Ons lewende geskiedenis

Dr. Danie Langner voor die Voortrekkermonument. (Foto: Dawid Brand)

Sinonieme wat die woord pionier beskryf, is baanbreker, bouer, Voortrekker, hervormer, wegbereider, toekomsdenker, voorloper, leier, ontdekker. Alle pioniers het dieselfde eienskappe in gemeen, naamlik denkkrag wat anderkant die horison ʼn nuwe toekoms kan verbeeld, daadkrag om nuwe weë te baan en in die hart ʼn wilskrag tot sukses. Deur denkkrag, daadkrag en wilskrag tot sukses was die Afrikaners se pioniersverhaal oor eeue geskryf en word dit vandag steeds geskryf.

Die Pioniersentrum by die Voortrekkermonument pas gemaklik in die groter tydlyn van die terrein. Die Voortrekkermonument vertel die Groot Trek-verhaal vanaf 1836 tot die laaste friespaneel wat op 17 Januarie 1852 met die totstandkoming van die Zuid-Afrikaansche republiek eindig. Die Pioniersentrum fokus op die Republikeinse tydperk van 1852 tot 1899. Schanskop fokus op die Anglo-Boereoorlog van 1899 tot 1902. Die Afrikaner-uitstalling in die Erfenissentrum vertel die verhaal vanaf 1902 tot vandag.

Die 47 jaar (1852-1899) waarop die Pioniersentrum fokus, is ʼn ongelooflike pioniersverhaal waar walaers dorpe en stede geword het. Bybels in wakiste het kerkgeboue geword, waspore in die veld spoorlyne, ʼn smidswinkel onder ʼn boom fabrieke, trekosse internasionaal erkende stoeterye, geldtrommels handelsbanke en die Trap der jeugd skole en universiteite.

Pioniersentrum (Foto: Verskaf)

Op die friespanele in die Voortrekkermonument word ontmoetings op die trekpad met Afrika-volke soos die Ndebele, Barolong, Zoeloes en Swazi’s uitgebeeld. Die Pioniersentrum sluit hierby aan deur die verskillende kulture in Suid-Afrika se gebruike en gewoontes aan die hand van temas soos hout, metaal, nedersettings, tekstiel, klei, keramiek, behuising en vervoer te belig. Afrika gee aan almal dieselfde hulpbronne soos klip, klei, grond en hout. Elke kultuur gebruik die hulpbronne en ontwikkel dit volgens elkeen se eie unieke identiteit en tradisie. So het Afrikanerkultuur tussen die verskeidenheid van kulture van Afrika ook ʼn unieke plek gekry.

Die Pioniersentrum gee ook erkenning aan Afrikanerpioniers se bydrae tot die ontwikkeling van Afrika. Prestasie skep toekoms en die prestasies van Afrikanerpioniers op verskillende lewensterreine het ver buite die grense van Suid-Afrika toekoms geskep. Dit is iets waarvoor Afrikaners vandag bitter min tot geen erkenning kry nie.

Internasionaal is daar ʼn grondskuif waar toeriste nie net museums wil besoek nie, maar wil beleef. Om dié rede wil die Pioniersentrum nie ʼn voortsetting van ʼn klaskamer of ʼn skoolhandboek wees nie. Daar word by verskeie temas in die skoolkurrikulum aansluiting gevind deur ʼn ervaringsgerigte kultuuraanbod te ontwikkel waar besoekers, skoolgroepe en gesinne ʼn lewende geskiedenis kan beleef.

Godfrey Zake moedig kinders aan tydens Boeresport by die Pionierswerf (Foto: Verskaf)

Hier moet dit vir kinders lekker wees. Hulle kan in die Lewende Laer trekkerkoffie en boerbeskuit geniet en selfs oornag. In die Lewende Laer kan hulle beleef hoe ʼn werkende smidswinkel sonder elektrisiteit stukkende ossewaens restoureer. Hulle kan kerse maak, sweepklap, brood bak, kleiosse en bakstene maak en met plaasdiere speel. Dit is ʼn lewende opelugmuseum waar hulle boeresport kan doen, tolletjie brei, toutrek, dromme slaan en voorwerpe voel.

