Onteiening: Akkerland en magsmisbruike in grondhervorming

Marius Croucamp, Solidariteit se adjunkhoofsekretaris verantwoordelik vir die metaal- en ingenieursbedryf. Foto: Reint Dykema

Deur Marius Croucamp

Grondhervorming en die onteiening van eiendom met of sonder vergoeding het sonder twyfel die kollig gevang op die politieke en openbare debatverhoë – nie net in Suid-Afrika nie, maar ook internasionaal.

Die onteiening van die plase Luken en Salaita van die Akkerland Boerdery het onlangs aan die lig gekom nadat die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, Maite Nkoana-Mashabane, en Limpopo se grondeisekommissaris, Mashile Mokono, weens ʼn suksesvolle interdik gekeer is om besit van dié plase te neem. Daar blyk ʼn verband tussen die onteiening en die ontwikkeling van ʼn spesiale ekonomiese sone (SES), staalaanlegte en ʼn kragsentrale naby dié twee plase te wees.

Beleggingsaankondiging en die Musina-Makhado spesiale ekonomiese sone (SES)

Op ʼn gesamentlike mediakonferensie op 24 Julie 2018 het president Cyril Ramaphosa en die Chinese president Xi Jinping aangekondig dat China $14,7 biljoen (sowat R227,23 miljard) in die Suid-Afrikaanse ekonomie wil belê. President Xi was op ’n staatsbesoek in Suid-Afrika. Dr. Rob Davies, minister van handel en nywerheid, het by ʼn later geleentheid aangekondig dat China die ontwikkeling van ʼn metallurgiese projek in ʼn spesiale sone oorweeg.

Richard Zitha wat by die Musina-Makhado-SES, waar die projekontwikkeling gaan plaasvind, betrokke is, het gesê dat Chinese ondernemings (in staatsbesit) die ontwikkeling daarvan gaan behartig. Zitha sê China soek sedert twee dekades nadat apartheid afgeskaf is, na SEB-vennote om mee saam te werk, en terselfdertyd aan die SA regulasies te voldoen. Zita het bygevoeg die beleggers was vir langer as ʼn week in Suid-Afrika en het ook myne besoek om insette oor die beoogde projek te verkry. Die Musina-Makhado-SES is in Limpopo, na aan die grens van Mosambiek, Zimbabwe en Botswana, geleë.

Staalaanlegte en kragsentrale

Luidens ʼn verslag in Engineering News van 27 Julie 2018, sal die SES bestaan uit ʼn aantal nywerheidseenhede met ’n jaarlikse vervaardigingskapasiteit van 3 miljoen ton vlekvrye staal, 3 miljoen ton ferrochroom en 500 000 ton silico-mangaan. Volgens die verslag gaan ʼn steenkoolkragsentrale, kooks-steenkoolaanleg en ʼn steenkoolwassery ook langs die metallurgiese aanlegte gebou word.

Die Nywerheidsbeleid-aksieplan 2021 (NAP,) die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) en staalnywerheidsverslag

Solidariteit kon geen aanduiding van dié projek in die regering se nywerheidsbeleid-aksieplan vir 2021 of die nasioale ontwikkelingsplan vind nie. Boonop is geen melding van hierdie ontwikkeling gemaak in ʼn voorlegging van die departement van handel en nywerheid gedurende die portefeuljekomiteevergadering met betrekking tot die toestand van die Suid-Afrikaanse staalnywerheid nie.

Omgewingsimpakstudie (OIS)-verslag en bekendstellingsdokument: metallurgiese nywerheidsone

By nadere ondersoek het Solidariteit op ʼn omvattende OIS-verslag afgekom wat reeds in Augustus 2017 voltooi is en bevat inligting van sowel die kragsentrale-ontwikkeling as ʼn dokument getiteld “South African Energy Metallurgical Base Project feasibility study report outline summary” wat uit 2014 dateer en is ter insae op die webblad van die departement van handel en nywerheid.

Dit blyk dat hierdie dokument ’n voorloper was van die Musina-Makhado-SES-konsep en die metallurgiese aanlegte. Daar is ’n duidelike aanduiding in dié dokument dat dit deel vorm van ’n projekbeleggingspromosie deur die Hong Kong Mining Exchange Company Ltd, ’n projekbeleggingsbeplanning deur (Chinese JV) SA Energy Metallurgical Investment Ltd en die Limpopo Ekonomiese Ontwikkelingsagentskap. Daar is ’n verdere aanduiding in die dokument dat die navorsing reeds in Augustus 2014 deur die Hong Kong Mining Exchange Company Ltd Research Institute of Technology gedoen is.

