Ons moet begin regmaak vir die 2024-verkiesing

Theuns Eloff (Foto: Verskaf)

Baie Afrikaners en ander Afrikaanssprekendes het al moed opgegee oor die politiek – en opgehou stem. Hulle dink: “Om te stem, sal tog niks verander nie”; “Politici is almal net op hulle eie belange ingestel”; “My stem sal nie ʼn verskil maak nie”.

In reaksie op hoe sleg dit in die land gaan, het baie Afrikaners en ander minderhede “in hulleself gekeer” en daarom konsentreer hulle net op die dinge wat in hulle direkte omgewing gebeur – en waar hulle wel ʼn verskil kan maak. Dit is ook waar dat die ANC-regering se rassebeleide wit Afrikaners en ander minderhede wat nie swart is nie, al meer uit die openbare lewe dwing. Die onlangse regulasies oor die Wysigingswet op (on)Billike Indiensneming is net nóg ʼn voorbeeld hiervan.

Hierdie ontwikkelinge die afgelope 25 jaar het daartoe gelei dat die Solidariteit Beweging die bekende wekroep “ons sal self” as leuse aanvaar het. Daar kan nie meer op die regering staatgemaak word vir veiligheid, maatskaplike ontwikkeling, onderwys, en die behoud van taal en kultuur nie (om maar enkeles te noem). Ons bou ons eie instellings en word so ver as moontlik “staatsbestand”. Ons bind na binne. En dit is ʼn goeie strategie. Daarmee saam lê Solidariteit ook al hoe meer klem op brugbou – die uitreik na ander gemeenskappe. Dit skep ʼn balans tussen die klem op diversiteit (ons eie) en eenheid (ons saamwees in die land).

Teen hierdie agtergrond moet die vraag gevra word: hoe belangrik is dit om in die 2024 nasionale en provinsiale verkiesings en in 2026 in die plaaslike verkiesings te stem? Is 2024 nie in ʼn hele paar opsigte ʼn belangriker verkiesing as al die ander sedert 1994 nie? En hoekom is dit so?

‘n ANC-ondersteuner tydens die party se 54ste nasionale verkiesingskonferensie in 2017 (Foto: AFP /MUJAHID SAFODIEN)

Die belangrikste faktor is dat daar ʼn sterk moontlikheid is dat die ANC in 2024 onder die 50%-vlak van nasionale steun kan val – vanaf die amper 70% in 2004 en na 30 jaar as regering. Die belangrikste aanduiding hiervan is dat die ANC se landwye steun, geprojekteer na aanleiding van die plaaslike regeringsverkiesing in 2021, vir die eerste keer onder 50% geval het tot slegs 45.6%. Die ander aanduidings dat dit kan gebeur, spruit voort uit die feit dat gewone Suid-Afrikaanse burgers keelvol is vir die toestand van die land, elektrisiteit (veral beurtkrag), water en ander dienste, asook werkloosheid en armoede.

Om dit te laat gebeur, moet die opposisiepartye beter doen. Die opposisie in die parlement bestaan formeel uit die DA (20.77% van die steun), die EFF (10.79%), die IVP (3.38%), die VF+ (2.38%), die ACDP (0.84%) en nege kleiner partye (saam 2.56%). As ʼn mens die EFF en die kleinste partye (wat meestal deur indiwidue gedryf word en tipies elk slegs tussen 30 000 en 80 000 stemme landwyd gekry het) uitlaat, het die gematigde opposisie partye tans slegs 27.4% van die stemme. Dit moet verander.

Herman Mashaba, president van ActionSA. (Foto: ActionSA)

Ten minste drie nuwe gematigde partye gaan in 2024 vir die eerste keer aan die nasionale en provinsiale verkiesings deelneem, naamlik ActionSA (Herman Mashaba), Build One SA (Musi Maimane) en Rize Mzanzi (Songezo Zibi). Vroeë aanduidings is dat ActionSA en Build One SA grootliks op die swart middelklas en kiesers uit rasseminderhede gaan fokus. Maimane het ook die voordeel dat hy ʼn sambreel gevorm het vir talle onafhanklike kandidate in die 2021 plaaslike verkiesings. Gayton Mckenzie se Patriotic Alliance het ʼn grootliks bruin steunbasis, maar dit vorm deel van die poel van minderhede.

