Ons verwerp Chris Klopper van die SAOU se standpunt dat godsdiens in skole ongrondwetlik en onwenslik is

godsdiens in skole

Argieffoto Foto: http://myhoustonmajic.hellobeautiful.com

Hierdie is Louis van Dyk, voormalige skoolhoof van Hoërskool Linden, se ope brief aan onderwysers oor die jongste hofstukke van die SAOU wat vriend van die hof is, in die saak oor godsdienspraktyke in skole. Lees die volledige berig oor die saak hier.

Beste SAOU-lid / belanghebbende

Ek skryf die brief namens myself en verskeie bekommerde onderwysers met wie ek gepraat het. Ek skryf die brief ook omdat ek glo daar is duisende onderwysers en ouers wat ook bekommerd is oor die toekoms van godsdiens in skole. Deur die skrywe te rig, wil ek nie die SAOU die stryd aansê nie, maar wil ek eerder die hart en wese  van die SAOU red.
Ons neem met kommer kennis van die komende hofsaak oor godsdienspraktyke in skole. Ons is nog meer bekommerd oor die hofstukke wat Chris Klopper, die hoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), as vriend van die hof ingedien het. Ons glo nie die inhoud van die hofstukke verteenwoordig enigsins die mening van lede van die SAOU nie.

Die SAOU is vir ons belangrik en kosbaar en so ook die waardes wat ons oor soveel jare al koester. Die argumente in die hofstukke waarin Chris Klopper argumenteer dat godsdienspraktyke in skole ongrondwetlik en selfs onwenslik is, is ’n dolk in die hart van die karakter van die SAOU. Indien dit die nuwe standpunt van die SAOU is, beteken dit vir alle praktiese doeleindes die einde van die SAOU.

Ons wil die SAOU red en wil opstaan vir dít wat ons glo in SAOU-lede leef. Ons neem ook kennis van Chris Klopper se standpunt dat hy die status quo wil handhaaf. Ons het egter sy hofstukke gelees. Ons sien nie die verband tussen die hofstukke en sy mediaverklaring nie. Ongelukkig gaan die stukke voor die hof dien en nie die mediaverklaring nie.

Indien die hof Klopper en die Organisasie vir Godsdienste-Onderrig en Demokrasie se standpunt handhaaf, sal dit beteken dat praktyke soos gebedsopening, ACSV-aktiwiteite, die sing van godsdiensliedere, bid voor rugby, die opening van vergaderings met gebed, om ’n paar voorbeelde te noem, onwettig is.

Klopper voer in sy stukke aan: “Public schools should guard against alignment with a particular religion.” Oor die ses skole wat hul godsdienspraktyke verdedig, argumenteer Klopper in sy stukke: “… the taking on by a school of a particular religious identity is prohibited …” “Equitability also cannot mean the crude majoritarianism advocated for by the respondent schools. They argue that because all of the respondent schools are overwhelmingly Christian, equitability permits alignment with the dominant religion. This reasoning is unsustainable.” Chris Klopper posisioneer hom direk teenoor die skole wat opstaan vir godsdienspraktyke in skole. Hy voer dit nog verder deur te sê: “… the best interests of children are not served by alignment with a particular religion.” Ons glo dat die SAOU se hart juis anders is.

Hierdie standpunt van Chris Klopper word deur die SAOU se lede verwerp. In ’n meningsopname wat die SAOU self onder sy lede gedoen het, word gevra: “Moet die beginsel van keusevryheid ten opsigte van ʼn bepaalde etos en karakter (ongeag geloof) by ʼn betrokke skool gehandhaaf word?” In totaal het 95,9% van die SAOU-lede “ja” geantwoord. Hulle sê ook dat dit op so ’n wyse gedoen moet word dat ruimte en respek vir ander gelowe en standpunte geskep word.

