Ontbloot die vals meesterverhaal oor ras

Dr. Dirk Herman, bestuurshoof van Solidariteit. (Foto: Dirk Hermann/Facebook)

As daar een onderwerp is waaroor ek nie sou wou skryf nie, is dit ras. Die klomp politieke rasse-ideoloë in Suid-Afrika laat ʼn mens egter met geen keuse nie.

Elana Barkhuizen is net ʼn goeie juffrou. Daar word kindertjies in dié goeie juffrou se Afrikaanse klassie geplaas wat nie Afrikaans of Engels kan praat nie, maar net Tswana. Hulle is uit die aard van die saak op die eerste dag skoon gedisoriënteerd en die juffrou sit hulle daarom vir ʼn rukkie bymekaar om vir hulle te verduidelik wat gaan gebeur. Sy kry selfs haar huishulp, op haar onkoste, om te help verduidelik.

Hulle voel vinnig tuis en binne minute speel hulle heerlik saam met al die ander maatjies. Sy plaas foto’s op die ouers se WhatsApp-groep. Op die een foto sit die Tswana-kindertjies bymekaar en op die ander foto speel al die kinders lekker saam. ʼn Ouer plaas toe net die eerste foto op sosiale media.

ʼn Herrie bars los.

Sello Lehari, die voormalige lid van die uitvoerende raad (LUR) vir onderwys in Noordwes, spring op sy perd en galop na die skool toe. Hy roep sy troepe op om die onreg uit te wis, maar doen niks om uit te vind wat gebeur het nie. Sy troepe kry toegang tot die skool. Lehari bevind Barkhuizen skuldig aan die doodsonde van rassisme en roep die uitspraak van die verhoog af.

Sy moet uit die gemeenskap gewerp word. Die troepe soek die oortreder. Intussen word die skool ontruim. In haar klassie sit Elana met haar arms om die Tswana-kindertjies. Sy hou hulle veilig, want hulle ouers het hulle nog nie kom haal nie.

Nóg politici spring op die rassewa. Die media gaan mal. Meningsartikels vloei oor dié bose juffrou. Dit gaan verder. Die insident word sommer op die hele Suid-Afrika geprojekteer. Bose wit; slagoffer swart.

Vier jaar later en die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie bevind dat Lehari minstens ses van Elana se menseregte geskend het, asook die kinders se reg tot veiligheid.

Lehari is toe die rassis. Lehari het toe Elana én die kinders se regte geskend. Lehari het sy magsposisie vir populistiese rassepolitiek misbruik.

ʼn Week voor die uitspraak het president Cyril Ramaphosa gesê dat daar nie plek vir rassiste in Suid-Afrika is nie. Lehari is egter steeds ʼn LUR. Die rassis en menseregteskender het steeds nie net ʼn plek nie, maar ʼn spesiale plek.

En dieselfde media (veral die Engelse media) en politici is doodstil. Daar word niks geskryf of gesê nie, want dit pas nie in die meesterverhaal nie.

Hulle skryf eerder oor Maselspoort, want dít pas in die meesterverhaal. Ek weet nie presies wat daar gebeur het nie, maar wat ek wel weet, is dat die ANC hul geluk met dié voorval nie kon glo nie. Die voorval word gegryp en na die hele Suid-Afrikaanse samelewing geprojekteer. Ramaphosa praat op 8 Januarie oor die ANC se verjaarsdagviering. Die video word gewys: wit mense is rassiste en swart mense is slagoffers. Dít is sommer nou hoe die hele Suid-Afrika lyk en daar is nie plek vir die wit rassiste nie.

Hierdie meesterverhaal word deur die hele land versprei en die Engelse media kap spykers in sodat die meesterverhaal styf kan span. Daar is nie spasie vir iets anders nie. Een rubriek skryf selfs oor die swaar las van swart Suid-Afrikaners wat nie-rassigheid alleen moet dra.

In dieselfde week word die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) skuldig bevind aan rasseteistering. Twee swart polisielede word deur luitenant-kolonel Annemarie Oosthuizen dissiplinêr aangekla. Hulle plan om daarvan vry te kom, is om haar daarvan te beskuldig dat sy die “k”-woord gebruik het.

ʼn Jonger kollega, Lizzy Sechele, hoor die planne en blaas die fluitjie. Die SAPD ignoreer vir Lizzy, want dit pas nie in by die meesterverhaal nie. Annemarie veg in die howe en is toe onskuldig bevind. Die twee rassiste is siviel-, straf- en arbeidsregtelik skuldig bevind. Daar is ook bevind dat die SAPD mede-aanspreeklik en skuldig aan rasseteistering is.

Solidariteit reik ʼn verklaring hieroor uit, maar die media en politieke stilte is oorverdowend. Dit pas nie in by die meesterverhaal nie.

Die media is eerder besig met Laerskool Danie Malan. Die storie, al blyk dit dat die skool onskuldig is, pas tog só mooi in die meesterverhaal.

