Oningeligte publiek verloor lewenskragtigheid

SABC-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

SABC-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

Die afgelope jaar sien ons omtrent elke dag op die televisie tonele van gewelddadige diensbetogings, skole en regeringsgeboue wat afgebrand word, hardhandige polisie-optredes en woedende hordes. Die beeldsending van hierdie opstandigheid is deurgaans objektief en mens het respek vir die televisiemense en joernaliste wat vreesloos hierdie gebeure ondersoek en aanbied.

Hoe pynigend hierdie onrustonele ookal vir kykers is, is televisiedekking absoluut noodsaaklik om onder die breë publiek ʼn bewuswording te kweek van onrusbarende landsomstandighede.

Toe uit die bloute, kom die SAUK-besluit om nie meer dienslewering-opstande en vernietiging van eiendom op sy nuuskanale te vertoon nie, kwansuis omdat dit gewelddadigheid aanhits en kinders en jongmense nie aan sulke skriktonele blootgestel mag word nie. Dit is sekerlik die toppunt van skynheiligheid, as mens dink aan die speelfilms wat onbeteueld gruwels, moord en doodslag vrylik op televisiekanale wys.

Drie vrywillige waghondorganisasies lê onmiddellik klagtes by die SAUK se klagtekommissie, wat bevind dat die verbod op die nuusdekking van stedelike onrus is ongeldig en so ʼn aanbeveling aan die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) maak. Op 11 Julie word die aanbeveling van die klagtekommissie deur Okosa bekragtig en die uitsaaier word aangesê om hul verbod binne sewe dae terug te trek.

Okosa se bevinding is kort en kragtig. Die openbare uitsaaier word volgens die Grondwet verplig om die vryheid van die media te respekteer, die ontvangs en aanbieding van inligting te verseker en om ʼn alle redelikheid meningsverskille in die Suid-Afrikaanse samelewing te reflekteer.

By hierdie bevinding kon daar nog ʼn baie belangrike en deurslaggewende argument gevoeg word. Die Grondwet het as een van sy grondliggende waardes, ʼn regering wat toeganklik en verantwoordbaar is. Dit spreek vanself dat as die regering deur die nuusverbod van die openbare uitsaaier agter vorme van geheimhouding skuil, sy optredes nie langer oop en toeganklik kan wees nie.

Nou is daar ʼn groot kwelvraag. Wat gebeur as die SAUK die uitdruklike bevinding van Okosa ignoreer? Volgens die Grondwet en die Uitsaaiwet is Okosa ʼn oorhoofse beheerliggaam en net soos die openbare beskermer se bevindinge, het dié liggaam ook uitvoerende en bindende magte. Sou die openbare uitsaaier weier om aan die uitdruklike bevel uitvoering te gee, moet die Okosa-bevinding op hersiening na ʼn hof geneem word, maar indien nie, moet die bevel nagekom word en is die moontlikheid van strafregtelike vervolging van die verantwoordelike hoofde nie uitgesluit nie.

Benoude katte maak benoude spronge. Die bedenking bestaan al lankal dat die SAUK sy plig as onafhanklike uitsaaier versaak  en toenemend as handlanger van die regering optree. Met die plaaslike verkiesings om die draai en die ANC se vrese dat hy sy ondersteuning in sommige plaaslike gemeenskappe gaan verloor, is dit verklaarbaar hoekom gewelddadige diensbetogings en onrus in dorpe en stede nie vertoon mag word nie. ʼn Benoude sprong.

Wat die ANC egter nie besef nie, is dat die media en sosiale netwerke nou met nog groter ywer agter die ware kap van die byl sal gaan soek na nuus in onrusgeteisterde gemeenskappe. En dat die publiek nou nog meer as gewoonlik sal wil uitvind wat werklik in ons land gebeur en dat vals gerugte van gerugte van opstande en ontwrigting al hoe meer die ronde sal doen.

