gehalte en is die handjievol privaat hospitale eilande van uitnemendheid wat uitgestrekte geografiese gebiede bedien. Die dienste wat in die openbare sektor en in die privaat sektor gelewer word, kan nie vergelyk word nie – al is dit presies wat die ondersoek na privaat gesondheidsorgdienste en die regering wil doen. Selfs Gauteng se openbare gesondheidsorgfasiliteite is oorlaai en gaan agteruit as gevolg van die toenemende vraag.

Kleiner rolspelers het voldoende geleentheid om hospitale en klinieke te begin bou en gehaltedienste te lewer, maar tog doen hulle dit nie op beduidende skaal nie. En intussen word groter hospitaalgroepe verhinder om uit te brei en die dienste te lewer wat mense nodig het. Ten minste het hulle hospitale en klinieke gebou waar niemand anders wou nie en mense behandel wat andersins na die vervallende staatshospitale sou moes gaan. As die regering nie sy plig versuim het om gehaltesorg vir die publiek te verskaf nie, sou daar geen behoefte aan mediese fondse en die privaat gesondheidsorgsektor gewees het nie. Iemand moes skaalbesparing skep en landwyd uitbrei, anders sou ons sonder gehaltegesondheidsorgdienste in Suid-Afrika gewees het.

As die regering regtig wil hê dat kleiner kettinghospitale floreer, moet hy hulle uitlos en hierdie erg gereguleerde sektor dereguleer. Organisasies wat lank gelede klein begin het en suksesvol geword het deur in behoeftes te voorsien, werkgeleenthede te verskaf en wêreldklas-standaarde te handhaaf, moet nie gestraf en verguis word nie.

Daar is verskeie belangrike sektore in die ekonomie waar ’n paar rolspelers oorheersend is. Waarom word net die gesondheidsorgsektor uitgesonder?

Het die stigters van Capitec oor monopolistiese gedrag deur Absa, Nedbank, Standard en FNB gekla toe hulle begin het met wat nou een van Suid-Afrika se gewildste en suksesvolste banke is? Dalk het hulle, maar hulle het nogtans voortgegaan om met die groot banke mee te ding deur onbenutte geleenthede aan te gryp en dinge anders te doen, en sedertdien het hulle die aard van die bankwese in ’n oënskynlik versadigde mark verander.

In die laaste instansie is die verslag ’n poging om die instelling van Nasionale Gesondheidsversekering (NGV), met al die gepaardgaande staatsinmenging in die gesondheidsorgsektor, te regverdig.

Die ondersoek is ’n slinkse set om aan die staat meer mag te besorg terwyl groter ondernemings gedemoniseer word en in skaamte die aftog blaas voor onwaarhede, kognitiewe sydigheid en bekookte syfers. Die doel daarvan, ofskoon dit so gestel word, is beslis nie om “die klein outjies” te help om ’n vastrapplek in die privaat gesondheidsorgsektor te kry nie. NGV laat baie min ruimte vir privaat gesondheidsorgverskaffers, en kleiner rolspelers sal nie oorleef as die grotes nie kan nie. En hoe kan ’n staatsoorheerste gesondheidsorgsektor nie ’n monopolie wees nie?

Voorts is dit wat nié in ’n verslag staan nie, net so belangrik as dit wat wel daarin is. Wat nie in hierdie verslag gemeld word nie, is dat die openbare gesondheidsorgsektor ’n uiters veeleisende plek is en dat die aanvanklike NGV-projekte jammerlik misluk het. Die verslag bevat nie al die gevallestudies van mishandeling, swak diens en opsetlike nalatigheid deur personeel by hierdie instellings nie. Dit meld nie die gebrek aan verantwoordbaarheid by staatshospitale as gevolg van die greep van Cosatu-geaffilieerde vakbonde nie. Dat mense sterf of gestremd raak omdat swendelaardokters (ja, daar is talle sulkes in die openbare gesondheidsorgsektor) hulle verkeerd behandel, word net deur die pers en die burgerlike samelewing onthul.

By die bekendstelling van die nuwe teenkorrupsieforum vir die gesondheidsektor is daar onthul dat die openbare gesondheidsektor jaarliks sowat R22 miljard deur bedrog en korrupsie verloor. Dit is ’n konserwatiewe syfer wat nie al die nalatigheid insluit nie. Dit is so dat tariewe in die privaat sektor opgeblaas word, maar hierdie situasie is baie skokkender en gevaarliker.

Die regering, die ANC, die SAKP en Cosatu moet eers voor hul eie deur vee voordat hulle die privaat sektor uittrap en namens die publiek besluite probeer neem oor ’n belangrike aangeleentheid soos gesondheidsorg.

