Onteiening, ‘Disrupted Land’ en die IRV

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum. Foto: Rozier van Tonder

Die voorstanders van onteiening sonder vergoeding poog hard om die immoraliteit van om iemand se eiendom te vat sonder om daarvoor te betaal, te regverdig met die verkondiging ʼn mite – dat alle wit mense gronddiewe is wat alle grond wat hulle besit, van swart mense gesteel het. Om onteiening sonder vergoeding doeltreffend te beveg, is dit dus noodsaaklik dat die voorstanders van eiendomsreg die mites wat oor grondbesit bestaan, met feite weerlê.

Dit is binne hierdie konteks dat Forum Films, in samewerking met AfriForum, die dokumentêr Disrupted Land vervaardig en op YouTube geplaas het, sodat soveel moontlik mense dit gratis kan sien.

In die dokumentêr word feite met verwysing na tyd en plek gegee oor die geskiedenis van grondbesit in Suid-Afrika. Daar word daarop gewys dat die Khoi-San voor wit en swart mense hier was, dat stamoorloë soos die Mfecane groot dele van die land onbewoon gelaat het, dat verdrae tussen die Voortrekkers en tradisionele leiers gesluit is om grond te bekom, dat daar in baie gevalle samewerking tussen die Voortrekkers en tradisionele leiers was en natuurlik ook dat daar voor en tydens apartheid verskeie voorbeelde is van waar onregte teenoor swart mense gepleeg is.

Forum Films het moeite gedoen om onderhoude met ’n wye verskeidenheid mense met verskillende sienings oor die geskiedenis en grondbesit by die dokumentêr in te sluit. ’n Onderhoud is selfs met die BLF gevoer. Die aard van ’n dokumentêr is juis om ’n verskeidenheid standpunte weer te gee, sodat die kykers self kan besluit wat hul standpunt is. Dit is daarom jammer dat die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV), as instelling wat daarop roem dat alle standpunte – selfs dié waarmee jy verskil – gehoor moet word, slegs een standpunt waarmee hulle nie saamstem nie, gebruik het om die dokumentêr in sy geheel te probeer diskrediteer.

AfriForum glo in openheid en dat alle standpunte gehoor moet word. In die lig hiervan respekteer AfriForum die IRV se reg om te verskil met ’n bydrae tot die dokumentêr se standpunt en die wyse waarop dit aangebied is. Ek persoonlik verskil byvoorbeeld ook met verskeie uitsprake van mense met wie onderhoude in die dokumentêr gevoer is, soos byvoorbeeld die BLF se standpunt dat kommunisme die oplossing vir Suid-Afrika bied. Indien die IRV se logika tot sy volle konsekwensies deurgevoer sou word, sou die IRV ook vir AfriForum daarvan kon beskuldig dat ons kommunisme ophemel, omdat nie al die negatiewe gevolge van kommunisme in die dokumentêr uitgebeeld word nie.

Die IRV se aanval op AfriForum onderstreep ongelukkig dat daar min ruimte vir genuanseerde debat en uiteenlopende standpunte in Suid-Afrika is en dat niemand dit durf waag om ’n alternatiewe standpunt tot die heersende orde se siening van die verlede te gee nie. Dié wat dit durf waag, word summier verguis en valslik as apartheidsapologete gebrandmerk. Dit is ’n feit dat apartheid gelei het tot die skending van mense se waardigheid. Gedwonge verskuiwings was ’n onreg en onderdrukkend. Dit behoort egter nie te beteken dat dit taboe moet wees om enigsins alternatiewe standpunte tot die heersende denke daaroor by ‘n dokumentêr in te sluit nie.

Die ongenuanseerde kritiek wat die IRV op AfriForum en die dokumentêr gelewer het, hou nie net nadelige gevolge vir albei organisasies in nie, maar dit verswak in wese die saak van diegene wat veg vir die behoud van eiendomsreg.

Die bona fide-poging om te wys dat die geskiedenis van grondbesit in Suid-Afrika meer kompleks is as om wit mense bloot as gronddiewe voor te hou, word nou met die IRV se hulp valslik afgemaak as ’n poging om apartheid te verdedig. Dit word onderstreep deur die feit dat die IRV se aanval op AfriForum geskied het onder luide applous van ANC-politici wat onteiening sonder vergoeding voorstaan.

Die Gautengse LUR Panyaza Lesufi het byvoorbeeld met groot genot op Twitter gesê “Thanks IRR for taking a stand!” Die valse vooroordele wat geskep is, rakende die dokumentêr, het die tafel gedek vir Lesufi om selfs die verwysing na dr. Verwoerd as ’n “filosoof” af te maak, as ’n poging om Verwoerd te verheerlik. Dit, ten spyte van die feit dat Verwoerd wél filosofie en sielkunde studeer het. Die verdraaiing van die term filosoof om as aanduiding van apartheidsverheerliking te dien, wys hoe min ruimte daar vir enige genuanseerde debat oorgebly het.

