Ongebreidelde liberalisme is nie die enigste gevaar

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Ek dank prof. Koos Malan vir sy antwoord (“Die krisis van die Westerse beskawing”, 6 Augustus) op ’n vorige artikel van my (“Die Europese beskawing onder die loep”, 17 Julie).

Die sentrale punt in my artikel was ’n verdediging van die 18de-eeuse filosoof Edmund Burke se idees oor konserwatisme. Burke word allerweë beskou as die vader van die moderne konserwatisme, ’n konserwatisme wat bowenal rasioneel en gematig was.

’n Tweede geleerde wat ek aangehaal het, was die Amerikaans-Nederlandse politieke wetenskaplike Cas Mudde, waarskynlik die man wat wêreldwyd die meeste navorsing oor die verskynsel van moderne populisme – links en regs – gedoen het. Dit om ’n objektiewe akademiese beskrywing te stel wat die verskynsel beskryf en nie tussen links en regs kant kies nie.

Op grond daarvan het ek aangedui dat die moderne regse populiste nie regtig konserwatief is nie, maar radikaal – hulle wil nie bewaar nie, maar juis alles omverwerp.

In sy antwoord het Malan nie regtig hierop ingegaan nie, behalwe om te skryf dat “om hulle bloot as populiste te beskryf, is ’n niksseggende stelling wat slegs van onkunde getuig van die enorme uitdaging wat die Westerse beskawing toenemend in die gesig staar”.

Die kern van sy artikel is die volgende paragraaf:

“Die Westerse beskawing is reeds geruime tyd onder druk. Sy grootste vyand is ongebreidelde liberalisme: ’n liberalisme waarvolgens alle mense wesenlik dieselfde is. Dit is ’n liberalisme wat die eiesoortigheid en besonderheid van die Westerse beskawing ontken. Dis ’n liberalisme wat vyandig teenoor die Weste staan en wil abdikeer – vernietig – en wat migrasie van nie-Westerlinge wil aanwend ten einde die Weste te laat verdwyn.”

Dit is ’n paragraaf waarmee ek net deels kan saamstem. Wat nou hierop volg, moet dus as ’n aanvulling daarvan beskou word.

Ten eerste: Die liberalisme wat ons Afrikaners histories leer ken het, is die Engelse liberalisme, wat ten nouste aan die Engelse imperialisme en kapitalisme verbonde was. Dit maak nie alle vorms van die liberalisme verwerplik nie.

Tweedens, die liberalisme het in die 18de en die 19de eeu as reaksie teen die Europese koninklike outokrasieë ontstaan en was medeverantwoordelik vir die groei van die moderne demokrasie en regstaat. As jy ten gunste van die demokrasie en die regstaat is, is die liberalisme dus ’n positiewe saak.

Drie: Op die Europese vasteland beteken die begrip liberalisme iets anders as in die Angel-Saksiese wêreld. Om ongenuanseerd teen die liberalisme te velde te trek, is om kortpad te vat.

In die vierde plek: Die kernbegrip in die aangehaalde Malan-paragraaf is “ongebreidelde liberalisme”. Synde ’n aanhanger van Edmund Burke se rasionele, gematigde konserwatisme, is die ongebreidelde liberalisme inderdaad ’n gevaar.

Maar nie net die ongebreidelde liberalisme nie; jy kan dié woord ook met “konserwatisme”, “populisme”, “sosialisme”, “nasionalisme” en nog honderd ander “ismes” vervang. En soms loop hulle in mekaar oor. Was dit nie die oerkonserwatiewe Margaret Thatcher wat die “ongebreideld-liberale” uitspraak – “There is no such thing as a society” – gedoen het nie?

Ek hou daarvan om die saak só te bekyk: Die voordeel van enige nuttige denkraamwerk, watter naam jy ook al daaraan wil gee, is om die verwarrende massa feite en gesigspunte sodanig te orden dat dit die werklikheid verhelder. As jy deur die prisma van die denkraamwerk na die situasie kyk, stel dit jou in staat om dinge beter te begryp.

Maar ’n denkraamwerk – énige denkraamwerk – kan absoluut en rigied word. Dan wil ek dit nie meer ’n denkraamwerk noem nie; dan word dit ’n ideologie.

Só ’n ideologie help nie die werklikheid verhelder nie. Hy skryf aan jou voor hoe jy die werklikheid moet sien.

