Onderwys: Fokus op standaarde

onderwyser

Foto: Homeyesterday.com

Leonard van der Dussen

Daar is werk om te doen in die onderwys. Wêreldwyd begin die oordrewe sosialistiese rol van die staat en die klem op eksamenuitslae pleks van leer en ervaring hom wreek, met ’n samelewing waarvan vermoëns verswak.

In Suid-Afrika beleef ons ’n nog hewiger problematiek met die politieke oorheersing wat standaarde afbreek, en die Afrikanervolk wat die leiding moes neem in Suid-Afrika wat tans in ’n identiteitskrisis is en met ’n selfvertroue-probleem worstel.

In hierdie artikel fokus ons op Afrikaneronderwys, en eintlik net een aspek in twee dele, naamlik oorgerustheid as gevolg van verouderde denke en waar die fokus moet wees.

Dis goed om ’n mens se eie instellings te steun en positief daaroor te praat. Dit baat egter niemand nie, ook nie die huidige geslag leerders nie, om prestasies bewustelik of onbewustelik op te blaas. Sodoende ontstaan daar ’n gerustheid wat verband hou met ’n gemeenskapsverskynsel wat steeds in Suid-Afrika waargeneem word, naamlik: As ek Afrikaner is, is ek deel van ’n heldevolk wat prestasies lewer en hoef dus nie veel verder te dink of te doen nie. Die gedagte dat “solank dit Afrikaans is, is dit goed” werk nie.

’n Voorbeeld van grondvlakdenke uit die reaksie op die BCVO-matrieks van 2015 se uitslae: Op Facebook sê ene Estelle Kruger van Wyk in reaksie op die uitslae: “Die syllabus (sic) van die staatsskole (sic) is ’n mislukking!! Die standaard word aangepas by die anderskleuriges. Uiters lae standaard. Die BCVO gee die staatskole ’n groot pak slae.

Kom ons kyk nugter na feite:

  • Die BCVO-matrieks het die IEB se eindeksamen geskryf. Die algehele slaagsyfer van die IEB is 98,3%, terwyl die BCVO-groep se slaagsyfer 95% is, dus met meer as 3% onder die gemiddeld.
  • Die staatseksamen se matriekslaagsyfer is 70,7%, maar dit is hoogs waarskynlik dat die gewese Model C-skole se gemiddelde slaagsyfer in die orde van 95% is (gebaseer op die gemak waarmee sulke skole in ’n see van lae standaarde behoort uit te styg, en op gegewens uit studies van vorige jare se matriekuitslae).

Die IEB-eksamen se standaard word deur waarnemers van ’n hoër standaard as die staatseksamens geag, maar of dit werklik beteken moeiliker vraestelle of net beter aanbieding van die onderwys is nie bewys nie, gegewe dat Umalusi ook die IEB se vraestelle reguleer en die IEB akkrediteer. Die IEB voldoen aan die KABV-struktuur en nasionale kurrikulumverklaring.

Die BCVO-skole moet eerstens met die eerstewêreld-komponent, wat min of meer deur die IEB verteenwoordig word, vergelyk. Daaraan gemeet, is daar nog werk om te doen: 95% is onder die gemiddeld, al is 95% al taamlik goed. Verder is hulle veronderstel om minstens op peil met die gewese Model C-skole (waarmee goed bestuurde staatskole bedeel met ’n redelike mate van gemeenskapsbetrokkenheid en personeelkundigheid) te wees, en is dan op gelyke voet as die 95%-ordegrootteslaagsyfer as maatstaf gebruik word. Van die staatskole “pak slae” gee, is daar egter geen teken nie, hoe graag ’n mens dit ook al met al die moeite wat in die bedryf van ouerskole ingaan, sou wou glo.

Die BCVO, en die IEB, en ICO, is grootliks “aangepas” by die staatskurrikulum. Hulle stel wel iets van hulle eie standaarde, maar met net nog ’n regeringsinstelling in die vorm van Umalusi as die bepaler van nakoming van vereistes, is daar min ruimte om werklik die nodige verstellings te maak en op die relevante sake vir die nodige vooruitgang in onderwys te fokus.

