Ons sal self

Dirk Hermann.

In Afrika is ʼn wit stam. Hulle noem hulself Afrikaners. Hulle hou van grond, is bietjie rof, dink baardolie is mode en dra vellies vir kerk en werk.

Tog is hulle net so tuis in raadsale. Hulle presteer saam met die bestes in die wêreld, is harde werkers, het ʼn mooi werketiek en is van Suid-Afrika se beste professionele lui.

Hulle glo oor die algemeen in die Here en sy verbond. Hulle hou van ʼn oop wêreld, dink die Krugerwildtuin is hul plaas, pak 4×4-roetes aan en ploeg met hul bakkies deur die modder.

Hulle braai baie. Hulle hou van sport, veral van rugby. Hulle is lagmense, geniet humor en verwerk ʼn krisis deur ʼn paar grappe.

Hulle gee om vir ander en bedryf uitreikprojekte, hier in die land tot diep in Afrika. Kerke het sopkombuise, naaldwerkklasse en soveel meer.

Hulle is lief vir hul taal, hou van saamkom by kunstefeeste en het ʼn kulturele identiteit. Hulle is veerkragtig en bons altyd terug. ʼn Boer maak ʼn plan.

Ons sal self.

Hulle word uitgeskop op grond van wie hulle is en hoe hulle lyk. Hul identiteit word aangeval en hul geskiedenis word gekriminaliseer. Hulle beur egter net voort.

Hulle hou die land se ligte aan; doen drie mense se werk; werk ondergronds en in fabrieke; gee klas wat van wêreldgehalte is; hulle is die administratiewe ratte van maatskappye; is suksesvol in ons howe; maak Suid-Afrika se mense gesond; en is goeie entrepreneurs.

Die regering skop hulle uit, maar hulle skop terug.

Ons sal self.

Hul storie is ʼn storie van uithou, moed hou en aanhou.

Hulle het nie hier aangekom nie; hulle het hier geword.

Hulle is ʼn mengsel van Hollandse handelaars, Duitse soldate en Franse protestante wat ʼn keuse gemaak het vir ʼn harde Afrika-lewe. ʼn Klomp hardekoppe word toe een.

Protestantse werketiek, roeping, werk en verantwoordelikheid word vermeng in hulle.

Hulle hou nie van heersers nie. “Ons trek,” het hulle vir die Britte gesê. Met berge af en kaalvoet weer terug.

Ons sal self.

Hulle veg teen die kolonialiste en wen by Majuba. Die koningin sweer wraak. Die koningin veg weer en die Boere veg terug.

Ons sal self.

Hul vroue en kinders word in konsentrasiekampe gegooi, 33 000 sterf. Plase word afgebrand. Hulle verloor die oorlog, maar staan op. Vroue trek ʼn ploeë ná die oorlog en saai ʼn emmer koring. Hulle werk hulself uit ʼn krisis uit.

Ons sal self.

Hulle begin die Helpmekaar-beweging, bou Sanlam, Santam en Volkskas.

In die 1930’s is hulle armblankes. Hulle begin die Reddingsdaadbond, Federale Volksbeleggings, die Voortrekkers, die FAK en bou ʼn monument.

Ons sal self.

Hulle was gewone arbeiders, mynwerkers, spoorwegwerkers en het swaar gekry. Werkloosheid het hoogty gevier.

Hulle maak ʼn taal, vertaal die Bybel en moderniseer dit binne een geslag. Hulle gaan bly in die stad, maar word nie stedelinge nie. Hulle hunker na die ruimtes, want hulle is grondmense, elkeen met ʼn stuk ingebore plaas.

Hulle regeer weer. Nooit weer gaan daar oor ons geheers word nie, sê hulle. Hulle bou ʼn moderne staat en ekonomie. Yskor, Sasol, Evkom, industrieë en myne word deur die wêreld se beste ambagslui tot stand gebring deur Afrikaners.

Ons sal self.

Hul troepe is grens toe gestuur en beskerm die land. Hulle antwoord op die roepstem. Hul seuns het teen die Kubane en die magtige Rusland geveg en baie van hulle het gesneuwel. Die polisie trotseer binnelandse terreur en geweld en maak Suid-Afrika veilig. Ons sal lewe, ons sal sterwe. Die seuns is nou ooms. Hul offer wat gevra is, maar word ontken. Hulle verdien ʼn saluut. Suid-Afrika word geboikot en bou die G6.

Ons sal self.

Hulle wou nie dat daar oor hulle geheers word nie, maar die apartheidstelsel het geheers en kon nie hou nie. Hulle word die wêreld se muishond. Hulle verloor iets van hulself en word iets van die staat.

Toe kom ʼn ander staat. Eers met ʼn nr. 6-Springboktrui en toe word die trui uitgetrek en ʼn rassetrui word aangetrek. Die staat raak korrup en swak.

Die land word die mees rasgereguleerde land ter wêreld. “Gaan terug Europa toe,” sê ʼn rooi oorpak vir Afrika se wit stam.

Hul naam sê dit alles – ons is van hier, Afrikaners. Hul taal is hier gemaak – Afrikaans.