Die onrusbarende is dat die sensuur van inligting en daarmee die onderdrukking van mediavryheid, ʼn duidelike gevaar vir die demokrasie inhou. Outoritêre en magsbeluste regimes begin gewoonlik om hul vergrype en mislukkings in geheimhouding te verberg. En erger nog, joernaliste wat dit waag om die vergrype aan die kaak te stel, word geskors en in die tronk gegooi.

Dit is wat ongelukkig ook gedurende die apartheidsjare gebeur het. Gewone, goedgelowige mense het nie geweet van die opstande en onluste in die destydse arm en onderdrukte gemeenskappe nie. Oorsee, op buitelandse nuusdienste, kom mens dan met skok agter hoe sleg dit in ons land gaan. Onderdrukking van nuus is nie slegs ʼn aantasting van meningsvryheid nie. Ook ander vryhede, soos die vryheid van politieke organisasie en opposisie word ondermyn. Selfs geloofsvryheid kom in gedrang, want as kerke en geloofsgemeenskappe van inligting weerhou word, kan hulle nie meer hul profetiese roeping vervul om hul getuienis oor en veroordeling van ongeregtighede in die samelewing te laat hoor nie, bloot omdat hulle verhoed word om te weet wat om hulle gebeur.

Ons beroem ons op ʼn goeie Grondwet. Dit is beslis so, ʼn Grondwet met die uitdruklike beskerming van vryhede. Die Grondwet is egter ʼn dooie letter as instellings om grondwetlike vryhede te beskerm, soos Okosa, geïgnoreer en onderdruk word. Uiteindelik is dit die plig van die burgerlike samelewing om sy stem te laat hoor as die regering vryheid van die media wil versmoor.

Want ʼn oningeligte publiek word uiteindelik passiewe gemeenskappe wat die Grondwet en die demokrasie van sy lewenskragtigheid beroof.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Prof. Marinus Wiechers

Prof. Marinus Wiechers is ʼn grondwetkenner. Hy was nou betrokke by die opstel van die Grondwet en was ook die visekanselier van Unisa.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Claudette ·

Ons gesin gee glad nie om nie want ons kyk in elke geval nie meer sauk kanale nie, en het jarre laas lisensie betaal. Is ook nie van plan om dit weer te doen nie

Theuns ·

Dankie Prof. Ek dink die Grondwet is goed geskryf maar werk nie as ons alles wat in die land aangaan nie met valk oe dophou nie en daarvolgens handel nie. Ons het ‘ n regering wat hom nie steur aan die grondwet nie. Die hoeveelheid hofsake wat aan aangegaan is om ons regte te beskerm bewys dit. Ek is bang dat een of ander tyd gaan ons dik word vir die storie en maar Gods Water oor Gods Akker sal laat loop? Die koste vir al die hofsake moet enorm wees! My vraag aan u is kon ons nie n beter bedeling onderhandel het nie? Groete

Wern ·

Ons moes n baie beter bedeling onderhandel het. Hulle pet patetiese onderhandelinge gedoen, die land en ons toekoms net weggegee en aan die genade oorgelaat van n politieke bestel wat regoor die kontinent nog net ellende veroorsaak het.

sê net ·

Iets wat baie sou help is dat staats pres. Nie sò veel MAG het nie en die mense pres. Kies. Ook net 1 oorteedinge volgende een word diens beeïndig sonder goue handdruk. Termyn Maks 2jaar. Hofkostes staatamptenare betaal elkeen self vernaam as jy verloor.

Johan 2 ·

Hoe kan hul dan hul vergryp aan al ons voorvaders se harde werk…Zuma is nie die duurste president wat SA al moes oorleef nie, daardie titel behoort aan FW, hy en sy patetiese trawante is verantwoordelik vir AL die gemors waarmee ons nou sit…wens net ek weet wat die uitweg is, want ek dink nie kla en vingers wys is nie (help ek myself nou lekker reg:).

Kombuis ·

Kamma besorgd oor kinders en oumense se welstand wat aan sulke beeldmateriaal blootgestel was? Probeer met beter verskoning ANC en julle pionne, ons land het die hoogste geweld teen kinders en oumense en die gemors regering steur hulle niks daaraan nie!