Die dokument bevat ’n raamwerk vir die volgende ontwikkelings:
1. Kooksaanleg
2. Steenkoolkragsentrale
3. Koolstofryke staal- en ferrochroomaanleg
4. Ferromangaanaanleg
5. Ferrosilikonaanleg
6. Vlekvryestaalaanleg
7. Kalkaanleg

Binne die konteks van die Akkerland Boerdery-onteieningsaak en die Musina-Makhado-SES-ontwikkeling is dit belangrik om kennis te neem dat daar deurgaans in die dokument na die nabye ligging van die Australiese myngroep Coal of Africa (CoAL) en Universal Coal plc verwys word.

Webblad: Energy Metallurgical Special Economic Zone Park

Bykomend tot die OIS-verslag en die metallurgiese nywerheidsone-bekendstellingsdokument, is daar ʼn webblad (www.emsez.com) wat ʼn oorsig gee van die Suid-Afrikaanse metallurgiese energie-nywerheidsone (Energy Metallurgical Special Economic Zone [EMSEZ]). Hierdie webblad bevat meer inligting, insluitend grafiese voorstellings van die verskillende aanlegontwikkelings.

Die impak op die huidige Suid-Afrikaanse staalbedryf/nywerheid

Dit is ’n feit dat die Suid-Afrikaanse staalbedryf tans onder beduidende druk verkeer en dat duisende mense in die mynbedryf hul werk oor die afgelope paar jaar verloor het.

Solidariteit het die hoofaandelehouers in die staalbedryf gekontak om meer besonderhede oor hierdie ontwikkeling te bekom – inligting van uiterste belang om die impak van die Musina-ontwikkeling op die huidige staalbedryf in Suid-Afrika te bepaal.

Uit die gesprekke het dit duidelik geword dat die aandelehouers geensins vooraf ingelig of genader is om die Musina-projek te bespreek nie. Hulle is ook nie oor hierdie kwessie geraadpleeg nie. Solidariteit het verskeie gevaartekens geïdentifiseer aangesien die gehalte van die staal wat by die Musina-projek vervaardig sal word, in direkte kompetisie sal wees met die produkte wat deur die sukkelende plaaslike staalbedryf vervaardig word. Die staalmark in Suid-Afrika en die druk op die internasionale staalbedryf het veroorsaak dat die marge waarbinne die plaaslike staalmaatskappye bedryf word, so klein geword het dat enige addisionele kompetisie in die mark sal veroorsaak dat plaaslike maatskappye nie sal oorleef nie – met die gevolg dat duisende Suid-Afrikaners hul werk sal verloor.

Plaaslike maatskappye wat hierdeur geaffekteer kan word, sluit Columbus Stainless in Middelburg in, asook Samancor Chrome in Sandton en South32. As gevolg hiervan is die kanse goed dat die gemeenskappe rondom hierdie nywerheidsdorpe in duie stort en duisende mense sonder enige (bron van) lewensmiddele agterlaat word.

Solidariteit is ook onbewus van enige studie wat uitgevoer is om die impak wat die Musina-SES op die huidige Suid-Afrikaanse staalbedryf sal hê, te bepaal.

Die verband tussen onteiening van die Akkerland Boerdery en die SES-ontwikkeling

Dit is interessant dat die onteiening van plase en die SES-ontwikkeling terselfdertyd die politieke kollig gevang en in die media skerp na vore gekom het. Dit is ook opmerklik dat ʼn deeglike studie van die OIS-verslag aan die lig gebring het dat die gelyste Akkerland Boedery-plase, Luken en Salaita, naby die beoogde SES-ontwikkeling geleë is.

By nadere ondersoek het dit ook bekend geword dat Coal of Africa die onteieningsproses op hierdie plase uitgevoer het en (toevallig?) “uitgevind het” dat die ondergrondse steenkool geskik is vir die oprig en bedryf van kragsentrales en staalfabrieke.

Die mynaktiwiteite van die Coal of Africa se nabye ligging aan die SES-projek is duidelik in die uitvoerbaarheidsondersoek opgeteken, met spesifieke verwysing na die:
• Kooksaanleg-projek;
• Steenkoolkragsentrale-projek;
• Ferromangaanaanleg-projek;
• Metallurgiese aanleg-projek;
• Staalaanleg-projek;
• Vlekvryestaalaanleg-projek; en
• Kalkaanleg-projek.