ʼn Mens kan skat dat die poel van gematigdes (middelklas kiesers en minderhede) ongeveer 30% van alle Suid-Afrikaanse kiesers is. Dit laat enige gematigde koalisie 20% kort van die magiese 51% om ʼn regering te kan vorm. Die enigste twee opposisiepartye wat ʼn deel van hierdie 20% stemme kan werf, is enersyds die IVP, met sy groot steunbasis in KwaZulu-Natal, waar die ANC as gevolg van binnegevegte en korrupsie aan die verbrokkel is. Andersyds het Songezo Zibi se Rise Mzanzi gestel dat hulle spesifiek ontgogelde ANC-ondersteuners, asook die grootliks swart jeug tussen 18-32 (waarvan die grootste meerderheid nog nooit gestem het nie) teiken.

Indien (en daar lê nog baie werk voor) die gematigde partye voor die 2024-verkiesing ʼn teen-ANC-koalisie kan vorm, gee dit kiesers die keuse van ʼn stem vir enigeen van hierdie partye – en dit sal effektief ʼn stem teen die ANC wees. Dit kan daartoe bydra dat die ANC in 2024 onder 50% gedwing word. Dit sal selfs net simbolies ʼn groot slag vir gematigdheid in Suid-Afrika wees.

(Argieffoto: Rodger Bosch/AFP)

ʼn Mens hoor soms ʼn redenasie onder sekere groepe dat as die ANC onder 50% val, hulle na die EFF sal draai om ʼn koalisie te vorm. Dit sal dan baie sleg wees vir die land en daarom moet witmense liewers vir die ANC stem om president Cyril Ramaphosa te “help” om nie met die EFF hoef saam te werk nie. Hierdie redenasie is op verskeie vlakke foutief en fataal.

In die eerste plek werk die ANC en die EFF reeds op plaaslike vlak nie goed saam nie. Hulle het ernstige meningsverskille en niks dui daarop dat hulle beter sal doen op nasionale vlak nie. Die teendeel is eerder waar. In die tweede plek het president Ramaphosa al talle kere laat blyk dat hy as die hoof van die ANC nie ten gunste van so ʼn koalisie op nasionale vlak is nie. In die derde plek sal ʼn stem vir die ANC om hierdie koalisie te keer, geen verskil maak aan hoe die ANC in regering misluk en amper daagliks agteruitgaan nie.

Wat ʼn mens wel kan sê, is dat indien ʼn ANC-EFF-koalisie wel ʼn werklikheid word, dit die ondergang van die ANC in 2029 se verkiesing net sal bespoedig – en waarskynlik die EFF ernstig sal seermaak.

Kiesers in Kempton Park, Gauteng tydens die 2021 munisipale verkiesing. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Waar laat dit Afrikaner- en Afrikaanssprekende kiesers? In die eerste plek moet ons verstaan dat, hoe belangrik selfdoen ook al is, sekere dinge net deur ʼn regering reggemaak kan word. Politieke mag en verandering is en bly belangrik. Dit is ʼn aanvullende meganisme om ons lewens en waar ons bly en werk en studeer, te verbeter. Ons moet dus nie ons rug op die partypolitiek draai nie, maar deelneem deur ten minste te stem.

In die tweede plek is dit uiters noodsaaklik dat alle stemgeregtigdes (dit wil sê almal bo 18) definitief gaan stem – as deel van die poel van 30% van gematigde kiesers. Moenie wegbly omdat jy dink “niks sal verander” nie. In 2024 kan jou stem werklik help om die ANC onder 50% te bring. Jou keuse van partye is wyd – enigeen van die gematigde partye wat nou reeds in die parlement is of wat vir die eerste keer aan die verkiesing gaan deelneem.

Dit sal die moontlike gematigde opposisie ʼn basis van 20-30% gee (as ʼn mens middelklas swartmense en ander minderhede inreken). Dit sal ook die gematigde partye wat die landelike swart kiesers, ontgogelde ANC-kiesers en die swart jeug teiken, die wete gee dat daar ʼn gematigde basis is waarop hulle verder kan bou. Na 2024 is die moontlikheid van ʼn sterk opposisiekoalisie dan nog sterker. Dit sal die partypolitieke landskap verander en die agteruitgang van die ANC nog verder bevestig. Dit sal beteken dat die ANC in 2026 se plaaslike verkiesings in al die metro’s beslissend teen so ʼn opposisiekoalisie kan verloor. Dit sal hulle ondergang in 2029 nog verder verseker.

En indien die onwaarskynlike gebeur dat die ANC in 2024 onder 40% val en die EFF swakker doen as in 2019 (wat tans deur meningspeilings aangetoon word), kan jou stem selfs help om ʼn nuwe gematigde regering aan bewind te stel.

