‘Ons Oranje, blanje, blou’: Dit gaan oor vryheid

Dr. Dirk Hermann, die bestuurshoof van die vakbond Solidariteit.. (Foto: Maroela Media)

ʼn Vlagherrie het Suid-Afrika getref. Die Oranje-Blanje-Blou is verbied. Selfs ʼn vlaggie op jou lessenaar by die huis is haatspraak.

Die vertoon van die vlag is nie net haatspraak nie, maar ook diskriminasie en teistering. Die howe het gepraat; regspraak is geskep.

Die vlag word nou gereguleer. Daar is ʼn duidelike reg en verkeerd. As jy dit durf oortree, is jy skuldig aan haatspraak en in Ernst Roets se geval, moet hy volgens die Nelson Mandela-stigting sommer tronkstraf vir minagting kry.

Vir die afgelope 20 jaar al sien ek bykans nooit enige ou Suid-Afrikaanse vlae by openbare geleenthede nie. Net vir ʼn kort rukkie ná 1994 is ou Suid-Afrikaanse vlae nog by rugbywedstryde gesien, maar daarna het dit verdwyn. Hier en daar sal jy soms nog ʼn verlore vlag sien. Die Swart Maandag-vlae wat aanleiding gegee het tot die Nelson Mandela-stigting se hofsaak was, ironies, fopnuus.

Die gemeenskap het die vlagkwessie op ʼn besonder volwasse manier hanteer. Daar was begrip vir die sensitiwiteit oor die vlag en hoe ander Suid-Afrikaners oor die vlag voel. Die vlag was nie verbied nie en dit was nie nodig nie, want Suid-Afrikaners het self besluit om dit nie te vertoon nie. Die hantering van die ou Suid-Afrikaanse vlag was ʼn mooi storie van gemeenskapsvolwassenheid.

Gemeenskappe en samelewings wat waarlik vry is, is eerder dié waar vlae en idees nie verbied hoef te word nie en waar gemeenskappe met eerbied teenoor mekaar se simbole en geskiedenis omgaan. Dit is waar alle idees, ook die slegtes, toegelaat word om met mekaar mee te ding – sodat ʼn gemeenskap self kan besluit watter idees hulle wil uitbou en watter hulle wil uitgooi.

Wêreldwyd is dit ʼn steurende tendens wanneer regerings begin om vlae, en as uitvloeisel daarvan dus ook idees, te verbied. Dit dui op ʼn regering wat onwillig is om in die stryd om idees mee te ding en om eerder net alle opposisie te verbied.

ʼn Mens sien dit vandag nog uitspeel in China waar die vlag van Tibet verbied word. Soos in die geval van alle idees bly dit nooit net by ʼn vlag nie en kan jy in Tibet tronk toe gaan as jy na ongewenste liedjies luister of foto’s van die Dalai Lama besit. Uiteindelik kan ʼn regering nie voorbly om simbole en idees te verbied nie en eindig jy by die absurditeit van ʼn China wat prentjies van Winnie the Pooh verbied.

Anders as wat regter Mojapelo se hofuitspraak wil voorhou, dra vlae en simbole in die regte wêreld feitlik altyd meer as een betekenis. Deur te stel dat ʼn simbool se betekenis gebaseer moet word op wat die meerderheid aanstootlik sou vind, word uiters gevaarlike terrein betree. Prakties het regter Mojapelo nie ʼn vlag verbied nie; hy het meningsverskil met die meerderheid verbied.

Vir baie Suid-Afrikaners het die vlag ʼn spesifieke betekenis. Hulle sien die vlag as ʼn simbool van oorheersing, pyn en vernedering. Hierdie belewenis van hulle is werklik en dit moet verstaan word.

Suid-Afrikaners het hierdie botsende belewenisse op ʼn natuurlike manier hanteer. Hulle het swart Suid-Afrikaners se gevoelens verstaan, baie meer as waarvoor erkenning gegee word. Daar is self besluit om die vlag eerder weg te bêre. Dit was ʼn wyse gemeenskap wat so opgetree het. Diegene wat steeds demonstratief met die vlag omgegaan het, het teen hierdie natuurlike gemeenskapsnorm ingegaan. Hulle was die uitsondering en het uitgestaan. So het die gemeenskap self besluit om die potensiële konflik te ontlont en het vrywillig deelgeneem aan ʼn groter gesprek rondom versoening.

Die Nelson Mandela-stigting besluit toe om hierdie gemeenskapsnorm te ontwrig. Hulle wil die vlag verbied. Die hof moet nou duidelikheid daaroor gee. Die gemeenskap moet van bo af gereguleer word. Hulle wat die norm oortree het, moenie uitstaan nie, maar gestraf word. Hulle ontneem die gemeenskap van die reg om self te besluit. ʼn Hoër gesag moet sentraal bepaal. Die dag toe die hof ʼn beslissing maak, is ʼn stuk vryheid om self te kan besluit van die gemeenskap weggeneem. Daar word selfs sentraal besluit wat in jou huis mag wees.

Bitter min mense het vlae in die huis, maar die talle wat dit nie het nie, wil self kan besluit dat hulle nie die vlag in die huis wil hê nie.

Die gemeenskap se eie besluit om die vlag weg te bêre, is opgehef en dit skep onmiddellik spanning. Die vlae word weer simbolies uit die kas gehaal en veral op sosiale media vertoon – hierdie keer as ʼn simbool van vryheid van spraak teen ʼn regering wat sy burgers soos kinders hanteer en vir hulle wil voorskryf wat hulle moet sê en dink. Die vlag wat verbied is, ontketen skielik weerstand teen ʼn regering wat sy mag tot aan die binnekant van sy burgers se huise wil laat strek. Diegene wat die vlag demonstratief vertoon, is nie meer randeiers nie, maar word skielik martelaars. Die vlag lewe weer en herinnerings aan die vlag word weer opgeroep.

Daar is ʼn fyn lyn tussen ʼn vlag wat aanstoot gee en jy wat aanstoot gee; tussen ʼn vlag wat ʼn onderdrukkende stelsel simboliseer en jy wat ʼn onderdrukkende stelsel is.

Die vlag is weg, maar jy is nog hier…

Afrikaners voel tereg die uitspraak staan nie in isolasie nie, maar is deel van ʼn groter boelieproses: Lesufi en skole; Afrikaans wat op universiteite afgeskaf word; die absolute rassekwotas van Sasol en andere; die dubbele standaarde wat ten opsigte van rassisme geld; die wettige en onwettige verwoesting van kultuurerfenis is alles deel van die agtergrond waarteen die vlagsage afspeel.

Dit is ironies dat dit die Nelson Mandela-stigting is wat hierdie spanning in die gemeenskap ingedra het – hulle wat die nalatenskap van Mandela moet beskerm, het die vrywillige gemeenskapsooreenkoms verbreek. In die aanloop tot die hofsaak het AfriForum ʼn lang, omvattende brief aan die stigting geskryf waarin hulle gevra het dat die kwessie eerder deur gesonde dialoog opgelos word.

Die Mandela-stigting het in ’n kort, koue regsbrief die voorstel vir dialoog verwerp.

Die hof moet spreek. ʼn Antwoord moet van bo af kom. Die Nelson Mandela-stigting se manier van doen moet in ʼn groter konteks gesien word, dié van ʼn staat wat meer wil sentraliseer, van Suid-Afrika wat meer totalitêr word.

Diegene wat kraai van lekkerkry oor die hof wat ingryp om die vlag te verbied, moenie te veel kla as daar vir hulle besluit word waar hul pensioen belê moet word, of in watter hospitaal hulle mag lê, waar hul kinders mag skoolgaan of wat die inhoud van kurrikulums moet wees nie. Die joernaliste wat nie hul vreugde kan wegsteek oor die vlag wat verbied is nie, moet verstaan ʼn totalitêre besluit oor wat gewys mag word, is ʼn katspoegie weg van ʼn totalitêre besluit oor wat geskryf mag word. Tronkstraf oor wat jy sê of wys, en tronkstraf oor wat jy skryf, is nie ver van mekaar verwyder nie. Die vlagdebakel gaan nie bloot oor vryheid van spraak nie, maar oor vryheid.

In die afgelope 25 jaar het ek ook nooit die ou Suid-Afrikaanse vlag vertoon nie. Ek het ook nie ʼn behoefte daaraan gehad nie. Ek en ander Afrikaners verstaan en erken die groter konteks van die land, wat insluit historiese pyn en vernedering vanuit ons eie geskiedenis. Die afgelope week het ek my egter gevang dat ek neurie: “Ons Oranje, Blanje, Blou.”

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Dirk Hermann

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

53 Kommentare

jongste oudste gewildste
James

Hierdie geboeliery van die anc oor my vlag het my nou aagemoedig om wel my vlag uit te haal.
Hulle het nou veroorsaak dat iets ‘onwettigs’ met rasse skrede gaan groei
Hulle het hulself in die voet geskiet!
So ek gaan in die publiek oranje blanje blou klere dra en my 4 kleur wapper.
Binne my huis sal my oranje blanje blou wapper… die vlag wat ek respeteer en mee grootgeword het .
Doodkry is min!

Aineeman

Wat sal bv. gebeur as iemand die ontvangslokaal van n besigheid versier in oranje, wit en blou, of as ons so begin aantrek? Dis nie die vlag nie, maar wel die kleure van die vlag wat op kreatiewe wyses uitgebeeld word. Sal dit ook haatspraak wees?

Mel

Puik geskryf. My hart stem volkome saam jou. Ek was 10 in 1994. Ek ken en onthou amper net die nuwe vlag – die nuwe landslied. En het nog nooit enige negatiewe gedagtes daaroor gehad nie. Maar die manier wat alles beheer word – die manier hoe hulle mens forseer in ‘n rigting – laat my rebels voel. Laat my voel die ‘vrede’ is ‘n illusie. Dat ek vir te lank net aanvaar het. Hierdie is lankal nie meer ‘n demokrasie nie.

Leser

Ek sal nie dat n korrupte regering vir my voorskryf wat om te doen nie

CN

Ek wat nog nooit enige gevoel vir of teen enige een van die twee vlae gehad het nie, het my oranje blanje blou uit ‘n ver weg gebere boks gaan grou en hy hang nou in my tv kamer! net omdat ek soos Dirk voel dat ons die reg het om SELF te besluit! Wanneer die regering my huis vir my betaal kan hulle my vertel wat ek in my huis mag vertoon.