Net so verstom en geskok as wat ons was toe ons Chris Klopper se stukke gelees het, was die reaksie van vreugde wat die selferkende ateïs, Hans Pietersen die drywer agter die saak om godsdiens in skole te verbied, uitgespreek het. Hy skryf die volgende op Facebook: “The Heads of Argument submitted by SAOU filled me with tears of joy. It is in support of our request for an interdict and completely opposite of what we were expecting. I withdraw any negative remarks I might have made in the past about SAOU and Chris Klopper.”

Ons was so geskok oor hoe die inhoud van die hofstukke en die inhoud van Chris Klopper se openbare verklarings verskil dat ons ’n regskenner gevra het om vir ons ’n opinie daaroor te lewer. Ons publiseer dit, asook Chris Klopper se hofstukke, op www.redsaou.co.za . Gaan lees asseblief die stukke en nie net die openbare verklarings nie.

Ons wil deur hierdie skrywe standpunt inneem ten gunste van godsdienspraktyke in skole en wil die SAOU vra om Chris Klopper te repudieer en die hofstukke terug te trek. Kom ons red die SAOU!

Ons wil op groot skaal wys dat Chris Klopper se standpunt nie die algemene standpunt is nie.

Hierdie skrywe is belangrik vir onderwysers, maar ook vir ouers en die algemene publiek.

Stuur hierdie skrywe so wyd as moontlik aan.

Vriendelike groete

Louis van Dyk

(Voormalige skoolhoof van Hoërskool Linden)

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

74 Kommentare

lw ·

Ons het met godsdiens grootgeword in die skole en dit het net van ons beter mense gemaak.
Godsdiens is inspirerend en opbouend en ons morele kompas en net tot voordeel vir ñ gesin, gemeenskap en skool.

Bennie ·

As ‘n gelowige wil ek sê dat my ouers my van geloof geleer het en nie die skool nie. Eintlik is geloof in skole kunsmatig. Daar is deesdae verskillende gelowe in alle skole en dis voorbarig om te dink almal glo dieselfde. Ek wil sê dat die meeste Christen aktiwiteite in skole se doel is om kinders beter morele waardes te gee. Daar is verseker nie sprake van ‘n diepe afhanklikheidsverklaring teenoor God nie om nie eers te praat van ‘n besorgdheid oor die verlorenheid van die wêreld nie. Die Christen geloof se primêre doel is nie sosiale en morele verbetering nie. Dis die verkondiging van die evangelie. Kerk is die plek vir “like minded” mense. By die skool leer jy kinders waardes. Die csv kan steeds voortbestaan net soos in ander lande. Net die kinders wat wil kan soontoe gaan. Ek weet mense gaan heftig verskil van my maar staatskole kan nie eintlik aanvaar dat alles met skriflesing en gebed geopen moet word nie. Daar is deesdae baie kinders en personeel wat glad nie glo nie wat nie uitgesonder wil word nie en maar gedwee saam met alles gaan. Vir die meeste is dit bet nog ‘n werksituasie. Christene is ook nie veronderstel om boelies te wees nie en daarom is hierdie nie so eenvoudig soos wat dit op die oog af lyk nie. Chris Klopper is nie die bose nie. Hy het duidelik na alle aspekte hieroor gekyk.

Gerhard Venter ·

Dis absoluut redelik om te verwag dat skole by hul kernfunksie hou naamlik om wetenskap, tale ensovoorts te onderrig. Kinders in ‘n skool kan ongelowig wees, of aan een van talle gelowe behoort – die staat se skole kan nie een geloof kies en bevorder nie.

Godsdienste moenie van skole verwag om hulle werk te doen nie.

Veritas ·

As jy die stem van die Evangelie op skool wil stilmaak, sal die berge dit uitroep. Probeer jou bes. God sal jou wys wie Hy is.

