Ons en die geskiedenis

President Jacob Zuma reageer tydens ‘n vorige sessie op vrae in die parlement op 17 Mei 2016. Foto: Ntswe Mokoena

Deur Jeannette Gnade

Dit is ironies dat Suid-Afrika se derde demokraties verkose president, Jacob Zuma, sy verjaardag vier op dieselfde dag as dié waarop die anneksasie van Transvaal op 12 April 1877 plaasgevind het. Sir Theophilus Shepstone van Brittanje het daarmee die Sandrivierkonvensie van 1852 verbreek en die anneksasie was die voorloper tot die Eerste Vryheidsoorlog tussen die ou Zuid-Afrikaansche Republiek en die Verenigde Koninkryk. In die ooreenkoms is die onafhanklikheid van die Boere noord van die Vaalrivier, dus die Ou Republiek, erken. Shepstone se minagtende ontkenning van dié konvensie sal vir altyd in die geskiedenis opgeteken wees. So ook die daaropvolgende veldslae tussen Boer en Brit wat uiteindelik tot die seëvierende Slag van Majuba gelei het. Naas Bloedrivier was dit die belangrikste enkele gebeurtenis vir die Afrikanervolk in sy oorlewingstryd. Die Vryheid van Transvaal is immers herwin.

Pres. Zuma het waarskynlik nog nooit kennis geneem van dié stuk geskiedenis nie. En tog is daar ʼn ooreenkoms tussen sy optrede en dié van Shepstone. Dié Britse edelman het hom weinig gesteur aan ʼn konvensie wat deur sy eie voorgangers mede-onderteken is. Net so minag die president die Suid-Afrikaanse Grondwet van 1996 wat deur sy eie voorlopers onderteken is. Verskanste eiendomsreg is in dié landswet tot in die fynste besonderhede uiteengesit. Dit was inderdaad een van die belangrikste voorwaardes vir die oorgawe van die mag aan die ANC. Taal, kultuur en godsdiensregte is eweneens verskans en die Grondwet verbied rassisme, onderdrukking, haatspraak, minagting van regte en ongelykheid op grond van ras en geslag.

Net soos Shepstone het die president egter bewys dat hy die Grondwet weinig hoër ag as die paper waarop dit geskryf is. Sy spreekbeurt by die herdenkingsdiens vir die voormalige SAKP-leier, Chris Hani, is gekenmerk deur rassisme. Volgens hom was die anti-Zuma-betogings regoor die land die handewerk van wittes wat hulle kapitaal wil beskerm. Vroeër is die einste wittes van gronddiefstal beskuldig. Daar was wel wit landsburgers wat aan die protesoptogte deelgeneem het, maar elke optrede is deur oorwegend swart organisasies gereël. Die president is ongetwyfeld besig met ʼn haatveldtog teen die land se witmense. Hy speel met vuur. Dit is nie altyd getalle wat die oorwinning besorg nie. Gideon en sy klein bende het ʼn groot oormag verslaan. En aan die kruis is ʼn nóg groter oorwinning behaal….

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JC ·

Baie, baie dankie Jeanette:)
“dinamiet kom in klein boksies”

apie ·

weliswaar kan enigiets gebeur, ook met die oormag . Mag goedheid seëvier, dankie

John ·

As ek ‘n paar rand in ‘n bank in Limpopo het kan ek sommer ook aanspraak maak op al die rande in al die banke in die res van SA? Zuma is besig om die swartmense te breinspoel tot vergrype en hul gewetens te verkrag in ‘n poging om grootskaalse drastiese aksie te wek.
Koki is in die laer.

Rynhardt ·

Wat ek lankal gese het, word nou deur jou Jeannette Gnade uitgespel.Ek haal aan:”Die president is ongetwyfeld besig met n haatveldtog teen die land se witmense”.

AP ·

Natuurlik is zuma teen witmense dis hoekom hy nog daar is , al rede want hy het geen kwlifikasies of ordentlike opvoeding gehad nie , net sg generaal van hul weermag .. die mense wat hom vandag nog beskerm. skuil agter die massas

Chris ·

Ek weet nie wanneer die mense in die land tot die besef sal kom dat die huidige regime slegs ‘n oorgangsfase is nie. Die politieke posisies word deur onbekwame marionette beklee wat vanuit die buiteland beheer en voorgeskryf word. Ons bestel werk soos in die koloniale tydperk. Jy identifiseer die hoofman, gee hom ‘n paar goed en sê vir hom, moenie maak soos ek maak nie, maak soos ek sê. Die “politiek” in die land dui op etniese verkille en onderstromings. Die “sterkste” etniese groep is tans in bewind en steur hom nie aan die “demokratiese” beginsels wat Westerse demokrasië voorgeskryf het nie. Ek het dokumente in 1985 gesien wat van die Kommunistiese party in Rusland aan die Suid Afrikaanse Kommunistiese party gestuur is. Daar is die “oorname” program uitgestippel. Alles het sover gebeur wat voorgeskryf is onder die dekmantel van demokrasie. Vernietig die sosio maatskaplike en Ekonomiese stelsels. Ontwapen die veiligheidsdienste en die burgery. Laat die gelowiges skuldig voel oor die “vergrype” van die verlede. Alles is sover volbring. Die politiekery wat ons sien en ervaar is net ‘n verdagmakery en geskinnery onder die bevolking/etniese groepe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.