Oor die lae slaagsyfer in die tuisonderwys-omgewing trek ons liewer ’n sluier. Die positiewe ligpuntjie is dat daar geleentheid gebied word vir tuisonderwysleerders om ’n matrieksertifikaat te bekom en daar natuurlik individuele presteerders ook is.

Die BCVO, en andere in hierdie veld van Afrikaneronderwys, verdien steun. Prysenswaardige werk word gedoen met harte wat klop vir moedertaalonderrig, kultuureie en selfstandige onderwys. Die wil vir goeie standaarde is ook daar. Daar moet egter gewaarsku word dat ons Afrikanerleerders se prestasie tans maar aan lae standaarde gemeet word en dat daar nog baie dringende werk aan uitnemendheid is om weer by eerstewêreld-standaarde uit te kom.

Daarby is die meerderheid Afrikanerkinders steeds in staatskole en blootgestel aan staatsindoktrinasie. Die minderheid wat self pogings aanpak vir selfstandigheid se werk word beoordeel, maar die verslaafdheid aan die staat moet ook aangespreek word.

Net omdat iets Afrikaans is, en vanuit ’n deel van die gemeenskap self opgebou is, maak dit nie vanself presterend en voldoende nie. Dit geld vir organisasies soos die BCVO sowel as die valse gerustheid in Pretoria waar Affies (die openbare Afrikaans Hoër Seun- en Meisieskool onderskeidelik) as “nog goed” gesien word en dan stop die bydrae vir onderwys en die toekoms daar. Daar is verwarring tussen die stryd vir Afrikaans en die verbintenis van Afrikaans met goeie onderwys, wat goeie en relevante onderwys moet wees en waarheen dit bestuur moet word. Die Afrikaner loop gevaar om ekonomies te versink weens besoedeling deur swak onderwys en om binne die swak onderwysstelsel ’n valse gevoel van prestasie te hê, wat noodwendig ’n verswakking in werkvermoë, intelligensie en inisiatief tot gevolg het.

Die fokus moet op die akademiese verantwoordbaarheid en relevansie wees. Die beleggings in onderwys – in geld en energie – moet duidelik fokus op onderwys en, hoewel dit nie los staan van die breër politieke omgewing nie, die heropbou en vernuwing van onderwys eerste stel. Sonder die opbou van bekwaamheid, selfvertroue en vooruitstrewendheid gaan die politieke en ekonomiese stryd ook nie gewen word nie.

  • Leonard is die besturende direkteur van Indicato Inligting. Indicato is aktief in vrye onderwys en beskik oor ’n onafhanklike moderne voorskoolse en laerskoolse kurrikulum en leermateriaal. Sy volfiliaal, Raslouw Onderwys, bedryf ’n skool in drie afdelings (Raslouw Preprimêr, Laerskool Raslouw en Hoërskool Raslouw). Die hoërskool bied CIE aan, en ontsluit die potensiaal van ’n internasionale kurrikulum met diepte, wydte en dit wat veral relevant en eerstewêrelds is vir Afrikanerkinders. Rig navrae aan 082 573 2732 of [email protected].

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Breytie ·

Ek stem saam met die inhoud van hierdie skrywe, maar verskil met die klem op die klaskamer as die plek waar dinge moet gebeur. My eie navorsing oor jare wys vir my baie duidelik oor en oor dat uitnemendheid ontstaan en onderhou word in die ouerhuis. Elke jaar probeer ek die skraps inligting wat in koerante beskikbaar is oor hoë presteerders ontleed en dis opvallend dat die inspirasie vir daardie presteerders die gesinslede is – nie die onderwysers nie.

As ons Afrikaner minderheidsgroep enigsins ‘n staanplek wil verwerf op hierdie Afrika kontinent, sal ons dringend aan kwaliteit gesinslewe moet werk. Al die ander dinge soos sport en kultuur en trofeë is ook nodig, maar as dit nie groei uit hegte gesinsverhoudings nie bly dit bloot prestasies wat geen ware basis is vir uitnemendheid nie. Die tyd kom nader wanneer vakinhoude in ‘n nano-robot gelaai sal word en in ‘n persoon se brein vasgeheg sal kan word. Dan sal prestasie in ‘n eksamen letterlik geen waarde hê nie.