Flintstone ·

Op ‘n ander noot,as godsdiens in skole verbied word moet die evolusie leer ook verban word. Dit is ‘n godsdiens wat op die rug van wetenskap ry en onder daardie dekmantel as “feite”verkondig word. As ‘n sin met:”miljoene jare gelede”begin dan lag ek al klaar. Wanneer het die mens dan nou eintlik sy opwagting op die aarde gemaak?As dit langer as 6500 jaar was dan sou die aanwassyfers so ontplof het dat daar niks meer op aarde oor was om te eet nie. Kyk hoe het die voedseltekort net oor die afgelope 50jaar ge-eskaleer. Laat staan nog om te dink dat mense vir miljoene jare al bestaan(aldus die evolusie “wetenskap”)Al rede hoekom die ware Godsdiens uit die skole verwyder moet word is sodat die vals godsdiens van die evolusieleer verkondig kan word!Ware Godsdiens moet in skole verkondig word sodat goeie normes en waardes in die vormingsjare geleer kan word. Kyk hoe siek is ons samelewing agv. die gebrek aan Bybelse normes en waardes.

Wesley Coetzee ·

Hoekom kan skole, waar daar leerders is van verskillende gelowe, nie net vir elke godsdiens wat dalk in daai skool is die leerders aanmoedig en toerus om hul eie godsdiens klub te begin nie, bv soos ACSV en diegene, en dan as daar ouer of onderwys lyding nodig is, die omliggende kerke / moskees ens. benader vir hul insette indien hul dit wil bied. Die skool is daar vir onderwys, en met die goedsdienstige organisasies se buite maar aangemoedige insette, kan almal hul godsdiens in vrede uitleef by hul skole. Of is dit te veel om te vra, dat ons in vrede leef met mekaar?

Adriana ·

Ons het juis nou meer as ooit godsdiens in ons skole nodig. Dit gee soveel hoop en krag aan kinders wat se ouers dit nie tuis be oeffen nie. Christene is nie skaam om na ander uit te reik nie en soveel siele kan al op skool gered word. Dit leer liefde verdraagsaamheid nederigheid .Alles wat so nodig is in vandag se goddelose wereld waar korrupsie moord en doodslag aan die orde van die dag is.

Ada ·

Chris Klopper het sy siel verkoop.Wonder of hy trots is daarop. Hy hoort eerder in die parlement. Hy is dus n antichris. Gaan na die moslem lande toe. Jy sal tuisvoel daar ou perd.

Niklaas ·

Bring Die Voortrekkers in skole in. Dit is n kultuur organisie wat Afrikanerskap Burgerskap en Chistenskap be oeffen. Kinders kan dan na skool na dieVoortrekkers toe gaan en bogenoemde leer en ook geleer word van die buitelewe. Goeie leiers word ook daaruit gebore. Enige iemand kan aan Die Voortrekkers behoort en dit is van graad 1 tot 12. Kampe sterrekunde absailing sterre lees waterveiligheid ens. word vir die kinders geleer.Hulle word ook geleer hoe om kos te maak.Speel die lekkerste speletjies en bou goeie vriendskappe. Dit sal skool sommer lekker maak en niemand baklei oor geloof nie.

Ronel ·

Ek stem saam met jou. Beide my kinders is in die Voortrekkers en hulle geniet dit gate uit. Hulle leer ook goed wat kinders wat heeldag voor hul rekenaars en tablets vasgeplak is nooit sal leer nie.

Koos ·

Voortrekkers = afrikaner propaganda. Geloof word net so hard daar gedruk en dan word jy nog banggepraat vir die rooi gevaar

Reti ·

Jitte ou Koos bly liewers stil as jy niw weet waarvan jy praat nie. Seblief man jy wys jou onnoselheid. Voortrekkers is wonderlik vir kinders. My seun het dit verskriklik geniet. Leer baie en géén politiek.

