Ons sal húlle nie vergeet nie…

Lisa Ewald.

Covid-19 kies nie sy prooi versigtig nie; hy val blindelings aan. Van prins Charles, Tom Hanks en Idris Elba tot die Britse eerste minister Boris Johnson het dié gevreesde siekte opgedoen, so ook lede van die polisie, vloot, weermag, mediese personeel, sportsterre en onderwysers. En Jan Alleman. Dié “sluipmoordenaar” slaan toe op mense uit elke ras, klas en geslag, en sowel medici as gewone landsburgers wêreldwyd is totaal dronkgeslaan oor die pandemonium en vernietiging wat hy saai.

Terwyl duisende mense wêreldwyd besig is om te sterf – meestal alleen en ver van hul dierbares – mag ons nie vergeet van die persoonlike ervarings van diegene wat van die siekte omgekom het nie.

Lisa Ewald, ’n verpleegster in die noodgevalle-afdeling van die Henry Ford-hospitaal in Michigan, is een van die eerste gesondheidswerkers wat van Covid-19 gesterf het. Hoewel haar asma haar in ’n hoërisikogroep geplaas het, het sy op die voorpunt gebly om ander in die hospitaal waar sy gewerk het, by te staan en te versorg. Sy kon haarself egter nie help nie en het tuis en alleen gesterf. Sy het glo twee keer probeer om haar te laat toets, maar teen die tyd dat sy uiteindelik getoets is, was haar gestel reeds so agteruit dat sy geen kans op oorlewing gehad het nie.

Prea Nankieshore.

Die 34-jarige Prea Nankieshore, ma van ’n agtjarige tweelingseuns, het op 5 April gesterf. Sy het ook in die noodgevalle-afdeling van ’n New Yorkse hospitaal gewerk waar sy die virus opgedoen en kort daarna gesterf het – haar werk was om noodgevallepasiënte te registreer. Intussen is haar ma in die waakeenheid opgeneem en veg tans om haar lewe terwyl haar pa tuis sy eie stryd teen die virus voer.

Die droefste storie is dié van die Fusco-familie, ’n groot Italiaans-Amerikaanse familie van New Jersey wat die gewoonte gehad het om elke Sondag ná kerk ’n groot familiebyeenkoms en -ete te hou.

Volgens The New York Times het die matriarg van die familie, Grace Fusco (73), vrou en ma van 11 kinders en ouma van 27 kleinkinders, op 11 Maart gesterf – enkele dae ná haar oudste seun, Carmine, en dogter, Rita, aan die virus dood is. Die dag ná haar dood het nóg ’n seun van haar, Vincent, gesterf. Dus, binne enkele dae het die virus vier familielede uitgewis. Maar, bo en behalwe hierdie vier wat gesterf het, is nóg drie familielede in die hospitaal opgeneem – nie een van die dokters kon vasstel hoekom die virus hierdie spesifieke familie geteiken het nie. Een dokter was van mening dat hulle dalk ’n gene gedeel het wat vatbaar vir die virus is, maar tot nou toe is daar geen verklaring nie. Volgens The New York Times van 18 Maart “is byna 20 ander bloedverwante nou in kwarantyn by hul huise waar hulle op uitslae wag en in isolasie bid – nie eens by magte om saam oor hul diep en gedeelde verlies te rou nie”. Nodeloos om te noem dat die verwoesting en smart wat die Covid-19-virus onder hierdie familie, hul kerk en gemeenskap gesaai het, die hele nasie diep getref het.

Karen Whitsett, demokratiese wetgewer van die staat Michigan en op die punt om haar stryd teen die koronavirus te verloor, vertel dat sy toevallig gehoor het hoe president Trump (tydens een van sy daaglikse inligtingsessies) hydroxychloroquine as moontlike kuur teen die siekte aanbeveel. Terwyl haar medepartylede en hul skoothondjie-joernaliste besig was om die president af te kraak omdat hy “slangolie”-kure voorstel, het Whitsett glo vinnig die medikasie bekom nadat die penisillien wat haar dokter voorgeskryf het, nie gewerk het nie. In die USA Today van 8 April, sê sy die volgende:

Karen Whitsett gesels met pres. Donald Trump in die Withuis. Foto: (AP Photo/Evan Vucci)

“Dit het begin met erge hoofpyn, gevolg deur vloeistof wat in my longe opbou, erge sweet en daarna hoes en swaar asemhaling. Dit het alles binne ’n paar uur gebeur.” Sy vertel voorts, “Indien president Trump nie hieroor gepraat het nie, was dit nie nou aan almal beskikbaar nie.”

