Ons opponente speel in ons hande

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof AfriForum (Foto: Reint Dykema)

Die Britse komediant, akteur en politieke kommentator Stephen Fry het die afgelope week die debat oor politieke korrektheid met ’n skaakspel vergelyk. Die beste skuif in skaak, verduidelik hy, is die skuif wat jou opponent die minste wil hê jy moet speel. Dit herinner natuurlik aan die histeriese reaksie deur sekere persone in die media-elite oor AfriForum se onlangse skakeltoer na die VSA om steun teen plaasmoorde en vir die beskerming van eiendomsreg te werf.

En is dit nie ’n skaakspel nie! AfriForum is met boodskappe van steun oorval. My skatting was dat ons meer as 10 000 ondersteunende boodskappe ontvang het. Ek dink nou dat daardie syfer dalk té konserwatief was.

Aan die ander kant was daar sekere persone in die media en die akademie wat daarop uit was om AfriForum om elke hoek en draai aan te val en te diskrediteer. ’n Paar van hulle was só desperaat dat hulle bereid was om hul eie joernalistieke integriteit in gevaar te stel deur sommer blatant die teenoorgestelde te skryf as wat ons gesê of gedoen het. Die meeste van dié aanvalle was egter strooipoppe wat opgestel is om AfriForum te diskrediteer deur gedrag of uitsprake aan AfriForum toe te dig wat nooit gedoen of gesê is nie.

Dit is moeilik om vas te stel wie die kompetisie gewen het. Miskien is dit Wits-universiteit se Adam Habib wat my en Kallie Kriel met Adolf Hitler en Idi Amin probeer vergelyk het.

Miskien was dit Netwerk24 vir wie ek gesê het dat ek in besit van ’n bandopname is waarop daar sekere bewerings oor Julius Malema gemaak word – waarná hulle geskryf het dat ek geen bewyse het nie en slegs gerugte gehoor het.

Miskien is dit Pieter du Toit wat op Huffington Post beweer dat ek op Fox News gejok het deur aan te voer dat daar reeds ’n besluit geneem is dat die Grondwet verander sal word – terwyl hy egter in die einste artikel toegee dat ek self gesê het dat die goeie nuus is dat daar nog ’n proses is wat gevolg moet word.

Miskien is dit Eusebius McKaiser, aan wie ’n genuanseerde standpunt oor apartheid deur Kallie Kriel oorgedra is – en wat toe daardie standpunt geheel en al van konteks gestroop en ’n valse bewering die wêreld ingestuur het.

Miskien is dit een van ’n lang reeks joernaliste en kommentators wat AfriForum aanval op grond van ons beweerde standpunt oor volksmoord, slegs om later ontbloot te word omdat hulle nie eens geweet het wat ons standpunt is nie.

Miskien is dit Max du Preez, wat aanvoer dat AfriForum plaasmoorde oordryf, maar dan skryf dat ons moet onthou dat 81 joernaliste verlede jaar wêreldwyd vermoor is, terwyl daar slegs in Suid-Afrika in dieselfde tyd 84 plaasmoorde was.

Wie die grootste sondaar is, maak seker nie saak nie. Ons ervaring en die terugvoering wat ons van die publiek kry, is duidelike bewys dat hierdie aanvalle deur ’n klein groep individue (van wie baie met mekaar bevriend is) nie ’n impak op ons steun het nie. Trouens, AfriForum ervaar tans groter steun as ooit in sy geskiedenis – binne én buite Suid-Afrika. Wat wel duidelik blyk, is dat daar onder die gemeenskap ’n ernstige verharding teenoor die media aan die ontwikkel is.

Ons moet aanhou om erkenning te gee aan die media en aan die kardinale rol wat die media speel om politici en organisasies (AfriForum inkluis) tot verantwoording te roep. Die media is in ’n posisie om vrae te vra en te konfronteer waar die gewone lid van die publiek nie kan nie. Hierdie funksie – en die beginsel van spraakvryheid – moet gekoester en beskerm word.