Barnard ·

Hierdie antichris dink nie daaraan dat miljoene kinders by hulle huise mishandel word nie. Hulle enigste troos is dus die Here. Waarom dit dan wil wegneem waar dit so broodnodig is? Geloof gee hoop en genesing.Duidelik het hierdie mens dit nie.Hy is verlore of te lui om dit te laat toepas.

Wynand ·

Ja Chris Klopper en die wat hom aanhang het geen moraliteit nie. Nog n rede vr SA se ondergang. Moet nie later huil nie. Lyk my hy wil die ondergang vinniger laat plaasvind. Gelukkig is daar nig van ons met morele waardes integriteit en n Christelike geloof wat die wa deur die drif sal kry. Chris en sy mede maatjies moet solank die land verlaat want ons kan nie sulke slapgatte wat net boedel oorgee bekostig nie.

Lorty ·

Wat n jellievis is die man.nie! Hy praat nie vir my nie. Hy praar seker net vir homself om by iemand gesig te koop. Het absoluut geen waardes nie. Net nog iemand wat sy tekort aan waardes en integriteit en leierskap adverteer.

Disselboom ·

Sien op Facebook dat Chris Klopper verwyt word, maar het almal Fedsas se hofstukke namens die skole (verweerders) ook gelees? Dit gee ook maar omtrent alles toe op wetlike en menseregte gronde, en verskil maar net oor die stukkie opening wat daar dalk kan wees vir godsdiens in skole.

Clinton ·

Godsdiens is die kern van Christelike skoolgaande kinders.Laat die ander wat nie Christene is nie dan wag tot die openingsgebed klaar gedoen is. Hulle was vooraf ingelig dat n spesifieke skool Chrstelike waardes het
Dit was dus hulle keuse wat hulle nou in hulle guns wil draai net soos al die ander dinge in SA. Bv die Afrikaanse Taa. Studente het geweet dit is n Afrikaanse Univ. en nou moet die taal verander word om hulle te pas. Dis bog. Kies n Zulu univ of Eng univ ens. Dieselfe ding.

Willem ·

Clinton,

Vir ‘n privaatskool – ja. Nie vir ‘n publieke skool nie. Die christen kindertjies knou mos maar lekker die ander kinders af wat nie glo soos hulle nie, so as die kinders wat nie glo nie eenkant moet wag word hulle net geboelie.

Hoekom hou julle dit nie tuis waar dit hoort nie? Dan is die skool vriendelik teenoor enige kind, gee nie om wat die kind glo nie

Ange ·

Ek dink Chris Kopper moet Madalyn Murray se storie gaan lees. Sy was n ongelowige. Sy het nes hy, n haat vir God gehad en Christenskap uit Amerikaanse skole laat verwyder. Sy, haar een seun en kleindogter is wreed vermoor deur n ongelowige nes hulle. Haar oorlewende seun het tot bekering gekom en is nou n dominee.

As hy klaar gelees het van Madalyn Murray moet hy gaan lees wat die Bybel se van mense wat kinders laat struikel. Die Here slaap nie en Hy sal Hom nie laat uitdaag nie.

Ange ·

Kan Maroela Media vir ons die kontak besonderhede gee van wie ons kan kontak by die SAOU. Elke Christen wat sy sout werd is moet hulle bombardeer met emails. Sit en kla gaan nie help nie. Hulle het dissipline uit die skole gehaal en kyk hoe gaan dit. Nou dit? Hulle wil ons kinders in ongelowige zombies verander omdat hulle self n issue met God het.

SAou kontak besonderhede ·

[email protected]
Tel no: 012 436 0900
272 Serene straat pretoria.
Sieve ‘n bietjie. julle behoort die egte persoon te kry om mee te praat. Hoop net nie hy/ sy is op verlof nie

Ange ·

Dankie, ek gaan email. Hoop ander Christene doen dieselfde. Kinders kan nie vir hulself baklei nie.

Luister ·

Dit verstom my altyd dat ongelowiges so hard baklei.
As hulle nie wil glo nie, los dit dan uit. Almal het tog ‘n keuse.

