Onteiening: ANC volg bloot Afrika-voorbeeld

afrika-vasteland-aardbol-kaart-kleur

Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Ek het onlangs namens AfriForum voorleggings by twee openbare sittings oor die voorgestelde wysiging aan Artikel 25 van die Grondwet gedoen: In Westonaria in Gauteng en Jansenville op die Oos-Kaapse platteland.

Ofskoon baie van dieselfde soort argumente by albei aangevoer is, het die trant, inhoud en toon van beide wel heelwat verskil. In Westonaria was EFF-lede in die meerderheid en hulle het baie oproerig geraak. Hulle het die inisiatief gehad en die lewe vir enigiemand wat die wysiging teengestaan het (ek inkluis) moeilik gemaak. Feitlik elke spreker het Afro-nasionalistiese slagspreuke geskreeu (soos “Afrika vir die Afrikane!”) en dit onomwonde gestel dat Afrika aan swart mense behoort en dat wit mense (en eintlik elke ander etniese minderheid) geen regte in Suid-Afrika of die wyer vasteland behoort te hê nie. Dit was vrypostige, waansinnige en luidrugtige politieke teater.

In Jansenville was dit heelwat anders. Daar was die EFF amper nêrens te sien nie en dit het ’n plattelandse, Afrikaanse atmosfeer gehad. Die boere en bruin mense was daar in die meerderheid, als het ordelik verloop en ek het sommer my voorlegging in Afrikaans gedoen (in Westonaria het die EFF die enkele Afrikaanse bydrae doodgeskreeu en die proses om te praat, was by tye heeltemal chaoties).

Ewenwel, in my bydrae het ek daarop gefokus dat indien blote grond gelyk is aan rykdom (soos die een spreker na die ander in Westonaria probeer voorgee het), sou Afrika met sy groot geografiese area en mildelike hoeveelhede vrugbare grond ten minste een van die rykste vastelande op aarde wees. Maar dit is nie. Trouens, dit is verreweg die armste vasteland en dat dit weens swak besluite en skadelike beleide (soos onteiening sonder vergoeding) is. In Jansenville is ek toegejuig toe ek dit sê; in Westonaria is dit smadelik – maar tog ook met ’n mate van implisiete erkenning – deur die EFF verwerp. Ongelukkig vir hulle is dit ’n feit wat hulle nie kan ontken nie.

Die ANC se besluit om die wysiging te steun om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak en die regering se stappe om flussies plase te begin onteien, het heelwat organisasies en ontleders kopskuddend in die war gestuur. Maar dit moet nie. Dit is bloot ’n weerspieëling van die drakoniese gedrag in die Suider-Afrikaanse streek en ook elders in Afrika.

Die diplomasie van goedkeuring

Ná die foltering van die eerste drie dekades ná dekolonisering (waarvan die 80’s die ekonomiese laagtepunt was), het Afrika in die 90’s en vroeë 2000’s goeie tekens van demokratisering, goeie regering en ekonomiese groei getoon. Helaas het dit nie voortgeduur nie en Afrika is vandag steeds grootliks die onvryste kontinent ter wêreld. Moenie geflous wees deur ritualistiese verkiesings – wat pal deur ernstige onreëlmatighede gekenmerk word – nie.

Die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) het onlangs ’n stewige dosis soberheid tot die gronddebat bygedra. Hulle het aangevoer dat die ANC nie na Zanu-PF met afgryse kyk nie, maar dit eerder bewonder vir hoe dit ná bykans 40 jaar steeds aan bewind is. Dieselfde kan van ander bevrydingsbewegings in Afrika, soos Frelimo in Mosambiek, MPLA in Angola en Swapo in Namibië, gesê word. Almal van hulle regeer al vir dekades, hoewel groot uitdagings hulle in die gesig mag staar en hulle derhalwe benoude spronge laat maak. Juis oor hierdie rede het hulle onlangs positiewe kosmetiese veranderinge in werking probeer stel of ten minste lippediens daaraan bewys, maar hul dade het egter die teendeel bewys.

Veranderinge aan die uitvoerende gesag in Suider-Afrika het as’t ware slegs binne die regerende party gebeur. Cyril Ramaphosa het vir Jacob Zuma in Suid-Afrika vervang, Emmerson Mnangagwa vir Robert Mugabe in Zimbabwe, Hage Geingob vir Hifekepunye Pohamba in Namibië, Felipe Nyusi vir Armando Guebeza in Mosambiek, en João Lourenco vir Eduardo dos Santos in Angola. So word die klug van vernuwing voortgesit terwyl ware verandering ’n chimera bly.

