Onregmatige arrestasie en aanhouding: Het ek ’n siviele eis?

Argieffoto

Deur Hein Gonzales

’n Inhegtenisname wat uitgevoer word deur wetstoepassingsbeamptes moet altyd binne die raamwerk van nasionale wetgewing wees, meer spesifiek moet dit strook met die grondwetlike regte soos verskans in die Suid-Afrikaanse Grondwet. Indien die beampte nie reg optree nie, is jy geregtig op finansiële kompensasie vir die skade deur jouself gelei. Onregmatige inhegtenisname is die skending en inperking van ʼn persoon se reg op vryheid. Onregmatige inhegtenisname is nie net beperk tot die ontneming van jou reg op vryheid nie, maar is ook ʼn onbehoorlike misbruik van die stelsel, insluitend ʼn negatiewe impak op jou menswaardigheid, wat tot gevolg het dat hierdie aksies as kwaadwillig geklassifiseer kan word.

Wie dra die bewyslas?

Onregmatigheid

Die eerste stap in die proses sal wees om aanmaningskrywe, opgestel deur jou prokureur, binne ses maande ná die insident aan die SAPD te stuur kragtens die Wet op die Instel van Regsgedinge teen sekere Staatsorgane van 2002. Nadat dít gedoen is, sal ʼn dagvaarding uitgereik word met die besonderhede van vordering wat die bewering en eis uiteensit. Die vermoede bestaan dat die inhegtenisname en aanhouding prima face onregmatig is. Dit is nie nodig vir jou as eiser in die siviele saak om onregmatigheid te bewys nie. Die onus en bewyslas berus by die arresterende beampte en die staat om die hof te oortuig met bewyse dat die inhegtenisname en aanhouding wel regmatig en geregverdig was.

’n Inhegtenisname sonder ʼn lasbrief kan wel geldig en regmatig wees indien die arresterende beampte op redelike gronde geglo het dat jy ʼn misdryf gepleeg wat in Skedule 1 van die Strafproseswet verskans word.

Indien die arresterende beamptes met ʼn lasbrief arresteer wat behoorlike gemagtig en uitgereik is, sal dit as ʼn volkome verweer teen jou siviele eis gebruik kan word. Indien jy as eiser beweer dat die lasbrief foutief en gebrekkig is, sal die onus op jou rus om die hof te oortuig dat die lasbrief nie aan die minimum wetlike vereistes voldoen nie. Die eerlike en opregte oortuiging van die arresterende beampte dat die onregmatige inhegtenisname en aanhouding wel regmatig is, is nie ʼn verweer wat jou eis sal “troef” nie.

Skade: Hoeveel kan ek eis?

In die geval van onregmatige inhegtenisname en aanhouding is dit nodig om te bepaal hoeveel skade jy gely het. Dit gaan bepaal word deur ’n hof na die oorweging van verskeie faktore soos byvoorbeeld die tydperk van aanhouding, status- en/of reputasieskade, beserings opgedoen tydens inhegtenisname en aanhouding en nog vele meer. In die verlede het die howe byvoorbeeld die volgende bedrae aan eisers toegeken ten opsigte van onregmatige inhegtenisname en aanhouding:

  • ʼn 48-jarige sakeman wat vir sewe dae in onregmatige aanhouding was: R 136 000
  • ʼn 41 jarige sakeman wat onregmatig in hegtenis geneem en aangehou is vir twee uur: R 24 000
  • ʼn sakeman wat onregmatig in hegtenis geneem en aangehou is vir drie uur: R 16 978
  • ʼn 65-jarige sakeman wat vir 49 dae onregmatig in aanhouding was en toegesluit is saam met kriminele: R 102 000
  • ʼn professionele persoon wat in hegtenis geneem en aangehou is in ʼn polisiesel vir 24 uur: R 52 000.

Sien ook die sake: Minister van veiligheid en sekuriteit v Seymour [2007] 1 ALL SA 558 (SCA), 2006 (6) SA 320 (SCA) en Sibiya v Minister van veiligheid en sekuriteit [2008] 4 All SA 570 (N)

Het die arresterende beampte ʼn verweer?

Die wetstoepassingsbeampte wat jou in hegtenis geneem en aangehou het, kan die eis teen hom verdedig deur twee verskillende vorms van verweer te opper.

Eerstens kan dit wees deur jou feite in dispuut te plaas. Dit beteken in effek dat die beampte vir die hof sê dat jou feite oor die aangeleentheid en wat gebeur het verkeerd is, waarna hy dit kan weerlê deur sy eie getuienis voor die hof te bring. Laasgenoemde kan gedoen word by wyse van getuies te roep, foto’s aan te bied, video’s en/of beëdigde verklarings te openbaar.

