Ons word dommer!

’n Skermskoot uit die rolprent ‘Idiocracy’. Foto: Listal.com

Deur Christoff van Wyk

Bernt Bratsberg en Ole Rogeberg, twee Noorweegse navorsers verbonde aan die Ragnar Frisch-sentrum vir ekonomiese navorsing het onlangs ’n publikasie die lig laat sien waarin hulle bevind het dat die gemiddelde IK van jong mans die afgelope paar dekades gedaal het. Daar is egter in hierdie stadium geen klinkklare rede oor waarom dit gebeur nie, maar meeste navorsers is dit eens dat dit dom van ons sal wees om die uitslae te ignoreer.

Die data wat Bratsberg en Rogeberg in hul navorsing gebruik het, was die resultate van 730 000 IK-toetse wat deur jong mans (18-19) afgelê is wat aangemeld het vir verpligte militêre diensplig in Noorweë tussen 1970 en 2009. Dit het gewys dat jong mans se IK-tellings in 1991, gemiddeld 5 punte laer was as die vorige geslag s’n wat in 1975 getoets is.

Alhoewel die gebruik van IK-toetse steeds kontroversieel is omrede hierdie toetse dikwels nie die volle spektrum van ’n persoon se intelligensie weerspieël nie, kan dit wel as ’n handige (maar beperkte) maatstaf gebruik word om sekere navorsing te doen.

Een rede waarom hierdie bevinding veral kommerwekkend is, is omdat IK-tellings sedert die Tweede Wêreldoorlog langsaam gestyg het. Dié verskynsel, genaamd die Flynn-effek, is vernoem na professor James Flynn en alhoewel daar nie sekerheid was oor hoekom IK-tellings in die eerste helfte van die 20ste eeu gestyg het nie, het professor Flynn ’n paar moontlike redes verskaf. Dit het, onder meer, ingesluit toegang tot meer voedsame kos, beter gesondheidsorg, beter skoolopleiding, ensovoorts.

Dit wil egter nou voorkom of die sogenaamde Flynn-effek tot ’n einde gekom het en die Noorweërs se navorsing word beaam deur studies in Frankryk, Denemarke, Finland, Nederland, Brittanje, asook die VSA. Twee onafhanklike Britse studies het onlangs bevind dat IK-tellings in Brittanje die afgelope 10 jaar met tussen 2,5 en 4,3 punte geval het.

Daar is nou verskeie moontlike redes wat aangevoer word vir die afname in IK-tellings, maar omrede daar nog nie verdere navorsing hieroor gedoen is nie, bly dit spekulasie. Sommige beweer dat ons te veel tyd spandeer met tegnologie soos slimfone en nie meer genoeg lees nie. Dit kan ook te doen hê met die wyse waarop kinders grootword, hoe hulle speel, wat hulle op skool geleer word, asook hoe hulle geleer word om te dink.

Kortom, wil dit voorkom of hierdie verskynsel meer te doen het met ons kultuur en manier van doen en dink as wat dit dalk met fisiologiese faktore te doen het.

Het ons nie dalk verval in ’n kultuur van middelmatigheid en intellektuele luiheid wat nou ook veroorsaak dat ons nie meer die hoogste goed nastreef nie? Of, het ons maar net aangepas by die nuwe wêreld waarin ons leef waar die ernstige dinkwerk oorgelaat word aan rekenaars en sosialemedia-algoritmes wat vir ons voorsê watter nuus ons behoort te ontvang, watter produkte ons behoort te koop en die leefstyl waaraan ons behoort te voldoen.

