Onderwysvoorsiening in Suid-Afrika

Hierdie is ʼn uittreksel uit die Kamper-verslag, aangevra deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Die verslag is onlangs by die FAK-spitsberaad oor Onderwys voorgedra.

Onderwysvoorsiening in Suid-Afrika – Op weg na ‘n misdaad teen die mensdom?

Om die stand van onderwysvoorsiening in Suid-Afrika in verband te bring met die begrip misdaad teen die mensdom lyk op die oog af onvanpas. Die begrip het histories en tradisioneel te make met sistematiese gevalle van fisiese moord, verkragting en ander vorme van onmenslike dade jeens ‘n bepaalde groep in ‘n bevolking, met die verklaarde of oënskynlike goedkeuring van die owerheid. Maar wat daarvan as die aanslag op ‘n ander, geestelike vlak lê, soos op die terrein van klaaglik mislukkende onderwysvoorsiening vanweë politieke motiewe en onwil? Die wese van die optrede bly dieselfde, naamlik ‘n aanslag op menslike waardigheid en die degradering van lewenskwaliteit. Elkeen wat begaan is oor goeie onderwys in Suid-Afrika en worstel met die vraag waarom die onderwyskrisis in Suid-Afrika jaarliks vererger, kan net tot een gevolgtrekking kom: Daar is groot fout by die hoofaanspreeklike instansie vir die onderwys, naamlik die owerheid. Elkeen wat ook die mediadekking oor die onderwys aandagtig volg, kan gemaklik die kiem van die probleem raaksien, naamlik dat onderwys in Suid-Afrika bedryf word op grond van politiesideologiese, eerder as onderwyskundige beginsels. Natuurlik is daar in enige onderwysstelsel politiese aspekte en motiewe, maar wanneer hierdie motiewe nugtere en verstandige onderwysbeplanning verdring ter wille van uitsluitlik politieke gewin, word dit ‘n morele samelewingsdilemma. Hoe het Suid-Afrika in hierdie situasie beland?

Agtergrond

Toe die ANC in 1994 die bewind in Suid-Afrika oorgeneem het, was dit met een groot, en ook verstaanbare ideaal, naamlik die algehele transformasie van die Suid-Afrikaanse samelewing. Die destyds gefragmenteerde onderwysstelsel is met mening in die visier geplaas. Vanweë die sigbaarheid van onderwysvoorsiening was dit die ideale terrein om transformasie-inisiatiewe en –effek te demonstreer. Bestaande strukture en stelsels is as ’t ware met wortel en tak uitgewis, en in sommige gevalle, soos in die Gauteng Provinsie, het dit selfs die fisiese ontworteling en verskuiwing van onderwysdepartementskantore behels.

Hierby het dit egter nie gebly nie. Die transformasie-inisiatief het al gou die karakter van veranderingswoede aangeneem. Bewese onderwyskundiges is die deur gewys, en vervang met aanstellings, vanaf ministeriële vlak tot op distrikskantoorvlak, waarvoor slegs een kriterium gegeld het, naamlik die politieke affiliasie en –agtergrond van die kandidaat. Die gevolge was al gou en pynlik duidelik: Onderwysbeplanning is allereers, en soms uitsluitlik gedoen op grond van polities-ideologiese motiewe. Onderwyskenners het hul hart vasgehou.

Was hierdie stand van sake maar net die gevolg van politieke euforie en sou dit dus van korter duur wees, alvorens nugterheid en onderwysverantwoordelikheidsin weer die botoon sou voer? Helaas is daar na 17 jaar van die nuwe bedeling geen sprake van enige kentering ten goede nie, soos blyk uit die wye voorkoms van onderwyskundige onbevoegdheid en politieke moedswil in onderwysvoorsiening. Drie brandpunte kan uitgelig word, naamlik a) onderwysvoorsiening in armoedekonteks, b) die onderwyskurrikulum, en c) onderwysbestuur.