Toe ek in 1989 net na die val van die Berlynse Muur die ou Oos-Duitsland besoek het, moes ek dikwels my neus toeknyp weens die erge lugbesoedeling. Toe ek oortuigde Oos-Duitse kommuniste daaroor uitvra, was hul reaksie soos ’n rympie wat hulle uit hul kop geleer het: Lugbesoedeling is ’n gevolg van die kapitalisme. Dis wat wes van die grens voorkom; hier by ons het ons ’n sosialistiese stelsel, en dus bestaan lugbesoedeling nie hier nie.

Nog ’n voorbeeld: Dieselfde Nederlandse populistiese politikus Thierry Baudet, wat Malan so hoog ag, het onlangs geskryf Schiller se beroemde woorde “Alle Menschen werden Brüder” (wat Beethoven in sy Negende Simfonie getoonset het), was “ironies” bedoel: “Hulle het die Verligting bespot”.

Inderwaarheid het Beethoven sy musikale weergawe van Schiller se woorde (’n tipiese uiting van die Verligting) as protes teen Napoleon se outoritarisme bedoel. Só onderwerp Baudet selfs die onbetwisbare historiese feite aan sy eie ideologie.

Dit beteken nie dat daar nooit waarheidsmomente in ideologieë kan wees nie. Geen oortuiging is ooit 100% korrek of 100% foutief nie; selfs in die kommunisme en Nazisme was daar – beperkte – waarheidsmomente.

Nou terug by die liberalisme. Malan het volkome reg as hy wys op die “ongebreidelde liberalisme” se ontkenning van verskille tussen kulture en beskawings.

Maar daardie soort gevaar geld eintlik vir enige gedagterigting wat tot ’n ideologie verword – dit geld vir die nasionalisme, die sosialisme, noem maar op.

Die gevaar lê dus nie slegs by die ongebreidelde liberalisme nie. Malan se waarskuwing moet aangevul word met ’n waarskuwing teen alle ongebreidelde ideologieë.

Ek is bly Malan deel my kritiek op pres. Donald Trump. Waar ons verskil, is spesifiek oor Viktor Orban van Hongarye en Jaroslaw Kaczyński van Pole. Dié twee (soos trouens ook Wladimir Poetin van Rusland) verdedig die Westerse beskawing wel op ’n heel eienaardige manier.

Malan beskryf die “outentieke beskawingsaard van Europa” tereg só: “’n Sin vir persoonlike vryheid, regsoppergesag (in plaas van arbitrêre regering), verspreiding van politieke gesag en ’n ondersoekende (intellektuele) gees”.

Maar Orban en Kaczyński se regerings word gekenmerk deur die aanslag wat hulle nou al jare lank op die wesenskenmerke van die demokrasie lei. Hulle het albei die onafhanklikheid van die media en die regbank aansienlik ondermyn en maak dit steeds moeiliker vir opposisiepartye om vryelik te kan funksioneer.

Oor bondskanselier Angela Merkel van Duitsland se besluit in 2015 om meer as ’n miljoen Siriese oorlogsvlugtelinge toe te laat kan ’n mens lank en wyd debatteer. Niemand kan ontken dat dit tot groot probleme gelei het nie. Maar haar besluit was nie die gevolg van ’n ongebreidelde liberalisme wat alle verskille ontken nie.

’n Mens moet die historiese omstandighede in aanmerking neem. Die mense, op vlug vir hul lewens, het soos vloedwater by die grens opgedam en begin oorloop. Moes Merkel, met die spesifieke Duitse geskiedenis wat oor haar skouer loer, haar polisie en weermag dan opdrag gegee het om die mense dood te skiet? Haar praktiese alternatiewe was baie na aan nul.

Die ongebreidelde liberalisme is inderdaad ’n gevaar. Maar so is alle denkraamwerke wat tot ideologieë verabsoluteer word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Kallie ·

Terwyl die slimmes baie praat oor diep dinge gaan dit maar bars om kos op die tafel te sit en goed te wees vir die naaste. Maar nou ja, ons is nie almal denkers nie.

Frans C ·

Daar word bittermin gedoen om die probleme in die lande waaruit die vlugtelinge kom
op te los,trouens ‘n mens kry die idee dat diegene inbeheer van die lande, weet dat lande
soos Duitsland en ander nie sommer hul grense sal sluit of mense ‘doodskiet’ of van honger te laat vergaan nie.