“Net soos die rooibaadjies dit nie kon doen nie, gaan rooi oorpakke en rooi idees nie oor ons heers nie. Ons is nie afhanklik van enige een nie,” sê die unieke stam van Afrika.

Ons sal self.

Hulle maak toe Solidariteit sterk. Begin AfriForum, Forum Films, Dapper Media. Hulle bou Akademia, Sol-Tech, S-leer, Solidariteit Helpende Hand, Solidariteit Skoleondersteuningsentrum, Maroela Media. Hulle begin die Solidariteit Beleggingsmaatskappy, Solidariteit Finansiële Dienste, Kanton Eiendomme, en meer.

Ons sal self.

En toe is daar ʼn virus. Die staat het ʼn bevelsraad wat van bo af wil regeer. Hulle perk mense op verskeie maniere in. Hulle gaan verder as om oorlog te voer teen die virus en voer oorlog teen mense en die ekonomie.

Mense kry swaar, swart en wit. Die staat gee miljarde. Miljarde vir jou en miljarde vir julle, maar wit mense, julle kry niks. Julle mag dalk swaarkry, maar julle lyk mos anders.

Daar is ʼn breuk tussen die staat en die wit stam van Afrika. Ons kan nie meer op die staat staatmaak nie. Aan die een kant is ons kwaad, en aan die ander kant maak dit ons vry.

Ons sal self.

Ons gaan mekaar help in ʼn verbintenis aan mekaar – ʼn nuwe helpmekaar. Die krag van die gemeenskap is sterker as die mag van die staat. Ons het al, en ons gaan weer. Solidariteit begin ʼn werkherstelprogram – die grootste opstaanprogram in sy 118-jarige bestaan. Roeping, werk, verantwoordelikheid. Die klomp hardekoppe staan op. Arbeid adel. Werk onbeperk.

As hierdie staat ons uitskop, skop die gemeenskap in.

Ons doodkry is min. ʼn Boer maak ʼn plan.

Ons sal self!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Estelle ·

Dankie Dirk Hermann, julle gee ons Afrikaners moed. Om te weet julle veg aan ons kant, beteken baie. Ons sal self weer opstaan, aangaan en bo uitkom.

Kokerboom ·

Dankie Dirk. Ons SAL self, het nog altyd. Voorvereiste is dat Afrikaner net leer saamstaan, dat elkeen nie ‘n haan op sy eie mishoop sal wees.

Niklaas ·

Dis positiewe stellings…ons sal self. Al lyk dit soms moeilik , sal ons oorleef.

Adam Adriaan ·

UITSTEKEND!!!!! Hier sal ons sterf met ons stewels aan, met ons oë op ons Verlosser gerig!!!

Johan ·

Trots om n Afrikaner te wees en trots op Solidariteit wat hy vir ons volk doen. Sterkte vir julle.

Rita ·

Puik, puik, puik. Die Afrikaner word voortdurend daaraan herinner om skuldig te voel oor apartheid maar ons het soveel vermag en soveel om op trots te wees. Doodkry is min! Ek stuur hierdie artikel wyd en syd aan!

fbbb ·

Baie mooi gestel, maar ons kan nie self as ons Vader in die hemel nie met ons is nie. Ons moet ons volle afhangklikheid en vertroue slegs op HOM stel en nie op eie kragte nie. Ja ons moet hard werk en planne maak, ens, maar as die Here se seën nie daarop rus nie, is dit tevergeefs!
Waarom gaan dit in ons land soos dit gaan d.i. swak regering, korrupsie, COVID-19, ens, ens. Die HERE roep sy kinders tot bekering, want die meeste Christene in ons land het lou (Open 3:16) geword. Waarom is byvoorbeeld die winkel sentrums op Sondae voller as die ware Kerke? Ons moet Geestelike voedsel ontvang ELKE Sondag en betrokke wees by ons Kerk gemeentes.
Ons moet bly bid vir mekaar en die koninkryk van die hemele soek en nie aardse geluk alleen nie.
Mag daar ware bekering kom in ons land. Weet dit dat ons Almagtige GOD is altyd in beheer.

Maria ·

Pragtig. Ons doen dit self. Help maar jou vriend met raad en daad en staan saam – ons is boeremense wat kan!. Dankbaar ons het aanbeweeg van hoop op ‘n kriminele regering na arbeid adel op eie stoom

Heinrich ·

Baie dankie Dirk, uitstekend saamgevat. Mag ons ons trots hou en nooit op ons louere sit en wag vir aalmoese na ons kant toe nie. Ons is oortuig van ons selfwaarde en niemand kan anders bewys nie.

annie ·

… hulle glo oor die algemeen in die Here… En ons ploeter dapper voort en sè: ons sal self… En die Here sè: As Ek die stad nie bou nie… of die oorlog nie veg nie… tevergeefs is ons pogings. Miskien moet ons bly by die 16 Desember-nederigheid/-afhanklikheid.

Japsnoet ·

Ons sal self!!! Sal graag meer wil uitvind oor die werk herstel program as daar nuwe inligting beskikbaar word. Ons as volk sal weer opstaan want ons kan en on is trots en ons het respek

Claudette ·

Wow, dis so mooi geskryf ek voel trots om ‘n Afrikaner te wees…
Ons sal self….
Ons sal opstaan…
Ons sal….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.