Die Pioniersentrum bied ook vir besoekers staproetes in die natuurreservaat waar die 66 voëlspesies en verskillende inheemse boomsoorte op die terrein geïdentifiseer kan word. Die Pionierswerf is meer as ʼn speelpark. Binne die volgende twee jaar gaan ʼn werkende boereplaas gevestig word waar daar in die bakoonde plaasbrood vir Skool op Wiele en Uitspan gebak word en eiers vir ʼn stewige plaasontbyt voorsien word. Die groentetuin gaan tamaties, blaarslaai en komkommer vir die restaurante se roosterkoek, bielieburgers en heerlike slaaie verskaf, asook aartappels vir vars skyfies. So vroeg as volgende jaar gaan die Voortrekkermonument se boereplaas uit die nuwe vrugteboord perske- en appelkooskonfyt maak en besoekers kan outydse limonade van ons eie suurlemoenbome geniet.

Foto: Facebook

Die boerperde gaan groot waarde toevoeg. Nie net vir perdekarritte nie, maar ook vir sekuriteit. Soos in die pionierstyd word die veld makliker met ʼn perd gepatrolleer as met ʼn voertuig. Noudat hier boerperde op die terrein is, het ons sekuriteitspan se naam na die Wenkommando verander.

In die kultuurtuiste vind die Noord-Transvaalse Modeltreinklub ʼn tuiskomplek. Hulle is in 1949, dieselfde jaar as die Voortrekkermonument se inwyding, gestig. Deur hulle tuiskoms bly ʼn besondere erfenis behoue. Dit is ook ʼn kunswerk in eie reg, wat tot in die fynste detail uitgewerk is.

Uitstalling in samewerking met die Noord-Transvaalse (NTVL) Modeltreinklub (Foto: Verskaf)

Let op die tente en outydse karretjies rondom die Voortrekkermonument wat die inwyding in 1949 uitbeeld, die blokhuis, die detail van die landerye, plase en dorpe. Elke deel van die uitleg word noukeurig beplan en beeld iets van die ou dae uit wat die besoeker op ʼn nostalgiese rit neem. ʼn Besonderse erfenisstuk is die ampskild wat voor die stoomtrein gehang het waarmee die presidente en eerste ministers van Suid-Afrika gery het. Dieselfde ampskild het voor die wit trein gehang ten tye van die Koningsgesin se besoek aan Suid-Afrika in 1947.

Die modeltreintjies is nie net ʼn stokperdjie nie, dis ʼn kombinasie van die tentoonstelling van verskillende mense se tegniese vaardigheid, vakmanskap, kreatiwiteit en die liefde vir treine en die geskiedenis. Die modeltreintjies is een van die min stokperdjies waar jy die groter model weergawe en werklikheid kan vasvang en baie getrou op ʼn kleiner skaal weergee. Die groter doel met hierdie projek is jeugopvoeding. Nie net in die geskiedenis van treine nie, maar ook om die kundigheid oor te dra en te laat voortbestaan.

In die hart van alles wat in die Pioniersentrum en opelugmuseum gebeur, is die oortuiging en die wens dat die pioniersgeskiedenis en ervaring daarvan ook ons en ons kinders sal inspireer om vandag eietydse pioniers te wees wat steeds in Afrika toekoms skep.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Danie Langner

Dr. Danie Langner is besturende direkteur van die FAK en die Voortrekkermonument.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Hiermee my grootse dank aan almal wat ‘n bydrae lewer ter bewaring en uitbouing van ons Afrikaner kultuurgoedere.

Dit tref my hier in Australië hoe die meeste mense hulself sien as setlaars of as afstammeling van setlaars in Australië. Die meerderheid Suid-Afrikaners is ook setlaars of afstammeling van setlaars in Suid-Afrika.

Republikein in die Wes Kaap ·

Na twee generasies is jy nie meet ‘n setlaar nie..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.