Dit blyk egter dat sekere individue só gretig is om AfriForum by te kom, dat hulle bereid is om hul tot bedrieglike verslaggewing te wend om dit te doen. Dit laat ’n kommerwekkende rooi lig aangaan.

Winston Churchill het opgemerk dat jy nooit jou bestemming sal bereik as jy elke keer stop om klippe na elke blaffende hond te gooi nie. As ons toelaat dat hierdie aanvalle ons van stryk sal bring deur in ’n eindelose debat met sekere persone in die media verstrengel te raak, sal ons nooit ons bestemming bereik nie. Aan die ander kant kan ons nie die valse bewerings ignoreer nie.

Ons strategie is dus: Ons gaan voort om AfriForum se standpunt onomwonde te stel, veral wanneer ons vir kommentaar genader word. Ons sal egter nie op elke bedrieglike nuusberig reageer nie. Daarvoor vra ons die publiek se hulp. Jy kan help deur AfriForum se standpunt te meet aan wat AfriForum self sê, eerder as om jou te berus op die wyse hoe dit in die media (her)verwoord word. Indien dit bedrieglik oorgedra word, kan jy dit uitwys – sonder om die morele hoë grond te verloor, natuurlik.

Stephen Frey se opmerking oor skaak hang egter oor die hele skouspel. Daar is sekere standpunte wat AfriForum al gestel het wat inderdaad gekritiseer kan word en waaroor daar inderdaad debat gevoer kan word. Die skuif wat ons nie wil hê ons opponente moet speel nie, is om uit te wys wanneer ons feite en ons navorsing verkeerd is. Dit is vir ons van kardinale belang om seker te maak dat ons argumente te alle tye op konserwatiewe, bewysbare feite geskoei is. Ons opponente se skuif speel egter, ironies genoeg, in ons hande. Al waarin hulle slaag wanneer hulle AfriForum op bedrieglike wyse kritiseer, is om hulself en hul eie geloofwaardigheid te diskrediteer. En eendag, wanneer ons wel in die strik sou trap, sal niemand hulle meer glo wanneer hulle dit uitwys nie. En dit is nie eers in ons eie belang nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Dr. Ernst Roets is beleidshoof van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Veritas ·

Wat sê die ou spreekwoord? Wanneer jy iemand genoeg tou gee, sal hy homself hang. Los maar die Afrikanerhaters uit sodat hulle kan aangaan met hul verdraaide waarhede. Al hoe minder mense glo in die twak wat hulle kwytraak.

John ·

Ongelukkig was daar nog nooit ‘n skaaktoernooi in die wereld se geskiedenis om die oorlewing van volkere te besleg nie… of was daar nie dalk een voor 1994 nie, maar toe gee De Klerk boedel oor…. aspris… en nou wil dieselfde opponente he ons moet dit weer doen en speel die fyn spel van woedende oogkontak, duistere glimlaggies en swaaiende heupe sodat die Afrikaners weer teen mekaar draai en mekaar uitlewer… sonder een slim skuif of knipoog na die toeskouers.

Al ·

Jul doen uitstekende werk. Ons staan agter jul. Ek glo ook jul sal fyn trap met die wat lokvalle vir jul stel en die wat woede uit jul wil bring.

Dirk Breytenbach ·

Gaan so voort Afriforum!!! Ons steur ons nie aan selfhaters nie.

Deon ·

Die berig hierbo laat my dink: Tydens die stryd tussen die destydse NP en HNP het die oorheersende NP en die linkse pers ook baie onwaarhede en verdraaide stellings van Mnr Jaap Marais en die HNP gepubliseer. Maar een ding wat jy van Mnr. Jaap Marais kon sê, as hy op die verhoog geklim het, het hy altyd `n tassie by hom gehad en dié langs die kateder neergesit. En alles wat hy tydens sy toespraak gesê het se bewyse was in daardie tassie langs die kateder. So Afriforum, doen so voort en hou al die bewyse in julle tassie langs die kateder. Die WAARHEID sal seëvier!!!!!