Onderwysvoorsiening in armoedekonteks

Saam met Brasilië, het Suid-Afrika die twyfelagtige onderskeiding om in die wêreld die grootste kontras tussen baie ryk, en baie arm mense in hul bevolkings te hê. Hierdie diskrepansie bestaan en vererger steeds, en bring reuse-uitdagings in onderwysvoorsiening mee. In Suid-Afrika bevind ‘n kleiner groep van bevoorregte leerders hulle in die oud-Model C- en privaatskole waar hulle goeie tot uitstekende onderwys kry. Die oorgrote meerderheid van leerders is egter aangewese op plattelandse en buurtskole (“township”-skole), wat getipeer word deur swak bestuur, dekonstruktiewe ouer-skoolverhoudings, ongekwalifiseerde en onwillige onderwysers, oorvol klasse, non-dissipline, en gebrek aan sportfasiliteite. Daar is al metafories na hierdie skole as getraumatiseerde skole verwys – skole wat eintlik in ‘n hoësorgeenheid van stabiliserende hulpdienste hoort, maar wat in plaas daarvan net toegegooi word onder transformasie-inisiatiewe. In die tipiese buurtskool is die onderwyspersoneel op enige gegewe tydstip nooit voltallig nie, hou sommige senior personeellede (insluitende die skoolhoof) hulle met bedrywighede van persoonlike belang besig, en is daar geen vaste begin- en sluitingstye nie. Die wesenlike opvoedkundige agterstand wat die groot aantal leerders in hierdie skole alreeds met skooltoetrede het, word glad nie ingehaal nie, en lei tot bedenklike leerderprestasie in normtoetse. Suid-Afrika se plattelandse Graad 6-leerders vaar byvoorbeeld baie swakker in lees- en wiskundetoetse as
hul eweknieë in ander Afrikalande. Die haglike posisie van buurtskole is onlangs prominent uitgelig deur mediadekking oor onderwysvoorsiening in Soweto, wat volgens alle aanduidings op die rand van algehele ineenstorting staan. As daar, soos in Suid-Afrika, ‘n situasie heers waar 80% van die armste leerders op agtjarige ouderdom alreeds ‘n substantiewe leeragterstand ervaar, is daar inderdaad sprake van ‘n maatskaplik immorele toedrag van sake.

Die beleidsresponse van die onderwysdepartement op die onderwysuitdagings in die Suid-Afrikaanse platteland en buurtskole was tot dusver polities-sinistêr. In plaas van dringende onderwyskundige regstellende aksie (soos byvoorbeeld deur aantreklike herontplooiingpakkette vir bekwame onderwysers, die vervanging van disfunksionele skoolhoofde, die herstel en uitbrei van skole se infrastruktuur, die effektiewe voorsiening van leermateriaal en optimale professionele distrikskantoorondersteuning) is politiese vertoonvenstermaatreëls geneem. Voedselvoorsiening aan arm leerders het aandag gekry, so ook die afskaffing van skoolfondse. Die dieptepunt van die maatreëls was doodgewoon om die matriekslaagvereistes tot belaglike vlak te verlaag (30% as slaagsyfer), om sodoende die vreesaanjaende eindeksamensituasie in Suid-Afrikaanse plattelandse en buurtskole statisties te kon verbloem. Om dieselfde rede doen die sertifiseringsliggaam Umalusi soms buitensporige aanpassings aan die roupuntgemiddeldes van sleutelvakke soos Wiskunde en Engels en pas punte sodanig aan dat ‘n statisties onmoontlike verbetering teenoor die vorige jaar in die 2010 matriekuitslae bekendgemaak is. Die langtermyn rampspoedige gevolge van hierdie maatreëls vir hoëronderwys en die arbeidsektor word opsigtelik bloot in die wind geslaan ter wille van politieke gewin in die korttermyn.

Onderwyskurrikulum

Sekerlik die sterkste bevestiging van ‘n politieke kaping van onderwysvoorsiening in Suid-Afrika was die invoer van ‘n uitkomsgebaseerde onderwyskurrikulum. Uitkomsgebaseerde onderwys (UGO) geniet nie algemene aanvaarding onder onderwyskenners nie, maar dit berus nogtans op ‘n pragmatiese, resultaatgedrewe onderwys- en opleidingskundige rasionaal. Die effektiewe funksionering daarvan berus op pertinente voorvereistes soos klein klasse en leerders se vrye toegang tot media en ander hulpmiddels. Vanweë die liberaalsosiologiese beginsels van UGO (soos die klem op leerderinspraak in klasgebeure, groepwerk, en voortdurende assessering) is dit in Suid-Afrika as ideologies aantreklik
raakgesien en ingespan as ideale politieke handperd om die vorige onderwyskurrikulum (met onder andere die klem op individuele leerderverantwoordelikheid en eksklusiewe onderwysvoorsiening vir geremde en begaafde leerders) te elimineer, sonder inagneming van die feit dat die genoemde voorvereistes vir doeltreffende UGO nie in die oorgrote
meerderheid van Suid-Afrikaanse skole haalbaar is nie.