In 2006 word die Mike Judge-wetenskapfiksierolprent Idiocracy uitgereik. Die rolprent het egter glad nie enige kommersiële sukses behaal nie en het skaars $500 000 (Sowat R6,66 m) in inkomste verdien. Maar, sedertdien het dit in ’n tipe kultrolprent ontaard. Die storie handel oor ’n persoon wat deelneem aan ’n geheime regeringsprogram waarin hy gevries word om later weer wakker gemaak te word. Die program loop erg skeef en die uiteinde is dat hy eers 500 jaar later wakker word in ’n nuwe wêreld waar anti-intellektualisme en die kommersialisering van bykans alles aan die orde van die dag is. In die wêreld waarin Idiocracy afspeel, is die president van Amerika ’n eksporno-akteur en professionele stoeier met die naam Dwayne Elizondo Mountain Dew Herbert Camacho. Nodeloos om te sê, sy land is in totale chaos gedompel met oeste wat misluk omdat daar besluit is om die lande nat te spuit met ’n gewilde energiedrankie in plaas van water. Asof dit nie bisar genoeg is nie, word die hoofkarakter, ’n gemiddelde weermagbibliotekaris, onmiddellik ná sy 500 jaar-slaap die slimste mens in die land en getaak daarmee om al die land se probleme op te los.

Verskeie kommentators het al, tong in die kies, na Idiocracy verwys in ’n vergelyking met die gebeure rondom Donald Trump se verkiesing as president van Amerika. By geleentheid is daar aan Judge gevra hoe hy dit reggekry het om die toekoms so akkuraat in sy rolprent uit te beeld. Sy antwoord was dat hy dit nié reggekry het nie, want sy rolprentvoorstelling het byna 490 jaar vroeër plaasgevind as wat hy verwag het.

Ons sal ernstig moet waak teen die verdomming van ons jeug – ons uitlewing van kultuur kan in hierdie verband ’n groot rol speel. Daar rus dus ’n plig op elkeen van ons wat omgee vir die toekoms van ons jeug om moeite te doen met die standaarde wat ons handhaaf.

Neem taal as ’n voorbeeld. Dit het al byna die norm geword om Engelse woorde te gebruik. Maar, wanneer ons ’n oomblik neem om te dink oor wat die regte Afrikaanse woord is wat gebruik moet word, kom ons dikwels agter hoe ons ’n bietjie ekstra moet begin dink. Deur moeite te doen om jou taal suiwer te hou, is jy nie net besig om ’n hoër standaard te stel en te handhaaf nie, dis ook goed vir jou brein en dit stimuleer jou denke.

Indien ons nie onsself en die opkomende geslagte motiveer om hoër standaarde te handhaaf en moeite te doen om ons verstand ten volle te benut nie, staar dieselfde oordeel ons dalk in die gesig soos in die samelewing in Idiocracy en sal katastrofies eindig.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

A ·

Dommer of net lui? Met inligting so vinnig beskikbaar op die internet en alles is “instant” hoef mens nie eens meer te dink nie.

IK ·

Moet net nie waag om van ‘tussen die ore’ melding te maak in Afrika. Hier word nie meer ‘diskriminerende’ toetse gedoen. Ons is almal ewe begaafd en kan dieselfde presteer. Daarom word daar ook nie meer IK-toetse afgelê op skool. Gee egter kans want persone gaan nog al meer en meer in verkeerde beroepe land.

Arak ·

Ja? En hoe multikultureel is Noorweë se weermag tans? Hoe lyk die data vir Hongarye of Rusland?

Liberaal ·

Alhoewel IK wissel tussen groepe is dit nie polities korrek om dit te noem nie

Richard ·

Te veel moeite om die studie te lees? As jy dit doen, sal jy sien dat die effek nie net oor die algehele Noorweegse bevolking waargeneem is nie, maar ook binne dieselfde gesinne en families. Hulle het pa’s en hul seuns vergelyk, en jonger broers teen hul ouer broers, ens.

JC ·

Uitstekende artikel- neem kennis! (ek neem nie gelief met die draakstekery van die genoemde “sekere kommentators” oor President Trump nie- want dit is eerder die uitgediende liberale “establishment” waaror tong-in-die-kies mee gespot moet word-maar nou ja,-dit is seker hul reg. Trump het hulle in elk geval lank reeds as erg verkramp bewys met oudmodiese denke betreffende sy opbouende “Make America Great Again” leierskap)

Etienne Prinsloo ·

Elke Suid Afrikaanse “joernalis” glo dat beledigings op Pres Trump gemik hul eie IK verhoog. Die teenoorgestelde is eintlik waar. Die media het die “morele” mantel van die nuwe marxisme aangetrek- oop grense, geen nasietrots, vernietiging van die Christendom, verafgoding van migrante ens. Patriotisme in Clinton se woorde is rassisme. Wel SA joernaliste- kyk om julle. Verafgod Ramaphosa, beledig Pres Trump. Genoeg gesê.

