Ons verdien beter as Mbeki en die ANC

Oudpres. Thabo Mbeki tydens die ANC se beleidskonferensie in Johannesburg. (Foto: Phill MAGAKOE / AFP)

ʼn Onlangse peiling deur die politieke dinkskrum, Social Research Foundation (SRF), toon dat oudpres. Thabo Mbeki die gewildste politieke figuur onder die publiek en ANC-ondersteuners is.

Sy telling van 57,5% is heelwat beter as pres. Cyril Ramaphosa se beskeie 44,4% en Jacob Zuma se 28,3%. Hy is ook betreklik gewild onder alle rassegroepe en hierdie steun het reeds talle persentasiepunte sedert Maart se peiling gestyg.

Mbeki is waarskynlik baie meer gewild as die res danksy sy relatiewe suksesvolle ampstermyn en sy snydende opmerkings oor die toestand van die ANC.

Ek het persoonlik nog altyd ʼn taamlik positiewe siening van Mbeki gehad en hy is inderdaad ʼn interessante figuur. Hy is tegnokraties, belese, wellewend en het weliswaar die geleenthede (soos China se destydse verbluffende groei en die kommoditeit-opbloei in die 2000’s) ontgin om ekonomiese groei aan te wakker en groei te stu. Hy het sy Marxistiese neigings (en vriende) afgesweer tydens beleidmaking en ʼn matige vorm van kapitalisme omarm. Hy het van Zuma ontslae geraak om sy bona fides in die stryd teen korrupsie te bewys.

Tog het hy tewens vele ernstige tekortkominge gehad. Sy kwansuise afsydigheid het hom ongewild gemaak en dit het uiteraard ʼn rol in sy 2008-herroeping gespeel. Desondanks dat hy nou so gewild is in die ANC, was dit opsluit nie die geval in Desember 2007 nie toe hy as ANC-leier ontsetel is. Sy dun vel wanneer dit by (selfs geringe) kritiek teen hom gekom het, sowel as sy ras-gekleurde wêreldbeeld het baie wit mense en die sakesektor vervreem.

Bowenal, sy strewe om die staat ten koste van meriete te transformeer, het die tafel vir staatskaping gedek en aanleiding tot die treurige dienslewering van vandag gegee. Eskom se probleme het begin toe hy president was. Swart ekonomiese bemagtiging (SEB) het beslis nie ʼn breë aard gehad toe hy nog die kitaar geslaan het nie. Ramaphosa en Patrice Motsepe het juis voordeel getrek uit hul politieke bande om bemagtigingstransaksies te beklink. Dit het uiteindelik ʼn swart kapitalistiese klas deur staatsinmenging geskep, maar inmiddels die massas in die steek gelaat en daarin misluk om ʼn bevoegde staat te skep – iets wat vandag nog by Suid-Afrika spook.

Die dogma van herverdeling wat vandag sterk onder die ANC vaardig is, se oorsprong kan na Mbeki se era teruggelei word. Daarbenewens is sy ontkenning rakende MIV/ Vigs, tesame met die behou van swak en middelmatige kabinetslede, ʼn blywende klad op sy nalatenskap. Miskien is dit sy houe na die ANC wat hy help skep het, wat hom in die oë van menigte ouer respondente kwytskeld. Maar sy nalatenskap is ʼn komplekse en gemengde een en die romantisering daarvan is nie van enige nut nie.

Die SRF-peiling is interessant en nuttig, maar ook gebrekkig. Dit vergelyk appels met appels, fokus te veel op die teenswoordige tyd en is grootliks beperk tot ANC-hegemonie. Boonop verseker gewildheid nie regeersukses nie. Mbeki word hierin met ʼn ongewilde en teleurstellende stel kandidate vergelyk, en dit verbloem baie van sy skadelike mislukkings. Selfs met effens geskikte beleide, sou Suid-Afrika as ʼn noemenswaardige kommoditeitsprodusent steeds skaflike groei tydens Mbeki se termyn aanteken.

Nes ons die toekoms moet herbedink, moet ons eweneens ook die verlede met groter omsigtigheid gadeslaan. Dit is soms gepas om hipotetiese appels en pere te vergelyk. Wat as die ANC en Mbeki nooit mag bekom het nie? Of indien hulle selfs effens verskillende ideologiese sienings kon handhaaf? Wat as Suid-Afrika straks deur iemand (weliswaar ondemokraties, maar doeltreffend) soos Lee Kuan Yew van Singapoer regeer is, of selfs net ʼn beter party en presidente wat meriete bo middelmatigheid gestel het, en onderwys bo herverdeling? Die ANC se beskeie en verwagte vroeë prestasies om dienslewering te verbeter kon eksponensieel beter wees.

Maar Mbeki het gekies om die minder suksesvolle Maleisiese voorbeeld te volg om ras-dekstoele te herrangskik. Hy was so toegespits daarop om ʼn ryk swart elite te skep dat die belegging in vaardighede om die besigheid van regering te verbeter, slegs tot ʼn sombere voetnota gereduseer is. Hy het dit gedoen toe dit polities moontlik was om dit te doen, maar die impak daarvan (veral in die staat) sou eers werklik later gevoel word toe hy reeds die tuig neergelê het – veral deur die swart armes wat die ANC se hoofsteunbasis uitmaak.

Terwyl Mbeki weliswaar die gewildste politieke figuur in die SRF-opname is, is hy bloot die beste lewende gesig van ANC-wanregering. Sy gewildheid jeens ander hedendaagse opposisieleiers kan aan verskeie redes toegeskryf word, soos dat hy wel ʼn president was en daarom oor ʼn nasionale regeerrekord beskik. Opposisiepartye het nog nooit daardie voorreg sedert 1994 gehad nie. Die opposisie sal egter ook hul sokkies moet optrek en hulself beter aan die onderskeie kiesersgroepe bemark om hul steun te lig – eerder as om net te wag vir die ANC om steun te bloei wat buitendien nie vir ander partye stem nie.

Mbeki moet egter nie die maatstaf wees nie en op 81 gaan hy waarskynlik nie weer tot die politieke arena terugkeer nie. Dit is te betwyfel of hy selfs wil. Dit is makliker om die gemors wat jy help skep het, vanaf die kantlyn te kritiseer. Die politieke wetenskaplike Jeffrey Herbst het die volgende hieroor in 2005 in die vaktydskrif Foreign Affairs geskryf:

As for Mbeki himself, it seems very unlikely that he will change his ways before he leaves power in 2009; the man is too much a product of his own and his party’s history. It will therefore be up to his successor to build on the many positive developments that have occurred in South Africa since 1994, while developing a political approach that goes beyond racial solidarity.”

Die les hierin handel nie soveel daaroor om vir ʼn beter verlede te hoop nie, want dit gaan niks verander nie. Dit is eerder om gebalanseerd en opreg daaroor te wees sodat die toekoms herbedink en verander kan word. Want regeerwese maak wel saak, en ons ook. Ons verdien beter as wat die ANC het om te bied.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.