Ons hou ons vuurwapens, dankie minister Cele

Deur Ian Cameron

Ian Cameron.

Ons hou ons vuurwapens, want nie die departement van polisie óf die polisie self kan ons beveilig nie. Minister Bheki Cele, ons kan en sál jou ongelukkig nooit kan vertrou nie. ʼn Vertrouensverhouding kan nie eensydig wees nie. Dit wil voorkom of jy as minister van polisie in Suid-Afrika misdaad bevorder deur jou tekort aan optrede en misbruik van die duisende goeie mense wat nog blou uniforms dra.

Minister Cele, jy prys die afgelope paar dae verskeie kere die polisie se patetiese optrede by Nkandla. Jy erken op rekord dat die polisie by Nkandla verskeie misdade waargeneem het maar niks daaraan gedoen het nie. Jy erken veral dat verskeie misdadigers by Nkandla openlik vuurwapens afgevuur het en dat die polisie eerder teruggestaan het.

Die afgelope 12 maande is onskuldige mense met waterkanonne gespuit terwyl hulle vir maatskaplike toelae gewag het, vroue in baaikostuums is van strande verjaag en armes vertrap deur magsbehepte ANC-kaders. Maar om skote af te vuur is volgens jou nie ernstig nie …

Dit is daarom, minister Cele, dat gemeenskappe selfs nóg wapens sal koop en mense sal aanmoedig om te leer hoe hulle hulsélf binne die raamwerk van die wet kan bewapen en beveilig. Hoe moet ons dan nou anders as jy gewapende misdadigers in hulle massas laat floreer met anargistiese optrede, soos by Nkandla?

Hoe moet ons ons vroue en kinders beveilig met ʼn polisieminister wat misdaad openlik toelaat?

Wel, die antwoord is eintlik eenvoudig: Ons vroue en kinders in hierdie land gaan nou nog meer as ooit sáám leer oor vuurwapens en hoe ons onsself, ons gesinne, bure en gemeenskappe kan beveilig.

Ek moet beklemtoon dat ons vroue nie onderskat moet word nie; ons vroue staan reg om binne die wet misdaad die stryd aan te sê waar jy en jou bende daarmee misluk.

Ons vroue in hierdie land staan nie terug nie. Die dae wat hulle mishandel, verkrag en vermoor word sodat jy die geweld teen vroue en kinders as ʼn politieke slagspreuk in ʼn toespraak kan gebruik, is verby.

Ek wil jou uitdaag, minister Cele, om een aand alleen, sonder jou gewapende wagte soos baie vroue in ʼn huisie op die Kaapse Vlakte, op ʼn afgeleë plaas, of selfs in ‘n plakkerskamp te gaan slaap. Ek glo nie jy, of enige ANC-hooggeplaaste, sal dit oorleef sonder die ANC-ystervuis wat ons eens as die Suid-Afrikaanse Polisiediens geken het nie.

Jy is besig om jouself aandadig te maak aan die misdaadpandemie in Suid-Afrika en tree teenstrydig met die sogenaamde “waardes” op wat jy veronderstel is om te handhaaf. Nie net is jou en die polisie onder jou leiding se optrede ʼn verleentheid vir gemeenskappe nie, dit maak almal warm onder die kraag dat jy weereens eerder die ANC se ideale bo reg en geregtigheid stel.

Dit is daarom, minister Cele, dat ons nog meer moeite sal doen om mense binne die wet op te lei om hulself met vuurwapens te kan beveilig. Gemeenskappe besef toenemend dat hulle ʼn bate vir nasionale veiligheid is. Dit is natuurlik in teenstryd met hoe jy die staat se totale beheer en mag in oormaat bevorder en op onskuldige wetsgehoorsame mense probeer afdwing.

Bheki Cele. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Die Wits-verslag het baie duidelik aangedui dat jy en jou betaalde veldtogvennote vir meer as sewe jaar blatante onwaarhede gebruik het om julle ideologiese agenda na te jaag. Julle het vergeet om te noem dat die Wits-verslag baie duidelik noem dat minder as 5% van misdade wat gepleeg en by die polisie aangemeld word enigsins van toepassing is op die Wet op Vuurwapenbeheer.

Minister Cele, weet jy dat die vuurwapens wat die meeste in transitorooftogte gebruik word, vuurwapens is wat deur die staat uitgereik word? Daar word gewoonlik op R1’s, R4’s en R5’s beslag gelê – dit is nou indien daar enigsins ʼn beslaglegging plaasvind. Het hulle dan toegang tot die 10 miljoen rondtes ammunisie wat julle verloor het?

Minister Cele, jy laat gemeenskappe in Suid-Afrika met geen ander keuse as om hulself te organiseer nie – gelukkig weet ons hoe. Daar is ʼn magdom kundigheid wat weens veral polities gedrewe oortuigings nie meer deel van die staat se strukture is nie. Dit is daarom dat gemeenskappe nou die raamwerk van die wet baie mooi kan benut om hulself te beveilig met kundige ondersteuning.

Ek wil hiermee elke persoon aanmoedig om sy of haar plaaslike vuurwapenwinkel en
-opleidingsentrum te ondersteun. Om ʼn bevoegdheidsertifikaat, vuurwapenlisensie en natuurlik verdere opleiding te kry, voel partykeer soos ʼn berg voor jou.

Begin egter vandag met die proses sodat hierdie minister van polisie nie die oorhand het wanneer dit by jou veiligheid kom nie. Sluit aan by jou buurt- of plaaswag en maak seker jy begin om jou eie veilige toekoms te bepaal!

  • Ian Cameron is ‘n onafhanklike kenner van gemeenskapsveiligheid en geweldsmisdaad in Suid-Afrika. Hy is ook die stigter van firearms.co.za en dien op die raad van #SafeCitizen.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kaptein67

Baie mooi en op die man af gestel!!

Ian

Baie mooi gestel absolutely love it. Hy sal dit natuurlik aflag want hulle doen net wat hulle wil sonder enige aanspreeklikheid….. Hy sal natuurlik onthou word vir wie hy is. Onregmatige aanstelling vir n minister van polisie wat n kriminele rekord moet he vir korrupsie en dan natuurlik is hy definitief nie bevoeg vir daai werk nie.

Tino

Waar raak ek betrokke?

andre

ja ek hoor wat almal se .maar ek wag al 10maande vir my hernuwing van my wapen lisensie,nadat ek my vuurwapen moes inhandig.my vraag is sal ek ooit my waper weer terug kry

Heinrich

Hoor hoor, goed gestel!