Ons is demokraties, maar is ons vry?

18 jaar. Die ouderdom waarop ʼn jongmens meerderjarig word.  Op hierdie ouderdom verkry ʼn persoon die reg om te stem, die reg om kontrakte aan te gaan en te trou sonder dat sy of haar ouers se toestemming vereis word.  ʼn Mens kan egter met reg vra hoe volwasse ʼn individu op die ouderdom van 18 is?

Almal sal saamstem dat ʼn jongmens op hierdie ouderdom nog baie moet leer.

Suid-Afrika se demokrasie het insgelyks ook nog baie om te leer.

Vandag vier ons 18 jaar van “vryheid”, maar is ons werklik vry?

Nuushoogtepunte van die afgelope week of meer het onder andere die volgende ingesluit:

  • Die president is met sy vierde vrou getroud – in totaal was dit sy sesde huwelik;
  • Die minister van veiligheid en sekuriteit het bewerings van nepotisme ontken;
  • Die voormalige kommissaris van polisie is ʼn vonnis van 15 jaar opgelê na skuldigbevinding op aanklagte van korrupsie en bedrog;
  • Die huidige kommissaris van polisie is geskors hangende aanklagte van tenderbedrog en korrupsie;
  • Die waarnemende polisiehoof moet verduidelik waarom moordaanklagte teen die polisie se intelligensiehoof laat vaar is;
  • Die jeugleier van die regerende party word deur SARS ondersoek in verband met belastingbedrog ten bedrae van miljoene rande (om maar ʼn enkele klag te noem);
  • ʼn Geestelik gestremde meisie het in Soweto ʼn slagoffer van groepsverkragting geword en ʼn video-opname van die skokkende vergryp het in die kuberruim beland.  In reaksie hierop het die president toegegee: “Ons is ʼn nasie van skurke”. Hy het egter hierdie geweldskultuur op die nalatenskap van apartheid geblameer.

Die welbekende skrywer van onder meer die Narnia Kronieke, C.S. Lewis, het eens geskryf:

Of all tyrannies, a tyranny sincerely exercised for the good of its victims may be the most oppressive. It would be better to live under robber barons than under omnipotent moral busybodies. The robber baron’s cruelty may sometimes sleep, his cupidity may at some point be satiated; but those who torment us for our own good will torment us without end for they do so with the approval of their own conscience.

Die vraag is steeds of ons regeer word deur die rowerbaronne of deur alvermoënde morele bemoeisiekes.  Beide word hier aangetref.

Julius Malema slaag daarin om beide ʼn kampvegter vir die armes en ʼn verdagte op aanklagte van korrupsie, belastingontduiking en selfverryking te wees.

President Jacob Zuma is beide die gedugte teenstander van voormalige president Thabo Mbeki se ambisie om vir ʼn derde termyn president te word en die ander party in wat deur die Durbanse hooggeregshof as Shabir Shaik se algemeen korrupte verhouding beskryf is.

Visepresident Kgalema Motlanthe is beide die algemeen aanvaarde leierskapsalternatief vir Jacob Zuma wat weer respek en waardigheid aan die presidentsamp kan terugbesorg, maar ook ʼn sleutelfiguur in die sogenaamde Oilgate en olie-vir-voedsel skandaal van 7 jaar gelede.

Die Tshwane metropolitaanse munisipaliteit verdedig in die hof sy oorhaastige poging om die name van 25 strate wat Afrikaner en “koloniale” name het te vervang omdat dit sogenaamd ten bate van “die waardigheid van die mense” is, maar word in dieselfde hof skuldig bevind aan minagting in ʼn ander saak, naamlik omdat dit in gebreke gebly het om ʼn fout van R250 000 op ʼn munisipale rekening reg te stel.

As deel van die strewe na die bevordering van “ons eie beswil” word deur beleide van regstellende aksie, maatskaplike ingenieurswese in die demografie van werksplekke in die Wes-Kaap toegepas (à la Jimmy Manyi) en strategiee vir die vernietiging van eiedomsreg ten opsigte van grond en minerale, noukeurig ontwikkel, beplan en uitgevoer.

In sy besinning oor die Franse Revolusie, het Edmund Bourke in die agtiende eeu geskryf dat vryheid nie lank kan bly voortbestaan onder ‘n nasie wat oor die algemeen korrup is nie.

Dus is die vraag ten tye van ons viering van 18 jaar van demokrasie, of ons werklik vryheid kan vier.

Volgens Benjamin Franklin is demokrasie wanneer twee wolwe en ʼn lam stem oor wat hulle vir middagete gaan nuttig.  Vryheid, daarenteen is ʼn deeglik toegeruste lam wat die uitslag van die stemmery kan betwis.

In my privaatpraktyk het ek die voorreg om namens AfriForum – die burgerregte beweging van die Solidariteit Beweging – op te tree.

Die afgelope veertig dae was ons betrokke by 4 belangrike regsaksies:

In die Oos-Kaap moes ons ʼn interdik teen Eskom verkry om te verhoed dat die elektrisiteitstoevoer na inwoners van Steynsburg opgeskort word, nadat die munisipaliteit in gebreke gebly het om die elektrisiteitsheffings wat dit van die inwoners ingevorder het, aan Eskom oor te betaal.

