Ondersteun mekaar

paartjie-ondersteuning-huwelik

Foto: Pexels/Pixabay.com

Deur René Basson, bemarkingsbestuurder: Intiem

Die jaar is reeds volstoom aan die gang met leerders wat teruggekeer het skool toe – 2017 gaan beslis ʼn jaar wees met baie moeilike uitdagings op verskeie platforms. Dit is onvermydelik dat ons almal geraak gaan word deur kwessies waarby ons nie direk betrokke is nie, en waaraan ons dikwels niks kan verander nie.

Sulke kwessies wat ons omstandighede raak, lei tot verhoogde spanning, juis omdat ons min of niks aan die oorsaak van die situasie kan doen nie. So kan die politieke situasie negatiewe finansiële gevolge vir huishoudings inhou, terwyl stakings en studentebetogings weer ons kinders se verdere studie kan ontwrig, om maar twee scenario’s te noem.

Verhoogde spanning gaan gepaard met ʼn legio simptome en aksies wat deel is van ons daaglikse realiteit.

Dit is juis waarom elke gesin nou reeds die keuse moet maak om mekaar in 2017 te ondersteun in alle omstandighede, des te meer in situasies wat meer spanningsvol, onbeplan en buite ons beheer is. Om binne die veilige grense van ʼn gesin te wees, waar mense mekaar onvoorwaardelik ondersteun met begrip en genade, bied ʼn vesting van hoop, vrede en liefde.

Die jaar kry spoed en kort voor lank steel die alledaagse sleurwerk kosbare gesinstyd. Neem daarom nóú reeds aksie – beplan doelbewus om gesinstyd in te ruim, so gereeld moontlik.

Navorsing toon dat gelukkige paartjies fisiek gesonder is en dat die uitwerking van spanning minder is, waarskynlik omdat daar ondersteuning is. Kinders uit gelukkige gesinne presteer beter op skool omdat daar sekuriteit en geborgenheid by die huis is.

Liefde is ʼn kernbehoefte van elke mens en om iewers te behoort waar liefde en veiligheid is, is ʼn voorreg wat nie almal ken nie, iets wat beskerm en gekoester moet word deur diegene wat wel hierdie voorreg ken.

Die raamwerk van ʼn gelukkige gesin is ook ruimte waarbinne gesinslede vlerke kry; ʼn gesin se inspirasie, ondersteuning en motivering wek vertroue en groter waagmoed om méér te doen, groter te doen, beter te wees.

Gryp elke geleentheid aan om hierdie voordeel vir jou geliefdes te gee – om die positiewe verskil te wees wat jou maat of kind vandag nodig het. Niemand weet wat môre kan gebeur nie – leef daarom voluit in vandag asof daar nie ʼn môre bestaan nie, leef só saam met jou gesin dat elke dag ʼn kosbare herinnering inhou. Leer jou kinders om dankbaar te wees vir ʼn gesin, herinner jouself daaraan om dankbaar te wees vir jou maat en gesin. Dankbaarheid maak ons afhanklik en hou ons nederig.

Dit is vandag jou keuse om 2017 te omhels, van elke uitdaging ʼn geleentheid te maak. Hou die verhoudings in die gesin kerngesond, staan saam teen elke storm, deel in mekaar se vreugde en oorwinning, om aan die einde van die jaar dankbaar terug te kyk en te sien in watter groot seën die gesin gedeel het.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

gatiep ·

Ek hou nie van die soort stres waanaan jy geen verandering kan maak nie,dan is daar nie meer n wil om aan te gaan nie.Kan n mens dan net op hoop dit gaan beter raak aangaan.

dr Sakkie van der Merwe ·

Liefde en ondersteuning is goed maar as die gesin se fondamente nie gevestig is in hul geloof in God Drie-enig nie, sal alles verkrummel. Dit is juis nou die tyd dat elke ouer en elke volksgenoot terugkeer na dit wat die Woord ons leer. Kom ons bring die huisgodsdiens weer terug, kom ons let op ons kinders se opvoeding, tuis en veral in staatskole, kom ons bring Sondag terug soos wat die Bybel ons leer – dan leef ons nie net vir vandag nie maar vir more en elke dag van ons lewens tot en met die wederkoms.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.