ʼn LUR is skuldig aan menseregteskendings omdat hy ʼn goeie juffrou valslik van rassisme aangekla het. Die SAPD is skuldig aan rasseteistering. Die minister van polisie en die kommissaris van polisie moet ook kompensasie aan Annemarie betaal en om verskoning vra.

Dít is misbruik van staatsmag om rassisme te pleeg. Dít is institusionele rassisme. Dit word deur ʼn rits rassewette versterk. Dit is ʼn ernstige rasmeesterverhaal waaroor daar stilte heers. Dit is hiérdie stilte wat politici, veral die ANC en EFF, en sekere media medeaanspreeklik maak aan rassisme. Daar is nie plek daarvoor in Suid-Afrika nie.

Onder die vals meesterverhaal van sekere politici en media skuil ʼn ander Suid-Afrika.

Dít is die Suid-Afrika waar Lizzy die onreg teen Annemarie nie kon aanvaar nie en tot groot nadeel van haarself die fluitjie geblaas het. Dit is die meesterverhaal van Elana wat haar Tswana-kindertjies styf vashou sodat hulle nie bang is nie.

Suid-Afrikaanse horisontale verhoudings is nog baie goed. Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseaangeleenthede het bevind dat ras die kwessie is wat Suid-Afrikaners die minste pla. Net 3,3% sien rassisme as ʼn groot probleem. Sowat 97% sien dit dus nie as ʼn groot probleem nie. Dít is ons almal se belewenis.

Sodra die vertikale politieke verhoudings bykom, word rasvure gestook en die wind van sekere media blaas dit aan.

Ons moet drie dinge hieraan doen:

  1. Ons moet die vals rasmeesterverhaal ontbloot vir wat dit is.
  2. Ons moet die mooi horisontale verhoudinge in Suid-Afrika oppas.
  3. Ons moet onsself nie aan enige vorm van rassisme skuldig maak nie.

Ons mag nie toelaat dat rasse-ideoloë ons samelewing se meesterverhaal skryf nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Afrikaners is ‘n minderheid in ‘n mislukte staat. Dis nou ‘n double whammy. Sake sal nie verander nie. Ons sal nog vir dekades die skuld kry vir alles wat verkeerd loop.

Jan ·

Wel, volgens wat dieselfde media verkondig, kan swartes nie rassisties wees nie. Volgens hulle, is rassisme alleen iets wat deur wittes gepleeg kan word.

Dit is so belaglik. En nie hoe ek die woord verstaan volgens die woordeboek nie.

Groen Ghoen ·

Die ANC en EFF se bestaansreg is op “Wit rassisme, apartheid” en ook “kolonialisme” gegrond. Hierdie dooie akkedis is al ontbind, maar word steeds opgegrawe en as ‘n krokodil voorgehou. Natuurlik bring dit stemme en geld uit die buiteland.

skurweberg ·

Die metafoor van ‘n vurk in die vlag van SA: Twee moontlikhede, of die bane loop saam om ‘n breë baan te vorm vir die wat dit verkies , of die bane loop uit mekaar en bly ‘n smal baan vir die wat dit verkies. Inderdaad ‘n maklike keuse vir die wat weet wat aan die einde vir hulle wag.

Harley Davidson ·

Dr Herman ons woon in ‘n land waar die Afrikaanse media en spesifiek die platvorm waarop ons nou is te bang is om te sê n verdagte was ‘n swart man,teenstrydig hiermee is wanneer die verdagte wit is en hoekom is dit die geval.Die plaas aanvalle word nie deur wit mense uitgevoer nie maar omrede dit polities nie korrek is om die probleem aan te spreek nie kan daar nie ‘n oplossing wees nie.Die wit ,bruin en Indiër gemeenskap word geteiken deur seb wette ,my kind moet eers ‘n BSc doen en sy tweede jaar kan hy medies swot maar daar is n tekort aan dokters en word aangevul met kubaanse dokters,dit veroorsaak ‘n kruitvat wat smeul en dan vir geen rede kry jy ‘n masels poort insident, die man wat die kind dreig by Groblersdal oor vetkoek souse .Die man word skuldig bevind en gestraf, malema rand n polisieman aan op kamera en word onskuldig bevind.Ek het nie ‘n probleem met ras nie vir my gaan dit oor opvoeding ,ek hanteer mense soos hulle my behandel.

Pannies ·

Baie goed geskryf. Mag dit mense se insig in die situasie verbeter en die foute van die regering ontbloot. Laat ons ons kant skoon hou en bid dat die goeie sal oorwin.

Sanet ·

Die president en sy maatjies kan nou nie meer wegkruip vir 30 jaar se korrupsie, diefstal, rassehaat en verseker nie die feit dat ons nie krag, skoonwater of enige dienste ontvang nie!!!!! Die klippe is nou oppad om weggerol te word…….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.