Onderwystoekoms in gemeenskap se hande

skool

Argieffoto.

Min lande ter wêreld bestee ʼn groter persentasie van hul jaarlikse begroting aan onderwys as Suid-Afrika.  In 2015 is ongeveer 20% van die land se begroting aan onderwys toegewys.  Nogtans bly meer as 80% van die land se skole disfunksioneel en het sowat 64% van die graad 1’s van 2004 nie in 2015 matriek geslaag nie.

Tans is sowat 63,1% Suid-Afrikaners wat jonger as 25 is, werkloos.  Dit hou nie net verband met die gebrek aan werksgeleenthede nie, maar ook met die gebrek aan geletterdheid onder hierdie groep.  Hierdie hoë persentasie jongmense wat moeilik in diens geneem kan word, het ʼn uiters negatiewe invloed op die ekonomie en kan ook ʼn sleutelrol speel wat toekomstige politieke stabiliteit betref.  ʼn Uitsiglose jongmens met niks om te verloor nie, word maklik kanonvoer vir populiste en hul ideologieë.

Die bevordering van hoë gehalte onderwys op alle moontlike maniere is enigste wyse waarop die kommerwekkende stand van sake omgekeer kan word. Daarom fokus AfriForum deurlopend op onder meer moedertaalonderrig en die reg van beheerliggame om self besluite oor skoolsake te neem.

Daar word dikwels beweer die Suid-Afrikaanse Grondwet verskans die reg tot onderrig en meer spesifiek tot moedertaalonderrig.  Op die oog af lyk die bewerings waar.  Artikel 29(1)(a) bepaal elkeen geniet die reg op basiese onderwys en artikel 29(2) dat, waar dit redelikerwys doenlik is, onderwys in die taal van die leerder se eie keuse moet plaasvind.

Kyk ʼn mens egter na die aantal hofsake waarby burgerlike organisasies soos AfriForum en FEDSAS jaarliks betrokke is, is dit duidelik die Grondwet gee ʼn breë riglyn, wat in die praktyk van min betekenis is as die burgerlike gemeenskap nie self moue oprol om inhoud en betekenis daaraan te gee, bepalings desnoods af te dwing en die regte wat op papier aan hulle verleen word, teen die regerende party en amptenary se ideologiese aanvalle en onbevoegdheid te beskerm nie.

Baie faktore ondermyn die Grondwet se oënskynlike beskerming.  Een hiervan is die negatiewe invloed van sommige onderwysvakbonde op die gehalte van onderrig wat aangebied word.  Veral in landelike gebiede intimideer vakbondlede en korrupte amptenare onderwyspersoneel en ouers.  Só word die verkoop van poste in skole byvoorbeeld sedert 2014 deur die departement van basiese onderwys ondersoek.  Die feit dat die ondersoeke voortduur, sonder dat optrede teen die betrokkenes volg, dui aan hoe versigtig die regerende party is om nie aan alliansievennote aanstoot te gee nie … ten koste van die toekoms van ons jeug.

Amptenare wat hul posisies misbruik om ideologiese doelwitte te bevorder, steur hulle ewe min aan grondwetlike regte.  Die LUR van onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, is ʼn voorbeeld hiervan.  Hy is berug vir sy polariserende uitsprake teen die gebruik van Afrikaans as onderrigmedium en probeer homself die reg toeëien om te bepaal wanneer skole vol is, bloot om Engelstalige kinders in Afrikaanse skole te probeer inforseer.  Sy wederregtelike optrede word in howe verdedig met ons belastinggeld, wat bedoel is om die gehalte van onderwys in die land te verbeter, nie om magsugtige ANC-apparatchiks se agendas te bevorder nie.  Wanneer howe teen sy planne uitspraak lewer, onderneem hy ongestoord om wetgewing te verander sodat hy in die plek van demokratiesverkose beheerliggame die besluitnemingsmag oor skole se aanstellings, asook hul taal-, toelatings- en godsdiensbeleid kan verkry.

Aanslae van hierdie aard hoef ons nie moedeloos te laat nie.  Dit moet juis burgerlike organisasies, gemeenskappe en veral ouers aanspoor om ten volle gebruik te maak van die geleenthede wat die raamwerk van die wet aan ons bied om die gehalte van onderrig te beskerm en deurgaans te verbeter.  Bowendien moet ons nie voor die mites swig dat Engelse onderrig die sleutel tot sukses is nie. Afrikaanse moedertaalonderrig bly steeds die beste opsie vir Afrikaanssprekende leerders en enkelmedium Afrikaanse skole die enigste instellings wat dit op die langduur volhoubaar kan aanbied.

