Onderwys: Beweging volg dubbele strategie teen Lesufi se tirannie

Deur Francois Redelinghuys

Francois Redelinghuys

Die ambisieuse beroepspolitikus Panyaza Lesufi is besig om onder die vaandel van edel waardes, soos nierassigheid en gelyke geleenthede, kinders van oor die hele Gauteng-provinsie in die steek te laat. Trouens, hy is besig om hul regte, wetend of onwetend, te vertrap. Die ironie van die toedrag van sake wat hom tans in Gautengse onderwys afspeel, is dat hy met sy absolute aanslag op Afrikaanse skole nie net Afrikaanse kinders nie, maar kinders van ander taalgroepe ook benadeel.

Lesufi se departement het verlede week in ’n onverklaarbare verklaring gestel dat, om te verseker dat alle leerders plasing in skole kry, Afrikaans nou as bykomende taal van instruksie in sommige township-skole geïmplementeer word en voorts dat enkelmediumskole wat ’n lae getal aansoeke ontvang het, met Engelse skole sal saamsmelt. Die geskiedenis bewys egter dat die uiteindelike gevolg hiervan die onafwendbare wegdoen van Afrikaanse onderwys sal wees.

Wat die departement egter nalaat om te verklaar, is hoekom daar in die doodsnikke van November soveel kinders is wat nog nie geplaas is nie en hoekom die aanlyn stelsel wat hy met soveel fanfare van stapel gestuur het, het absoluut misluk het. Of het dit?

Die hofuitspraak vroeër vanjaar ná afloop van die Overvaal-debakel het hom ’n dwarsklap gegee. Ná dese word dit al duideliker: Lesufi se teiken is van meet af Afrikaanse skole, ongeag hoeveel kinders vanuit verskeie groepe daaronder ly.

Beweging se strategie: Veg en bou

Instellings in die Solidariteit Beweging maak gereeld gebruik van die howe om oortreders voor stok te kry. Ja, dit ís belangrik om deurentyd druk toe te pas en seker te maak dat amptenare nie hul magte oorskry nie.

Dit is egter nie die enigste rede nie. Die ANC werk al vir dekades met die toets-die-water-strategie waar hulle kwessies opper om te sien hoeveel weerstand daar gebied word. Indien die weerstand genoegsaam is, retireer hulle en plaas dié kwessies op die lange baan om later weer te toets. Dus is dit belangrik om weens ideologiese redes te veg. Ons kan dit egter nie net daar laat nie.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum het onlangs gestel dat dié betrokke instelling dikwels ’n tweeledige strategie van veg en bou volg. Wat onderwys betref, is daar nie ’n beter wyse om dié strategie wat oor die hele Beweging strek, te beskryf nie.

Verskeie instellings in die Solidariteit Beweging is betrokke by onderwys en skole. Hieronder tel die Skoleondersteuningsentrum, AfriForum asook Solidariteit. Elkeen van hierdie instellings se rol en toepassing van hul spesialisareas met betrekking tot hierdie kwessie is broodnodig omrede die volle omvang van die krisis in skole werklik groot insette verg.

AfriForum het vandeesweek met die vegbeen van die saak afgeskop. In hul nuwe veldtog, #LesufiMoetVal, het hulle hierdie week reeds ’n memorandum teen Lesufi by die Gautengse premier ingedien en voorts strafregtelike klagtes rakende die Gautengse onderwysdepartement se gruwelike wanbesteding by die SAPD ingedien.

Solidariteit werk voorts hard om onderwysers wat tans in die beroep staan, by te staan en te verteenwoordig om sodoende te verseker dat onderwysers nie slagoffers in Lesufi se spel word nie. Die Skoleondersteuningsentrum werk aan die anderkant weer aan alternatiewe oplossings. Saam met ander rolspelers op die gebied van onderwys, spits dié instelling hom daarop toe om goeie Afrikaanse alternatiewe tot onderwys daar te vestig, sowel as verdere ondersteuning en opleiding deur die gebruik van moderne tegnologie en toepassings daar te stel.

Om ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms vir ons kinders te bied, moet al drie hierdie instellings van die Solidariteit Beweging tegelykertyd veg en bou.

  • Francois Redelinghuys is kommunikasiebestuurder van die Solidariteit Beweging. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Anti DA ·

Afrikaans spreukendes moet maar die hand rem hoog optrek.

Lou ·

Ek dank die Vader dat my kinders klaar is met skool en Universiteit want soos dit nou gaan in die onderwys het skole en Universiteite letterlik ‘n slagveld geword vir Politiek en geweld. Ek wens so iemand kan uitvind wat die ANC se planne regtig met SA is. Op hierdie stadium moet ek die ouens glo wat totale chaos en verwoesting voorspel want wragtig daar is nie een gebied waar die regering betrokke is waar daar ‘n lipuntjie is nie. Hulle verwoes sover as wat hulle gaan. Ek glo vas dat net God die land van totale ondergang kan red.

Gert ·

Ek is seker dat Engelssprekende onderwysers absoluut sal weier om klasse in Afrikaans aan te bied, hulle sal aanvoer dat hulle Afrikaans nie goed genoeg is nie. Ek het al baie gewonder hoekom is Afrikaanse onderwysers so gewillig om in Engels klas te gee, as hulle net weier kan Lesufi nie sy “Engelse” skoliere plaas in Afrikaanse skole nie.

Hans Richardt ·

Geen rede waarom Afrikaanssprekendes “handrem hoog moet optrek” nie.
Moedertaal onderrig is ‘n universele reg en basta met res, Lesufi ingesluit.

piperno ·

My laerskool se leese was “eendragt maakt magt”. Dit herinner my dat slegs deur eenheid kan ons nie net oorleef nie maar groot hoogtes beryk.

Judge Dredd ·

Ja, maar eendrag met wat?
Gewoonlik die wat die Afrikaner alreeds soveel maal bedrieg uitverkoop het wat praat van saamstaan,saamwerk…..En hulle is nie net in die opposisie maar ook te vinde onder die Afrikaner self….

Feite ·

Afriforum/solidariteit se begrip van “veg” laat veel te wense oor. Julle kan nie eers afrikaans as taal of die boere beveilig nie of die vertoon van die vlag behou nie, maar julle gebruik die term “veg”. Hou julle eerder net besig met dit waarin julle kundig is en bou julle sakeryk. Niemand neem julle ernstig op as julle van veg praat nie, omrede dit is om die minste te se, uiters komies!

Grens ·

“Feite” , nou wat doen jy om te veg. Ek sien jou nerens besig om die euwels te veg nie. Kan jy my asb vertel van jou groot geveg, want ek sien jou nie daar nie!! Ten minste probeer hulle iets regkry. Ek dink jy kan net jou sleutelbord “veg”.

Feite ·

@Grens. Om emosioneel te raak en te wil “grens” omdat verkeerde terminologie gebruik word, gaan jou nerens bring nie en dit gaan solidariteit niks in die sak bring nie. Afriforum en solidariteit moet net die regte terminologie inspan om die regte boodskap oor te dra. Veg is n bietjie te dramaties om te gebruik, so dramaties dat dit eintlik komies is en niemand neem tog iets komies of toneelspeel, ernstig op nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.