Onderwysentrepreneurs moet jongmense só onderrig en oplei

Deur Eustace Davie

Eustace Davie

Die ekonoom Thomas Sowell het gesê: “Die uiteindelike maatstaf van die waarde van ons skoolopleiding is nie dít wat regstreeks onderrig word nie, maar hoe goed dit ons voorberei om self te leer.”

Die huidige “een-grootte-pas-almal”-benadering in die onderwys beperk onderwysers se vermoë en motivering om hul kennis en bekwaamhede só in te span dat jongmense onderwys en opleiding van ʼn gehalte ontvang wat hulle sal voorberei om die uitdagings van die volwasse lewe, veral hul werkslewe, aan te pak. Die kurrikulums waaraan onderwysers en hul leerders onderwerp word, laat die onderwysers nie met die nodige beweegruimte of tyd om die studente toe te laat om “self te leer”, soos volgens Thomas Sowell die waardevolste vorm van leer is nie.

Dink net hoe anders kursusse om vaardighede te verwerf en kennis te versamel aangebied sou word as onderwys en opleiding vraaggedrewe was – as mededingende opvoedkundige markte vrylik kon ontwikkel, uitsluitlik volgens die aanvraag onder studente en hul ouers. Dan sou slegs dié onderwysinstellings wat wel huidige regeringsvoorskrifte wil gebruik, soos die verpligte kurrikulum, dit behou.

Om die instelling van suksesvolle onderwys- en opleidingsprogramme sentraal te beplan, is ʼn onmoontlike taak, want doelwitte verskil en geen enkeling beskik oor die kennis daarvoor nie. Pogings om ekonomiese aktiwiteite van enige aard op ʼn sosialistiese manier te probeer beplan, moet noodwendig misluk, want sentrale beplanners sal en kan ook nooit oor al die inligting beskik wat nodig is om ʼn taak suksesvol uit te voer nie.

Verpligte skoolopleiding lei onvermydelik tot gestandaardiseerde kurrikulums wat, soos ʼn mens kan verwag, op die fiktiewe “gemiddelde” student afgestem is. So iets bestaan nie. Studente is almal individue met verskillende en selfs uiteenlopende, aangebore vermoëns en eienskappe. Hul wense en strewes behoort gerespekteer te word. Hulle moet vry wees om te kan kies en uit ʼn verskeidenheid van beskikbare onderwys- en opleidingsprodukte en -dienste hul opsie van voorkeur uit te oefen.

Onder die huidige onderwyserskorps in staatskole is daar vir seker individue wat sou belangstel om ʼn skool volgens entrepreneursbeginsels te bedryf. Mense met gespesialiseerde kennis en bekwaamhede sou kon besluit hulle wil hul kennis en vaardighede aan ʼn volgende geslag oordra, maar die huidige stelsel laat nie ruimte toe vir gespesialiseerde opleiding van jongmense nie. Die finansiering vir entrepreneurstipe skole kon uit die huidige onderwysbegroting kom as ʼn beginsel gevolg sou word van “die geld volg die student” (pleks dat die geld aan die instelling toegewys word), maar die vryheid van denke bestaan nie om ruimte te bied vir uit-die-boks-opleiding van jongmense nie. Van die ander studente in sulke skole sou óf privaat borge kon hê, óf volledig deur hul ouers gefinansier word.

(Argieffoto/Unsplash)

As “die geld die student gevolg het” in staatskole, sou die mededinging tussen skole om kliënte (studente) te werf en behou onvermydelik die gehalte van hul onderrig verhoog het. Die onderwysers in sulke skole sou drasties van gesindheid verander het as hulle met ander staatskole moes meeding om studente te werf wat deur belastingbetalers se geld gevolg word. Die gevaar om studente te verloor, sou alle skole onder druk plaas om die gehalte van die diens wat hulle aan hul student-kliënte lewer, te verbeter.

ʼn Mededingende en vrye leeromgewing sal ʼn groot verskeidenheid van keuses en onderrigmetodes bied. Onderwysentrepreneurs sal poog om in elke denkbare behoefte van die mark te voorsien. Die onderwysaanbod sal wissel van geriewe wat deur ʼn enkelpersoon bestuur word tot groot ondernemings wat vir duisende studente voorsiening maak. Vir elke denkbare vaardigheid en talent sal daar voorsiening wees; van jong kunstenaars tot musici, ingenieurs, sjefs, rolprentvervaardigers en atlete sal êrens opgelei kan word.

Om jongmense te dwing om jare lank met vervelige, gestandaardiseerde “vakke” en “kurrikulums” te sit, gekies deur ʼn gesentraliseerde besluitnemingsliggaam wat sy eie visie op ongelukkige jongmense wil afstempel, is niks anders nie as ʼn misdaad teen die mensdom. Dis hoog tyd dat jongmense en hul ouers toegelaat word om self die besluite te neem wat tans vir hulle geneem word deur mense wat verkeerdelik reken dis hul reg om dit te doen.

Om los te ruk, uit te breek, jou te bevry van iets wat jou knel, is gewilde beeldspraak wanneer mense ontslae raak van omstandighede wat hulle veels te lank in ʼn onhoudbare situasie gevange gehou het. Dis die soort kettings waarin die wêreld se kinders al langer as ʼn eeu vasgevang sit. Hulle kan nie self uit dié omstandighede ontvlug nie – hulle het die hulp nodig van volwassenes, veral hul ouers, om te kan wegbreek uit die eentonigheid waaraan hulle onderwerp word.

Albert Einstein het oor skoolopleiding wat deur die staat afgedwing word, gesê: “Dit is eintlik ʼn wonderwerk dat moderne onderrigmetodes nog nie die heilige sug na kennis vernietig het nie, want dié delikate plantjie het naas stimulering veral vryheid nodig; daarsonder verlep en sterf dit. Dis ʼn groot fout om te dink die vreugde van soek en aanskou kan deur dwang en pligsbesef aangewakker word.”

  • Eustace Davie is ʼn direkteur van die Vryemarkstigting en skrywer van Unchain the child. Die menings soos in hierdie artikel vervat, is dié van die skrywer en word nie noodwendig deur die lede van die Stigting gedeel nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.