Dink dus anders oor jou en jou mense se deelname aan die 2024-verkiesing. Registreer betyds en gaan stem. Jou stem kan hierdie keer werklik ʼn verskil maak – en jou en ander Afrikaners en Afrikaanssprekendes se lewens verbeter.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Theuns Eloff

Theuns Eloff is ʼn onafhanklike kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

49 Kommentare

Miss J ·

Ek stem 100% saam. Ons stemme is uiters belangrik om moontlik die ANC uit die kussings te lig of ten minste te keer dat hulle nie alleen en met meerderheid stemme in die parlement wette maak wat ons land en sy mense seermaak nie. Dit gee ook opposisie meer mag vir deelname.
Wegbly van die stembus is ook indirek ‘n stem vir die ANC

B-Man ·

Dis eintlik twee stemme vir die ANC, want twee mense sal in jou plek moet gaan stem om op te maak vir die een wat jy hulle gekos het.

Miena ·

Ek vra nogsteeds en niemand kan my antwoord nie – vir wie stem ons dan in 2024? DA of VF+ – in die plaaslike munisipale verkiesing het dit ons klein ou plaas-dorpie (buite Pta -Oos) net mooi niks gehelp nie. Vandag sit ons met n persoon in beheer, water stroom die straat af vir 3 weke al (by die oue-tehuis area), ag nee wat mens stem vir n betrokke party net om te beleef hoe hulle n koalisie aangaan met die vyand in alle geval en dan word g’n stuk steek werk gedoen of bietjie trots in die dorp word geopper nie.

Jakkie ·

in ‘n onlangse gesprek rondom dit wat jy noem Miena het dit uitgekom dat persone soms hul stem verdeel tussen nasionaal en provinsiaal.

Goldy ·

As dit nie vir VF+ en DA was nie was jou dorpie nou nog erger en die hele land alreeds waar Zim is.

B-Man ·

Feit bly staan: Stem vir enige iemand behalwe ANC/EFF. SOLANK JY NET STEM en almal om jou orreed om dieselfde te doen.

skurweberg ·

As die “onwaarskynlike” gebeur, moet ons onsself regmaak vir baie erger dinge wat met die land en sy inwoners gaan gebeur. Daar is nou te veel dinge wat in SA kan skeefloop waarvan die howe se uitsprake afhang nl. rassekotas en wette , Putin en Bricks, waterregulasies en die boere om maar maar drie sake te noem. Ons vaar voorwaar in troebel water, met ernstige donderwolke wat uit die ooste begin opsteek. Gelukkig weet ons dat daar ‘n “GROTER PLAN” agter al die gebeure in ons land is, maar ook internasionaal.

Goldy ·

Die ergste is nie meer die onwaarskeinlike nie maar die mees waarskeinlike. Berei voor vir die ergste soos chaos en malema se volksmoorddreigemente. En weet maar niemand gaan kom help nie.

SwartBees ·

Buiten om jou kruisie te gaan trek, wat anders kan ons doen om die land om te draai? Hoe kan mens die massa help verstaan dat die anc toxic is? Ek kan rerig nie nog 4 jaar met die anc bekostig nie.

Anna-marie ·

Hy moet ons nou mooi kom verduidelik hoe werk FW se wigte en teenwigte wat hulle vir ons belowe het.

Goldy ·

Verandering is slegs goed as dit tot verbetering lei. Jy was oor en oor gewaarsku dat die verandering tot agteruitgang gaan lei, tog glo jy steeds dat die massas oortuig gaan word om wys te stem. Hulle sal nie. Hulle het reeds oor en oor gese hulle sal eerder vir n swak swart leier as n goeie wit leier stem, wat beslis rassisties is. Hou op vals hoop gee en beplan eerder vir die ergste en die trajectory wat Afrika nog altyd loop.

Nettie ·

PRESIES.
Hulle het ons in hierdie situasie gedompel met hul leuens van 30 jaar terug. En hul voeter nog steeds voort daarmee. “Gematigde swartes”….. ja sure. Gaan lees op Twitter hoe gematigd hulle werklik is!

Wat ons nodig het, is leiers wat besef in watse GEMORS wit mense sit. In watse GEVAAR ons onsself bevind, en ons DAARVOOR voorberei en lei en help. Daar gaan NIE politieke uitkoms wees deur ‘n gestemmery nie. Nie vir ons wit mense nie.