Daar is dus geen aanmoediging by die regerings om hul huise in orde te kry nie en lewensomstandighede te verbeter nie ,trouens dit is ‘n maklike manier om van mense
ontslae te raak veral as hul anti regering is.

Dan is hul nog vermetel genoeg om lande soos Amerika se beleid om die stroom te keer
as onmenslik te beskryf en die vir hul probleme te blameer amper op die manier waarop
die blankes van Suid Afrika deur die ANC as die oorsaak van al die huidige probleme
beskou word.

Jerry ·

Mooi Leopold, baie mooi, kom ons hoop die ismes se skille op die oe dop af. Duidelik is daar darem nog meningsvormers wie se denkraamwerk nie ideologies besoedel is nie! Terwyl ieder en elke meningsvormer, jou uitgesluit, ideologies besoedel is, maak ek graag n beskeie bydra as volg: Is dit n populisme, konserwatisme of burgerregte beweging? Is dit n minderheidsregte beweging? Is dit n wit/bruin bewussynsbeweging? Is dit n wit mag beweging? Ja en nee, dit is die Afriforum/Solidariteit beweging! Die onderrok wat uithang kan nie meer opgetrek word nie, omrede die isme motiewe het te swaar geraak. Is die motiewe n goeie teenvoeter vir die meer duistere motiewe van die sosialistiese en kommunistiese swartmag beweging? Nee, omrede die motiewe deur isme besoedel is en dus voorspelbaar is!

Leopold Scholtz ·

Jerry, ek dink ons almal het oortuigings. Die punt is: Is ons bereid om krities na onsself te kyk? Is ons bereid om te aanvaar dat iemand anders dalk deel van die waarheid kan besit? Is ons bereid om iemand anders die reg op sy eie mening te gun? Sommige mense wat kommentaar lewer, is klaarblyklik nie bereid daartoe nie. Maar nou ja; dinge is wat hulle is. Lekker dag!

Charles ·

Maar natuurlik is dit,wat is ongebreidelde “liberalisme” dan anders as die “sensuristiese” sg. “Masters of the Universe”,wat konserwatiewe vryheid van spraak op SM dood smoor? Wat anders is dit as die kampusse van Westerse universiteite,voormalig bekend as “die room” van die Weste,waar linkse onverdraagsaamheid,onderdrukking van vryheid van spraak,anargisme,nihilisme en die afskuwelike ideologie van marxisme heers?(terloops, die Marxiste, net soos die Marxiste hier in SA-gebruik ‘n ou en getoetste marxistiese taktiek-dwing die narratief na links, en die opregtes maak toegewings) Wat anders is dit as ANTIFA-wat op die punt staan om as binnelandse terreurorganisasie gebrandmerk te word?
Fascisme is nou deel van die “liberale” mondering,asook anti-vryheid van spraak, nihilisme en anti-Israelse sentimente. Onthou jy nog toe die saak vir die Israeliete ‘n Linkse een was?Nie,so gedink, ek ook nie.In die VSA is die GOP onder Pres. Trump nou besig om die party van die werkersklas te word,soos wat nasionalisme,nasietrots en besorgdheid oor jou eie mense en die beskerming van jou kultuur saamsmelt in ‘n wonderlike “rewolusie”,die konserwatiewe (regse) rewolusie,in teenstelling met die bedrieglike,neus-in-die-lig elite “liberales” en establishment wat nou die demokratiese party verteenwoordig. Al waaraan die konserwatiewes skuldig is,is om dit te beskerm(in teenstelling met die ongebreidelde oikofobie wat op universiteits-kampusse heers) wat eie aan hulle is en om die deur vir die magsbehepte,opportunistiese,globalistiese politieke klas te wys wie se dae van kiesers aan die neus rondlei, op ‘n einde is. Dankie.

Gert ·

Dankie Charles, goed gestel. Die sg. liberales is deesdae almal eintlik sosialiste en globaliste, en dis net skokkend om te sien hoe hulle almal wat nie met hulle saamstem nie, demoniseer. In hierdie artikel word weer ‘n poging aangewend om massaverskuiwings van mense goed te praat, en eenvoudig te ignoreer watter bedreiging dit inhou vir die Westerse beskawing, wat gelei het tot die grootste voorspoed en vooruitgang in die geskiedenis van die mensdom, en wat nou op die rand van uitwissing staan weens kulturele oorname.