Die sleutelwoord bly betrokkenheid.  Ouers moet op hoogte bly van gebeure op die terrein van onderwys in die geheel, maar ook in die besonder by die skole waar hul kinders skoolgaan.  Hulle moet deelneem aan beheerliggaamverkiesings en bereid wees om hulself as kandidate verkiesbaar te stel.  As amptenare uitnemende onderwysers en skoolhoofde probeer intimideer om voor ideologiese eise te swig, moet hulle sterk standpunt inneem om hierdie onderwysspanne te beskerm.  Hulle moet sorg dat beste praktyke in hulle skoolbeleide neerslag vind en dat die skoolgemeenskap as geheel daarby inkoop.  ʼn Verenigde skoolgemeenskap is immers ʼn onoorwinlike skoolgemeenskap.  Gehalte onderrig met alles wat dit inhou – van die grootte van klasgroepe tot die taal van onderrig en inhoud van die kurrikulum – moet ononderhandelbaar wees vir hulle.

Burgerlike organisasies soos AfriForum, Helpende Hand met sy skoleondersteuningsentrum (SOS), FEDSAS en die SAOU moet betrek word om met hul kundigheid en ander hulpbronne die betrokkenes se arms te sterk.  Soms kan dit geskied deur die verspreiding van kennis, ander kere deur openbare druk toe te pas, soms selfs deur regsaksie of enige ander metode binne die raamwerk van die wet, om te sorg dat ons kinders steeds makliker toegang tot die beste moontlike onderwysgeleenthede kan verkry, insluitend die skep van sterk, onafhanklike eie instellings.  Deur by hierdie organisasies aan te sluit, word hul dienslewering ook deurlopend uitgebrei.

Op sy eie is die Grondwet bloot ʼn versameling idealistiese woorde wat soms so vaag is dat hofuitsprake die regte van die burgerlike gemeenskap onvoldoende beskerm.  Positiewe gemeenskapsbetrokkenheid en die optrede van sterk burgerlike instellings gaan veel meer vermag om die toekoms van ons kinders en kindskinders te bou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Breytie ·

Alles wat in hierdie artikel staan, glo ek is waar en ek is ‘n voorstander vir die onophoudelike strewe na uitnemendheid onder Afrikaners en in Afrikaanse skole.

Ek wil egter nog ‘n benadering hier bybring, naamlik ons Afrikaners se positiewe invloed op gewone swart gesinne, verteenwoordig deur swartmense wat vir ons werk. Meeste van hierdie mense beskik nie oor die vaardighede of oortuigingsmoed om die misbruik in swart skole teen te staan nie. Ons is in ‘n posisie om gewone swart ouers te motiveer en met inligting te bemagtig om ook betrokke te raak by hulle kinders se skole doer op die platteland. ‘n Werker van my vertel byvoorbeeld dat sy kinders se skool R150-00 van ouers eis vir die boeke wat die regering gratis versprei en die ouers betaal dit gedwee sonder om ‘n kwitansie te kry of selfs die boek.

In werklikheid is daar goeie verhoudings tussen blankes en swartes, dis die amptenare en politici wat die haat doelbewus opwek en aandryf. Daarom kan ons as enkelinge baie vermag deur die swartes in ons invloedskring te motiveer om goeie onderwys te eis. My ervaring is dat so’n lui en skelm skoolhoof gou terugkrabbel as selfs net een van daardie eenvoudige ouers die regte vrae vra en dinge soos kwitansies eis vir betalings gemaak.

Bouwe van der Eems ·

Ouerbetrokkenheid by skole is vir seker aanbevelenswaardig. Dit gaan egter heelwat tyd neem om die skade wat reeds aangerig is te herstel. Ouers met kinders van skoolgaande ouderdom het nie tyd om daarvoor te wag nie. Dis hieroor dat tuisonderwys tans die soort van onderwys is wat die vinnigste groei.

Karen Badenhorst ·

Ja, die sleutelwoord bly betrokkenheid, maar, by ‘n sisteem gedryf deur korrupte politici en sogenaamde “kundiges” wat van leer nie veel weet nie? Nee. Betrokkenheid by jou kind wat aan jou hande toevertrou is deur ‘n Hand wat rekenskap van jou gaan eis, verg betrokkenheid by my kind. Dus, tuisleer en kies leermateriaal wat die beste vir hom of haar op ‘n spesifieke stadium is en graveer self die regte woorde in sy/haar hart.

Disselboom ·

Sê nou daar is net tuisskool. Dit moet eintlik so wees mos, want dis die beste. Sê nou almal kies “die beste”. Hoe en waar gaan die “leermateriaal wat die beste vir hom of haar op ‘n spesifieke stadium is” vandaan kom?

