Ons mag maar aan ons eie kant wees

hekkiesDie Afrikaner is een van die min suksesvolle gemeenskapsgroepe in Suid-Afrika. Dít ten spyte daarvan dat ons aan die ontvangkant van die regering se transformasie gestoomroller is en dat hy teen ons regeer. Daar is egter tien hekkies wat die Afrikanergemeenskap sal moet oorbrug om suksesvol te bly.

Die eerste probleem is dat Afrikaners nie gereed vir die nuwe bedeling was nie. Die klem was sedert die midjare tagtig só op die afskaffing van apartheid dat daar bitter min aan die Afrikaner “anderkant” apartheid gedink of gedoen is. Dit is vandag nog asof sommige Afrikaners steeds onvoorbereid op die nuwe werklikheid is. Hulle onttrek hulle eerder aan die openbare lewe of dink aan emigrasie as om iets daadwerkliks aan hul probleme te doen.

Tweedens het die bykans eendragtige vyandige wantroue wat daar in die jare tagtig teenoor die ANC was ’n tyd lank verander in ’n bykans eendragtige goedgelowige vertroue in die nuwe regeerders. Dit is weer gevolg deur ’n grootskaalse ontnugtering met die nuwe Suid-Afrika, juis omdat mense begin voel het hulle het vir demokrasie gestem maar steeds ’n rewolusie gekry. Dít  was ’n groot dryfveer vir die emigrasie van bykans ’n miljoen mense na witter weivelde. ’n Gebalanseerde sin vir idealisme én realisme is nou nodig.

Instellings

Die derde hekkie is dat die Afrikaner sal moet besef dat ’n minderheidsgroep in ’n oop gemeenskap sterk instellings nodig het om suksesvol te kan oorleef. Waar die ANC staatsmag en staatsinstellings het om sy belange te bevorder, het die Afrikaner sterk selfdoeninstellings nodig om sy grondliggende belange te beskerm.

Waar die belangrikheid van Afrikanerskap en -identiteit voor 1994 gereeld oorbeklemtoon is, is dit daarna verguis. Die afbreek van Afrikaner-identiteit as ’n belangrike deel van sy groepsidentiteit, het terselfdertyd Afrikaners se lojaliteit aan die land en vasteland afgebreek, en hulle het byna as gemeenskap ontbind. Afrikanervyande en polities korrektes sal moet besef dat (gebalanseerde) Afrikanerskap ’n voorwaarde vir ’n gesonde Suid-Afrikanerskap is. Gee mense die ruimte om voluit Afrikaners te wees, en hulle sal voluit Suid-Afrikaners wees.

Wit geskooldes

Die vyfde probleem is dat die ANC weens politieke redes nie wil erken dat die land geskoolde wittes nodig het nie en duisende ervare mense by sleutelinstellings soos Eskom in die pad gesteek het. Dit het gebeur ondanks waarskuwings van internasionale politieke wetenskaplikes soos Francis Fukuyama, wat reeds voor 1994 die ANC gewaarsku het om nie beleidsrigtings aan te neem wat geskooldes uitdryf nie. Die wit sake-elite word ook so geïntimideer met rassewetgewing dat hulle die regering se rassebeleid meestal slaafs navolg om nie hul ondernemings in gevaar te stel nie. Gelukkig is daar nog sterk sakeleiers wat die land se belange bo politieke onderdanigheid stel.

Sesdens het die wêreldwye Afrikaner-diaspora so vinnig ontstaan te midde van soveel ander probleme dat die bestaande Afrikanerstrukture nie betyds en voldoende kon reageer nie. Daarom begryp mense nog nie die belangrikheid van Solidariteit en AfriForum se pogings om sterk bande met die diaspora te bou nie.

Krummels

Die sewende probleem is dat veral ouer welvarende Afrikaners nie besef hoeveel die land verander het nie, en goedsmoeds aanvaar dat die jonges self sal regkom. So laat die meeste van hulle die nuwe geslag aan hul eie lot oor, in plaas daarvan om hulle te help om dieselfde geleenthede te kry as wat hulle gehad het – en wat hulle met harde werk suksesvol gemaak het.