In Wallmannsthal, noord van Pretoria, het ons die regmatige bevoordeeldes van ʼn grondhervormingsprogram verteenwoordig in hulle regstryd teen ʼn korrupte polisieoffisier (wat intussen in hegtenis geneem is) en sy volgers wat grond beset het wat aan ander toegeken is.

In Pretoria veg ons vir die herinstelling van Umalusi se akkreditasie van ʼn onafhanklike Christelike Eksamineringsraad wat om ideologiese redes onder druk verkeer.

Ook in Pretoria probeer ons om die Tshwane metropolitaanse raad se eensydige besluit om die name van 25 strate te verander, om te keer.  Dit sluit Kerkstraat in, wat Suid-Afrika se langste straat is – in stryd met die raad se eie beleid, wil dit die straat in vier deel, met vier verskillende straatname.

Ja, ons betwis inderdaad die uitslag van die stemmery, maar dit is hoog tyd dat die lammers hulleself ook moet organiseer en toerus.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Willie Spies

Willie Spies is direkteur van Hurter Spies Ingelyf en uitvoerende voorsitter van Pretoria FM.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Quintin Diederichs ·

Willie, puik artikel.

Vryheid… ja wel. Van my vriende in Pretoria het hul eie besighede met harde werk en deursettingsvermoe van die grond af opgebou. Is hulle vry om op meriete aan te stel wie hulle wil? Nee, want Suid-Afrika is die enigste land in die wereld waar ‘n meerderheidsgroep dit nodig ag om “regstellende” aksie toe te pas teen ‘n 9% minderheid a.g.v. hul eie gebrek om welvaart te skep. Wanneer ek vir daai einste vriende van my in Pretoria gaan kuier, is ek vry om met oop deure en venters te gaan slaap? Nee, want Zuma erken self dat hulle ‘n nasie van skurke is.

So kan mens aangaan met die lys van basiese vryhede wat in praktyk eenvoudig net nie bestaan nie, alhoewel die Grondwet dit “waarborg”… hmmm ok?! Dis inderdaad ‘n geval van 2 swart wolwe en 1 wit skaap wat stem oor wat hulle vir middagete gaan eet. In beginsel is daar niks fout met demokrasie nie, maar dit waarborg nie jou vryheid nie. Sodra demokrasie as instrument gebruik word om jou vryheid van jou te ontneem, dan moet die vraag gevra word of daar nie ‘n ander manier is waarop demokrasie toegepas kan word wat in jou beste belang is nie?

Baie mense kies eerder volksdemokrasie, waar ‘n spesifieke kulturele gemeenskap binne ‘n bepaalde grondgebied leef en stem oor dinge wat in hul gemeenskap se beste belang is. Almal deel dieselfde basiese waardes, tradisies en gemeenskaplike toekomsvisie en gebruik demokrasie om te bepaal wat die meerderheid voel in hul gemeenskap se beste belang is. Sodra almal nie dieselfde basiese waardes, kulturele identiteit, belange ens. deel nie (bv. 2 wolwe en 1 skaap) dan gaan iemand verslind word.

Vir my as Afrikaner is dit die grootste verskil tussen Suid-Afrika (wolf/skaap demokrasie sonder vryheid) en Orania (volksdemokrasie met vryheid). Nie ‘n moeilike keuse nie!

H J Bester ·

Puik stuk uit die pen van Willie Spies – dit bevat al die elemente wat die huidige sogenaamde vryheid van die land betwis. Die beste wat mens van die Suid-Afrika van vandag kan sê is dat die ANC-bewind dit in ‘n gemors gedompel het en wat op sy beste ‘n skande en klad vir demokrasie is. Die Afrikane moet nog baie leer van demokrasie, ‘n gerespekteerde en doeltreffende staatsbestel en hoe daar met produktiwiteit in die werkplek omgegaan moet word.

Vanuit ‘n ander hoek egter, sal daar nooit volwaardige vryheid in Suid-Afrika wees solank as wat daar deur middel van die regstellende aksie- en swartbemagtigings-wette teen ‘n gedeelte van die Suid-Afrikaanse bevolking, by name die blankes, gediskrimineer word nie. En dit blyk dat daar nooit ‘n einde aan hierdie wette gaan wees nie – inteendeel, daar is telkemale net nog verdere toevoegings om die blankes nog meer uit te rangeer.

‘n Verdere verontrustende aspek is dat daar al meer ‘n aanslag op die regbank gemaak word. Dit sal meebring dat vertolking van die Grondwet en ander wette ter beskerming van regte, ens al meer verwater word en ‘n algemene aantasing van genoemde wette sal plaasvind. Die indiwidu sal hom ter beskerming van sy regte, al minder op die howe kan beroep.

Mike ·

In ‘n land met soveel volke soos SA kan demokrasie niemand se vryheid waarborg nie. Meerderhede sal altyd hulle wil op die minderhede wil afdwing veral in Afrika waar majority rule geld. ‘n Volk is net vry as hy polities vry is, dws hy kan oor sy eie toekoms besluit sonder enige invloed van watter aard ookal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.