Die hegte gesin en familiekring is die plek waar geestelike kwaliteite gekweek word soos standvastigheid, deursettingsvermoë, lojaliteit, verantwoordelikheid en noem nog so veel as jy wil. Maar hierdie dinge gaan nie tot stand kom as ouers die indruk het dat die skool die plek is waar dit gekweek word nie. Ouers kan nie sit en TV kyk terwyl hulle aandete geniet en dink die skool sal sorg nie. Heel eerste sal ouers die onbeperkte waarde moet besef van die etenstafel waar almal saam is een keer per dag en waar elke gesinslid aangehoor word, bemoedig word en inspirasie kan kry. Dit is ook die plek waar die ouers se voorbeeld duidelike rigting gee aan die kinders, die geleentheid vir ouers om agter te kom hoe en wat die kinders dink, die geleentheid vir regstelling en aanpassing, inderdaad die geleentheid vir ware opvoeding.

Tweedens sal ouers die waarde moet besef van fisiese nabyheid en oogkontak. Alle kinders het nodig om aangeraak te word deur hulle ouers en om daardie diep besef te ervaar dat hulle toeganklik is deur oogkontak. Ek staan en kyk hoedat hierdie eenvoudige elemente afwesig is in kinders se lewe van kleins af. Sulke dinge moet noodwendig lei tot die geestelike verswakking van die hele volk.

Ons moet verby die kurrikulum, die eksamen en die prestasie kyk en die mens raaksien wat bepaalde eksistensiële behoeftes het waaraan eers voldoen moet word voordat enige aandag gegee word aan resultate. En dan moet ons ook werk aan die verhouding tussen onderwysers en leerlinge.

Leonard van der Dussen ·

Breytie wys ons hier op ‘n belangrike en besonder relevante saak, waar “onderwys” en “opvoeding” verwar word, en baie mense dink die skool moet sommer die opvoeding ook doen, terwyl die skool se terrein ten eerste “onderwys” is. ‘n Skool bestaan uit mense – onderwysers en kinders – en daar is noodwendig ‘n mate van opvoeding wat plaasvind, maar dit moet in die “implisiete kurrikulum” – daardie deel wat nie op papier is nie, maar oor manier van doen en voorbeeld en onderlinge liefde vir mekaar gaan – bly en op natuurlike wyse plaasvind sonder om op die ouerhuis, die gesin, se terrein te oortree. So gesê besef mens dadelik dat dit iets beskryf waarvoor die christelike skool en sy gelowige onderwysers nodig is.

Die sogenaamde vak “lewensoriëntering” is ‘n skerp oortreding van die “onderwys” op die terrein van die “opvoeding”, en dat sogenaamde calvinistiese christelike onderwysgroepe dit maar gesluk het en steeds sluk is tekenend van die vlak van intimidasie en vrees wat die staat by almal inboesem. Die vorming van lewens- en wêreldbeskouing is tegelyk die voorreg en plig van die gesin. Dis waar dit hoort, en allermins kan dit die onderwerp word om voor punte te gee asof mens iemand se “lewensoriëntering” mag vorm deur die dwang om punte te verwerf.

Dis maar een van die skades wat dienstigheid aan die regering in die onderwys vir ons gebring het. Met die nodige moed en ywer om ons onderwys self te regeer, kan dinge soos hierdie weer reggestel word.

Verder is daar is ook ‘n onderwyskant waar die gesin weer nie sy eie vermoëns in ‘n sterk geïndustrialiseerde, inligtingsbestrooide, vinnig veranderende en geglobaliseerde wêreld moet oorskat nie. Die skool as instelling wat bybly met beste en relevante onderwys en die diepte en wydte van vakkennis oor die nodige spektrum het, asook die voluit-skool begrip waar kinders ook groei deur groepsdeelname in sport, hulleself leer uitdruk in handhaaf in ‘n ongenaakbare wêreld deur redenaars, musiekoptrede en so meer – hierdie intensiewe voordeel wat ‘n gesonde skool bied, mag nie deur ouers geminag word nie.