Willem ·

Luister,

Sit jouself in ons skoene. Hoe sou jy voel as jou kind na ‘n skool gaan waar hulle vertel word god bestaan nie? Dis presies dieselfde – al wat ons vra is hou godsdiens in sy geheel uit skole uit. Dan kan almal glo wat hulle wil. Dis net redelik.

henry ·

Al wat ek sien is haatlike woorde van gelowiges en vreedsame vriendelike woorde van ongelowiges, go figure.

Koos1 ·

Willem.
Dis nie so maklik soos wat jy dink nie. Enige godsdiens vra onderdaningheid en erkenning.
Ons kinders word alreeds gedwing om ander gelowe te ondersoek en van te leer in die skool. Is die nie maar ook afdwing nie? Jammer maar dit word deur die regering vereis.
In ons land is 90 % mense Christene (ek is ook trots een!). Ons moet reeds die knie buig, maar nou moet ons geloof hooeksteen ook uit gehaal word? Ons het almal godsdiens vryheid en die reg om dit te beoefen. Moet die oorgrote menigte se reg ontneem word om die minderheid te akkomodeer? Gaan plaas jou kinders in ‘n tradisionele Moslem skool en probeer vir hulle oortuig om geloof te verwyder……. ek dink jy gaan ‘n groot verrassing kry!!

Willem ·

Koos1,

Daar is dan ook die mense wat nie glo nie. Nie almal het ‘n geloof nie. Ek glo ook glad nie jou statistiek van 90% nie – waar is jou citation?

Kinders wat nie christene is nie het nie daai vryheid waarvan jy praat nie

Daai tradisionele moslem skool sal privaat wees, hulle kan doen wat hulle wil – ek praat oor publieke skole hier

Woordeloos ·

Luister dit verstom my dat gelowiges so dom en kinderlik is. Rerig man word groot en toon jou eie rugraat.

Koos1 ·

Skuus Willem, ek het dit verkkerd gehad 80% van ons bevolking is Christene, gaan Google maar as jy my nie glo nie (wel dit is volgens die laaste sensus.)
Kinders wat nie Christene is nie het ook die vryheid om enige of geen geloof in ons land te beoefen.
As moslems vanaf hulle moskees die roep doen om te kom bid, pla dit jou ook? Moet dit ook verban word omdat ek dit nie wil aanhoor nie?
O ja, hoekom stig julle ongelowiges nie ‘n privaat skool nie, dan kan julle ook mos maar doen wat julle wil, soos die moslems, wat ook in die minderheid is?

Okker ·

Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. Eff. 6:12

Eduard Mostert ·

Wat rook die man nou?Cannabis?Eers ten gunste,nou daarteen.Ons sit nog steeds met hanskakies in ons midde.So word ons HERE verloen.SIES,wat n skande.Bedank en bly
die huis.

Willem ·

Hou dit uit publieke skole. Hou dit by die huis waar dit hoort. Ek, en baie ander Afrikaners wat dieselfde voel, gaan nie ophou tot hierdie doel bereik is nie. Julle kan nie julle sienswyse bo die van ander bevorder in publieke skole nie

henry ·

Ek stem heeltemal saam met jou willem. Ek het al te veel gesien hoe my vriende op skool afgeknou was omdat hul nie christene was nie. Dit was een van die dinge wat veroorsaak het dat ek nie meer gelowig was nie juis omdat mense so kan wees. Die probleem is Christene dink hul word nou aangeval maar al wat gebeur is hul vooregte word gelyk gemaak aan almal om hul s’n.

Willem ·

Presies net so Henry

Ek wil nie daai lot vir my kinders hê nie, en al wat nou gebeur, is alle gelowe / sienswyses moet op dieselfde manier behandel word

mike ·

Dit is vir julle maklik om God te verloen. Ek kry julle so jammer. Ons God is lewendig en by ons.
Julle weet nie wat julle doen nie en dit is skrikwekkend.