 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Eugene Brink

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ’n politieke en ekonomiese ontleder by AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

John ·

Die ANC wil sorg dat alles in chaos, aan flarde, dolleeg en vernietig is ooreenkomstig hul visie en mandaat. Watter hemelmagte eerbiedig die ANC & kie? Dit gee die antwoord op die pad wat gevolg word en die uitloop. Wiskunde word doseer vir toepassing in die daaglikse lewe. Hoekom maak ons nie die som nie. (a+b+c)-(Rxxxxxxx-triljoen×10)=zero.

Jerry ·

Of julle julself gereed maak of nie vir slinkse sette op elke liewe privatiseringsterrein, julle sal nie sonder die ondersteuning van mede Suid Afrikaners en die buiteland gereed en bestand wees teen die staatsmaginmenging met nasionalisering van privaatbates nie. Net soos julle nie bestand was teen alles wat reeds verswart is, gaan julle nie op julle eie, die rewolusionere verswarting van privatisering keer nie. Julle gaan moet ooreenkomste van samewerking beding met ander opposisiepartye, met alle anti-rewolusioneres, ingesluit die DA. Eintlik het julle reeds soveel vyande gemaak dat ek twyfel of enigiemand wie ideologies van julle verskil, julle wil ondersteun. Julle het saam met die ANC/EFF teveel skade aangerig om die afrikaner en sy taal uit te sluit uit die breer Suid Afrikaanse gemeenskap en te probeer isoleer by Solidariteit. Nou moet arme Frederik en Leon se kinders in engels gaan studeer by die universiteite, want nie almal wil by akademia instellings studeer nie. Hulle wil gaan studeer waar pappa en mamma gestudeer het en julle het dit goed opgedon—! So ja en nou loop julle private sakeryk gevaar om ook te ontspoor. n Dilemma soos waarin julle privatisering sakeryk hom eersdaags gaan bevind, gebeur omrede julle nie wil luister nie. Verdeling van anti-rewolusionere Suid Afrikaners en die afrikaner is verswakking en dit is waar julle julself bevind in plaas van by eendrag met alle anti-rewolusioneres, omrede slegs so n eendrag kan mag maak, in n demokratiese Suid Afrika. Julle het dus nie mag nie, slegs geleende tyd!

Stephan de S ·

Hd artikel spreek al die vermoedens aan waaarmee ekself rondgeloop het.

JC ·

Wel gestel, Meneer. Ek stem volhartig saam met die skrewe hierbo. Dit is werklik ‘n bron van kommer dat die regering wel druk om voort te gaan met die NVG initiatief, dit sal misluk en nog meer stres op die bevolking plaas. Wat ook vir my uitstaan soos ‘n paal bo water, is die onkunde waarmee dit aangepak word, daar is eenvoudig nie meer enige kennis op die gebied oor in die regerings instansies nie, maar dit sal hulle nie verhoed om voort te gaan nie. Daar is ‘n kultuur van “Ons erken nooit ons foute nie” – by die huidige regering. Geld is alles vir hulle en hulle sal tot enige lengte gaan om hulle self te verryk, ten koste van alles en almal rondom hulle. Dit sal ongelukkig groot blootstelling en dalk revolusie neem voordat die gewone Suid Afrikaner daar buite besef dat die heersende party niks behalwe hulle eie belange in gedagte het nie.

Schalk ·

Dit is sekerlik die enigste land wat vooruitgang in al die sukkelende staatsbeheerde instansies beveg. Daar is werklik alternatiewe dienste en opsies vir Krag , Gesondheid , SAUK , Denel , ag noem dit maar op waar kleiner meer ge-organiseerde proffesionele besighede kan uitbrei en ondersteuning infrastrukture bied. Maaaaar en dit is ‘n groot struikelblok vir die ANC want hulle sal hulle onbevoegdheid blootstel. Dus BEEEE en sulke onbenullige struikelblokke om welvaart en Voorspoed te blokeer. Vergeet ras en geslag. Kry bevoegde mense en instansies wat wil sukses behaal en stimuleer die ekonomie eerder. Ek maak ‘n stelling . Politiek gaan nie die land laat groei nie maar eerder laat bloei.

Jerry ·

Om weg te skram oor die groter wordende moontlikheid van nasionalisering en verkadering van nie net private gesondheidsorg nie, maar van alle privatisering, sou om die minste te se oneerlik en uiters onverskillig wees teenoor beleggers, sakelui en die se belange. Al die feite aangaande die “failed state” se beleid en planne dui daarop dat die ANC van plan is om onder CR se leiding, privatisering en die se fondse te kaap, waarna eiendomsreg outomaties ook in gedrang kan kom!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.