Die gevolg is dat “broodsaaklike” instellings soos die Solidariteit Helpende Hand nie eens die krummels van die welvaartsontploffing kry wat baie Afrikaners die afgelope jare beleef het nie. Die uitdaging is dat hierdie welvaart gebou is op historiese beleggings in hierdie gemeenskap en dat hierdie momentum nou begin afloop buite ’n klein elitekring.

Swart armoede

Die agtste probleem is dat Afrikaners nie die krisis van swart armoede begryp nie, nes swart mense nie die Afrikaner se bestaansprobleme verstaan nie. Die ANC se welsynstaatidee sal natuurlik nie werk nie, maar dis ook geen oplossing om maar net hoër mure om jou erf te bou nie.

Die negende kwessie is die verhouding met bruin Afrikaanssprekendes, om nie van die armoede in hierdie gemeenskap te praat nie. Die bruin gemeenskap kan nie ingespan en betrek word om Die Taal te red nie, maar Afrikaans kan ’n belangrike hulpmiddel vir bemagtiging wees.

Ten laaste moet die Afrikaner besef dat hy maar aan sy eie kant mag wees. Om aan jou eie kant te wees beteken nie om teen ander te wees nie. Apartheid is verby, en Afrikaners is in wêreldoë nie meer die slegte ouens nie. Daarom kan ons nie toelaat dat die ANC ons met ’n skuldkompleks as die politieke gyselaars van die verlede probeer aanhou nie. As Afrikaners nie vir hulself omgee nie, gaan niemand anders dit doen nie. Ons mag en moet nou aan ons eie kant wees!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Ella ·

Baie goed geskryf. Stem 101% saam met u. Dankie vir elkeen wat bereid is om te glo, hande te vat en hande uit te steek na mekaar en sodoende mekaar te help.

Hendrik ·

Dit is baie belangrik dan ons mense moet werk. Werskepping in ons eie gemeenskap is uiters belangrik. Ek voel dit is die eerste stap in ons eie bemagtiging. Die huidige situasie werksituasie met AA, BBBEE ens. gaan nie verander nie. Dit kan wel vererger.

Mike ·

Ek sou graag wou weet van waste instellings praat Flip hier “Waar die ANC staatsmag en staatsinstellings het om sy belange te bevorder, het die Afrikaner sterk selfdoeninstellings nodig om sy grondliggende belange te beskerm”

Tom Theron ·

Solidariteit, Afriforum, Oranje sake indtituut, buurtwagte, Akademia, Helpende Hand…

Die trant van die skrywe is dat die leser sy breinstof kan inspan en nie met ‘n teelepel gevoer word nie.

Ai tog…

Louise ·

Uitstekend geskryf. Anders as wat die geval is by pseudo-intelektuele linkses, getuig die skrywe werklik van begrip oor die erns van die swart armoede probleem. Juis omdat dit nie in stroperige emosionele politieke korrektheid verval nie MOET ons dit ernstig opneem.

Jax ·

Ai tog. Kry jou feite agtermekaar. Ek het jare lank in die buiteland gewoon en het behoorlik onder kruisverhoor gestaan deur my Europese kollega’s omdat ek n wit Suid-Afrikaner is. Daar is dikwels na my en my gesin verwys as die rassiste uit Afrika. In die wêreld se oë, is blanke Suid-Afrikaners almal rassiste – dit het my n hele paar jaar geneem om die teendeel te bewys!

senasasie ·

Hier was baie geskryf en min gesê.
Ek het verwag elke punt wat gestel was sou onwikkelings moontlikhede voorstel. Alles wat geskryf is weet ons. Stating the obvious…en toe? Wat verder?
Dis so goed ek sê die lug is blou maar met ‘n verf kwas. Jaa! Wat verder?

Henry ·

Onwaarskynlik dat jy ‘n antwoord sal ontvang Tom Theron.
Sommige siele is altoos aan’t teem en ween en slegsê.
Konstruktiewe voorstelle en oplossings soos by Soliforum aangetref word, is nêrens te vinde onder die klakouse nie.