Koos1 ·

Adam, my lewedige God laat nie met Hom spot nie. O ja, ekskuus, jy glo mos nie aan Hom nie. Ek hoop net regtig dat die dag wanneer jy Hom ontmoet, dat jy Hom vir ‘n foto sal vra as jy nie te verbaas en oorbluf gaan wees nie (ons het nou die tegnologie, 2000 jaar terug was dit nie daar nie.). Dit sal jou iets gee on na te kyk en te oordink terwyl jy nie toegelaat sal word om saam met Hom en Sy kinders voort te leef nie!

Bloues ·

Christenskap wat in skole aan kinders geleer word deur grootmense wat geen morele waardes, geen dieper kennis van wat dit behels om kind van God te wwwes nie en onderwysers wat se lewenswyses ‘n aansoot is, doen meer kwaad as goed. Ek wil kies wie my help met my kind se geestelikke opvoeding en groei en baie onderwysers kwalifiseer nie.

Kobus ·

Willem, kan jy nie ‘n ateistiese skool begin vir jou kinders nie? Dan pla jy nie die Christene nie en hul ook nie vir jou nie.

Willem ·

Kobus,

Ek probeer jou antwoord, maar my plasings verskyn nie. Die punt is dat publieke skole nie een geloof bo ‘n ander moet bevoordeel nie. As gelowiges ‘n skool wil hê waar dit so gebeur, moet die skool privaat wees.

henry ·

Ateisme is nie ‘n geloof nie, dis ‘n gebrek aan geloof. Ek het Christen groot geword, het nie vir my gewerk nie, maar ek sal veg vir jou reg om jou geloof te kan beoefen in die privaatheid van jou huis of kerk. Maar ek kan nie aanvaar dat almal aan almal se gelowe teen hul wil blootgestel moet word nie. Dis iets wat privaat is en nie in skole hoort nie, dis hoekom daar kerk op Sondae is. As julle gaan druk vir Christense voorkeure gaan daar groepe wat Satanisme beoefen dieselfde regte wil soek, wat jul dus nie van sal hou nie, so dis beter mens los dit alles uit publieke spasies en hou dit eerder vir mense wat uit hul eie wil aan dit belang stel.

Piket ·

Kwetsende, spottende, lelike en beledigende woorde kom nogals baie voor
vanaf diegene wat nie in GOD glo nie. My vriend, wat laat jou dink GOD bestaan nie?
As jy GOD soek SAL HY vir jou bestaan. Die riglyn Boodskap regdeur die BYBEL is
Geregtigheid, Barmhartigheid en Liefde teenoor almal. Nie een van hierdie voortreflikhede het nog ooit iemand seergemaak of verneder of bespot nie. Watse voortreflikhede bevorder jy? Haat, nyd, slegpraat teenoor goed wat jy niks van weet nie? As jy jou naaste liefhet het sal jy nie my of enigiemand anders se Godsdiens verkleineer, vloek, of bespot nie. Soek GOD terwyl jy nog kan.
GOD laat HOM nie bespot nie.

Koos ·

Dit lyk vir my asof die dreigemente juis van die spul gelowiges kom….

Adam ·

Die riglyn regdeur die bybel is ook en moord en offerhandes. Gaan lees Lev 27

Reti ·

Piket, weet jy die mense moet heeltyd stry om hulself te oortuig. Mens stry nie want as jy Glo, Wéét jy. So, mens moet net bid dat hul die lig sien. Koos hoekom moet jy ander probeer verkeerd bewys? As dit jou oortuiging is los ons ander uit. Ons gaan jou ook nie glo nie want óns dien ‘n Lewende God wat ek hoop jy eendag sal ontmoet.