Dit wil voorkom asof die onteiening van hierdie plase direk verband hou met die steenkool wat benodig word om die Chinees geboude kragsentrale en staalfabrieke in werking te stel.

Ten opsigte van die Suid-Afrikaanse staalbedryf, is Solidariteit van mening dat:
1. Die huidige Suid-Afrikaanse staalbedryf prioriteit moet geniet om die volhoubaarheid van die bedryf te verseker en duisende Suid-Afrikaanse werkgeleenthede te beskerm;
2. ʼn Nuwe belegging of ontwikkeling in Suid-Afrika nie die bestaande staalbedryf mag vervang of ʼn parallelle bedryf skep wat die volhoubaarheid van die bestaande bedryf bedreig nie; en
3. Die Suid-Afrikaanse regering deursigtig moet optree en met álle rolspelers in die Suid-Afrikaanse staalbedryf konsulteer oor die impak van die Musina-SES op die staalbedryf.

Kommer rakende die Akkerland Boerdery-onteieningsaak

Akkerland Boerdery (Edms.) Bpk. is die geregistreerde eienaar van die plase Luken en Salaita wat die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, en Limpopo se grondeisekommissaris wil onteien. Gegrond op die Akkerland Boerdery se weergawe, het die volgende feite betreffende hierdie saak, na vore gekom: Op 28 Maart 2018 is ’n kennisgewing vir onteiening, wat deur die minister op 19 Maart 2018 onderteken is, aan Akkerland Boerdery uitgereik, wat die eienaars slegs sewe dae gegee het om die sleutels van die plase aan die staat te oorhandig. Ingevolge die Wet op Onteiening (wet 63 van 1975) word daar egter 21 dae vanaf die datum van kennisgewing gegee.

Akkerland Boerdery betwis nou die geldigheid van die grondeis. Coal of Africa het ʼn opdragstudie van die geldigheid van die grondeis deur die Museka-gemeenskap laat doen. Prof. F.C. de Beer se verslag van die bevindings van hierdie studie het ook die geldigheid van die grondeis betwis en, gegrond op feite, bevind dat die Museka-gemeenskap in die eerste plek nooit enige grondregte op die plase gehad het nie.

Met die uitreiking van die onteieningsbevel, het die minister en die grondeisekommissaris staatgemaak op die verslag en beweer dat die bevindinge daarin die onteiening geldig maak, ten spyte van en teenstrydig met die verslaginhoud. Limpopo se grondeisekommissaris het pogings van die Akkerland Boerdery om te vergader en ʼn ooreenkoms te bereik oor die geldigheid (al dan nie) van die grondeis, geïgnoreer Die regering se aanbod om slegs 10% van die plaas se markwaarde te betaal, is ʼn verdere kommer. Die minister se optrede met die uitreiking van die kennisgewing is sowel onkonstitusioneel as onwettig, omrede dit onder ʼn bedekte motief uitgevoer en aangespoor is.

Private eiendomsregte, die VN en Agoa

Solidariteit neem kennis dat private eiendomsregte, ingevolge die Universele Verklaring van Menseregte (UVMR) deur die Algemene vergadering van die Verenigde Nasies (art. 17/resolusie 217/1948) beskerm móét word.

Solidariteit erken verder dat private eiendomsregte (kragtens die Agoa-wetgewing wat deur die lande suid van die Sahara nagekom moet word) ʼn voorvereiste is om te kan kwalifiseer vir tariefvrye handel met die VSA. Die Amerikaanse Handelswet van 1974 verplig dus die Amerikaanse president om teen die begunstigdes van Agoa, wat op ʼn onwettige en onregverdige manier private eiendom onteien, op te tree.

President Cyril Ramaphosa en die ANC het openbare verklarings oor onteiening sonder vergoeding gemaak. Die beweerde onreëlmatige gedrag van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming in die Akkerland Boerdery-onteieningsaak, wat verband hou met die eienaars se betwisting van die regmatigheid en legaliteit van die onteiening, bly ’n groot bekommernis.

Solidariteit glo dat Suid-Afrika ’n risiko loop om van die voordele van die Agoa-ooreenkoms uitgesluit te word. Dit mag lei tot ’n verlies van ongeveer 70 000 direkte asook ’n verdere 75 000 indirekte Suid-Afrikaanse werkgeleenthede wat deur Agoa geskep is en handel dryf met die VSA. Die handelsbalans tussen Suid-Afrika en die VSA het voorheen ’n gesonde handelsurplus ten gunste van Suid-Afrika verskaf..