Fanie ·

Beste Prof, u maak baie belangrike en geldige punte oor die verband tussen demokrasie en die vrye vloei van inligting. Demokrasie sonder die oppergesag van die reg, is ook ‘n diktatuur- soos Garry Kasparov waarsku. Maar ek voel dat die grondwetlike onderhandelaars die ANC grondliggend misverstaan het. Hulle was nog nooit liberale demokrate nie, en sal hul nie deur ‘n liberale grondwet aan bande le

HEVW ·

Prof hierdie grondwetlike misleiding kom ongelukkig van baie ver. Selfs deur n lang onderhandelingsproses voor 1994. Om n sterk openerende party soos die destyds KP party teen te staan is selfs tussenverkiesings gemanipuleer. Tesame daarmee is die burgery van die land mislei met n valse utopiabeeld bekend as die nuwe reenboognasie. Alles duidelik in diens van die sg. Nuwe Wereldorde. Hierdie misleidigsproses waaronder veral die Blanke ly, is steeds voortslepend. Nie juis minder blatant as voorheen nie. In n veelrassige demografie soos in SA met sy rassestyd sal daar geen einde wees nie. Die vorige onderhandelaars was beslis nie blind vir hierdie werklikheid nie. Wat waar is hul het die knie voor internasionale magte gebuig en selfs ook vir gunste en ook ingegee vanwee dreigemente. Die bewyse daarvan is lankal nie meer n geheim nie.

John ·

Professor ek is regtig baie bly dat so baie van julle wat hierdie nuwe bedeling help skep het, nog in die lewe is, om die gevolge self te beleef. Ek glo jou huis is voorsien van genoeg sekuriteitsapparate. U is nou bang die res van ons is oningelig of sal binnekort wees sonder die SAUK se diepsinnige inligtingsessies. Nee wat prof, soos destyds, is u en u mede selfaangestelde bepalers van die Afrikaners se toekoms, eintlik die’ wat oningelig is. Daar is inderwaarheid baie ander en beter inligtingsbronne. U sal verbaas wees. Vra u kleinkinders.

John ·

Ons sal dit waardeer as die professor aan ons kan verduidelik hoekom die grondwet soveel magte aan die president van SA toegeken het dat selfs die grondwethof hom nie kan ontsetel nie. Die professor besef seker dat die probleme wat nou by die staatsuitsaaier ontstaan direk verband hou met die onbestrede magte van ons leier. Die outokratiese regte van die beherende party waar slegs ‘n klein groepie mense die president verkies skep ‘n president vir verreikende ingrype in die land se werksaamhede. Dit wil voorkom of diegene wat meegedoen het aan die nuwe bedeling nou aan erge geheueverlies begin ly.

Koos ·

Die ANC is baie slu en ook baie intelligent net voor ‘n verkiesing is daar altyd ‘n voorval of voorvalle om die aandag af te haal van die werklike probleme dit gee die opposisie partye nie die kans om die stemgeregtigdes in te lig oor die werklike probleme nie .Sodra die verkiesing verby is en die ANC gewen het vervang hulle die hoof van die sabc bevorder hom by ‘n ander departement en die opposisie dink hulle het die stryd gewen maar eintlik is hulle uitoorlê.

Willem Pretorius ·

Waarom al die hofsake? Dit is mos maklik om te verstaan , sigaret en drank advertensies hits mense aan om te rook en drink , so hits die wys van geweld by protes optogte nie dan geweld aan nie. In engels is daar ‘n mooi gesegde , “monkey see , monkey do” . Persoonlik reken ek hulle wil net op tv verskyn en dus word daar meer en meer geweldadigde optogte ens. gehou. As my vermoede verkeerd is dan is die stellings oor sigaret en drank advertensies mos ook vals. Ek rook glad nie , ek het maar het opgehou en dit was nie advertensies wat my laat begin rook het nie maar deur te sien ander rook dan wil jy ook probeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.