Daniel Muller ·

Die skrywer se kommentaar is puik en feitelik en ek tesame met my gesin deel die opinies.Dit is nou nodsaaklik dat ons as ouers die boodskappe aan ons kinders oordra op juis so n platvorm sodat hulle nie deur meerderheids groepe onderdruk en weerhou word van ons historiese kultuur taal en ons eie doen vir selfbeskikking nie .Saamwerk as n groep is n fundamenteele reg sonder om ander se sieninge dade en kultuur af te takel en die kuns is om aan wetgewing te voldoen. Transformasie gelykheid in die werkplek benadeel ons as minderes op alle vlakke maar selfbeskikking en om onafhanglik te wees is n begin.

Ester le Roux ·

Baie dankie, Flip, vir ‘n nugtere blik op sake. Dit heel gemoedere en inspireer om pro-aktief te dink en op te tree – tot genesing van die veg- of vlug-sindroom. Ja, ons mág maar aan ons eie kant wees!

Vorentoe ·

@senasasie en Mike: daar is reeds soveel projekte wat deur Solidariteit ontwikkel is en steeds ontwikkel word, dus om vir Flip te vra wat sy voorstelle is, is onvanpas. Kyk net na o.a. hulle selfdoen akademiese instellings en hoe jongmense met opleiding en werk gehelp word,.Wat my nog in SA hou is juis Solidariteit se ongelooflike suksesse, hulle planne, hulle aksies (nie net praat). Dankie Flip, ek lees graag wat jy skryf.

La-Naine ·

Goed gestel, dit is nie net blanke mense wat Afrikaans is ons almal moet saamstaan en probeer om ons land ‘n beter plek te maak. Nog nie heeltemal seker hoe maar ek glo daars wel ‘n antwoord.

Pretorius ·

Goes gestel se ek ook maar die probleem is dat wit kinders nie werk kry nie al het hulle op skool goed presteer. En die wat wel werk kry by wit Afrikaner besigheids eienaars buit die kinders uit en betaal hulle n minimale salaris. Baie kinders werk as as kelners, bodes terwyl ander hande arbeid doen soos bv aan masjiene of elektrise werk maar hulle kry geen gekridetere kwalifikasies daarvoor nie aangesien dit te veel geld kos om iemand te sruur vir opleiding.

Bierneef ·

Ek dink nie die probleme is regtig net Afrikaners s’n nie.

Wie het regtig geweet wat na die val van die groot A gaan gebeur? Het al die die wat die eerste keer kon stem in 1994 ‘n “how-to” lysie gekry? Ek dink die mat is onder 99% van die volk uitgeruk. Swart wit, geel, blou. Die res van die kwessies soos armoede en die wantroue in die ANC regering is nou al met ons sedert Lekker Ou Jan hier geland het.

Wat wel belangrik is, wanneer ons klaar geween het en onsself jammer gekry het, is om te besef dat na alles ons nog steeds Afrikaners is. Wat nog belangriker is, is om te verstaan wat Afrikaner eintlik is. Meeste mense sal seker met my verskil as ek sê ‘n Afrikaner is nie noodwendig wit nie. Ook nie ryk of geletterd of afrikaanssprekend nie. Hy bly nie net in Suid-Afrika nie. Stem nie net DA nie en gaan nie altyd kerk toe nie. Jy kry hom in Sandton en die Flats. Vyf voet onder die sneeu in Kanada besig om ‘n bestaan te maak. Die Afrikaner vee vloere, die Afrikaner is in beheer van die grootste maatskappye in die wêreld. Dis dis Afrikaner.
Hier is die eerste strofe/vers uit “Die Lied van Jong Suid-Afrika”. Hou asseblief op om om verskoning te vra. Die Afrikaner skop gat. Ons sal net ophou wanneer daar nie meer gatte te skop is nie!

En hoor jy die magtige dreuning?
Oor die veld kom dit wyd gesweef:
die lied van ‘n volk se ontwaking
wat harte laat sidder en beef.
Van Kaapland tot bo in die Noorde
rys dawerend luid die akkoorde:
Dit is die LIED van Jong Suid-Afrika ens.

Bierneef ·

Ek wens iemand wil Zuma modereer. My plasing is gemodereer en is nou skoonveld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.