JSG ·

Stem saam. Hanteer die saak soos ‘n hofsaak. Sonder konkrete bewyse of genoeg akkrediteerde verklarings, val die saak deur die mat. Do zo voort Afriforum.

Afrikaan ·

Dankie AfriForum; julle (en Steve) is die Afrikaner se stem in hierdie land. Uitstekende werk!

Eish ·

Soms wonder ek, is dit beter om die ding reg te doen of liewer die regte ding te doen…

V ·

Dankie Ernst. Julle doen ‘n edele werk… Amper soos die van ‘n soldaat en ‘n verpleegster. Doen so voort. Hou net aan die waarheid en feite deurgee, die verdwaaldes se huis van kaarte sal vinnig inmekaar stort. Die moeilikheid met strooipoppe is hoe vinnig die klienste vonkie dit laat uitbrand en AS agterlaat. Die waarheid is ‘n vuur.

Bert ·

‘n “Genuanseerde standpunt” oor apartheid. Om dit te probeer in hierdie tye is eenvoudig dom. Julle gaan moet leer om konsessies te maak.

Napoleon ·

Doen so voort, Afriforum. Julle is die enigste sprankie hoop wat ek vir SA het.

Vegter ·

Ek wens net dat meer mense wil opstaan teen geweld en moord in ons land wit en swart crime is buite beheer

Ben ·

Stem saam, Afriforum die enigste wat probeer om die waarheid aan die lig te bring en op te staan vir ons boere. Hou so aan. Wat die ander nie besef nie, is dat die waarheid is soos ‘n kurk prop. Jy kan hom probeer onder hou, maar eendag gaan hy loskom en op kom.

Oom Kalahari ·

Ernst Roets en Kallie Kriel, om lid van Afriforum te wees is alreeds ‘n eer en deur al die jare het jul menigte projekte ten gunste van die Afrikaner aangepak. Soms suksesvol en soms nie, maar een punt staan uit dat jul met integriteit, respek en goeie menseverhoudinge optree ongeag wanneer jul aangeval en uitgedaag word. Die wereld glo ons neem kennis en jul stellings met bewyse word op werklikhede geskoei. Natuurlik sal die hoofstroom media en sekere linkse strooipoppe op die podium verskyn en paar klippe gooi, maar hul probeer hul bes om die lopende trein te laat ontspoor. Jul optredes is ‘n riem onder die hart – Dankie aan jul twee here.

Saakmat ·

Laat daardie ruiter oorspring na europa, en daar vir ons steun werf. En nog n keer of wat na amerika.

Nederkaner ·

Dis die “Trump-effect”. Hoe meer die media haat teenoor iemand verspry en mense sien nie die haat in diegene se dade nie, hoe meer word die persoon of organisasie beroemd en kry steun. Mense is net moeg vir die so genaamde media. Die media is elke jan trap en sy maat met ‘n sleutelbord.

Hendrik ·

Dankie vir julle skitterende werk. Hou so aan. Stadig maar seker kom al meer draadsitters ook op die bus. Almal moet help om Afriforum se hand te sterk. Dis nie genoeg om net lid te wees nie. Befonds, bemoedig, werf en help die wa trek. Ons het mekaar nodig, nou meer as ooit.

cool ·

Ek kannie onthou wanheer laas ek so vol hoop was nie, dankie AfriForum!
Die wereld neem kennis van die oorlog teen ons volk…
God seen julle

Henry ·

Uiteindelik doen julle dapperes wat ‘n hele spul van ons huidige benadeeldes reeds laaaaankal voor pleit!

Hopelik is hierdie aksie bloot die begin van ‘n voortdurende proses om die buiteland se mense, hul regerings en multi nasionale maatskappye in te lig oor die onregte en sotterny wat daagliks in hierdie droewe land plaasvind. Waar ‘n regering wat mbv uitgediende marxistiese beginsels, endemiese korrupsie en geweld, nog ‘n Afrika staat aan’t vernietig is.

