Onteiening en moorde: Moenie neul oor AfriForum se teenreaksie

Kallie Kriel, AfriForum se uitvoerende hoof, en Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, tydens hul besoek aan die VSA (Mei 2018). Foto: Twitter via @ErnstRoets

Kallie Kriel en Ernst Roets van AfriForum het onlangs na Amerika getoer om sekere ernstige probleme in Suid-Afrika met, onder andere, meningsvormers en prominente media te bespreek. Hierdie probleme is plaasmoorde en die beskerming van eiendomsreg, wat nou die onderwerp is van die voorgestelde mosie oor onteiening sonder vergoeding en deur ’n moontlike wysiging van die Grondwet wat in die gedrang kan kom. Derhalwe is dit aan die groot klok gehang en dit het ’n groot herrie in Suid-Afrikaanse regeringskringe en in die plaaslike media veroorsaak.

Dit het een van die groot wetmatighede in die lewe weer eens bevestig: Die grootheid, betekenis of prominensie van ’n daad gaan ’n gelykmatige reaksie uitlok (hetsy positief, negatief, of albei). Dienooreenkomstig gaan ’n sekere reaksie ook ’n gelykmatige teenreaksie uitlok.

Onaanvaarbaar in ’n normale samelewing

Soos verwag, het die linkse media, die regering en heelwat pseudo-intellektuele natuurlik afwysend gereageer op hierdie toer. Pieter du Toit van HuffPost SA se uiters ongesonde obsessie met AfriForum het in gereelde (asook lang en vervelige) tirades gestalte gekry. Prof. Adam Habib van Wits het sonder skroom vir Kriel en Roets met Hitler en Idi Amin vergelyk en boonop vir John Bolton, die Amerikaanse nasionale veiligheidsraadgewer (’n pos wat al deur mense soos Henry Kissinger en Colin Powell beklee is) en voormalige VN-ambassadeur wat saam met die AfriForum-lede vir ’n foto geposeer het, as ’n fascis uitgekryt.

Die presidensie het in swak Engels en in ’n sydelingse toespeling op die onderhawige toer op Facebook gevra dat diegene wat besig is om “internasionale veldtogte teen Suid-Afrika te voer”, huis toe moet kom dat daar oor die grondkwessie gepraat kan word. Lindiwe Sisulu, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het AfriForum daarvan beskuldig dat ons rillerstories oor die land versprei. Sy het ook aangevoer dat ons die situasie oordryf en nie self met oplossings vir die grondkwessie vorendag kom nie – en tewens nagelaat om te noem dat hulle as regering vir byna ’n kwarteeu klaaglik daarin misluk het en nie ruim hoeveelhede staatsgrond en titelaktes aan swart boere wil gee nie. Ons is ook allerweë daarvan beskuldig dat ons eerder plaaslik aan die proses moet deelneem – wat ons natuurlik ook besig is om te doen, maar dit maak nie altyd dieselfde opslae as om met bekendes in die VSA te ontmoet nie. In sekere kritici se ivoortorings vol volslae fiksie, drogbeelde en halwe waarhede is dit net te gerieflik om dit skeef uit te beeld as om uit te vind wat die waarheid is of dit te verkondig.

So kan dit aangaan en aangaan en ek het nie genoeg ruimte om al die kritiek uiteen te sit nie. Baie daarvan is bloot net suur druiwe oor die sukses van die hele toer en toe is talle strooipoppe en versinsels vervaardig om dit te diskrediteer.

Daar was, uiteraard, ook ’n geweldige positiewe reaksie – ook vanuit die media, maar meer belangrik, uit groot en diverse segmente van die Suid-Afrikaanse publiek.

Die kruks van my boodskap is dat dit nie nodig sou wees om die wêreld oor hierdie probleme en bedreigings in te lig indien daar nie in die eerste plek groot probleme en bedreigings was nie. Indien ’n staat een van sy primêre pligte jeens sy burgers versaak – soos om hulle veilig te hou – is dit die burgery se plig om iets (binne morele perke natuurlik) daaraan te doen. En as jy ’n mosie dryf om eiendom sonder vergoeding te onteien, is jy besig om die hele land in rampspoed te dompel. Dink jy regtig daar gaan dan geen teenreaksie wees as mense hul eiendom aan die staat verbeurd moet verklaar sonder vergoeding nie? Of as ons vermoor word nie? Sisulu het eintlik implisiet in haar tirade erken dat daar probleme in Suid-Afrika is, maar dat dit net nie oordryf moet word nie. Om mense se eiendom te vat sonder om hulle daarvoor te vergoed, is loutere diefstal. Dit, sowel as plaasmoorde, is tereg ’n rillerstorie wat vertel moet word, want dit is katastrofaal en onaanvaarbaar in enige normale samelewing.

Internasionale spelreëls aan’t verander

Nog ’n voorbeeld is gepas en dit het niks met AfriForum te doen nie. Pres. Donald Trump se administrasie het onlangs heffings op staalinvoere vanaf Suid-Afrika ingestel en gedreig om hulpverlening te sny omdat Suid-Afrika pal teen die VSA en sy belange in die Verenigde Nasies (VN) stem. Suid-Afrika, saam met diktature soos Noord-Korea en Kuba, is onder die top10-state wat die minste saam met die VSA in die VN stem.

Die ANC en die regering het gedink hulle kan aanhou om die Weste te beswadder en kant te kies teen veral Amerika, terwyl die Weste se politieke korrektheid en fokus op handel altyd sal verseker dat die geld bly vloei. Trump se verkiesing het die spelreëls begin verander en nou moet Suid-Afrikaners die pyn voel van die ANC se gevaarlike besluite.

