Ons magteloosheid gee ons krag

Ernst Roets het die foto in New York geneem.

Ernst Roets het die foto in New York geneem.

Hier sit ek, alleen in ’n hotelkamer in New York. Ek het gou my laaste leeswerk vir môre se sessie by die Verenigde Nasies gedoen en sopas in die bed geklim. Vir oulaas kyk ek op my selfoon om te sien of my vrou nie dalk al wakker is nie. Die “last seen”-boodskappie onder haar naam, langs die foto van ons kinders, is gewoonlik ’n aanduiding. Nee wat, dit lyk nie of daar al beweging is nie. Dit is immers 5:45 in Suid-Afrika.

Ek skakel die bedlampie af en loer vir oulaas of sy nie deur die nag iets op Facebook gesit het nie. Wat ek wel daar vind, is genoeg om die bedlampie weer aan te skakel en my uit die bed te kry.

Op ons gemeenskap se Facebook-groep gons dit oor skote wat sopas in ’n sekuriteitskompleks geskiet is, blykbaar vyf skote, gevolg deur ’n vrou wat “histeries skree”. Almal spekuleer wat gebeur het en kort daarna begin mense in die kommentaarkolom skryf wat hulle waarneem. Een persoon sê dat sy nou sirenes hoor. Dan sê iemand dat dit nie goed lyk nie, maar dat sy nie nou op Facebook wil sê wat gebeur het nie, want dit sal onsensitief wees teenoor die familie wat nog nie in kennis gestel is nie. Almal maak hul eie afleidings. Ongeag wat presies gebeur het, het onreg weer geseëvier.

Nou sit ek in ’n ander tydsone en probeer tel hoeveel gewapende insidente daar sedert die begin van die jaar naby ons huis was. Meer as vyf in een maand, waarvan ek weet.

Ek is een van min mense wat die voorreg (en soms die straf) het om voltyds te kan werk vir ’n organisasie wat ten doel het om ’n beter toekoms vir ons almal in Suid-Afrika te skep. Die straf hierin is dat ’n mens dít waarmee jy besig is – die veldtogte en alles wat daarmee gepaard gaan – so internaliseer dat dit moeilik is om af te skakel. Almal vra jou altyd wat die “oplossing” is en baie voel teleurgesteld om te vind dat dit nie ’n kitsoplossing – die spreekwoordelike silwer koeël – is nie. Daar is ’n oplossing, maar dit is meer ingewikkeld as dit. Die voorreg in dit wat ek doen, is dat ’n mens nooit regtig magteloos voel nie. Ek het al met soveel mense gepraat wie se geliefdes op plase vermoor is, ek het al soveel politici in my teenwoordigheid die verskriklikste goed hoor sê en soveel telefoongesprekke gehad met mense wat hoop verloor het. Maar self het ek nog nooit regtig magteloos gevoel nie. Die rede is eenvoudig omdat ek vir ’n organisasie werk wat oplossingsgedrewe is, waar ons ons tyd en energie aan sinvolle projekte spandeer wat ’n verskil maak.

Maar as jou vrou en kinders agtduisend myl van jou af weg is, hulle saans met  kerslig moet klaarkom omdat Suid-Afrika nie meer aan die basiese behoeftes van sy mense kan voldoen nie, en jy lees van die soveelste geskietery wat stapafstand van jou huis is, dan voel jy nogal magteloos.

Ek lees gou Psalm 18 en sien toevallig Malcolm Gladwell se boek, David and Goliath op die bedkassie. Gladwell haal ’n studie aan wat bevind het in al die oorloë van die afgelope tweehonderd jaar is net 71,5% gewen deur die kant wat duidelik die sterkste weermag gehad het. Verdere ontleding toon in al die oorloë waar die buiteperd (die spreekwoordelike Dawid) op ’n onkonvensionele manier teruggeveg het, het sy kans op sukses geklim van 28,5% na 63,6%.

Die geheim, skryf Gladwell, is dat die magtelose moet besef dat daar swakheid in krag is, maar dat daar ook krag in swakheid is. Goliat was groot en sterk, maar hy was ook lomp en stadig. Dawid was klein en swak, maar sy swakheid het hom genoop om ’n wapen te kies wat uiteindelik baie meer doeltreffend was as die wapen wat hy sou gebruik het as hy sterker was.

Die Suid-Afrikaanse regering is groot en sterk en boonop arrogant daarby. Maar in hierdie arrogante magsgevoel lê hul grootste swakheid – ’n verstommende onvermoë om hul eie foute te erken. ’n Ontleder in Washington het net verlede week vir my gesê dat president Jacob Zuma se stellings oor Jan van Riebeeck en dat die kragkrisis apartheid se skuld is, maar net nog ’n bevestiging is van dít wat hulle lankal reeds besef het: dat niemand die Suid-Afrikaanse regering meer ernstig kan opneem nie.

Aan die ander kant sit die magteloses – die politieke slaansakke wie se belastinggeld maandeliks opgeslurp word, terwyl hulle blameer word vir alles wat fout is in hierdie land.

Maar dit is juis in hierdie magteloosheid waar ons uniekheid – en waarskynlik die eerste tree na ’n oplossing – gesetel is.

Ons magteloosheid dwing ons om uit ons gemaksone te klim en die status quo te bevraagteken. Dit dwing ons om selfs verder te gaan – om nie net te bevraagteken nie, maar om self hand aan die ploeg te slaan. As ons nooit ’n gevoel van magteloosheid gehad het nie, sou die meeste van ons dit nooit nodig geag het om iets aan die probleem te doen nie.

En die oplossing begin by die huis. Ons moet beter na ons eie veiligheid kyk, maar ons moet ook betrokke raak by ons gemeenskappe, ons moet by veiligheidsnetwerke inskakel, ons bure leer ken en selfs help om patrollies te ry, waar nodig. Meer as dit moet ons ook besef dat individue, elkeen op sy eie miershoop, nooit ’n oplossing tot ’n kollektiewe krisis kan bied nie. Dit is waarom mense betrokke moet raak by instellings wat konstruktief daaraan werk om ’n verskil te maak – en daar is baie van hulle.

My foon piep. Dit is nou kort na 7:00. Vroulief is rustig, kinders is gebad en ouboet is by die kleuterskool. Nog ’n dag in Suid-Afrika het begin.

Vanaand klim ek rustig in die bed, wetend dat ek môre met groter geesdrif sal aanpak as wat ek aanvanklik gedink het.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Ernst Roets

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Ernst Roets is die Adjunk-Uitvoerende hoof van Afriforum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cathy Kotze ·

Ek wens julle sukses toe en hoop dat die samelewing in Suid-Afrika weer eendag na normaal sal terugkeer. Intussen stel die res van die wêreld al hoe minder belang in Suid-Afrika se probleme. Daar word selde berig daroor in die buitelandse media.

Intussen raak die uitdagings meer. Hoe maak mens planne om jouself te beskerm wanneer dit duidelik is dat die elektriese voorsiening in Suid-Afrika op ‘n kritiese stadium is. Hoe beskerm mens jou gesin wanneer daar reeds planne is om die kabinet te ontruim na ‘n onbekende veilige plek, en soldate te ontplooi na dat die kragvoorsiening tot niet is.

http://www.fin24.com/Economy/Eskom-lifts-veil-on-doom-at-cabinet-briefing-20150201

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.