Vaalseun ·

Volgens die Nigeriër, Prof. Emevwo Biakolo, “. . . the African [traditional thought] model is a closed system because, unlike the open scientific culture, it neither understands nor tolerates alternative thought. It has a mystical attitude to language and takes recourse to a personal idiom and a contextual basis for its discourse.” (Biakolo, 1998).
Leopold, ek dink jy toon juis die gevare van enige geslote denkmodel aan, ongeag of dit liberaal, konserwatief, links of regs, sosialisties, nasionalisties, ens. is.
Die grootste geskenk van die sg. Westerse (en ander) beskawings, is dat ons mag (en moet kan) vra, “Maar is dit die regte ding om te doen? Is daar nie ‘n beter oplossing nie?”
Dit is die grootste bate van die demokrasie: die meerderheidsparty word deur die opposisie tot verantwoording geroep, want geen oorwinning in ‘n verkiesing waarborg dat die wenner die insig ontvang het om die regte besluite daarna te neem nie.

Nico K ·

Dit is duidelik dat die meeste se siening van liberaal en konserwatief dieselfde is as goed en sleg. Wat natuurlik nie waar kan wees nie. Hoewel ek groteliks met Leopold saamstem, maak hy ook die fout om te skryf van die Engelse liberales wat gepaard gegaan het met imperialisme. Dit is glad nie waar nie. Dit was die Konserwatiewes, van wie Koos Malan so baie hou, wat die imperialisme was en in 1877 en weer in 1900 die Transvaal geannekseer het. Die Liberales het telkens daarna vir die Transvaal self-regering gegee. In 1881 en weer in 1906. So vergeet van die idee van liberaal sleg en konserwatief goed.

Leopold Scholtz ·

Nico, op sigself het jy reg. Dit was die Tories wat die Engelse imperialisme gedryf het. Maar jy vergeet dat daar ‘n taamlike konsensus tussen die Tories en Whigs was dat die Engelse kultuur die toppunt van beskawing was. Die Engelse imperialisme was nie slegs polities van aard nie, maar ook ekonomies en kultureel. En teen daardie agtergrond het die Afrikaners nie veel verskil tussen Konserwatiewe en Liberale gevoel nie. Maar in elk geval, dankie vir ‘n prikkelende bydrae!

John ·

Die Duitse Engel het soos Nederland in die laat 1950’s die tekort aan ‘n werkersklas in gedagte gehad. Nederland het Turke ingevoer en Duitsland onlangs, eers Sirièrs en daarna al wat leef en beef. Ag shame, was ongelukkig nie die eerste gedagte nie, Die rubberboot-brigade het sy ontstaan aan antie Angela te danke. Die stroom het te erg geraak en Duitsland wou kus en keur onder die mees bekwames waarna die EU, onder druk, die strome migrante begin pos het na al die armer lande soos Italiè en Griekeland in ruil vir geld natuurlik. En so het Duitsland, deesdae met swak ekonomiese groei en ten spyte van die kamma-liefdesdaad, sy eie ondergang begin bewerk. Oulik!

Therese van Schalkwyk ·

Dr. Scholtz dui by herhaling aan dat “die moderne regse populiste nie regtig konserwatief is nie, maar radikaal – hulle wil nie bewaar nie, maar juis alles omverwerp”.

Sonder enige voorbeelde van hierdie radikalisme en ‘Malema-agtige’ gedrag, bly dit ‘n hoogs ongeloofwaardige stelling. Die beveiliging van landsgrense en hernude respek vir kultuur en waardes, waarvoor hierdie ‘populiste’ bekend is, is tog júís op bewaring gerig.

Liberaliste daarenteen is bekend vir die omverwerping van die bestaande orde.
Lees hoe die wet en orde in Duitsland, sowel as die res van Europa en Skandinawië, drasties en ten slegte aan die verander is.

Fanie ·

Theresa, jy’s reg. Die Konserwatiewes in Europa wil die Westerse Europa bewaar (conserve), en die Liberales wil dit omverwerp deur massamigrasie. Migrante se Menseregte het belangriker as Europese Kultuur geword, maar niks word gerep oor Westerse volke se menseregte nie. Mense soos Guy vd Hofstad van die EU bepleit feitlik openlik die omverwerping vd Westerse kulture deur massamigrasie. Liberales is eintlik rassiste wat dink Moslems gaan ook liberale Westerlinge sonder kultuur word- omdat hul Liberalisme as neerderwaardig sien.

