Ons wag op die kaptein

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

In Elsa Joubert se boek met dieselfde titel wag ʼn groep plantasiewerkers wat in ʼn plaashuis gevange gehou word op die kaptein, wat oor hul lot sal beskik.

Baie Suid-Afrikaners – nie net wit mense en werkers nie – voel deesdae soos daardie werkers. Hulle vrees ook dat die ANC en Cyril Ramaphosa nie die kaptein is nie en ook nie die regte besluite neem of gaan neem om ons uit die finansiële plantasie te verlos nie.

Ramaphosa praat altyd van “our people”, so asof net swart mense deel uitmaak. Mandela het darem altyd van “all the people” gepraat en wit mense kon hulle darem verbeel dat hulle ook deel van die nasie is.

In sy jongste uitlatings het die president daarop klem gelê dat grondonteiening sonder vergoeding sál gebeur en dat swartbemagtiging hier is om te bly.

Die man soek natuurlik stemme vir ’n party wie se stempersentasie van 65% tot 57% gedaal het. Hy vrees hy gaan stemme aan die EFF se populisme afstaan. En hy moet ook pynlik bewus wees dat 20% van die swart jeug nie eers gebodder het om vir die laaste verkiesing te registreer of te gaan stem nie.

Nou word Covid-19 dalk ook nog ingespan om die volgende verkiesings met drie jaar uit te stel en tyd vir die ANC te koop. Die Grondwet gee net 90 dae speling.

Geskiedenis sal inperking oordeel

Die geskiedenis sal nog besluit oor die sukses van die inperking en die maatreëls teen die koronavirus. Daar is tyd gekoop om geriewe in gereedheid te bring, maar die sewe klinieke in Gauteng word nóú eers gebou. En toe die treine moes begin loop, is daar ontdek dat hulle nooit ontsmet is nie. En 600 skole het nie meer bestaan toe hulle moes oopmaak nie.

Ramaphosa gee hoog op oor die kundigheid van kenners wat aangewend is. Die gewone ingeperkte wil, onder meer, weet watter kundigheid het gesit agter besluite soos die verbod op oop skoene en T-hemde. Die verbod op die uitvoer van drank, veral wyn. En die onvolledigheid van elke nuwe regulasie.

Dit lyk of Cyril sit met ’n kombuis vol kundige kokke wat nie eers weet hoe om eiers te kook nie.

In sy Jeugdag-toespraak het hy vreeslik te velde getrek teen die manier waarop die kolonialiste slawe na Amerika en elders ingevoer en behandel het. G’n mens kan slawerny goedpraat nie. Maar ter wille van balans kon hy dalk bygevoeg het dat die slawe in Afrika deur hul eie mense opgeruim en teen ’n wins verkoop is. Dis nou as hy dit weet.

Die president het hoog opgegee oor hoe jong mense die voortou moet neem om die ekonomie, wat reeds aan skerwe gelê het, ná die pandemie reg te ruk en oor die geleenthede wat vir hulle geskep moet word.

ʼn Stukkie siniese kommentaar: Met ʼn onderwysstelsel wat ʼn yslike mislukking is? Al wat die ANC nog geskep het, is korrupsie en toenemende ellende! Die statistiek toon 6,5 miljoen mense tussen 15 en 34 wat nie werk het nie. Ander syfers praat van 38% – die hoogste ter wêreld.

In Australië moet studente nou twee maal soveel betaal om in ʼn humanitêre rigting te studeer om hulle aan te moedig om kursusse in wiskunde en wetenskap te volg. Maar Suid-Afrika pomp miljarde in enige graad – met min sukses – terwyl die land uitroep vir meer mense met kwalifikasies vir beroepe soos loodgieters en ander “hande-arbeid”.

Ramaphosa sê hy wil ʼn dieper verstaan en kennis van ander mense se geskiedenis en kultuur hê sodat ons kan leer en waardeer waar ons vandaan kom. As dit waar was, sou hy nie wit mense so met ʼn sleepnet bygekom het vir kolonialisme en rassisme nie.

Rhodes se aandeel in SA

Die Rhodes-gedenkteken in Kaapstad Foto: Pixabay

ʼn Mens sou graag wou gesien het dat hy die jeug – wat nou al wat ʼn standbeeld is wil verwyder – ingelig het oor Cecil John Rhodes se nalatenskappe. Soos die grond waarop die Kaapse Botaniese Tuin en die Universiteit van Kaapstad staan en sy talle bestaande beurse. En sy bepaling was dat die beurse ongeag van kleur of geloof aangewend moes word.