Zimbabwe is weer eens ’n berugte teksboekvoorbeeld. Die verkiesing daar in Julie is gekenmerk deur intimidasie, grootskaalse ongerymdhede wat die kiesersrol betref en die inspan van staatshulpbronne om Zanu-PF te bevoordeel. Internasionale waarnemers is hartlik uitgenooi en die Afrika-Unie (AU) en Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) was tevrede met hoe die verkiesing verloop het. Die Europese Unie (EU) en Amerikaanse waarnemers was hoegenaamd nie. ’n Regering kan nog subtiel met kiesersrolle lol, maar hulle kan moeilik vandag die aanranding en moord van opposisie-ondersteuners regverdig en wegsteek. Voor die verkiesing het Mnangagwa reeds twyfelagtige skuiwe gemaak, soos om generaals en berugte Zanu-PF-veterane in sy kabinet aan te stel terwyl hy die polities ontmande wit boere terugverwelkom.

Eerder as wat die aanvalle en moorde veroordeel is (al is dit net sydelings), het die SAOG en Afrika-leiers bloot stilgebly of selfs die optrede verdedig. Geingob (met korrupsieklagtes teen hom), het uitgevaar jeens die Weste oor hul vermeende houding teenoor Afrika. Volgens hom word daar eise aan Afrika gestel wat nie aan ander state en kontinente gestel word nie. Dit is ook belaglik dat Amerika slegs twee partye het wat albei dieselfde filosofie aanhang en dat jy nie vir kommuniste daar kan stem nie, aldus Geingob.

In Tanzanië het die regerende party die VSA gekap oor daar bloot kommer oor onlangse tussenverkiesings uitgespreek is. Volgens hulle is Tanzanië ’n onafhanklike staat wat nie geïntimideer sal word nie. In Mali het duisende opposisie-ondersteuners betoog weens beweerde ongerymdhede in die presidensiële stryd. Die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) se verkiesing gaan niks anders as ’n bevestiging van die regerende party se mag wees nie – al het die diktatoriale pres. Joseph Kabila aangedui dat hy nie weer verkiesbaar sal wees nie.

Afrika vir die tiranne!

Die filosofie en praktiese uitwerking van die slagspreuk “Afrika vir die Afrikane” en dat Afrika vir homself al vir dekades baie lae standaarde stel, is uiters problematies en lê by die wortel van Afrika se langdurige ellende. Eerder as wat dit in die praktyk werklik “Afrika vir die Afrikane” word, het dit eerder uitgeloop op “Afrika vir die tiranne”. Afrika-leiers het hardnekkig en nolens volens aan mag vasgeklou – baie keer met die skyn van vry en regverdige verkiesings – en eksterne inmenging afgeweer sonder dat die bevolkings ooit die postkoloniale vrugte kon proe.

Lees gerus Paul Kenyon se Dictatorland: The Men Who Stole Africa vir die jongste historiese blik op hierdie onomstootlike waarheid.

En as almal dit per slot van sake doen, kan niemand vingers na mekaar wys of teen ongeregtigheid optree nie. Dit is hoekom daar tans geen stem uit Afrika opklink oor onteiening sonder vergoeding nie en Ramaphosa nie vir enige teenreaksie daaroor vanuit Afrika hoef te vrees nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Eugene Brink

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ’n strateeg en politieke ontleder.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Willem

Hindsight (nabetragting) leer ons nou dat JvR moes nooit aan die suidpunt van Afrika geland het nie.

Redes

Afrika is presies die plek wat Trump gese het dit is – en dit sal altyd so bly.
Daar is verskeie redes daarvoor en ons ken die redes maar alte goed.

Ploegskaar

Boere moet grond gebruik om vir onafhanklikheid te onderhandel want hulle sal veilig wees daar.

leon

Alles waar maar die wereld krimp by die dag. Korrupsie en tirannie van Afrika despote sal in die toekoms gelukkig minder en minder word. Neem Trump se tweet. Onmiddelik moet die anc bontstaan om te verduidelik. Afrika het nog lang pad om te loop maar vergrype kan nie meer vir dekades weggesteek word nie.

Jerry

Afrika is vasgevang in n kringloop. Dit is n kringloop wat nader aan voltooi is as wat ons besef. Westerlinge ervaar dit as n bose kringloop terwyl Afrikane dit as bevrydend ervaar. Hoe dit ookal sy, boosheid of bevrydend, geregtigheid sal self sy prys opeis aan die einde van die kringloop en dit sal gebeur met of sonder die Afrikaner.