Henning ·

Therese, ja dit wat enige realistiese mens kan sien ontwyk blykbaar die sg. “meningsvormers”. Hulle naiewe weiering om die werklikheid in te sien en te begryp is verstommend.

JAN ·

Duidelik dat GLOBAILSME die antitese van Etniese Nasionalisme besig is met inploffing .

Opvallend dat hierdie kernkonsep skitter in afwesigheid.

Tipies FAKE IT.isme x 50 jaar

Jerry ·

Enkele akademici en politici verabsoluteer ideologiee en veroorsaak daardeur verdeeldheid en die gemors waarin die wereld homself bevind. Wanneer jy kyk na gewone mense dan werk konserwatiewes, liberale en sosialiste almal saam as een span vir een maatskappy. Dan toi toi selfs Solidariteit saam met ander vakbonde wanneer werkgewers die werknemers se regte skend. Wanneer dit egter kom by die sogenaamde akademici en politici leiers wie enkelinge is dan is daar verdeeldheid en selfs debatvoering kan niemand beweeg om hulle ideologiese standpunte te verander nie, dan skop almal vas aan daardie fondamente asof dit kwansuis almal se Alpha en Omega is. Daar is menslike waarhede in alle ideologiee, maar ook menslike duistere motiewe en vooroordele tesame met die waarhede. Dit wat as waarheid voorgehou word is dus nie die waarheid as dit nie almal se waarheid is nie. Die waarheid oor menslike ideologiee is dat dit bitter ver van die waarheid is!

Richard ·

Goeiedag Leopold. Dankie vir die artikel. Beide “regs” of “links” is gevaarlik indien die te ver na die een kant toe gaan. Wat interessant is, hoe mense jou dadelik in ‘n boksie plaas. bv. Ek is gay, net daar was ek al menigte kere beskuldig dat ons “groep” “ver links” is, sosialisties, kommunisties tree huggers, groenes is en en en . Wat glad nie die geval is nie.
Ek is net soos baie “konserwatiewer” mense in Europa bekommerd oor immigrasie en veral vanuit die Moslem wêreld. Dit is ‘n feit dat gay regte glad nie by die oorgrote meerderheid Moslems aanklank vind nie. En dat self “ons” groep bedreig voel indien jy in ‘n Moslem meerderheid buurt in Brussels bly, of in beweeg.
Ons kan nog lang geprekke hê hieroor hê, ongelukkig is die platform te klein daarvoor.

Ek beskou myself as ‘n liberale persoon, maar ook meer behoudend wanneer dit kom by politieke/sosiale kwessies soos immigrasie.

Helgard Muller ·

Kom ek stem eers saam dat ongebreidelde konserwatisme ook ‘n probleem kan wees. Maar is dit werklik die geval in Europa en die VSA?

Dit is moeilik om byvoorbeeld saam te stem dat dit die populiste is wat “radikaal” is en die huidige orde wil omverwerp (in terme van idees). Mens kan soos meeste mense wat ernstig oor dit dink, argumenteer dat die probleem eerder lê by ongebreidelde liberalisme en ‘n heersersklas wat nie meer organies verbind is met die breë samelewing nie. In kort, dit is die heersersklas wat te vinnig weg beweeg en nie in staat is om belangrike gedeeltes van die samelewing saam te vat nie. Dat hul self onbereid is om te luister, demokratiese uitkomste te aanvaar (oraait swaar daaraan kou) en nie bereid is om hul mag en gesag prys te gee nie. Ek dink byvoorbeeld in Poland en Hongarye moet mens versigtig wees om nie net te kyk na opinies vanuit die wat mag verloor het nie (hoeveel byvoorbeeld van Poolse situasie verstaan jy vanuit Appelbaum se invloedryke Atlantic artikel – iets met baie strooimanne?) of wat kommentaar verskaf aan invloed ryke liberale en progressiewe forums nie.

Daar is te veel om nou aan te raak. Ek dink byvoorbeeld dit is die moeite werd om oor twee goed verder na die dink. Burke was ‘n Whig en ook aan die regte kante van baie hervorming. Konserwatisme van Burke tot ‘n Oakeshott is skeptiese oor rasionalisme en watter mate rasionalisme werk as politieke uitgangspunt…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.