Die IRV het hom gewend tot dieselfde kwaadwillige strategie wat sy linkse opponente so graag teen hom gebruik, naamlik om bepaalde feite doelbewus te ignoreer of selfs te onderdruk om hul eie verdraaide argument te versterk. ’n Mens kan net spekuleer oor die IRV se motiewe agter sy aanval op AfriForum. Wat ons wel weet, is dat die IRV die afgelope tyd erg deurgeloop het onder ongeregverdigde kritiek vanuit linkse kringe oor sekere van die IRV se standpunte.

Die IRV se aanval op AfriForum het ook plaasgevind op die vooraand van ’n debat waaraan die IRV saam met David Bullard deelgeneem het. Die IRV is valslik daarvan beskuldig dat hy hom by “rassiste” skaar deur met Bullard in gesprek te tree. My indruk is dat die IRV besluit het om AfriForum aan te val in ’n poging om homself beter te posisioneer te midde van hierdie aanvalle. Hierdie strategie is egter nie vir AfriForum iets nuuts nie, aangesien daar ook ’n paar Afrikaanse kommentators is wat gereeld ongeregverdigde aanvalle op AfriForum van stapel stuur in ’n poging om hulself meer aanneemlik te maak in die oë van die regerende elite.

Alhoewel AfriForum, anders as die IRV, ook minderheids- en gemeenskapsregte wil bevorder, is daar raakpunte tussen die organisasies se sienings oor die belangrikheid daarvan dat, onder meer, individuele regte, eiendomsreg, die vrye mark, die oppergesag van die reg en persvryheid beskerm moet word.

Ek persoonlik en AfriForum het groot waardering vir die goeie werk wat die IRV in dié verband gedoen het en steeds doen. Die IRV speel ’n belangrike rol. Dit is om hierdie rede dat ek diep teleurgesteld is dat die IRV nou skynbaar geswig het voor die heersende orde se onverdraagsaamheid teenoor enigiemand wat dit waag om ’n alternatiewe standpunt te stel.

Tog is ek ook dank aan die IRV verskuldig, aangesien die omstredenheid wat hy geskep het, gehelp het dat duisende mense reeds na die dokumentêr op YouTube gekyk het. Hopelik sal dit help om gesonde debat te stimuleer, waar groter ruimte vir uiteenlopende standpunte geskep word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Tom ·

DNA toetse het ook getoon dat die Koisan van die Midde-Ooste afkomstig is. Hulle is dus ook nie-Afrikane. ‘n Deel van hulle het na suidelike Europa getrek.

Hierdie toetse vernietig heelwat vroeë teorieë ook die beweging van groepe en toon dat rasse’ n denk konstruksie is en nie ‘n biologiese nie!!

Gert ·

Ek verskil ten sterkste met Tom. DNS toetse herbevestig oor en oor dat ras alles behalwe ‘n “konstruksie” is, maar ‘n absolute biologiese werklikheid.

Snowball ·

Daar is tans in SA geen verdraagsaamheid teenoor enige standpunt wat verskil van die huidige regering en sy pion die EFF nie; eiendomsreg, individuele regte, persvryheid, ‘n vrye mark stelsel en die oppergesag van die reg word telkens verguis ter wille van ‘n narratief wat swartes verhef bo alle ander rasse, waar wetgewing en uitsprake (wat leuens soos gronddiefstal insluit) teen minderheidsgroepe ‘n boodskap verkondig dat alles swart nou baas is, en alles anders is klaas, en as jy daarteen skop, word jy as ‘n rassis gebrandmerk. In my opinie het die IRV ‘n treurige bydrae gelewer tot die bevordering van enige rasverdraagsaamheid.

John ·

Volgens ou geskrifte van seereisigers en ontdekkers is van die matrose wat buite beheer raak met ‘n paar skaap op land agter laat bly. Skrywers bv Prinsloo (baie insiggewend) verwys na van die sendelinge wat swartes uit Lesotho aangepor het om wit plase langs die Caledon te beset of af te brand. Goewerneur Gray het die saak ondersoek en die plase teruggegee. Nie alle kerklikes is eerbaar nie.

