Ons woon in Afrika

geografiaq

Foto: Geografiaq.

Ek hoor nou die dag die soveelste keer weer hoe iemand sê hulle gaan die vakansie bietjie “Afrika” toe. Daarmee bedoel hulle Mosambiek, Zambië, Botswana . . . Suid-Afrika is nie “Afrika” nie. Nie in hulle oë nie (Namibië dikwels ook nie). ʼn Mens kry die idee dat Suid-Afrika, in baie Afrikaners se oë, eintlik effe los van Afrika is, ʼn tipe Europese tuisland.

“Die strate is al weer pikswart vanoggend,” moes ek dikwels my pa, oupa of ooms hoor sê as hulle van die dorp af kom. Later het ek baie hieroor gewonder. Waarom is ons verbaas as ʼn dorp swart is in Afrika? Omtrent 99% van die mense van Afrika is swart. Sê die mense in Europa, “die dorp is darem maar baie wit vandag”?

Besef ons dat ons in Afrika woon?

Nou die dag hoor ek hoe ʼn ou vir sy plaaswerker sê: “As daar minder van julle was, het ek nou in ʼn paradys gelewe.”

Kan ʼn mens werklik betekenisvol leef in ʼn kontinent as jy lief is vir haar grond, maar nie vir haar mense nie?

Dit moet verskriklik wees om jou lewe lank in Suid-Afrika te woon as jy sy diversiteit van kulture as ’n bedreiging sien.

Ek glo eenvoudig nie mense wat sê die teendeel is nie moontlik nie, want ek is self vir jare al deel van ʼn gemeenskap waar mense van verskillende kulture saam woon – Zoeloes, Xhosas, Afrikaners, bruin mense, Indiërs, Engelse, Sotho’s . . . Ons ervaar die diversiteit in ons gemeenskap as ʼn seën en nie ʼn vloek nie.

Nou sien ek al my haatpos (of die kommentaar hieronder). Iemand vra: Beteken dit dan dat ek nie lief mag wees vir my volk en taal nie?

Waarom voel mense dat hulle hul eie kultuur verraai wanneer daar gepraat word oor die feit dat ons ook vir mense van ander kultuurgroepe moet lief wees?

Jy mag lief wees vir jou taal en jou mense, maar as jy in Afrika woon, kan dit baie help as jy ook lief raak vir die mense wat hier woon wat deel is van ander kulture – die ander 99%.

ʼn Mens hoor deesdae weer hoe mense met trots begin opmerk dat hulle rassisties is. Wat hulle eintlik bedoel, is dat hulle hulle vereenselwig met wit rassisme, swart rassisme ontstel hulle steeds (of met swart rassisme, wit rassisme ontstel hulle steeds – na gelang van watter kleur die rassis is).

Rassisme werk só: dis net lekker as jy aan die uitdeelkant is, wanneer jy aan die ontvangkant is, is dit “ongeregtigheid”.

Ek sê nie ons moet rassiste haat nie (wees lief vir hulle, hulle kan doen met al die liefde wat hulle kan kry), maar ons moet rassisme haat – nie net wanneer dit teen jou groep gerig is in die vorm van regstellende aksie en plaasmoorde nie, maar oral.

Die probleem is nie dat mense ontsteld is oor byvoorbeeld plaasmoorde en korrupsie nie (daar is fout met jou as dit jou nie ontstel nie), dit is wel ʼn probleem wanneer jy jou ontsteltenis nie op die betrokke misdadigers of politici projekteer nie, maar nou sommer op ʼn hele kultuurgroep in die land.

Rassisme is ʼn ekstreme vorm van hoogmoed, en hoogmoed is altyd ʼn bose ding. Niks goeds kan uit die groeiende rassehaat in ons land kom nie.

“Beteken dit nou dat ek vir ALMAL moet lief wees en omgee?!” vra ʼn kerktannie nou die dag  vir my.

“Net dié wat deur God gemaak is en vir wie Jesus gesterf het,” antwoord ek.

’n Mens woon altyd lekkerder op ’n plek as jy lief is en respek het vir die mense wat saam met jou woon.