Casper Labuschagne ·

Dit verbaas my glad nie. Daar is grondige sielkundige navorsing wat aandui dat babas en peuters wat in dagsorg gelaat word erg versteurende trauma van verlating ervaar en dat dit ‘n blywende psigiese letsel op geslagte kinders agterlaat wat hul ontwikkeling benadeel. 1975 se agtien jarige mans is grootgemaak deur ‘n geslag tuisbly moeders terwyl die 18-jariges van vandag amper almal in dagsorg was waar albei hul ouers bedags gewerk het.

Wat ook ‘n effek kan hê is dat daar ook soveel omgewingsfaktore in die moderne huisgesin in die vorm van plastiek in ons huise wat chemiese middels afgee en wat deur ons ingeneem word, hoë vlakke van plaagdoders wat in ons kos teenwoordig is asook die hormone waarmee vis, hoenders en vee inkry om vinniger te groei en wat ook in ons kos teenwoordig is. Moet ook nie die sojamelk waarmee babas nou grootgemaak word asook die epidemiese vlakke van aandag en afleibare versteurings onder veral seuns buite rekening laat nie.

Kannaland ·

Eenvoudige verklaring – kyk maar, slimmer mense het ongelukkig minder kinders en dit is wat die westerse ondergang beteken.

Eish ·

Dit wil tog voorkom dat al hoe ons die verdomming kan voorkom, is indien ons selfbeskikking het. Waar anders sal jy jou taal en kultuur kan uitleef sonder die verdommende effek van uitwissing daarvan?

Mia ·

Jy is reg. Met selfbeskikking het ons beheer oor ons eie opvoedkundige stelsel, wat top was toe ons nog in beheer was.

Boerseun ·

Yip, en op n ander noot is die getalle liberale aan die toeneem.

anton ·

Hierdie is die waarheid!!!
Ek sien daagliks hoe die jeug van vandag, al hoe minder weet van belangrike goed, maar natuurlik dink hulle hul weet alles en kan jy hulle niks vertel/leer nie.
As hulle weet hoe n rekenaar en selfoon werk, dink hulle, hul is slimmer as Einstein en weet hulle alles onder die son.

Frans C ·

Is ‘n deel van die probleem nie dat tegnologie op alle terreinne die dinkwerk oorneem ?
Dit is bv met vandag se GPS onmoontlik om te verdwaal.In die ou SAW moes ‘n mens dikwels met behulp van ‘n kaart en kompas oor die wegkom.
Dit was veral moeilik in die nag want dikwels was daar krale en goed wat ‘n mens moet vermy en is dit moeilik om uit te werk hoeveel tree jy van die oorspronklike koers afgedwaal het. Dit het algebeur dat jy ‘n kilometer van jou doelwit afgedwaal het in die nag.
Dit behoort nie vandag te gebeur nie.

Nicholas ·

Ek is nie so seker ek vertrou die wetenskaplike integriteit vd hierdie data nie. Tensy dit bewys kan word dieselfde IK metings instrument en metodes is vir kleiner polulasies oro koretr tydperke gebruik. Maar hoe dit ookal sy, interessant wat Kannaland hierbo opmerk dat hoe minder begaafde mense kinders kry, hoe wyer sal die effek van ‘n verlaagde IK uitkring binne ‘n bevolking

Gerhard ·

Intellek word geneties oorgedra, dit word nie beïnvloed deur eksterne faktore nie. Die Britte het dit al nagevors. As jy die oorsaak soek, gaan kyk hoe die welsynstaat bydrae dat minder intelligente mense buitensporig aanwas. Dan is daar die oop grense van die EU wat toelaat dat mense wat nooit uit eie vermoë sou kon emigreer soontoe skielik in groot getalle land. Dit is die probleem, begin en einde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.