Albert Marais ·

@Henry Ek vermoed jy sal seker nie omgee as kinders die skole Islam godsdiens geleer word nie ??

henry ·

@Albert, ek het ‘n probleem met godsdiens van alle soorte as verpligtend vir studente in staat skole. Nie almal glo in dieselfde goed nie en dis waar ons ons kinders eerder moet leer om almal van alle denominasies en gelowe te aanvaar soos hul is

henry ·

Nee, ek het ‘n probleem met enige geloof wat op skool afgedwing word op kinders. Van Christen tot Muslim tot Joods, ek dink skool is daar vir leer, geloof is daar vir jou persoonlike redes, dis anders vir elke persoon, en veroorsaak baie wrywing.

Henriette Jacobs ·

Die skool wat ‘n verlengstuk is van die waardes en norme van die gemeenskap wat hy dien, het die reg en die voorreg om daardie waardes ook verder te vestig en uit te bou, soos wat ‘n Paulus vir Timotheus gese het: Maar bly jy by wat jy geleer het. Ons bid ook vir hierdie uitdaging en aanslag op ons kinders en skole.

Piket ·

Ons moet die positiewe raaksien. Geloof is positief, ongeloof is negatief.
As jy nie aan GOD se kant is nie, sal jy deur alles, ja alles bedreig voel,
en meer nog, jou ongeloof sal vir jou Siel n groot bedreiging word.
Nie wat ek sê nie en ek dreig ook nie……

Tier ·

Ja geloof is so positief ons sien elke dag in die nuus hoe skiet hul mekaar flenters!

Koos ·

Dis reg Lampies, gaan voort en wys vir almal hoe christene moet optree en praat. Dit sal mos die ongelowiges mooi oortuig van jou punt of hoe?

Liz ·

Chris Kloppers se standpunt word totaal en al uit verband geruk. Tans is die reëling dat die beheerliggaam van die betrokke skool self ‘n besluit mag neem t.o.v die beoefening van geloof in daardie skool. Hoe hard sal julle skree as alle skole in die land gedwing word om Allah te aanbid? Nou-ja, dit is hoe mense wat nie Christene is nie voel as almal gedwing word om God te aanbid. Mens kan geloof nie afdwing nie – be tolerant towards the beliefs of others as you expect the same from them.

Piket ·

Kerels, kerels, kerels!
Ons moenie op loop gaan oor nietighede nie.
Wat wel belangrik is is dat ons mekaar sal ondersteun want ons leef in moeilike tye.
Kom ons speel die bal en praat nie van mekaar nie. Ek dink ons stem saam dat geloof positief is, daarom is die teestelling ongeloof, dus kan dit nie neutraal wees nie. Ons moet ook onderskei op kommentaar, Volgens Petrus is die tong ‘n dodelike wapen want n gesproke woord bly vir ewig in die “cloud” net soos die woorde wat ons hier skryf. ‘n
Sagte woord keer immers die grimmigheid af, en lei tot stigting van goeie dinge.

Tom ·

Ek glo kerke kan en wil ‘n groter rol in die belangrike saak speel, die kerke staan gereed om kinders volgens die bybel te onderrig.
Watse verantwoordelikheid vat die ouers dis tog hulle plig. Ons ervaar by kerke dat sommige ouers geen verantwoordelikheid vat nie. Ons as Kerk van Jesus Christus vra aan ouers net die volgende bring jou kinders ons sal die leemtes wat ookal mag ontstaan aanvul. Kontak gerus n plaaslike gemeente ek is seker hulle is bereidwillig.

Koos ·

Natuurlik is ongeloof neutraal. Net soos kaalkop nie ‘n haarstyl is nie

Faan ·

Liz, lees Chris se ondertekende hofstukke- en nie net sy misleidende nuusbriewe nie. Daarvolgens mag die beheerliggaam nie besluit dat ‘n skool ‘n Christelike grondslag mag hê nie. Verder pleit hy in die SAOU se hofstukke dat BL’s se magte deur die staat beperk word. Die huidige beleid verplig nie ongelowiges om in godsdienspraktyke deel te neem nie.