Die volgehoue bedenklike matriekuitslae, saam met onstuitbare weerstand uit onderwysergeledere teen die massiewe werklading wat die UGO-assesseringpraktyke meegebring het, het die owerheid gedurende 2010 genoop om ‘n polities-korrekte verklaring te maak waarvolgens UGO vervang sou word met ‘n benadering wat klem plaas op die verwerf van basiese vaardighede. Hierdie verklaring is tereg ‘n erkenning van anderhalwe dekade se mislukte onderwysvoorsiening – ‘n polities-ideologiesgedrewe eksperiment waardeur duisende leerders negatief en moontlik fataal geraak is en waarteenoor hulle wesenlik magteloos was. Hierdie proses duur steeds voort, omdat daar steeds nie van die ideologiese gees en letter van die ANC-variant van UGO wegbeweeg is nie.

Bestuur

Die gebrek aan doeltreffende onderwysbestuur in tallose skooldistrikte is ‘n verdere simptoom van akute en roekelose verpolitisering van die onderwys. Distrikskantore het ‘n kernfunksie in die professionele begeleiding en ondersteuning van skole in hul gebied. In die meerderheid provinsies is die distrikskantore egter grootliks disfunksioneel in hierdie opsig, en funksioneer hulle eerder as polities-burokratiese beheersentrums, met personeel waarvan die aanstelling grotendeels berus op korrekte politieke affiliasie, eerder as enige onderwyskennis en –ervaring. Om die onbevoegdheid te verbloem, gaan sommige distrikskantore sover om belangrike bestuursinligting (soos oor die nie-verskaffing van leermateriaal, onderwysertekorte en -afwesighede) van provinsiale onderwysdepartemente te weerhou. Dit verbaas niemand nie dat pligsgetroue onderwysers en skoolhoofde die distrikskantore eerder as struikelblokke in hulle werk beskou.

Die gebrekkige werksomstandighede, beroepsingesteldheid en professionele ontwikkeling van onderwysers is verdere verdoemende indikatore van onderwysbestuur wat faal omdat die politieke wil en nodige kundigheid om regstellend op te tree, ontbreek. Hulpbronvoorsiening vir doeltreffende onderwys is beroerd: Slegs ‘n klein minderheid van Suid-Afrikaanse skole het internet-toegang en beskik oor ‘n funksionerende biblioteek. Maar selfs al sou voldoende hulpbronne beskikbaar wees, sou dit geen waarborg vir onderwysverbetering wees nie, vanweë die voortgesette gebrek aan konstruktiewe personeelbestuur in die Suid-Afrikaanse onderwys. Die meerderheid van Suid-Afrikaanse onderwysers se beroepsinstelling word gekenmerk deur ‘n voortslepende afhanklikheidsindroom, ‘n onbevoegdheid en selfs onwilligheid om self enige inisiatief te neem ten behoewe van doeltreffende onderwys. Verdere professionele onderwyserontwikkeling is die verantwoordelikheid van die Suid-Afrikaanse Onderwysraad, maar die puntesisteem waaraan onderwysers onderwerp word, is ingewikkeld en maak die stelsel grootliks onuitvoerbaar. Opsommend: Die grootste enkele bate in enige onderwysstelsel, naamlik die onderwysers, word in Suid-Afrika vanweë wanbestuur geneutraliseer, en selfs omgesit in ‘n negatiewe krag.

En nou die dieptepunt. Sekerlik die grootste destruktiewe invloed op doeltreffende skoolbestuur is die Suid-Afrikaanse Demokratiese (sic) Onderwysersunie (SADOU). Jaarliks gaan baie dae van waardevolle onderrigtyd verlore deur SADOU se roekelose, onprofessionele en polities-gemotiveerde protesoptredes. Dissipline-georiënteerde skoolhoofde word geneutraliseer, en selfs distrikshoofde wat dit waag om teen SADOU standpunt in te neem, word ontsetel. Dit geld as makabere ironie dat SADOU-lede (hoofsaaklik onderwysers) op die voorpunt staan van die vernietiging van leerkultuur in baie skole. Weens die affiliasie met COSATU, die ANC se belangrikste politieke vennoot, gaan SADOU-lede ongesteurd hulle gang.

[einde van uittreksel]

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Gerrit Kamper

Meer oor die skrywer: Gerrit Kamper

Prof. Gerrit Kamper is verbonde aan die Departement van Onderwysstudies aan die Universiteit van Suid-Afrika

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae