Ons sal dit oorleef!

Daai toesprakie voor Ons sal dit oorleef

Soveel versoeke hiervoor. Veral ná die Voortrekkermonument-konsert. Hierdie woorde kan jy hoor op my konsert, elke aand, voordat ek Ons sal dit oorleef sing. Dit was vreemd om dit neer te skryf, want ek doen dit elke aand anders en sommer uit my kop uit. En die spoeg spat, ja:

Toe U2 Suid-Afrika toe kom, koop ek my kaartjies heel eerste. R5 000 vir twee kaartjies. Ek wag al twintig jaar daarvoor. Ek het ʼn orkes begin danksy U2. Ek het al hulle liedjies geken en veral van die sanger gehou. Soos Bono sou ek ook verveeld raak om ʼn popster te wees. Daar moet meer wees in die lewe as om ʼn popster te wil wees. Saterdagaand sien ek my held in Johannesburg. Ek’s reg. Maar Vrydagaand sing ek eers in Alldays. Dis ver Noord. Warm bosveld. Die aanloopbaan lê sommerso langs die verhoog tussen die doringbome. Die volgende oggend vra die Boer of hy sy familie aan my kan kom voorstel. Natuurlik, sê ek. Toe hulle inkom sien ek vier opgekerfde mense voor my. Ek maak nog ʼn dom grap. Ek vra die Boer of dit ʼn leeu of luiperd was wat hulle aangeval het. Nee, sê hy. Dit was ʼn mens.

Ek weet nie wat om te sê nie. Ek verskoon myself en loop vliegtuig toe. Kyk nie om nie. Ek wil wegkom. Ek waai vir die opgekerfde mense. Ek wil nie weet nie. Ek wil Bono gaan kyk in Johannesburg. Toe ek land in Pretoria klim ek in my kar en jaag deur. Toe ek oor die Jukskei ry hoor ek Bono sê dat dit oukei is om struggle-liedjies soos “kill the Boer” te sing. Ek slaan my brieke aan, maak my venster oop en smyt my kaartjies in die Jukskeirivier.

Ek draai om en gaan huis toe.

Dis nie blerrie oukei nie, meneer Bono. Want voordat jy weer With or without you sing, sal ons meer Boere verloor het as wat julle mense verloor in Ierland. En ons SAL ʼn Boer verloor voor Sondag. Ons Afrikaners staan meer Boere af aan die dood as wat daar soldate sterf in Irak en Afganistan saam. Dit is nie oukei nie, meneer Bono. Waar is jou humanitêre grootbek nou dat die sterftesyfer hoër is as ooit?

Dit is nie oukei nie.

Want elke keer as daar ʼn Boer sterf, verloor ek en jy iets.
Verloor jy ʼn stukkie taal, ʼn stukkie kultuur, ʼn stukkie identiteit en godsdiens.
Verloor ons die voorreg van ʼn Afrikaanse grappie om ʼn braai.
Verloor ons die voorreg van nagereg. Van Hertzogkoekies en Jan Ellis-poeding.
Verloor ons die voorreg van Psalm 23, in Afrikaans.
Verloor ons ʼn Gesang wat sê Ek sien ʼn nuwe hemel kom.
Verloor ons ʼn stukkie Sheila Cussons, ʼn stukkie Elizabeth Eybers, Eugène Marais en AG Visser.
Verloor ons NP van Wyk Louw en Brolloks en Bittergal.
Verloor ons die voorreg van CJ Langenhoven en om op ʼn rots te staan en skree: ek sal antwoord op jou roepstem en sal offer wat jy vra.
Verloor ons die FAK, verloor ons Suikerbossie. Verloor ons Hasie hoekom is jou stert so kort?
Verloor ons die voorreg van Voortrekker-erfenis al langs die N1 af. Totsiens Louis Trichardt, Totsiens Pietersburg, Totsiens Naboomspruit, Totsiens Nylstroom, Totsiens Warmbad en Totsiens Pretoria. Wie de donner was Tshwane in elk geval?!
Kom ek vertel jou wie was Pretorius, Potgieter, Maritz, Generaals Botha, De la Rey, Hertzog en Smuts.
Elke keer as daar ʼn boer sterf verloor ons die voorreg van die Groen en Goud, verloor ons die Springbok, verloor ons vir Danie Craven en Frik du Preez.
Verloor ons ʼn bladsy in die geskiedenissillabus van ons eie land.
Verloor ons die voorreg van EEN klaskamer in Afrikaans.
Verloor ons die voorreg van EEN enkele Afrikaanse universiteit.

Dit is nie oukei nie.

Sê ek dit als om jou swaar te maak?

Nee.

Ek sê jou dit om jou lig te maak. Jou te bevry. Kyk na jou arms. Het jy vergeet watter bloed vloei in jou are? Jy kom van voorouers uit Europa wat geweier het om onderdanig te wees aan enigiemand. Toe pak hulle hul tasse. Waarnatoe? New York toe? Ha! Na die gatkant van Afrika toe. Hier moes hulle weer onderdanig wees. Twee keer. Waarnatoe trek hulle? Terug New York toe? Ha! Binneland toe op ʼn geelhoutkakebeenwa met tien osse en ʼn touleier. In elke oorlog waarin jou voorouers betrokke was, was hulle verreweg die minderheid. Dan wen hulle! Dan wen hulle! En wanneer hulle verloor, dan gaan hulle op hulle knieë en sê Dankie, God, ons sal dit oorleef.

Ek sê jou vandag.

Ons sal dit oorleef.

Ons sal dit oorleef, die musiekvideo:
http://youtu.be/uVJHjXKvLCY

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Steve Hofmeyr

Steve Hofmeyr is onder meer skrywer, aktivis en geselsprogramaanbieder. Hy het meer as 2 miljoen CD's op sy kerfstok en is 'n driemalige SAMA-wenner (insluitende Besverkoopte Suid-Afrikaanse Kunstenaar 2004). www.stevehofmeyr.co.za

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Deon Opperman ·

Hi Steve,

Ek gee vir jou twee aanhalings vir my gegee deur Sean Else, albei gese^ gedurende die 2de We^reldoorlog – die eerste van Generaal Montgomery en die tweede van Generaal Paton:

“Give me twenty divisions of American soldiers and I will breach Europe. Give me fifteen consisting of Englishmen and I will advance to the borders of Berlin. Give me two divisions of those marvelous fighting Boers and I will remove Germany from the face of the earth.” Generaal Montgomery

“The Americans fight for a free world; the English mostly for honour, glory and medals; the French and Canadians decide too late that they have to participate; the Italians are too scared to fight and the Russians have no choice. The Boers? Those sons of bitches fight for the hell of it.” Generaal Paton

Nikita ·

Vandag, presies 1 jaar gelede, het ONS ‘n BROER verloor – vermoor op sy plaas – SA het NOG ‘n BOER verloor. Ja, ons sal en MOET dit oorleef, op watter manier ookal!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.