Lewies ·

Die wraak kom ons nie toe nie. Ek sal vergeld. Die oordeel word gebere vir die wat hom skaam om Sy naam in die openbaar te bely. In ‘n land waar politieke korrektheid alles oorheers, is Chris se standpunt maar net een van baie stemme (reg of verkeerd) wat bydra tot die verwarring wat gesaai word. Zille van die DA het dit gewaag om iets positiefs te se oor kolonisasie en haarself doelbewus op die altaar geplaas, sodat verdere gesprek oor hierdie baie belangrike saak uitgelok kan word.

Koos ·

Ek wil sien hoe hard skree julle spul as hulle islam, satanisme en ander gelowe in skole in julle kinders se kele kom afdruk. Maar nou is dit ok, want dis mos julle geloof? Wag maar.

LG ·

Dit word reeds gedoen. Alle gelowe word vl die nuwe kurikulum behandel en daar moes ook n taak gedoen word. Evolusie word ook behandel. Daar is ook onderwysers wat nie Christene is nie wat hulle denke met die leerders deel en bespreek.. …….

Willem ·

Ek sou hoop evolusie word selfs in privaat christen skole behandel… dis ‘n wetenskaplike teorie en het niks met geloof te doen nie.

Arrian ·

As ek dit reg verstaan sal dit ook ‘n verbod beteken op die sing van die Volkslied, Nkosi Sikelele, wat in wese ‘n gebed is. Ek dink die saak gee verdere stukrag aan die proses van de-identifisering waar die mens eintlik ontmens word want ons identiteit as geestelike wese maar ook as burgerlike wese word deur hierdie argument bevorder. Die reaksie daarteen is juis ons soeke na identifikasie. Sterkte en steun aan die skoolhoof.

Willem ·

Arrian

Nee, hierdie gaan oor die skole. Maar ja, wat soek geloof in ‘n volkslied van ‘n land wat sekuler moet wees?

N Lourens Reitz ·

Lewies jy kan maar vir Zille volg stel glad nie belang in haar doen en late nie

Nicolaas ·

Willem, jy is duidelik ‘n ateis en dis jou goeie reg. Leer jou kinders on nie Christelike aktiwiteite in die skoll me te maak nie. Maar los die meerderheid uit wat dit ewl wil beoefen. Jy wil nou omtrent 1% van mense se standpunt in almal se kele afdruk. As jou party na ‘n verkiesing ‘n minderheid is, druk jy ook sy standpunt in almal se kele af? Ek sal graag by CHris Klopper wil hoor hoe motiveer hy sy stelling dat omdat die meerderheid in skole ‘n sekere geloof aanhang en ‘n skool hom daarmee vereenselwig, die skool se argument ‘unsustainable’ is. Wat bedoel hy daarmee? Kan hy sy stelling bewys? En dat die beste belang van kinders nie gedien word nie – is dit sy persoonlike mening? Het hy sy eie menings in die hofstukke getoets onder SAOU-lede voordat hy dit ingedien het? Want menige lede met wie ek praat distansieer hulle van sy standpunte. Hy moes eerder in ‘n privaat hoedanigheid aangesluit het by die hofsaak want hy mislei die hof as hy sê dit is die SAOU se standpunt. Chris Klopper is nie die SAOU nie. Die SAOU is baie groter as hy.

Willem ·

Nicolaas, ons is meer as 1% – jy sal verbaas wees. Verder, publieke skole, wat bevonds word deur almal se belastingsgeld mag nie een geloof bo ‘n ander bevorder nie. Punt en klaar

Pieter ·

Kan die SAOU nie van Chris Klopper ontslae raak nie? Hy praat duidelik nie namens die organisasie wat hy beweer hy verteenwoordig nie. Of anders moet onderwysers in massa uit die SAOU bedank.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.