Anna-marie ·

Maar Theuns, wanneer skop FW se wigte en teenwigte nou eendag in ?? Ons het dit nou darem baie nodig.

Goldy ·

Die einste verligte wat toe wel baie lig was, en nie so n groot intellekteule reus nie. So verkeerd in voorspelling wat kon wees, en het gehelp om julle in armoede en verdrukking te plaas. Hy het aktief gehelp om die oordrag van mag na kommuniste maklik te verloop.

Hendrik ·

Tog jammer die altyddeur negatiewe gesindheid in ons kommentare. Dit sal beslis die hoop wat gekoester word ondergrawe en ons in n groter gemors dompel. Dit baat absoluut niks. Stem saam laat daar n positiewe gees opvlam. Politieke partye sal nie alleen die mas opkom deur hoofstroom kommunikasie media nie. Soos voorheen moet daar van streek tot streek vergaderings gehou word om gees te vang. Ons vyand word tans te veel met sagte handskoentjies gehanteer. Daar moet sigbaarheid wees en daar le harde werk voor. Die neestemme was destyds 800,000 + Waar is julle nou en ook jul kinders wat jul moes leiding gee??

Manie ·

Die nee stemmers is nog al die pad hier, maar hulle verneem bloedweinig van die ja stemmers. Die ja stemmers is seker te ontnugter oor wat gebeur het.

Republikein in die Wes Kaap ·

Jip. En nog steeds nie verskoning gevra of erken dat sake misluk het nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ek sal Eloff net ernstig opneem indien hy erken sy aandeel in vryheid was ‘n flop.

houopkruip ·

Stem.
Maar eloff erken ?
Nooit – net so min as wat de klerk en meyer sou/sal erken.

skurweberg ·

In sy geval moet ‘n mens maar tussen die lyne lees om by die antwoord te kom.

melaney ·

Ek het 6 maande gelede die DA ‘n vraag gevra. Wag nou nog vir ‘n antwoord. Ek sal daarvolgens stem.

Marthinus W ·

Ek het ongeveer n jaar gelede n 120-bladsy dokument oor die situasie in Oekraine aan John Steenhuisen gestuur. Geen reaksie. Ek oorweeg nou vir Herman Mashaba of die VF+. (Toe ek in Jhb gebly, en Mashaba die burgemeester was, het jy hom gedurig met sy oorpak gesien, waar hy help om die paaie, sypaadjies, mure in stand te hou.)

Chrisp ·

9 Julie 1987 was hy by die strategiese sessie in Dakar om juis hierdie reenboog te help skep dalk wag hy vir 9 Julie 2023 om weer Dakar te besoek hierdie keer om sy (hulle) gemors te probeer beredder.

Kyk na sy nalatingskap polities en akademies(PUK) dit is sy getuigskrif

Anna-marie ·

De Klerk het ‘n paar keer gesê voor sy dood, hy sal dit weer doen as hy weer voor die keuse moet staan. Wat van leiers het ons gehad!

Heinrich ·

Hier is ‘n groot sielkundige probleem – die meeste ANC kiesers ly aan die Stockholm sindroom. Die ANC hou hulle gevange met maatskaplike toelae, swak onderwys, swak openbare hospitale, hoë misdaad ens, maar hulle is in ‘n soort liefdesverhouding met hulle ‘bevryders’ wat die kolonialiste wat apartheid wil terug bring van die deur af weghou. En dan moet die voorvadergeeste ook nog gelukkig gehou word. Die opvoeding van die stemvee gebeur nie oor die internet op webwerwe nie, want daar is nie geld vir data nie en leesbegripsvlakke is in elk geval vrot. Hulle is probleem, want hulle hou die korruptes in plek.

Fluisterwind ·

Om die waarskynlikheid en uitkoms te bereken, beskou ons elke party as ‘n individuele gebeurtenis. Die waarskynlikheid om ‘n spesifieke party te kies is gelyk aan sy aandeel stemme gedeel deur die som van al die persentasies.