Tweedens is die beste verweer teen jou eis dat die arresterende beampte bewyse voor die hof plaas dat die inhegtenisname wel aan die wetlike voorskrifte voldoen het.

Die “kinkel in die kabel” vind ons in art 55(1) van die Suid-Afrikaanse Polisiedienswet, Wet 68 van 1995. Hierdie artikel stipuleer duidelik dat indien daar ’n lasbrief uitgereik word wat foutief is in vorm en proses, sal die arresterende beampte nie aanspreeklik wees vir ʼn siviele eis nie, op voorwaarde dat die betrokke arresterende beampte nie bewus was en/of is van die defek en fout nie. As hy wel bewus is van die defek en voortgaan met die inhegtenisname, sal hy wel aanspreeklik gehou kan word.

Art 55(2) van die wet gaan egter verder. Indien die arresterende beampte wat die magtiging het kragtens ʼn lasbrief om iemand in hegtenis te neem, op redelike gronde glo dat hy die regte persoon in hegtenis neem, maar in werklikheid die verkeerde persoon arresteer, is hy ook gevrywaar van enige aanspreeklikheid.

Wat beteken dit in die praktyk?

Indien jy ʼn slagoffer van ʼn inhegtenisname was moet jy onmiddellik met jou prokureur konsulteer ten einde vas te stel of jou inhegtenisname binne die wetlike vereistes val. Indien jou prokureur van mening is dat jy ʼn sterk saak het, kan jou prokureur begin met die proses om regsaksie teen die betrokke polisiebeampte en die SAPD te neem. Daar moet in gedagte gehou word dat siviele litigasie groot finansiële uitgawes vir jou kan inhou. Waak teen prokureurs wat ʼn betreklike “swak” saak aanvat ter wille van geldelike gewin. Indien jou siviele aksie onsuksesvol is, kan jy ʼn kostebevel teen jouself kry om die regsonkostes van die SAPD ook te betaal.

Probeer so ver moontlik met die betrokke prokureur onderhandel vir ʼn gebeurlikheidsfooi-ooreenkoms. Dit beteken kragtens wetgewing dat die prokureur dubbel sy normale fooi kan vra, maar beperk is tot 25% van die eisbedrag soos ontvang vanaf die SAPD indien jou eis suksesvol is (Wet op Gebeurlikheidsgelde 1997).

(Bron: “Amler’s Precedents and Pleadings”)

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Swannie ·

My eis teen die staat vir onregmatige arrestasie, asook aanranding deur polisie beamptes, was susksesvol en die bedrag van R103.751 was toegeken.

Na 3 maande het die Staatsprokureur egter laat weet dat hy ONBEWUS was van die hofsaak, aangesien alle korrespondensie na die verkeerde provinsie gestuur was en die Staatsprokureur daar het geen ag geslaan daarop nie.

Hul appèl was suksesvol.

Ek is aangeraai deur `n afgetrede Landdros om liewer die saak te laat vaar, aangesien die Staat my gaan uitroei, deur onder meer die saak telke male uit te stel ens.

Intussen is my prokureur ook skuldig bevind deur die Wetsgenootskap op 4 klagtes wat ek teen hom aanhangig gemaak. Boete en opgeskorte vonnis is aan hom opgelê.

Die hele “regstelsel “van ons is korrup en die werklike misdadigers loop skotvry.

Die Hoof van die NVG weier om die polisie strafregtelik te vervolg, aangesien ek ( volgens hom ) die “aggressor”was, alhoewel ek onskuldig bevind is op ALLE aanklagte teen my en bedrog en meineed deur SAPS in die hof uitgewys EN bewys is.

`n Witman kan maar net nie wen nie.

Suzette ·

Nee Swannie darem nie almal nie. Ons het ‘n siviele eis ingestel en ons saak is 3 jaar later suksesvol en R70 -000-00 is aan ons oorbetaal. Daar was ook baie oponthoude en stories maar ons het deurgedruk.

Adriaan Odendaal ·

Dankie Maroela dat julle die publiek inlig ten aansien van hierdie tipe eise. Dit gebeur deesdae so gereeld, veral in gevalle waar daar konflik opgetel word met verkeersbeamptes en polisie by padblokkade’s. Hierdie wetstoepassingsbeamptes is ongelooflik vyandig teenoor sekere minderheidsgroepe en kan dit nie verdra indien hulle terug konfronteer word en op hulle foute gewys word nie.
Dis altyd goed as ons ons werklik vertroud maak ten aansien van ons regte in sulke situasie.

Piet Snot ·

Dís nou ‘n lekker artikel.
Dankie, Hein – ons sien uit na nog.
NS: Lekker om te sien iemand neem Amler’s ernstig op!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.