Volgens Whitsett het sy binne ure nadat sy die medikasie geneem het, begin om te herstel. Whitsett hou vol dat Trump se opmerking haar gehelp het. “Dit het baie te doen met die president wat oor hierdie middel gepraat het, het Whitsett gesê. “Hy is die enigste persoon wat die mag het om dit ’n prioriteit te maak.”

Sy is onlangs na die Withuis om die president persoonlik te bedank, tot ergernis van haar medepartylede. Sedertdien het baie ander op TV beweer dat hydroxychloroquine hul lewe gered het. In ’n land waar duisende reeds oor ’n kort tydperk gesterf het, is mense desperaat vir ’n geneesmiddel. Inentingsproewe is wel op pad na elke groot land, en terwyl ons ongeduldig daarvoor wag, word ander behandelings wat verligting kan bring, ondersoek.

Intussen gaan die afsonderingstydperk voort – sosiale distansiëring, selfisolasie, die dra van maskers en om tuis te bly, blyk te werk in die verligting van die siekte. Die Sentrum vir Siektebeheer en -voorkoming (CDC) skryf die afname in hospitaalopnames en sterftes toe aan ’n grootliks inskiklike bevolking. Tot en met 16 April is 2 063 161 mense wêreldwyd met die siekte besmet; 136 938 het gesterf; en meer as 516 032 mense het herstel.

Covid-19 het nog nie sy hoogtepunt bereik nie, maar in sommige plekke het die aantal hospitaalopnames en sterftes aansienlik verminder. Hoewel dit goeie nuus is, moes te veel gesinne ’n geliefde aan die dood afstaan sonder om eens hul begrafnisse te mag bywoon.

Massagrafte op New York se Hart-eiland. Foto: (AP Photo/John Minchillo)

’n Ontstellende, blywende beeld in die nuus ’n paar dae gelede, is ’n massagraf in New York, met doodskiste van hoek tot kant – almal onopgeëiste gestorwenes. Tydens Trump se inligtingsessie op 18 April het dr. Deborah Birx, mediese dokter en diplomaat, ’n interessante inligtingsgrafiek van die sterftesyfer per capita van sleutellande in die wêreld getoon: België – 45,20; Spanje – 42,81; Italië – 37,64; Frankryk – 27,92; VK – 21,97; Nederland – 20,14; VSA – 11,24; Iran – 6,06; Duitsland – 5,24; en China – 0,33.

Dus, hoewel die dodetalle ontstellend hoog is, is die VSA met sy bevolking van sowat 330 miljoen se sterftesyfer per capita, volgens my, goed onder beheer met Trump se massiewe ingrypings met openbare en private instansies wat ventilators, maskers en beddens vervaardig en verskaf het en noodhospitale opgerig het – alles in rekordtyd. China se sterftesyfer moet waarskynlik met ’n knippie sout geneem word, gegewe sy algehele gebrek aan deursigtigheid om aan die lig te bring wat werklik daar aan die gang was.

Om na my oorspronklike punt terug te keer: enige sterfgeval – nie net onder hierdie omstandighede nie – is tragies. Kom ons dink met deernis aan Lisa Ewald, die verpleegster in ongevalle wat aan die voorpunt geveg het, wel wetende dat sy ’n groot risiko geloop het met haar asma. Sy dien as sprekende voorbeeld van John Wayne se opmerking: “Moed beteken om tot die dood toe bang te wees, maar om nogtans op te saal.”

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Rhoda Kadalie

Die rubriekskrywer Rhoda Kadalie is afgetree en woon tans in die VSA. Sy is die voormalige direkteur van Impumelelo Sosiale Innovasiesentrum, menseregtekommissaris en akademikus.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jacobus ·

Goed geballenseerde berig. Meeste natuurlik onaanvaarbare materiaal vir skewe media.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.