Oordrywing van tuisskool is een van die faktore wat ons staatkundig en polities terughou om weer bestendigheid as volk te verkry. En wie dink jy kan maar los van volkwees standhou, moet gerus gaan kyk na die manne op die video by die Tuks-EFF-betogings dat ons groepe moet vorm.

Elize ·

Leer materiaal kom al reeds van reg oor die wêreld. Sommige boeke word deur “veld” geleerdes geskryf, soos regte wetenskaplikes vir wetenskap boeke, bioloë, wiskunde professors, ander word deur “opvoedkundige instansies” geskryf soos Macmillian hier in Suid-Afrika. Daar is ‘n oorweldigende hoeveelheid leer materiaal beskikbaar vir alle ouderdomme, in alle vorme om alle leerstyle te help, van kinders wat beter leer deur sketse, kleur, tot kinders wat meer moet beweeg, tot kinders wat eerder luister na bv. audio tapes. In alle vakgebiede van leer lees, tot wëreld geskiedenis, aardrykskunde, kulture, biochemie, noem maar op. Daar is vakmanne wat nou uitspring en basiese praktiese opleiding vir jongelinge gee, en aan die einde het jy ‘n klomp jong mense wat gereed is om werk te doen, of vir hulself werk te skep in baie gevalle.

Daar is veral twee goeie boeke wat deur ‘n TO ma in die Kaap area (Shirley Erwee) geskryf is wat ontsettend baie inligting gee oor die moontlikhede op Laerskool en Hoërskool vlak in Suid-Afrika, om nie al die boeke te noem wat van Amerika af (onder andere) beskikbaar is nie.

Elize ·

Skuus ek reageer nou op jou “los van volkwees” kommentaar. Duidelik het jy nog nie gesien hoe betrokke tuisleer-gesinne is by hul “volk” nie. Net omdat jy verkies om nie jou kind se akademiese opleiding uit te kontrakteur aan die regering nie, beteken nie jy is nie betrokke in jou familie (eerstens) en gemeenskap (tweedens) nie. Hoeveel gesinne wat hul kinders na ‘n skool stuur, is enigsins andersins betrokke in die gemeenskap by instansies? Dit is ‘n keuse wat elke gesin neem, en het niks te doen met akademiese opvoeding nie, maar wel met die betrokke gesin se KEUSE van betrokkenheid. So nes daar gesinne is wie se kinders skool gaan en die gesinne is betrokke by bewaring, kultuur byeenkomste, ens. net so is daar gesinne in die TO-gemeenskap wat sulke dinge reël en begin as daar nie iets in hul area gedoen word nie. Hoe kan jy los van jou volk wees as jy kies om jou kind in jou taal op te voed? In jou godsdiens? In jou dorp tussen jou mense?

My persoonlike opinie is dat daar verskillende opsies vir verskillende mense moet en sal wees. Nie net een oorheersende opsie nie. Selfs in TO is daar verskillende maniere van doen en dit werk, maar party mense sal TO nooit kies nie – en dit staan hulle vry.

Die punt: daar is alreeds een opsie in die land wat die burgers volg, waardeur hulle verantwoordelikheid neem vir hul kinders se opvoeding, en dit is tuisonderwys.

Disselboom ·

Die ordening en sifting van beskikbare kennis en inligting is ‘n vaardigheid wat nie noodwendig by elke ouer sit nie.

Wat ook interessant is, is dat die Sinode van Dordrecht (wat gereformeerde denkwyse weerspiëel) asook bekende denkers van die hervorming, skoolopleiding (opleiding in groepe met leermeesters) as ‘n gegewe beskou het.

Tuisonderwys is ‘n eiesinnigheid met baie risiko’s.

Alana Bailey ·

Dit is goed dat ouers kan kies uit baie opsies, van staatsondersteunde skole, tot privaatskole en tuisonderrig. Die realiteit moet in gedagte gehou word dat privaatskole en tuisonderrig vir die meerderheid kinders geen opsie is nie. Navorsing het onlangs getoon dat die grote meerderheid kinders in die land nie in huishoudings met twee eie ouers grootword nie. Baie kom uit huise met enkelouers, voogde en enkele selfs uit huishoudings sonder volwassenes. Die benadering van “ek sorg vir my kinders en die res moet maar self regkom” kan ‘n mens later duur te staan kom, soos die persentasie werklose jongmense in Suid-Afrika bewys. Later moet al minder mense vir al meer sorg en dis nie volhoubaar nie. Lees gerus dr. Jannie Rossouw van Wits se berekeninge wat Suid-Afrika aanbetref in die verband. Ja, dis lofwaardig as ‘n ouer die beste moontlike onderrig vir sy kind gee, maar ons moet ook ons gemeenskap se welstand bevorder. Dis immers ook deel van ons Christelike roeping.

