Ons moet die regte stryd in Suid-Afrika stry

Deur Daniel du Plessis

(Foto: Wikimedia Commons)

Die moontlikheid van Wes-Kaapse onafhanklikheid het weer opslae in die media gemaak, veral ná ’n meningstuk deur professor Pierre de Vos verlede week. Hoewel De Vos die idee klaarblyklik as ietwat lagwekkend beskou, is die idee nie so vreemd as wat mens dalk sou dink nie – Suid-Afrika is, immers, reeds in twee gedeel.

Hierdie skeiding is nie geografies nie, bygesê – want mense van ieder kamp is orals in die land te vinde. Dit is ook, interessant genoeg, nie volgens partyverband nie – en partye soos die DA het heelwat moeite om hierdie teenstrydighede ook binne hul eie kring te vereenselwig. Die skeiding is ook nie volgens taal, of ras nie.

Suid-Afrika word regeer met ’n visie wat met merkwaardige koherensie oor party- en provinsiale grense bestaan. In baie gevalle, soos die dispute tussen Cyril Ramaphosa se kamp en ander dele van die ANC, of, op sy beurt, tussen die ANC en EFF, is die vraag nie waarheen Suid-Afrika op pad is nie, maar hoe vinnig ons ry en watter roete ons sal neem om daar uit te kom.

Lees gerus die ANC se beleidsdokumente, toesprake deur politici wat hulself voordoen as sakelui en die oproerige toesprake deur Julius Malema. Ons kan maklik al hierdie idees terugtrek tot een nuwe visie van Suid-Afrika. Hierdie visie, al by geleentheid deur denkers soos prof. Koos Malan beskryf as “transformatisme”, is ’n visie wat sterk sentralistiese, staatsbeheerde en Marxistiese trekke het.

Hierdie is ook ’n visie van die wêreld wat geen ooghare het vir teenstand nie. Let, byvoorbeeld, op hoe meedoënloos en onverpoosd beleide soos onteiening sonder vergoeding, voorgeskrewe bates en nasionale gesondheidsversekering voortdurend vorentoe gedryf word. Let ook op hoe hierdie groep sy politieke mag gebruik om sy eie invloed en mag uit te brei – en, sodoende, die tentatiewe verdeling van magte in Suid-Afrika soos ’n lastige spinnerak uit sy oë vee. Ramaphosa en sy kabinet het reeds die aap uit die mou uit gelaat – ná Covid-19 word al hierdie pogings net doodeenvoudig verdriedubbel.

Daar is egter ook ’n tweede groep in Suid-Afrika – hoewel weliswaar baie kleiner as eersgenoemde.

Hierdie groep “verdraagsames”, bestaande uit konserwatiewes, liberale en demokrate van alle kleur en geur is allesbehalwe homogeen – trouens, hul enigste gemeenskaplike eienskap is tipies dat hul wêreldbeskouings vir mekaar ruimte laat.

In vergelyking met die transformatiste, is dit egter so goed soos eenstemmigheid. En dit is juis vir hierdie rede wat die tweede groep veral ag moet slaan op die moontlikheid van Kaapse onafhanklikheid – en, daarmee saam, ’n ware demokratiese staat. En, ja, dit is ongelukkig iets van ’n binêre proposisie. Demokrasie is weliswaar ’n goeie meganisme vir kompromieë – maar net waar daar kompromieë te vinde is. Die verdraagsames sal wel onder hulself tot ’n gelyk kon kom. Maar tussen hulle en die transformatiste?

Geen land of provinsie sal beide hierdie groepe gelukkig kan hou nie en geen land of provinsie behoort dit te probeer doen nie. Bevind jy jouself, soos ek, in die kamp van die verdraagsames? Laat ek dit onomwonde stel: Ons is nie besig om die geveg vir Suid-Afrika te wen nie. Verloor is egter soms ’n goeie leermeester – en hier leer hy vir ons dat ons bestaande taktieke nie werk nie. Ons kan nie bloot bly hoop en wag vir die ANC – of die Suid-Afrikaanse elektoraat – om die lig te sien nie.

Ons is besig om die stryd vir Suid-Afrika te verloor, maar dit beteken net dat ons vir iets beters moet veg. Soos op baie plekke en baie tye is die antwoord baie duidelik: Onafhanklikheid. Dit beteken dalk vir die Kapenaars onafhanklikheid van ’n hele gebied – maar dit kan nie daar stop nie. Dit is moontlik – en daar is toenemend organisasies wat hulle daarop toespits – om alternatiewe vir Suid-Afrika te bou, soos onafhanklike onderwys, onafhanklike veiligheid en onafhanklike ekonomieë.

  • Daniel du Plessis is ’n regsontleder by Sakeliga, ’n onafhanklike sakegemeenskap.
Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Wilhelm

Uitstekend, dankie aan die skrywer! Die Wes-Kaap onafhanklikheids beweging tel nou vinnig momentum op!

annie

Mens kan goed glo noudat die biere weer langs die kampvure klingel, loop die droom soos die kabbeljou soms doen. Watter hoekie van die Kaap is nog oop vir ‘n laer waens? Omdat die DA die afgelope paar jaar met goeie geloftes en toe bekke oor Afrikaners en plaasaanvalle, en groot welsynshulp, die pyp gerook het, gaan hulle beslis nooit dr Mulder as nuwe leier aanvaar nie en nog minder sal die 35 plakkerkampe oppak en weer die pad vat al smeek die wit ooms mooi. Hierdie idee het by iemand begin; by die nuwe koning van die koisan?

Piet

Ons het die grootste privaat banke in Afrika. Ons het Naspers, een van die grootste private maatskappye in die wereld. Die ANC wil ons dwing om tol geld aan ‘n private maatskappy te betaal om publieke paaie te gebruik. Ons het die grootste privaat mediesefondse in Afrika. Ons het die grootste private bestedingsfondse in Afrika.

Die goed gebeur nie in ‘n Marksistiese ekonomie nie. Die ANC is neo-liberaal soos die res van die Weste. Mense wat sê hulle is enigsins Marksisties ontbloot hulle onkunde. En nes die res van die neo-liberale lande sê hulle regerings een ding en doen ‘n ander