Marius ·

Ek stem saam. Die gesin is die eerste plek waar ‘n kind se waardes gevestig word. Ons probleem is egter dat die waardes wat ons nou nastrewe altyd gekoppel is aan finansiële welvaart. Jongmense wat toppresteerders is word nie meer onderwysers en verpleegsters en maatskaplike werkers nie. “Die geld is nie goed nie”, soos wat mense deesdae sê. Daar word grappies gemaak oor die karige salaris van onderwysers. Ons kinders word met dit groot en daarom word hulle eintlik gedwing om ander geldgedrewe beroepe na te jaag. Daarom wil ek sê met permissie dat die gehalte van onderwysers wat nou afstudeer oor die algemeen ver onder die gehalte van onderwysers 30 jaar terug is.
Selfs ryk welvarende kerke leer deesdae van die kansel af dat jy veronderstel is on finansieël baie welaf te wees. Hoe kan ons kinders se waardes nou anders wees?
Huisgesinne val uitmekaar oor alle kultuurgroepe heen. Ons “township”- kinders is die slegste daaraan toe, want ‘n geweldige groot persentasie bly by hulle grootouers wat nie weet hoe om hulle te beheer nie. Die prentjie onder Afrikaners lyk nie veel beter nie. Ek was die intervensie en ondersteunings-departementshoof by beide ‘n welvarende voormalige model C skool met 75% swart leerders sowel as ‘n vooraanstaande Afrikaanse skool. Ons waardes is sterk materialisties en geldgedrewe, en dit het ‘n sterk invloed op gesinslewe. Sterk kinders word by veillige huisgesinne gekweek, en nie by skole nie. Moet om hemelsnaam nooit dink dat ‘n skool jou kind se suksesverhaal moet skryf nie. Dit verg uiterste ouerbetrokkenheid en ondersteuning. Dis hier waar Christelike waardes gekweek word. Moet dit om hemelsnaam ook nie aan die skool oorlaat om te doen nie, ek gee nie om hoe sterk die Christelike waardes van die skool is nie.

Amelia ·

1. Moenie onderwysposte verkoop nie. Stel mense aan wat kwalifikasies het. Dit is genoeg dat die hedendaagse generasie op skool nie kon leer lees en spel nie. (Onthou ons Onderwysers is al klaar eintlik ongeskool in lees en skryf, want wanneer was hul in gr1? Die dag toe alles verander het in Onderwys.)
2. As ‘n Onderwyser staak moet sy afdanking in werking tree. Onderwysers is veronderstel om ‘n voorbeeld te stel. “What you see, is what you do”
3. Bring die normale outydse klank in skole terug, om te leer lees en spel. ( Flitkaarte is ‘n resep van: “Monkey see, monkey do”)
4. Moenie die gr1 kinders so groot probeer dwing nie. Laat hul meer met speel weer hul eerste skooljaar aanpak.
5. Wiskunde is hopeloos TE belangrik op ‘n gr1 en gr2 vlak. Konsentreer op spelling en lees. 6. Moet geen leerder deursit as hy gedruip het nie. Wat leer dit ‘n leerling, “Ek kan doen soos ek wil, alles beland in my skoot.”
7. Spandeer baie baie baie meer tyd aan dissipline en Godsdiens. Ek meen waar die Ministers in voorbeeld faal moet iewers vir kinders geleer word.
ONS ONDERWYSSTELSEL IS ‘N GROOT GRAP!