Lets face it, niemand gaan van kleur verander nie, ek en jy gaan van gesindheid moet verander. Afrika is oorweldigend swart, en dit sal altyd so wees – Suid-Afrika is ʼn bietjie meer bont.

Geseënd is die vredemakers.

Mag liefde wen.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Strydom

Jaco is betrokke by ECHO, ’n geloofsgemeenskap wat geleenthede en ondersteuning bied aan jongmense in nood en probeer om weer die eenvoud van kerkwees te herontdek. Hy skryf rubrieke vir onder andere Beeld en Kerkbode. Lees sy artikels op ECHO Jeugontwikkeling se webwerf.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Bruno Stef ·

Is dit dan n Westerse konsep as ek bv op my persoonlike spasie aandring in supermarkte of by n autobank omdat sommige mense in my nek asemhaal.Is ek dan n rassis as my honde aan n leibande my vergesel as ek dorp toe stap en deur sommige sowel myself en my vrou en diere met die dood gedreig word? Ek is n senior burger en het oor baie jare swart tale goed leer praat en verstaan en die publiek sal baie ontsteld word as hulle al die uitlatings van sommige mense kon verstaan het.

PvZ ·

Ek dink ook dit is tyd dat mense besef hulle woon in Afrika. Ons raak kwaad omdat Suid-Afrika, word soos die res van Afrika. Die korrupsie, is maar soos in die res van Afrika. So ook die hongersnood en armoede. Hoekom kla oor swak dienslewering in SA, as dit word soos die res van Afrika. As ons begin besef ons woon in Afrika, sal ons weet waarheen ons oppad is. Daar gaan egter nie meer “Westerse” hospitale wees om na hulle siek presidente om te sien nie. Of ‘n “Westerse” universiteit vir die hoë koppe in die res van Afrika se kinders nie. Gelukkig skenk Afrika miljoene dollar aan hulp vir die res van die wêreld…. Ek val nie die skrywer se hart aan nie. Ek verstaan presies wat hy wil sê. En hy is reg. Heeltemal reg. Maar ek is moeg daarvoor dat die “moeilikheid” altyd voor ons deur gesit word. As jy nie genoeg kos, en klere vir arm mense gee nie, mag hulle jou maar doodmaak. Dit is mos maar Afrika. Kyk asb. ander kant as hulle jou goed steel, onthou, dit is Afrika. Ek is kwaad, want ek weet die skrywer is reg. Dit is Afrika. Maar ek is ‘n Afrikaner. Waarheen gaan ek. Moet ek verander?

Jan ·

Baie goed gestel PvZ. Jou skrywe gee 100% die regte perspektief.

John ·

So waar. Hoekom nog bodder om vir ons in Afrikaans te skryf. Dis seker lekker om verskillend meerwaardig dieselfde te wees. Wat is die hoogsts eer wat ‘n burger van Afrika te beurt kan val? Ons outeur verdien dit maar daarna moet hy terug na Europa, want dit is die hoogste opoffering wat ‘n witmens kan maak ten bate van Afrika se geluk en voortbestaan ‘in die eeue gesus’ of so lui die versie.

dirk ·

Uitstekend Jaco. Ek voel nog altyd so. Ek is baie lief vir ons land se mense. Hulle is wonderlik as jy ordentlik is. Ek groet altyd vriendelik en praat bietjie xhosa en sotho en die reaksie is wonderlik. Dis soos handomkeer hoe mense reageer, hulle begin lag, vra my ook waar ek woon, ens. Hulle vertel my ook ons land is stukkend. En saam tob en wens ons vir n nuwe regering met die groetslag

Johan II ·

Ai die liberaliste darem. Ras is n verskoning om teen “witmense” te op te tree. Kultuur is koning, waar dit bots werk niks en voel niemand tuis nie. Ons moet weg beweeg van ras en kultuur begin waardeer (nie dat liberaliste of politisie kan nie) .

Engelse vat wat hul wil hê en verander (en meestal vernietig) dit soos dit hul pas, Afrikaners trek voort en bou (weer) sy eie, daarom is “die moderne Engelsman” so divers van “kleur ” maar arm aan kultuur.

Jy stel dit mooi PvZ.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.