Totale persentasie: 50% + 10,79% + 20,77% + 3,38% + 2,38% + 0,84% + 2,56% = 90,12%

Die waarskynlikheid om elke party te kies is soos volg:

ANC: 50% / 90.12% ≈ 0.554
EFF: 10,79% / 90,12% ≈ 0,12
DA: 20,77% / 90,12% ≈ 0,23
IVP: 3,38% / 90,12% ≈ 0,037
VF: 2,38% / 90,12% ≈ 0,026
ACDP: 0,84% / 90,12% ≈ 0,009
Rus: 2,56% / 90,12% ≈ 0,028
Daarom is die waarskynlikheid en uitkoms van die ewekansige keuse van ‘n politieke party op grond van die gegewe persentasies ongeveer:

ANC: 55,4% kans om gekies te word
EFF: 12% kans om gekies te word
DA: 23% kans om gekies te word
IVP: 3,7% kans om gekies te word
VF: 2,6% kans om gekies te word
ACDP: 0,9% kans om gekies te word
Rus: 2,8% kans om gekies te word

Republikein in die Wes Kaap ·

Afrikaners word ingetrek in swart politiek. Dis ‘n mors van tyd.

Nettie ·

Amen en presies. Ons gaan geensins enige vryheid in hierdie land ooit weer deur politiek verkry nie. Daardie skippie het geseil deur hierdie einste Eloff en De Klerk en hulle stigting.

JvR ·

Waarom? Stemme is mos reeds getel. Die lot is besluit. As verkiesings n verskil sou maak, was dit onwettig. En selfs al maak dit n verskil, n Maand na die verkiesing speel hulle musical chairs en voila! SSDD

B-Man ·

Dit maak nie wat hy in die artikel sê onwaar nie. Hy sal mos dan nou weet uit ervaring van wat eerder gedoen moet word. Geen hoeveelheid kritiek gaan die verlede verander nie. Luister eerder na die sin wat hy nou praat vir die toekoms.

Republikein in die Wes Kaap ·

Dit gaan oor vertroue. Die brug is reeds halfpad onder water.

Nettie ·

LOL. En nou wil hy vir ons kom vertel hoe politiek die antwoord gaan wees? Ons moet net STEM, dan gaan als “okay” wees?! Te hel met julle!

Nettie ·

Ons uitkoms lê nie (ooit weer) in politiek nie.
Die 1800’s het gegaan oor oorlog en oorwinning. Soms het ons gewen, maar finaal in 1902 verloor.
1915-1922 was ‘n tyd van rebellie en opstande.
1924 begin ‘n nuwe era – van politiek. Ons kry meer beheer en finale algehele beheer deur politiek in 1948.
Toe begin die “shadow” of ondergrondse magte. Ons president word vermoor in ’66 en revolusie opgestook asook oorlog op die grens.
So verloor ons beheer in ’94. NET soos in 1902. NET soos toe, gaan ons dit nie terug kry op dieselfde manier nie.
God sal ons wys hoe, maar dit gaan iets nuuts wees! Nie meer oorlog soos 1800’s, of politiek soos 1900’s nie. Iets heeltemal nuuts kom.

skurweberg ·

Dit is dieselfde persoon, maar ek dink dat hy mansgenoeg is om eerlik te wees oor die ware toedrag van sake in SA. Dis pressies wat ons nou nodig het. Almal wat “ja” gestem het is vandag ernstig ontnugter en sal wil help draai aan hierdie skip.

Republikein in die Wes Kaap ·

‘n “Jammer mense, ek was verkeerd” sal die ys breek.

JuanRe ·

Dankie maar nee dankie!!! Al die kere wat ek gestem het het dit geensins ‘n verskil gemaak nie. Het inelkgeval ge-emigreer Kanada toe. Baie sterkte vir almal wat wil emigreer maar nie kan nie.

Anna-marie ·

Dankie Ruan, ja-nee, julle wat geemigreer het se tydsberekening was baie beter as ons sn wat nog hier sit. Vasgevang en in ‘n hoek gedryf. Een ding is vir my duidelik., hulle soek ons nie hier nie.

skurweberg ·

Theuns Eloff is ‘n instrument in die hand van ons en sy Skepper, soos wat ek, ons en hy ook instrumente is. Of jy/hy gelowige is of nie. Ons Skepper is Vrymagtig. en Almagtig en gebruik die wat Hy wil, gelowig of ongelowig, om alleen sy naam te veheerlik en sy Plan met die wêreld te voleindig. Geen skepsel sal dit kan verander nie. Dis voorwaar ‘n voorreg en eer om deel daarvan te wees…

Republikein in die Wes Kaap ·

Jammer, ek koop dit nie. Wanneer ‘n leier belangrike besluite moet neem wat ‘n land en nasie se lewens in ‘n nuwe rigting stuur moet hy die gevolge dra. Eloff en andere se bydraes is die mislukkings wat ons vandag sien. Hy moet dit net erken en na die agtergrond aanbeweeg. Sy rol is uitgedien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.