Onderwys is ‘n gespesialiseerde beroep en net omdat jy ‘n liefdevolle ouer is, beteken dit nie jy kan noodwendig in ‘n leersituasie die voordele aan jou kind bied wat ‘n professionele, begeesterde en toegewyde onderwyser kan nie. Ons moet die onderwysers ondersteun in ‘n tyd wat hulle roeping al meer uitdagings aan hulle stel.

Leendert van Oostrum ·

Me Bailey maak die volgende uitspraak:

“Die benadering van ‘ek sorg vir my kinders en die res moet maar self regkom’ kan ‘n mens later duur te staan kom, soos die persentasie werklose jongmense in Suid-Afrika bewys”.

Hierdie is presies die argument wat die ANC-regering voorhou: Mense moet hul kinders opoffer terwille van die gemeenskaplike welsyn, en daarom moet almal (behalwe die kinders van die politieke en ekonomiese elite) in staatskole ingedwing word.

Hulle is reg – as die middeklas uit die staatskole verdwyn, verval die staatskole. Daaroor is die regering al in 1995 gewaarsku, soos gelees kan word in Onderwyswitskrif 2 van Februarie 1996. Maar die regering het nie die advies van die raadgewers gevolg oor hoe om dit te verhoed nie.

Die probleem met Alana Bailey se uitspraak is dit: Die aanbidders van Molog het ook hul kinders (letterlik) ge-offer in tye van nood terwille van die gemeenskaplike welsyn. Daar is geen bewys dat dit enigeen gebaat het nie.

Leendert van Oostrum ·

Ons grondwet en die Kinderwet, daarenteen, maak elke ouer verantwoordelik vir die BESTE belange van sy eie kind – NIE vir kinders in die algemeen nie. Die reg huldig hierdie uitganspunt, want duisende jare se ervaring het getoon dat die gemeenskaplike welsyn ten beste gedien word as elke ouer verantwoordelikheid neem vir sy eie kinders.

Vir kinders in die algemeen (en daardie arme slagoffers van die ineenstorting van die gesin, waarna Bailey verwys) is die landsregering verantwoordelik.

Ek daag Alana Bailey daarom uit om te toon dat daar minder werklose jeugdiges sal wees as almal hul kinders in dieselfde skole plaas, soos sy (en Equal Education) klaarblyklik beoog. Of as almal die belange van kinders in die algemeen hoër stel as die belange van hul eie kinders.

Waar dit die onderwysers aangaan, waarvoor Bailey pleit: Die mees professionele, begeesterde en toegewyde onderwyser kan bitter weinig uitrig in klasse van dertig of meer – vra hulle maar self. Daar is altyd kinders in daardie klasse vir wie hulle nie kan help nie.

Trouens, wêreldwye navorsing oor dekades bewys dat leerprestasie begin daal op twaalf kinders per klas, en by twintig kinders per klas reeds minimum bereik het. Dit is waarom die tendens wêreldwyd, van Cuba tot Finland tot Kanada, is om klasgroottes to 15 te beperk.

Dus: bring asseblief getuienis dat kinders in klasse van gemiddeld 34 daarby sal baat as al die tuisleerders OOK nog daar ingeprop word, soos Bailey skynbaar bepleit.

Alana Bailey ·

Ter herhaling: keuses is goed. Die verskillende opsies van tuisonderrig, privaat- en openbare skole, werk vir verskillende mense. Nie een kan verabsoluteer word as enigste of beste antwoord op nasionale of selfs internasionale onderwysuitdagings nie. Baie kan getuig oor uitnemende tuisonderrig wat hulle bevoordeel, maar net soveel oor die uitnemende onderrig wat hulle in openbare of privaatskole ontvang, of ontvang het. Ek kan nie saamstem met veralgemenings oor groot klasgroepe in skole nie – baie skole doen juis moeite om kleiner klasse te handhaaf en verdien steun met die pogings.

