Ongewildheid eerder as gewildheid sal Amerikaanse president bepaal

Foto: pixabay.com

Foto: pixabay.com

Met net meer as 100 dae oor tot die Amerikaanse verkiesing op 8 November, raak dit toenemend duidelik dat die verkiesing vanjaar nie gewen gaan word weens die vermoë van een kandidaat om met charisma, ’n sterk boodskap en breë gewildheid ’n meerderheid van kiesers te oortuig om vir hom of haar te stem nie. Die uitslag van vanjaar se Amerikaanse verkiesing sal eerder bepaal word deur watter een van die twee kandidate daarin gaan slaag om deur ’n smeerveldtog sy of haar teenstander die ongewildste te maak.

In ’n peiling deur CBS News wat ’n paar dae gelede bekend gestel is, sê 67% van Amerikaners dat Hillary Clinton nie vertrou kan word nie. Meer as 60% van Amerikaners sê dat hulle nooit vir Donald Trump sal stem nie. In nog ’n onlangse peiling is 54% van Amerikaners ontevrede met die kandidate van hul onderskeie partye, terwyl net sowat 30% tevrede is. Dit is dus geen wonder dat slegs 27% van kiesers in die CBS News-peiling aangedui het dat hulle baie uitsien na die verkiesing nie. Clinton en Trump geniet tans elkeen die steun van 40% van waarskynlike kiesers. Dit beteken dat een uit elke vyf kiesers nog weier om vir enige van die twee kandidate te stem.

Terwyl Amerikaners negatief oor hul opsies in November se verkiesing is, neem negatiwiteit oor die politiek en selfs die algehele toestand in Amerika ook voortdurend toe. ’n Meerderheid Amerikaners is negatief oor die land se ekonomie, veiligheid, onderwys en rasseverhoudinge om slegs enkele punte uit te sonder. Wanneer dit kom by die algemene rigting waarin dinge in Amerika beweeg, dan sê 69% van Amerikaners dat die land in die verkeerde rigting beweeg. Byna 80% van Amerikaners is ontevrede met die werk van die Senaat en Huis van Verteenwoordigers.

Wanneer die Republikeinse Party dus van 18 tot 21 Julie in Cleveland, Ohio, bymekaar sal kom om tydens hul konvensie Donald Trump formeel as hul presidentskandidaat te benoem en wanneer die Demokrate van 25 tot 28 Julie in Philadelphia, Pennsylvania, vir Hillary Clinton as hul kandidaat sal benoem, gaan die fokus nie net op die twee partye se presidentskandidate val nie, maar sal die twee veldtogte eerder die nasionale media-aandag gebruik om hul opponente te diskrediteer.

Negatiewe politieke veldtogte is lank reeds deel van die Amerikaanse politieke landskap. In die verlede het presidentskandidate egter die nasionale konvensies gebruik om hoofsaaklik oor hulself, hul sterkpunte, hul bewese rekord en hul voorgestelde beleidsrigtings te praat. Vanjaar sal ons egter sien dat die konvensies gebruik gaan word om die opponente af te breek. Tydens die Republikeinse konvensie sal ’n video oor Bill Clinton se twyfelagtige verhouding met vroue vertoon word. Tydens die Demokrate se konvensie sal daar ’n hele fokus op Trump se besigheidsrekord en die talle bankrotskappe van sy maatskappye wees.

Terwyl die Republikeine en Demokrate wel sal poog om hul onderskeie kandidate in ’n meer positiewe lig aan die Amerikaanse publiek bekend te stel, moet erken word dat Donald Trump en Hillary Clinton deeglik bekend is aan die Amerikaanse publiek. Albei kandidate is ongewild en hul swakpunte is die afgelope paar maande oor en oor aan die publiek bekend gestel. Omdat albei kandidate ’n veelheid van swakpunte het, beskou politieke konsultante die voortdurende gehamer op mededingers se swakpunte as die beste strategie.

Sowel Clinton as Trump se swakpunte kan nie deur kleredrag, grimering, beter onderhoudvoering of goed voorbereide toesprake reggemaak word nie. Clinton het drooggemaak met die gebruik van ’n privaat e-posstelsel toe sy minister van buitelandse sake was. Haar hantering van die veiligheid van die Amerikaanse ambassade in Benghazi in 2012 toe die land se ambassadeur vermoor is, was ook nie voldoende nie. Trump se talle twyfelagtige saketransaksies en misbruik van Amerikaanse wetgewing oor bankrotskappe is ook deeglik bekend. Voeg daarby sy talle omstrede uitsprake die afgelope paar maande en jy weet dat baie mense nie van hom sal hou nie.

Dit raak dus toenemend duidelik dat die wenner van vanjaar se Amerikaanse verkiesing nie soseer die gewildste kandidaat gaan wees nie, maar eerder die kandidaat wat met ’n harde, ongenaakbare smeerveldtog die beste daarin gaan slaag om te verseker dat die ander kandidaat ongewilder as hy/sy is.

As Judge Judy, die Ricky Lake Show of selfs die Jerry Springer Show tot jou spreek, gaan jy waarskynlik die volgende paar maande geniet. Mense wat egter diepliggende politieke debat en die ontleding van verskillende beleidsrigtings geniet, sal vir ’n volgende verkiesing moet wag.

Intussen kan ons net sê: Laat die vertoning begin!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Fanie ·

Uitstekende ontleding! Die skrywer ken sy storie. Dankie Maroela vir gehalte artikels wat selde in die Engelse media verskyn, en nooit in Afrikaans nie.

Jcwf ·

Dankie Jaco vir dié ontleding. Daar is mense hier, veral jong mense, wat regtig nie weet wat hulle nou moet doen nie. Hillary Wall Street Clinton of Donald the Unspeakable Trump.

Ek dink Johnson die Libertariese kandidaat gaan baie stemme kry.

gatiep ·

Clinton laat Zuma soos n baba lyk met hoe skelm en evil sy is,mag die wereld tog gespaar word dat sy nie inkom nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.