
Foto: Reint Dykema
Deur Armand Greyling en Stefan Pieterse
Die Wetsontwerp op Onteiening is sekerlik een van die gevaarlikste wetsontwerpe sedert die aanbreek van demokrasie in Suid-Afrika. Dit magtig onteiening van enige bate van enige persoon solank dit maar in openbare belang of openbare doel volgens die staat is.
Die parlement se Nasionale Vergadering het amptelik op 23 Februarie 2016 hierdie wetsontwerp aanvaar, wat beteken dat die volgende drie stappe nou nodig is voordat die wetsontwerp ʼn geldige en afdwingbare wet sal word, naamlik:
- Die debattering en aanvaarding van die wetsontwerp deur die Nasionale Raad van Provinsies;
- Aftekening deur die president;
- Promulgasie in die staatskoerant.
(Die wet tree gewoonlik in werking op die datum waarop dit in die staatskoerant gepromulgeer word, maar die president mag dit in ʼn latere stadium eers in werking laat tree.)
Volgens AfriSake kan die Wetsontwerp op Onteiening binne die volgende twee maande wet in Suid-Afrika word.
Die wetsontwerp in sy huidige formaat beoog om grond te onteien op grond van die openbare belang of openbare doel. Openbare belang is breed onderhewig aan wye interpretasie. Openbare doel is meer spesifiek en nouer. Onteiening kan egter ingevolge albei plaasvind volgens artikel 25(2)(a) van die Grondwet.
Volgens artikel 25(1) mag niemand eiendom ontneem word nie, “behalwe ingevolge ʼn algemeen geldende regsvoorskrif, en geen regsvoorskrif mag arbitrêre onteiening van eiendom veroorloof nie”.
Artikel 25(4)(b) van die Grondwet bepaal spesifiek dat eiendom nie tot grond beperk is nie.
Die gevolge hiervan is dat die wetsontwerp in sy huidige formaat ook ʼn persoon se aandele in ʼn maatskappy, intellektuele eiendom soos patente en enige ander roerende of onroerende mag insluit; solank dit maar vir ʼn openbare doel of in openbare belang plaasvind.
Ook Suid-Afrika se armste mense kan hierdeur benadeel word, byvoorbeeld waar die houers van regte in eiendom soos plaaswerkers aan wie okkupasieregte toegeken is, onteien kan word.
Die grootste teikens van die Onteieningswet sal volgens AfriSake boere met plase wees; veral groot plase. Plase sal onteien kan word onder “openbare belang” om grondhervorming te bevorder volgens artikel 25(4) van die Grondwet, wat ʼn groot gevaar vir voedselsekerheid in Suid-Afrika sal inhou, veral in die lig van die groot droogte wat boere tans ervaar, en ook omdat van Suid-Afrika se grootste boerderye die meeste bydra tot ons voedselsekerheid.
Volgens artikel 25(3) van die Grondwet moet die vergoedingsbedrag “regverdig” en “billik” wees en ʼn ewewig gevind word tussen die openbare belang en die belange van diegene wat geraak kan word, met inagneming van onder meer die volgende faktore: huidige gebruik van die eiendom; die geskiedenis en die verkryging van die eiendom; markwaarde van die eiendom en die doel van die onteiening.
Goeie nuus is dat die wetsontwerp nou ʼn bepaling bevat in artikel 21 (wat dit nie voorheen bevat het nie), naamlik dat grondeienaars wel die onteiening in ʼn hof mag betwis.
Elke feitestel het sy eie meriete, en moet deur die hof getoets word om sekerheid oor eiendomsregsekerheid in SA te verkry. AfriSake sal sy lede bystaan om met verskeie hofsake die grondwetlikheid van die nuwe wetsontwerp te toets.
- Armand Greyling is regs- en beleidsanalis by AfriSake en Stefan Pieterse is die organisasie se woordvoerder.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
23 Kommentare
Kom ons noem ‘n ding by sy regte naam “Diefstal deur meerderheidstemming”
Net soos destyds in Zimbabwe met die verskil dat die universiteite nou gebrand word en nog nie die plase nie. Dis seker nou maar ‘n keuse van skiet of trek.
Al die vreeslike WETSONTWERPE, hulle kan nie eers E-TOL toepas nie.
Ja nee onteien sommer nkandla eerste. Oor my dooie liggaam. Onteien plase sommer net en ons gaan dit maar met patrone betwis. As jy nou oorlog soek moet jy dit maar doen Zuma. Pasop waarvoor jy vra ne.
Vat maar jong dit gaan my nie armer maak nie,my rykdom is in my siel dis maar net n tydelikke lewe die, Dit sal my net nog nader aan die Here bring kyk maar of dit vir julle meer geluk gaan bring.