Jerry ·

Ons waarheid, hulle waarheid en die waarheid. Alles wat ons onsself toegeeien het en bewaar het vir ons nageslagte word nou opgeeis deur hulle. Ons bied weerstand deur mure te bou, mure wat net so kan verkrummel soos dit wat ons vir ons nageslagte bewaar het. Ons taal het begin sneuwel en daarmee saam ons waarheid. Iewers langs die pad gaan ons moet begin besef dat ons sekere kompromiee sal moet aangaan om nie ons hele waarheid te laat verkrummel nie. Ons is ons eie grootste vyand om ons waarheid en ons mense so aanhou bloot te stel vir ander se wraak terwyl ons laaste muur/vesting teen vergelding, die onafhanklikheid van die regbank, voor ons oe verkrummel!

willem Botha ·

Ek het die volledige video gesien,baie insiggewend en ek verstaan nou baie beter,as die hele land se bevolking die waarheid soos dit is moet leer en kan verstaan dan kan die land vorentoe beweeg maar die politieke partye VF+,cope,christian party uitgesluit sal dit nooit toelaat nie.

Cornelia ·

Mnr. Kriel, al u skrywes getuig van ‘n diepte in denke, insigte, wysheid en versiendheid. Dat nie almal wat reageer op u en Afriforum se kosbare insette en stryd teen verplettering van volkseie oorlewing op elke gebied, goedgesindes met ‘n eerlike en gebalanseerde begrip vir dié stryd is nie, is maar so oud soos die mensdom self. Dat u die regte fondasie lê is ‘n rede tot dankbaarheid en oorwinning ongeag die teenpole wat met ander agendas hulleself laat geld. Agendas wat so onherkenbaar geword het dat ‘n mens asem ophou vir die tragedies waarop dit afstuur en reeds in ‘n pad van ongekende verwoesting ‘n geskiedenis geskryf het wat die “Trots van verwoesting” heet. Moet ‘n mens hierdie gees paai en oorsien? Debat gee ‘n geweldige losgemaal af. Dit lei dikwels van “loskrum” tot “loskrum” sonder dat op ‘n aanvaarbare plan van aksie beslis word. Doen wat u doen met die wete dat u nie anders kan as om op die spoor te bly van nugter en suiwer denke en doelwitte nie. Die res is ongewensde maar onvermydelike “bagasie.” Dankie dat u so rotsvas bly.

Judge Dredd ·

Doen so voort Afriforum – julle en Solidariteit is die enigste wat nog iets doen vir die minderhede.

Hendrik ·

Is dit nie nou tyd dat daar vaste grond onder ons voete kom nie? Daagliks gesels mense en so ook sosiale media dat die oplossing is om vaste grond of nuwe vaste grond te kry. Die Adrikaner moet ‘n groot gedagte skuif gemaak en dit is groot en selfs groter as die skuiwe wat die Afrikaner in die verlede gedoen het. Hierdie gedagte skuif is oor ons hele Afrikaner bestaal wat alles insluit van opvoeding, werkverskaffing, besigheid, veilighied,konsentrasie ens. Die IRV het ons bewus gemaak van die verskillend senarios in die toekomstige S.A waar jy jou in daardie senario moet beveilig en oorleef. Hierdie laaste Verwoed sensitiwiteit het ek nie verwag van die IRV nie en my weer laat besef dat dit wat Afriforum doen is goed maar dat ons na die volgende stap moet oorgaan om oorlewing van die Afrikaner te verseker. Enige iemand (man/vrou) om hierdie massiewe belangrike taak te koordineer?

Therese van Schalkwyk ·

Skitterend verwoord.
Die IRV se moontlike reaksie hierop, asook die meer waarskynlike gebrek aan terugvoering, sal dopgehou word.
Opmerklik ook dat die gewilde “Politicsweb” die naam AfriForum onlangs weggelaat het by sy soekafdelings: AfriForum, Berger, Bullard, Gordon ens.
Teleurstellende verwikkelinge inderdaad. Veral nadat Terence Corrigan (IRV) onlangs gesê het: ” Appeasement had not proved to be an effective response” …

Johanna Botha ·

Ek het vir alles betaal en sit met die akte in my hand

Jean van Rensburg ·

In n tyd soos die waar rasse haat teenoor die wittes onder die mat ingevee word staan Afriforum voorop om te veg vir ons regte…wat bestaan maar omdat jy wit is,word jy dit op elke moontlike manier ontse.
Wat gaan aan met die rassis lesufi,watse haat bly hy aanblaas, plaas daarvan om sy werk te doen.
Laat hy na die oorlogsvelde by sy skole kyk,minagting in sy klaskamers in skole wat uitmekaar val,waar geen leerder of onderwyser meer veilig is nie,nee hy sit met sy haat en nyd .Wonder hoekom? Het hy dalk iets om oor bekommerd te wees? Salute mense wat nie weet wat aangaan nie, wys jou die tipe intelligensie wat in hoe poste sit…weet net mooi niks en stel nie belang om te leer nie…dankie Afriforum.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.