Ons vra ook dat julle asseblief nie moet ag slaan op die gewone en bekende vyande van die waarheid nie. Die mees aktiewe temers is ‘n ou bekende groep onvergenoegdes en politiek korrekte slawe en media boelies wat tot op datum, geen positiewe bydrae gelewer het om Afrikaner of minderheidsbelange te beskerm, of uit te brei nie.

O ja.
Dit is belangrik dat finansiële steun en lidmaatskap aan Afriforum en vennote, van kritiese belang is om die wiele van waarheid aan die draai te hou.

Pieter ·

Ernst, hou vol. Die sosioloog C Wright Mills het in die 50s van die vorige eeu ‘n boek, The Power Elite geskryf met verwysing na ‘driehoek’. By ons is dit die samespanning teen die Afrikaner deur die driehoek van die ANC, linkse joernaliste en akedemici. Almal speel ‘n bedenklike rol en is so naby aan mekaar dat jy hulle spreekwoordelik met ‘n klein kombersie kan toegooi.

Jerry ·

Wanneer jy paralelle strukture stig om sekere funksies oor te neem waarmee die staat misluk, saal jy jouself op met verantwoordelikheid en die aanspreeklikheid daarvoor waarvan plaasbeveiliging net een so n voorbeeld is. Julle buitelandse veldtog om die staat te blameer vir plaasmoorde omrede hulle die kommandostelsel ontbind het was korrek en was geldig. Dit is egter nou nie meer die geval nie aangesien julle nou reeds daardie funksie oorgevat het en dus nou moet begin om pa te staan vir plaasmoorde onder julle toesig. Hierdie opinie kan jy beskou as n aanval, dit is egter n tydige vermaning en waarskuwing “to put your money where your mouth is”.

DHK ·

Jou opinie is ietwat kortsigtig. Dit bly die staat se verantwoordelikheid om al sy burgers teen misdaad te beskerm. Ons betaal belasting en dus lê die morele verpligting vierkantig voor die staat se deur om dit te doen. Ek kry die indruk jy is net daarop uit om mense die harnas in te jaag…

Jerry ·

DHK so was daar ook gese my kommentaar mbt hand van vriendskap, versoening en samewerking is kortsigtig en wat gebeur nou! Nou rig CR die uitnodiging en hy weet die Afrikaner organisasies gaan nie die uitnodiging vat nie en sodoende kan dit teen die Afrikaner gebruik word. In die nabye toekoms, sal dit wat ek nou se mbt plaasbeveiliging teen die forum gebruik word ” mark my words”. Daar is in teendeel baie wat die forum al gese en gedoen het wat teen hulle gaan tel, dit los ons egter vir n ander dag.

DHK ·

Nee wat, ‘n “ekskuus ek lewe” houding gaan ons nêrens bring met CR nie. Hy sien dit as ‘n swakheid wat deeglik uitgebuit moet word. Die Afrikaner se lotsbeskikking berus in die hande van God, en NIE in CR sin nie. Ons moet voor Hom buig en op Hom vertrou as ons wil voortbestaan in hierdie land. Ongelukkig is daar steeds vele afgode voor wie my volk buig en dis die rede hoekom ons in so ‘n haglike posisie verkeer. As ons volhard om met verharde harte teenoor God te lewe verdien ons die ondergang wat ons in die gesig staar. Ek sal eerder eerbaar sterf as om in onderdanige kruiperigheid voort te lewe.

Jo ·

Ek werk vir ‘n buitelandse (Europese) maatskappy in SA. Hulle onlangs eerstehandse ervaring opgedoen met die destabiliserende optrede van die rooi pette! Die een jongman noem toe vir my dat hy met sy ouers in sy land gepraat het en dat hulle totaal onbewus is van die moord en chaos wat deur “poltici” aangeblaas word. Iemand moet dus ‘n poging aanwend om bewustheid te kweek

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.