Solidariteit se posisie ten opsigte van eiendomsregte

Wêreldgeskiedenis bewys dat die skending van private eiendomsregte bygedra het tot ernstige ekonomiese agteruitgang in lande soos Zimbabwe en Venezuela, met katastrofiese gevolge vir die mense van daardie lande nadat werkloosheid en honger drasties toegeneem het.

Solidariteit dring daarop aan dat private eiendomsregte beskerm moet word in belang van die Suid-Afrikaanse ekonomie en alle Suid-Afrikaners. Die Suid-Afrikaanse regering behoort baie versigtig te wees ten opsigte van die grondhervormingsproses en moet hom weerhou daarvan om populistiese beleide, wat die ekonomie en private eiendomsregte sal vernietig, in te bring.

  • Marius Croucamp, Solidariteit se adjunkhoofsekretaris verantwoordelik vir die metaal- en ingenieursbedryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

John ·

Alles is waar, maar wat mens hartseer maak is dat die NP-regering nie nywerheidsontwikkeling meer gedryf het nie. Met al die minerale in die gebied, en dit was destyds al bekend, het sake maar net hul gang gegaan tov wildsplase en boerdery. Daar is wel groot landboubedrywighede wat lewensnoodsaaklik is, maar ‘n pennie het twee kante. Ontwikkeling kon slim geskied het. Nou gryp uitlanders letterlik die towermat onder die land se voete uit. Ja, ja duisende werksgeleenthede word altyd beloof om die mense te paai, maar ons weet wat sal gebeur. Eerder Zimmers sal in diens geneem word want hulle toi nie so baie nie en die res sal Sjinese wees. En dit alles in ruil vir die triljoene wat CR en trawante weer kan gaan blaas om troetel-staatsinstellings. En so word slimjan en sy eskader raadgewers self in die pot kookwater in ge-kierie-kwaak-kwaak…

Nita ·

So koop China vir homself nog n afsetplek vir sy bevolking. Hiermee ruk hy nog n klomp pilare uit onder ons reeds hopelose ekonomie. Khusile en medupi is nog nie eers op volle produksie nie. Nou moet van ons staalfabrieke sluit om hierdie toekomstige Chinese aanlegte te steun. En moenie dink dat Suid-Afrikaners daar gaan werk nie. Die Chinese het lankal gese dat Suid-Afrikaanse werkers soek gans te veel regte en geld in ruil vir hulle swak produktiwiteit. Weens ons wonderlike handelsbetrekkinge met ANC se Chinese vriende het vele klere en skoenfabrieke in ons land gesluit. En wie weet watter ander werksgeleenthede het al verlore gegaan, vir die Suid-Afrikaanse burgers.

marco polo ·

Jy is seker nie ernstig as jy dink China wil sy bevolking na SA stuur nie. Dit gaan alles oor besigheid en geldmaak. Ek ken nie een Chinees wat eerder in Afrika as in China wil bly nie, trouens die gemiddelde Chinees dink Afrika is n land vol arm barbare, wat maar geplunder kan word, omdat die bevolking dom genoeg is om dit toe te laat. Meeste weet nie eens daar is blankes in SA nie, want op tv sien hulle net swartes.

apie ·

Baie goeie stuk navorsing en joernalistiek. Inderdaad kommerwekkend

Theresa ·

Soos menigmaal al gesê: Dankie Solidariteit en Afriforum. Dankie dat die buiteland van die krisisse in hierdie land begin kennisneem en selfs al begin reageer.
Skelmstreke van gulsiges moet ontbloot word, in die hoop om land te red.

Pietsepan ·

Ek was al met vele uitvoerbaarheid studies betrokke en die feite wat in hierdie verslag genoem word spruit nie net uit die siening van een maatskappy nie maar uit die oorwegings van ‘n staatsdepartement. Laasgenoemde is noodsaaklik voordat ‘n bedryfslisensie toegestaan kan word. Dit is juis waar die SA regering kortskiet. Ons regeringsdepartemente is gevul met kortsigtige onkundiges.

Flip Raath ·

Ek wil graag vir al die Maroelas sê : Lees eers Charles Darwin se “Origen of Species” dan sal jy ‘n baie beter oordeel oor ons poletiek kan fel.

Charmain ·

Uitstekende stuk; baie goed uiteen gesit. Is daar moontlik ‘n Engelse weergawe beskikbaar?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.