Die Rhodes-Universiteit – alma mater van, onder meer, Nelson Mandela – is in 1904 as universiteitskollege gestig met ʼn toekenning van die Rhodes Trust. Dit het in 1951 onder die apartheidsregering ʼn volwaardige universiteit geword.

As Ramaphosa geweet het, kon hy gesê het 16 Junie is nie net die datum waarop die Soweto-onluste gepleeg is nie, maar ook die dag (in 1900) toe die bevel uitgegaan het sodat uiteindelik 33 000 plaashuise vernietig en byna 33 000 vroue en kinders in konsentrasiekampe gesterf het – 22 000 van hulle jonger as 16 jaar.

Rhodes en Kitchener en Milner had ʼn groot aandeel in die Anglo-Boereoorlog, maar Afrikaners het nie hul standbeelde of straat- en dorpname verander nie. Dis hoekom Paul Kruger en MT Steyn en ander Boerehelde ook met rus gelaat moet word. En hoekom wit mense moet weet hoekom ʼn deel van die bevolking historiese figure soos Shaka Zulu huldig.

Ramaphosa weet dalk dat Josef Stalin ʼn geraamde 30 miljoen mense laat vermoor het, maar weet hy dat daar sedert 2012 tien standbeelde van die wreedaard opgerig is omdat hy ook onthou word as die man wat die Tweede Wêreldoorlog gewen het? Agt jaar gelede het ʼn meningspeiling gevind dat 47% Russe hom as ʼn positiewe figuur in hul geskiedenis sien!

Thabo Mbeki se bewind

Oudpres. Thabo Mbeki. (Foto: Simphiwe Mbokazi/ANA)

Feit is dat standbeelde en opgetekende geskiedenis afhang van die hoek waaruit jy kyk, en dit moet onbevange gedoen word. Dis die soort toespraak wat ʼn mens graag wil hoor van ʼn ware kaptein van die land se swart en wit burgers.

Tot aan die einde van Thabo Mbeki se bewind het die ANC die lewe van swart mense baie verbeter: Huise en klinieke is gebou, krag is aangelê, werkloosheid het gekrimp en die ekonomie het gegroei. Laat ons maar erken: Hy was nie ʼn baie slegte kaptein voordat hy verwyder is nie.

Ramaphosa sê grondonteiening sonder vergoeding is ʼn feit soos ʼn koei en hy en sy kaders gee gereeld die “witbeheerde monopolie” die skuld vir die land se swak ekonomie. Hulle moet nog verduidelik hoekom en hoe 7% van die land se bevolking die ander 93% verarm het. Beteken dit dat die ANC die afgelope twaalf jaar nie die breë bevolking se lot kon verbeter nie omdat hy deur die orige 7% teruggehou is? Of was dit dalk juis deur hul kundigheid weg te wys dat ons deesdae sit met ʼn bankrot SAL en twee kragstasies en treine wat in hul kanon is? Die lys is natuurlik baie langer.

As Cyril nie wil hê dieselfde lot moet die land tref as die plantasiewerkers in Elsa Joubert se boek nie, sal hy van al die dooie hout ontslae moet raak en ʼn sterk kaptein moet word. Die alternatief is, soos pres. BJ Vorster eens gesê het, “too ghastly to contemplate.”

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Adam Adriaan

In die Woord staan daar “Wee die land waar die slaaf koning word”

marius

Seerowers het ook kapteine gehad ….

koos10

Na elke ou president dink ons, stupid genoeg, dat dit sal beter gaan onder die nuwe een. Wees maar eerlik Nelson Madela was nie werklik president van die land nie, hy was meer seremonieel, en die ou wat werklik was, was Thabo Mbeki. Thabo Mbeki het die land laat groei en was nie sonder sy foute nie, maar sy grootste fout was om nie sy party se korupsie voluit wou laat geld nie. Daarom is hy herroep. Na hom was dit Zuma en die ANC kon werklik lostrek om alles te plunder, Na hom was dit CR en ons het… Lees meer »

Kanjynoumeer

Ek lees en haal aan “Hoe sien jy die oplossing vir die land? 1stens moet die regering die polisie regruk en misdaad onder beheer kry. Dan Eskom, SAL en ander sukkelende staatsondernemings privatiseer. SADOU in die bek ruk en swart openbare skole regruk. Beleidsekerheid en sakevertroue is in n krisis. SEB en kwotas afskaf om die eknomie te laat groei.
Die probleem is net dat al hierdie voorstelle van die president en “hulle” afhang en dat ons nie in die minste beheer het wat “hulle” doen nie.
Wat staan ons wittes nou te doen!!??

Pierreli

Org Potgieter, nou pra’ jy!!! Goed om vir ‘n slag ‘n onpartydige skrywer se rebriek te lees. Wel gedaan!!!