In Nederland is daar twee dinge wat my mateloos beïndruk. Die een is die groot aantal pragtige boekwinkels. Die ander is dat goeie of gewilde boeke skaars elders in die wêreld verskyn, of dit word in Nederlands vertaal. Tog sien ’n mens al minder mense wat byvoorbeeld op openbare vervoer lees – die meeste passasiers is maar met hul selfone doenig.
Lees as noodsaaklike aktiwiteit het juis die afgelope week aandag geniet in Nederland ‒ kommer is uitgespreek oor probleme wat nie vir Suid-Afrikaners onbekend sal klink nie. Die resultate van ’n studie wat driejaarliks in 79 lande onder 15-jariges onderneem word, is naamlik pas bekendgemaak. Die internasionale peiling staan as die “Programme for International Student Assessment”, oftewel die PISA-studie bekend. Die bevindings wat nou aangekondig is, handel oor navorsing wat in 2018 onderneem is.
Hiervolgens het die leesvermoë van die Nederlandse jeug in vergelyking met die resultate van 2015 gedaal. Daar is ook bevind dat Nederlandse skoliere al minder van lees hou. Uit die toetsgroep het die persentasie van tieners van slegs lees as hulle gedwing word om dit te doen, van 34% in 2015 na 42% in 2018 toegeneem. Byna die helfte van die vyfduisend Nederlandse deelnemers aan die peiling het lees as tydvermorsing beskou.
Die land is nou in die ses en twintigste plek op die PISA-lys wat leesvaardigheid aanbetref, teenoor die vyftiende plek in 2015. Wat prestasie in wiskunde en natuurwetenskappe aanbetref, presteer Nederland wel beter: op die wiskundelys is dit in die negende posisie en vir prestasie in natuurwetenskappe vyftiende.
Ongelukkig neem Suid-Afrika nie aan die toets deel nie. Vir ons lyk die bogenoemde bevindings dalk steeds na iets om van te droom, maar die Nederlandse opvoedkundiges en selfs politici spreek kommer uit oor hoe dié agteruitgang die toekomstige internasionale posisie van Nederland sal raak.
Verdere interessante inligting is dat Nederlandse meisies oor die algemeen meer entoesiastiese lesers as seuns is. Aansluitende studies toon dat meisies meer deur nuuskierigheid geprikkel word om te lees as seuns. Hulle put ook meer genot uit die “verdwaal in ’n goeie storie”. Hulle vind verder meer emosionele ontlading in lees wanneer hulle byvoorbeeld verveeld, hartseer of kwaad is, as hulle manlike eweknieë.
’n Tendens wat ook in Suid-Afrika groot kommer veroorsaak, is dat Nederlandse leerders al minder daarin slaag om te lees met begrip. Hulle sukkel om die inligting wat hulle lees, te kan beoordeel en nadenkend te vertolk. Die Nederlandse kurrikulum word hiervoor blameer, omdat dit tans min aandag gee aan oefeninge om dié vaardighede te ontwikkel. Die span wat vir die ontwikkeling van die Nederlandse leerplanne verantwoordelik is, beveel nou aan dat “leerders moet leer om krities met digitale en niedigitale inligting om te gaan en deeglik te let op die betroubaarheid en bruikbaarheid daarvan”.
Daar word gehoop dat groter leesvaardigheid sal lei daartoe dat die jeug ook weer met meer genot sal lees.
Die rol van tegnologie word aansluitend onder die loep geneem – onder meer word gemeen dat skoliere gewoond raak daaraan om veral kort stukkies teks op hul selfone te lees en minder tyd met lang tekste en boeke deurbring, wat dan hul lees- en konsentrasievermoë nadelig raak. Oproepe word gedoen dat die verskynsel meer indringend nagevors moet word om die omvang daarvan te bepaal en oplossings daarvoor te vind.
Nog ’n ernstige probleem wat met die studie se bevindings in verband gebring kan word, is die tekort aan onderwysers in Nederland. In September vanjaar is al met besorgdheid kennis geneem van die aantal vakante poste wat nie gevul kan word nie. In Amsterdam alleen was daar in daardie stadium byvoorbeeld 280 beskikbare poste in openbare skole, en in Den Haag 197. Die krisis word landwyd ervaar.
In gesprekke met akademici is aan my genoem dat al minder jongmense in “roepingsgedrewe” loopbane soos onderwys en verpleging belangstel. Die poste word ook toenemend deur dames gevul. In skole is die negatiewe gevolg dat seuns ’n tekort aan positiewe manlike rolmodelle het.
Daar is heelwat wat Suid-Afrika uit hierdie inligting kan leer. Anders as die Suid-Afrikaanse onderwysowerhede, reageer die Nederlanders nie met veroordelende uitsprake oor die toetsprosesse nie, maar begin dadelik oplossings soek. Die toekomstige internasionale rol van Nederland staan sentraal in die beplanning. Foute word erken en ruimte vir verdere navorsing om die omvang van die probleme beter te verstaan, geïdentifiseer. Of dit positiewe resultate vir Nederland tot gevolg sal hê, sal die tyd moet leer, maar ten minste is daar reaksie en goeie bedoelings.
Die belangrikste les waarvan Nederland en Suid-Afrika moet kennis neem, is die noodsaaklikheid daarvan om te lees, en dan veral te lees met begrip. Dit bepaal nie alleen die toekoms van die individu nie, maar kollektief die vooruitsigte van elke land. Omdat dit so belangrik is, kan die verantwoordelikheid vir die kweek van ’n liefde vir lees nie alleen aan skole oorgelaat word nie, maar moet ouers en grootouers van kleins af vir kinders die passie aanleer. Voorlees, saamlees en later gesprekke oor boeke en ander leesstof kan ’n groot verskil in dié verband maak.
Met biblioteke, gratis aanlyn leesstof en die uitruil van boeke tussen vriende, is lees ’n aktiwiteit wat bekostigbaar bly. En ja, in die geval van boeke in Suid-Afrika, ’n plesier wat nie deur beurtkrag bederf kan word nie!
Die ding met beurtkrag is, slegs blindes kan dan lees want jy het lig nodig om te kan lees.
Ek self is mal oor lees. Soos hulle sê, dit voer jou weg na ‘n ander wereld.
Jammer biblioteke in Suid Afrika is nie meer op Saterdae oop in ons omgewings nie.
Hulle is ook net gedurende werksure oop. Dit ontmoedig lees.
My vrou weet al , as ek die 4de of 5de bladsy van n boek omgeblaai het, dat sy niks met my uitgerig gaan kry totdat ek die boek deurgelees het nie. ( ek doen darem so af en toe iets anders tussen in)