Ons sal RSG-inkorting oorleef – met nuus wat inspireer

Johannes Froneman

Die inkorting van aktualiteitsprogramme op RSG veroorsaak nogal ʼn geskarrel. Boonop lyk dit of RSG se nuwe besigheidsbestuurder nie met die media wil praat nie. Rapport het selfs die uiters ongehoorde ding gedoen om al die vrae aan haar te publiseer nadat nie sy of die SAUK se kommunikasiemense betyds vir antwoorde gesorg het nie.

Tussen al die emosie deur, moet ons op die feite let.

Ten eerste: RSG is ʼn openbarediensradiostasie wat in terme van streng lisensievoorwaardes van die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa, of Icasa in Engels) uitsaai. Die minimum nuus en aktualiteite word voorgeskryf, wat vêr deur RSG oorskry word – selfs wanneer daar van 4 April af minder aktualiteit uitgesaai word.

Indien iemand hiermee ontevrede is, moet hulle eintlik met Okosa baklei. Of dit wenslik is dat RSG minder aktualiteit gaan uitsaai, is ʼn ander vraag. Ernstige “nuusmense” (professioneel of andersins) sal altyd meer wil hê, soos wat liefhebbers van klassieke musiek of boeremusiek nooit tevrede sal wees met die tyd wat aan hul gunstelingmusiek gegee word nie.

Nuus is egter ʼn veel ernstiger saak as musiek, sal die voorstanders van meer nuus en aktualiteit terugkap. Tereg, maar dit bring my by dr. Alé Steyn van Akademia se opmerking in Beeld: “Die (Afrikaanse) gehoor gaan nêrens heen nie. Nuus en aktualiteit in Afrikaans gaan dus nie verdwyn nie, maar bloot in ʼn nuwe gedaante en op ʼn ander plek ʼn tuiste vind. En dis opwindend.”

Steyn is reg. Trouens, Afrikaanse nuus en aktualiteit is juis lankal nie meer die alleenverantwoordelikheid van die SAUK se Afrikaanse radiostasie nie. Ons kry dit op verskeie plekke.

Hierdie belangrike komponent van die totale media-aanbod (en kom ons bly vir eers net by die uitsaaimedia) het ʼn plek op talle ander Afrikaanse radiostasies, waaronder Pretoria FM. Diegene wat dus tussen sewe- en agtuur soggens Monitor op RSG gaan mis, kan maar na Klankkoerant, wat op Pretoria FM en ander gemeenskapsradiostasies uitgesaai word, oorskakel. (Onthou, dit is landwyd op DStv-kanaal 887 asook op ʼn app beskikbaar.)

Boonop saai Klankkoerant smiddae van 13:00 tot 14:00 en weer van 17:00 tot 18:00 uit. Ander Afrikaanse stasies het ook hulle nuus en aktualiteit, maar dit is byna onmoontlik om te weet waar en wanneer. Plaaslik sal luisteraars wel weet.

Dit is die feite oor gemeenskapsradiostasies, seker die belangrikste positiewe aspek van die post-1990-uitsaaibedeling. Laat ek dit onderstreep: voor 1990 is net die SAUK toegelaat om nuus uit te saai. Alle nuus en aktualiteit was gefiltreerde SAUK-nuus. Nie meer nie.

Op televisie is daar ook vandag Afrikaanse nuus (danksy e.tv wat dit teen betaling aan kykNET verskaf). Facebook-nuusuitsendings in Afrikaans is ook nie meer nuut nie. Boonop is daar die moontlike groei in podsendings. Daar is inderdaad opwindende vooruitsigte.

Maar net ʼn vinnige woord oor internetnuus, soos dit hier op Maroela Media gestalte vind. Die getalle sal lesers dalk ken: Maroela Media het meer as twee miljoen lesers elke maand (en niemand word twee keer getel nie).

Kortom, daar is lewe, baie lewe, in die Afrikaanse nuuslandskap, maar dan ook buite die SAUK en Media24. Hou ʼn mens dit in die oog, is RSG nie so ʼn allesoorheersende belangrike platform nie, hoewel ek nooit die belang van dié stasie sal minag nie. Dit het sy plek en rol en daaroor kan veel positief gesê word.

Twee ander realiteite dien vermelding. Die eerste is dat gewone mediagebruikers van ligter inhoud hou. Dit is ʼn wêreldwye verskynsel. Soos Tim du Plessis, hoof van nuus en aktualiteit van kykNET, sê: “Ek wens so baie mense het nuus gekyk as wat na Boer soek ʼn vrou kyk.” Maar hulle doen dit nie.

ʼn Tweede realiteit is dat mense moeg is vir slegte nuus. Die media in die algemeen stel soveel foute aan die kaak, maar die werklikheid is dat daar van regeringskant min beweging is. Boonop word sekere kommentators darem alte dikwels gebruik.

Dit, glo ek, is een van die redes vir die inkorting van nuus en aktualiteit op RSG, al is luistersyfers nie pertinent genoem toe die afskaling van Monitor en die wegdoen met Praat saam aangekondig is nie.

Die goeie nuus is dat daar baie goeie nuus is om oor te berig. En dat dit ook gebeur. Lesers van Maroela Media sal weet waarvan ek praat. Daar is ongelooflike bou-aksies aan die gang – nie net onder die Solidariteit-sambreel nie, maar dit natuurlik ook.

Luisteraars het nuus en besprekings nodig wat die nare werklikhede ontbloot, maar ook inspireer en koers gee. Dit, tesame met die beskikbare leesstof op ʼn verskeidenheid van platforms kan ʼn kwalitatiewe verskil aan mense se kennis, begrip en gemoedstoestand maak. Dit gee hoop.

Daarom sal ons ʼn kleiner nuus- en aktualiteitsaanbod van RSG met gemak oorleef. Daar ís alternatiewe.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Johannes Froneman

Johannes Froneman is ‘n emeritus-professor, kurator van Mediamense.com en vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Andrew ·

RSG is maar n platform vir die liberaal en word sy sienswyse (idiologie) gereeld ten toon gestel. Die tiepe vra en keuses van die “in bellers” wat gekies en gespeel word het n duidelikike veroordeel aan een kant wat baie sterk in paneel programme uitkom soos as Afriform betrokke is. RSG en sy “regular experts” soos hoof hanswors Max en ander links gesinde “political anayliststs” van al die “tranformed universiteite” is te lief om Afriform aan te vat

Andrew ·

Die mense kan ook nie vat dat so baie Afrikaners VF+ gaan stem het en dat Afriform meer lede het as die DA nie. Onthou net, as jy nie klassiek liberaal is nie dan is jy ekstreem regs.

Marthinus W ·

Die voordeel van rsg, is dat hulle feitlik landwyd beskikbaar is. “Alternatiewe” stasies het net n beperkte opvangs.

Marianna ·

Net soos ons TV kanale oorgeneem is, so sal ons radio-dienste oorgeneem word en ons doen niks nie. Ons aanvaar dit. RSG was nog nooit onpartydig nie, so mens hoor nie die ware nuus nie. Dalk is dit maar beter dat alles oorgeneem word deur die wat alles wil kaap. Daar is ander radio-stasies. Kom ons ondersteun hulle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.