Marius ·

Ek is ‘n onderwyser wat in ‘n baie goeie Engelse skool en vooraanstaande Afrikaanse skool skool gegee het. As departementshoof van lewensoriëntering was ek ook in die pos van ondersteuning en intervensie. By die Engelse skool met om en by 70 persent anderskleuriges is die grootste probleem die afwesigheid van pa’s. Dis verstommend hoeveel kinders by hulle oumas en oupas bly. Hierdie kinders loop eenvoudig oor hulle, en daar is nie sprake van ‘n huislike lewe nie. Ja hulle betaal getrou skoolfonds want hulle wil graag hê hulle kinders moet in gehalte voorstedelike skole wees. Maar van huislike ondersteuning is daar byna geen sprake nie. Hierdie kinders is in die strate en gaan huis toe wanneer hulle wil. My vraag is as dit is hoe dit is in die “ryk” voorstedelike skole, hoe gaan dit in die “townships”? Dit is egter so dat daar swart ouers is wat ook verstaan dat hulle die eerste front is in die sukses van hulle kinders. Maar hulle is in die verre minderheid. Maar hier is die hartseer realiteit. Alhoewel Afrikaner kinders baie beter daaraan toe is as swart kinders is daar ook geweldige gebrokenheid in gesinne, en dis ook die minderheid wat werklik goeie ouer ondersteuning gee. Die persentasie is dalk groter, maar die Afrikaner se waardes is ook aan die kwyn. As ons beter gehalte onderrig wil hê sal ons ons waardes moet aanpas en ophou om neerhalend te praat van die beroep van onderwysers. As jongmense sê hulle wil onderwys gaan studeer lag mense daaroor. Hulle wil egter nog steeds goeie gehalte onderrig hê. Ons waardes het geldgedrewe geword, en ons kinders word van kleins af geleer om vir die beroepe met goeie geld te gaan. Daar was ‘n tyd toe matrikulante met ‘n paar onderskeidings onderwys of maatskaplike werk of verpleegkunde gaan studeer het. Dit gebeur nie meer nie, want “Jy kan mos baie beter as dit doen”. Daarom kan ons nie meer dieselfde gehalte verwag nie, want dis nie beroepe wat goed betaal nie. As mense ons vra hoe dit met ons kinders gaan is ons eerste reaksie altyd hoe suksesvol hulle finansieël is. Beroepsgeluk is deesdae eintlik ‘n sekondêre saak, solank die geld goed is. Hierdie is ‘n probleem oor die hele kleurgrens en kultuurgrens heen. Ek dink dit is ook een van die redes waarom huisgesinne uitmekaar val. Ons jaag die tipiese westerse waardes na, en dit is baie keer ten koste van ons huisgesinne.

Marius ·

Ek stem saam. Die gesin is die eerste plek waar ‘n kind se waardes gevestig word. Ons probleem is egter dat die waardes wat ons nou nastrewe altyd gekoppel is aan finansiële welvaart. Jongmense wat toppresteerders is word nie meer onderwysers en verpleegsters en maatskaplike werkers nie. “Die geld is nie goed nie”, soos wat mense deesdae sê. Daar word grappies gemaak oor die karige salaris van onderwysers. Ons kinders word met dit groot en daarom word hulle eintlik gedwing om ander geldgedrewe beroepe na te jaag. Daarom wil ek sê met permissie dat die gehalte van onderwysers wat nou afstudeer oor die algemeen ver onder die gehalte van onderwysers 30 jaar terug is.
Selfs ryk welvarende kerke leer deesdae van die kansel af dat jy veronderstel is on finansieël baie welaf te wees. Hoe kan ons kinders se waardes nou anders wees?
Huisgesinne val uitmekaar oor alle kultuurgroepe heen. Ons “township”- kinders is die slegste daaraan toe, want ‘n geweldige groot persentasie bly by hulle grootouers wat nie weet hoe om hulle te beheer nie. Die prentjie onder Afrikaners lyk nie veel beter nie. Ek was die intervensie en ondersteunings-departementshoof by beide ‘n welvarende voormalige model C skool met 75% swart leerders sowel as ‘n vooraanstaande Afrikaanse skool. Ons waardes is sterk materialisties en geldgedrewe, en dit het ‘n sterk invloed op gesinslewe. Sterk kinders word by veillige huisgesinne gekweek, en nie by skole nie. Moet om hemelsnaam nooit dink dat ‘n skool jou kind se suksesverhaal moet skryf nie. Dit verg uiterste ouerbetrokkenheid en ondersteuning. Dis hier waar Christelike waardes gekweek word. Moet dit om hemelsnaam ook nie aan die skool oorlaat om te doen nie, ek gee nie om hoe sterk die Christelike waardes van die skool is nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.