Ek sien ook beslis nie dat ek vra dat kinders wat tuisonderrig kry, in skole geplaas moet word of dat ouers kinders moet afskeep ten gunste van die gemeenskap nie. ‘n Ouer kan tuisonderrig kies en steeds nadelige onderwyspraktyke in die gemeenskap teenstaan. Die soort gesonde betrokkenheid kan strek van eenvoudige, maar belangrike aksies soos die ondertekening van ‘n petisie vir moedertaalonderrig of teen swak wetgewing, tot bydraes tot beurse, aanbied van ekstra klasse of selfs net om die plaaslike skool se jaarlikse kermis te steun. Ek steun ‘n skool deur weekliks herwinbare rommel vir hulle herwinningsprojek af te gee. Niemand hoef benadeel te word nie, maar almal kan wen met die soort betrokkenheid.

Leendert van Oostrum ·

Daar is baie tuisskoolgesinne (en tuisleerders) wat ekstra klasse vir skoolkinders aanbied. Ongelukkig is dit selde moontlik om by skole self betrokke te raak, weens ‘n algemene vyandigheid van skole teenoor tuisonderwys.

Daarbenewens is dit opmerklik hoeveel tuisskoolgesinne een of meer (soms tot vier) aangenome of pleegkinders het. Ek skat mens vind dit ten minste vyf keer meer dikwels as by die gesinne van skoolkinders. Een rede hiervoor is dat dit weinig meer kos om ses kinders tuisonderwys te gee as vir een (tensy mens natuurlik hierdie oorbodige en uiters duur voorafverpakte pakette koop).

Maar ja, Bailey is reg as sy verklaar “keuses is goed” en dat ouers moet kan kies tussen staatskole, privaatskole en tuisonderwys, na gelang wat die beste vir elke kind is.

Juis daarom, egter, is dit jammer – selfs onverantwoordelik – om ‘n artikel te publiseer oor gemeenskapsbetrokkenheid by die onderwys sonder om enigsins na tuisonderwys as beskikbare opsie te verwys.

Disselboom ·

Alana Bailey stel die nugtere waarheid dat daar groot werk in die gemeenskap is om te doen – ongeag wat die oorsaak is en ongeag wat dalk hier en daar vir indiwiduele kinders kan werk – is daar nie tyd of plek vir tuisskoolfanatici wat heeltyd die eintlik gesprek oor onderwys belemmer nie.

Dissipline is op alle vlakke nodig, en die gemeenskap het nodig om oor skoolgaan te praat sonder die beslommernis van tuisskool-argumente.

Benita ·

Jammer Disselboom, maar die 3 skole waarvan 1 publiek en 2 privaat was, kon nie my kinders suksesvol dissiplineer nie, en ook nie akademies opvoed nie. Ek dissiplineer en onderrig hulle nou al 2,5 jaar by die huis, en hulle floreer op akademiese, sosiale, kulturele en sport gebiede. Maar wat my veral verskriklik been druk van selfgerigte/tuisleer, is die feit dat hulle persoonlike groei en ontwikkeling teen ‘n fenominale tempo geskied omdat hulle verantwoordelikheid leer om self te leer. Hulle leer van alles waarin hulle belangstel. Hulle lewe gebalanseerd. Hulle leer in hul huis taal, dowel as in ander tale. Hulle leer hul Skeppergod in diepte ken. Hulle is meer betrokke in die gemeendskap om hulle as meeste mense wat in hoofstroom skole wasgekelder en toegegooi onder akademiese werkvelle en honderde standaard toetse lei. Geen village staan pa vir ander mense se moeilikheid of hul kinders nie. Ek staan alleen verantwoordelik voor God vir my eie kinders se unieke en gebalanseerde opvoeding in sy totaliteit. Daar is goeie skole in ons land, maar net ‘n klein persentasie van die totale bevolking kan daar akademies opgevoed word. En dit is ook maar net grootliks akademiese. Geensins persoonlik, geestelik, emosioneel of sielkundig nie. En die regering gebruik dan nog skole om hul politieke doelwitte ook te jaag. Nee my kinders is te kosbaar om uitverkoop te word ter wille van ‘n grootliks onsuksesvolle menslike stelsel waarvan ek in waardes en in beginsels te veel verskil.

Disselboom ·

Daar word die punt alweer gemis. Mooi, jy en jou kinders het nou vir julleself iets aanmekaar gesit (wat nie noodwendig so doeltreffend is as wat jy dink nie, maar dis vir anderdag). Die openbare debat het egter nodig om die groot olifant van behoefte van ‘n gemeenskap en ‘n volk in sy geheel aan te spreek. Daar is behoefte aan skole, en goeie skole en die gesprek moet gaan oor hoe hierdie skole kan funksioneer in die realiteit van die geheel van ‘n samelewing. Staatsmanskap en groter dink is nodig. Tuisskool as jy wil, maar bly dan stil in die openbare forums as daar oor ‘n omvangryke saak gepraat word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.