Wie weet wat kan nog verander indien die ANC en regering aanhou om die Weste te treiter en vervreem? Die gety is beslis besig om te draai.

AfriForum wil bloot keer dat Suid-Afrika en Afrikaners nóg pyn moet verduur. Daarom moet die regering, en wie ook al plaasmoorde en eiendomsreg gering ag of selfs ondersteun, altyd gereed maak vir ’n teenreaksie. Om te neul daaroor, gaan ons nie laat weggaan nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Valerie ·

‘n Puik stuk werk van die skrywer. Stuur tog asb. vir die Afrikaanse stasie RSG ‘n kopie….hulle het dit bitternodig.

Willeman ·

“First they ignore you, then they laugh at you, then they fight you, then you win.”

-Mahatma Gandhi

rollie ·

As jy wilde stellings kwytraak op internasionale tv soos dat 60 plaasmoorde per jaar gelykstaande is aan 2 plaasmoorde per week, kan jy verwag dat mense jou gaan beskuldig daarvan dat jy oordryf.

Anoniem ·

Ek dink jy moet weer mooi gaan luister Afriforum grond hulle syfers op feite en werk like syfers. Dis nie sommer uit die lug gegryp nie

rollie ·

Die werklike, amptelike statistiek is gemiddeld 60 plaasmoorde per jaar. Roets verkondig dis 2 per week m.a.w 104 per jaar (52 weke). Neem verder in gedagte dat die amptelike syfer plaasmoorde op alle rasse insluit. Sowat 15% is swart slagoffers wat dan die getal op ongeveer 52 vir wit slagoffers bring, net mooi 1 per week. So in kort – tensy Afriforum kan bewys dat die amptelike statistieke verkeerd is, oordryf hulle.

Maro ·

Rollie, ja ek hoop van harte dat die FEITE korrek deurgegee word deur Afriforum, anders skiet hulle hulself in die voet…
Daar gelaat jy kritiseer so maklik. Wees eerder dankbaar dat iemand opstaan, die regeering doen net mooi niks aan die moorde in die land nie. Hoekom bly jy dink dis verkeerd om vir jou eie mense op te staan? Ek respekteer dit sou al die kulture eeder sê kom ons almal staan saam, ook fondse bydra…en ook met ñ plan van aksie na vore kom….maar nee, ek sien dit ook nie gebeur nie.

Marthinus Willemse ·

John Bolton is `n oorlogsugtige, wat nie glo aan demokrasie, menseregte, vryheid van keuse nie. Hy was skaars in die Withuis, toe word Trump oorreed om Sirië te bombardeer. Trump en Bolton saam kan `n wêreldoorlog ontketen.

Sumari ·

Dankie vir hierdie mense se oortuiging en dapperheid, die waarheid maak seer en daarom die gekerm en gejil uit sekere oorde. Sien die reaksie as n teken dat Afriforum op die regte pad is.

Anton ·

Pragtig Afriforum en Solidariteit. Hoe so aan. Hoë bome vang die meeste wind.

Anton ·

Ja Rollie, hoekom noem jy ook nie dat met plaasaanvalle daar meerendeels meer as een slagoffer is nie. Dat kinders en vroue ook wreedaardig verkrag word nie. Dat onmenslike marteling gewoonlik daarmee gepaard gaan. Dat jy en die regering dit wil afwater na bloot syfers. Dat die anc regering nie spesiale aandag wil gee aan die drog situasie nie. Dit is tog heel maklik, die wet moet se dat as jy n plaas aanval of enige van die werkers en boere daarop benadeel gaan jy lewenslank tronk toe waar hulle jou met kettings om jou voete sal werk totdat jy dooi van harde werk.

Net tot ·

Ek stem Anton en ja net tot Rollie of sy mense met gesmelte warm plastiek, n strykyster of kokende water gemartel word wanneer hy/hulle net hulle pleit vir oorlewing in hul eie hard voor gewerkte eiendom. Dan sal Rollie verstaan, ek glo ook dit is naby, want dit gebeur noual daagliks, dan kyk ons nog of hy kerm…..

Paul ·

Eugene, dit lyk my die uiteinde sal wees dat julle die ding in die hof sal moet gaan uitbaklei, Ramaphosa en die ANC is adament dat daar nie ‘n manier is dat hulle dit nie sal doen nie, soos per Cyril se toespraak gister, hy het die baie duidelik uitgespel, ook dat hulle dit sal moet doen vir die behoud van die ANC, daar is nie omdraai kans nie.

Henry ·

Dankie Eugene Brink, Kallie Kriel, Ernst Roets en al die ander ysters van Afriforum!!!

Uiteindelik doen julle dapperes wat ‘n hele spul van ons oorblewendes reeds laaaaankal voor pleit.

Sluit volgende keer sommer die groot korporasies en hul hoofde in. Die piete wat biljoene Rande in hierdie droewe land belê. ‘n Regering wat met uitgediende marxistiese beginsels, endemiese korrupsie en geweld nog ‘n Afrika staat aan’t vernietig is. Dink aan Mercedes Benz, Volkswagen, die Japanese…ens ens.

Soos Eugene Brink, sê ons ook dat julle tog nie moet ag slaan op die gewone en bekende vyande van die waarheid nie. Soos Kallie Kriel vandeesweek op RSG bewys het, is die waarheid wat julle verkondig, goed genoeg om die temende en baie bekommerde vyande se paniekerige pogings as benoude bokspronge te ontbloot.

La’waai meraai!!!

Oom Kalahari ·

Afriforum, jul is ‘n ster en mag maar bly bler. Trots op jul.

Anton Senekal ·

Kan hierdie uitstekende artikel dalk ook in Engels vertaal word sodat ‘n wyer leserspubliek ook die feite kan verneem?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.