Onteiening sonder vergoeding en die ANC se semantiese bedrog

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum. Foto: Verskaf

In die postwaarheidsera het dit belangrik geword om nie net seker te wees dat ons die regte woorde gebruik om te sê wat ons bedoel nie, maar ook dat ons nie om die bos gelei word deur gonswoorde wat mooi klink, maar as ’t ware iets anders beteken as wat dit voorgee nie.

Die politieke wetenskaplike Francis Fukayama het gesê dat daar bykans soveel definisies vir die woord “demokrasie” is as wat daar prokureurs is. Dit is ook waar van vele ander gonswoorde. ’n Gonswoord is ’n term wat algemeen gebruik word; sou ’n mens egter vir twintig mense vra wat hulle daarmee bedoel, sal jy waarskynlik twintig verskillende antwoorde kry. Daar is mooi gonswoorde soos “versoening”, “nasiebou” en “demokrasie”, maar daar is ook lelike gonswoorde soos “rassisme”, “bevoorregting” en “apartheid”.

Daar is waarskynlik geen gonswoord wat tans meer in Suid-Afrika rondgeslinger word as die woord “grondhervorming” nie. Min mense is bereid om hulle daarteen uit te spreek omdat dit algemeen as ’n positiewe term beskou word. Die gedagte is dat grondhervorming ’n goeie ding is omdat dit ten doel het om ’n fout of wanbalans reg te stel. Aan hierdie term kleef daar natuurlik ’n reeks ander gonswoorde soos “regstelling”, “restitusie” en “herverdeling”.

Dit is eerstens belangrik om te besef dat restitusie en herverdeling twee teenstrydige konsepte is. Restitusie gaan oor die regstelling van ’n fout. Met betrekking tot die grondkwessie behels restitusie ’n grondeiseproses waarvolgens grondeisers moet kan bewys dat daardie grond aan hul voorouers behoort het en dat dit op onregmatige wyse van hulle ontneem is. So ’n proses behoort ten minste in beginsel ondersteun te word, natuurlik op voorwaarde dat dit feitelik en sonder korrupsie verloop. Daarteenoor beteken herverdeling in die praktyk dat die ras van ’n grondeienaar bepalend is of daardie persoon ’n legitieme eienaar is. As jou vel wit is, is jy in die moeilikheid. As jou vel swart is, is dit jou gelukkige dag. Dit is ’n proses wat inherent rassisties is en waar die geskiedenis van die betrokke stuk grond irrelevant is. Dit is dus ’n proses wat deur enige rasionele mens teengestaan moet word.

Tweedens is dit belangrik om die nuwe gonswoord “onteiening” ook te verstaan vir wat dit is. Onteiening – en veral onteiening sonder vergoeding – behels dat die geskiedenis van die grond wat ter sprake is, nie in ag geneem word nie; dit is dus ’n proses wat van historiese konteks gestroop is. Dit gaan ook nie werklik oor herverdeling nie. Indien ’n mens die proses rondom onteiening sonder vergoeding in konteks sien, is dit baie duidelik dat dit vir sowel die ANC as die EFF ’n proses van nasionalisering eerder as regstelling of bloot herverdeling is.

Waarom sê ons dat onteiening sonder vergoeding as ’t ware ’n proses van nasionalisering is? Daar is verskeie redes hiervoor.

Eerstens bepaal die mosie wat in die parlement aanvaar is dat die staat in staat gestel word om grond sonder vergoeding te onteien; die mosie bepaal egter nie dat daardie grond dan weer in privaat besit oorgedra moet word nie.

Tweedens is dit duidelik – indien die praktyk tot op hede in ag geneem word – dat die oorskakeling van staats- na privaat eiendom nie net laag op die ANC-regering se prioriteitslys lê nie, maar dat die ANC ook taamlik vyandig teenoor die beginsel van eiendomsreg staan.

Derdens het Agri Development Solutions bepaal dat slegs 6% van die grond wat tot op hede deur die staat gekoop is, intussen weer in privaat eiendom omgeskakel is.

Vierdens maak die ANC se sogenaamde nasionale demokratiese rewolusie (NDR) dit duidelik dat dit vir die ANC oor sentralisering van mag in die staat gaan. Die ANC verklaar openlik dat dit ’n Marxisties-Leninistiese party is en praat ook selfs van ’n sosialistiese rewolusie wat in Suid-Afrika deurgevoer moet word. Wanneer die ANC in sy besprekingsdokumente van die “tweede oorgang” (Engels: second transition) praat, gaan dit daaroor dat die NDR nou met staatsmag deurgevoer moet word.

Vyfdens weet ons dat die regering tans meer as 4 000 plase besit. Dit lyk egter nie of daar enige hoop is dat dié plase in privaat eiendom omgeskakel sal word nie, ten spyte daarvan dat die regering self erken dat meer as 90% van sy eie grondhervormingsprojekte misluk het. Eens kommersiële plase word, nadat dit deur die staat se hande gaan, in bestaansboerderye of selfs plakkerskampe omskep.

Laastens behoort die staat se benadering tot mineraalregte hier in ag geneem te word. In die 2013-saak van Agri South Africa teen die minister van minerale en energiesake het die staat aangevoer dat hy die bewaarder (Engels: custodian) van mineraalregte moet wees en, omdat die staat (aldus die staat) beter weet, dat die staat dan namens die mense moet bepaal wat daarmee gedoen word. Dit kwansuis ten behoewe van ons wat gewone burgers is en wat nie so slim soos die staat is nie. Daar is reeds sterk strominge in die ANC dat dieselfde beginsel ten opsigte van grond toegepas moet word.

Ons moet dus nie toelaat dat die staat se gonswoorde ons om die bos lei nie. Onteiening sonder vergoeding is ’n semantiese bedrog – nes baie van die ander gonswoorde wat met grondhervorming te make het. Dit gaan vir die staat daaroor om die mag in die staat te vestig, nie om grond vir die mense “terug te gee” nie.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Ernst Roets

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Ernst Roets is die Adjunk-Uitvoerende hoof van Afriforum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

John ·

‘Ons’ is nie die enigste mense wat dit mooi moet staan nie, maar ook die buitewereld want CR vertel nie die volle verhaal aan die buitewereld, bv die by die G7 nie, maar skets ‘n droombeeld van sy glo nuwe ANC. Wat uit wie bestaan? Miskien moet die vinnige volgende buitelandse besoek met foto’s van vervalle staatsgrond en feite nou die wereld bereik. Om mense plaaslik in die lig oor wat hulle reeds weet, dien geen doel nie. Ons weet wat postwaarhede is en voel dit aan ons lywe. Ons kinders ook. En hulle sal in die volgende paradigma moet leef. Wat laat ons na? Afrika doen wat hy doen vir sy nalatenskap aan sy miljoene kinders. Wat doen ons… wag vir ‘n post-afrikaner-era?

JC ·

Baie dankie Ernst, soos gewoonlik slaan jy die spyker op sy kop.

Waar sou die Afrikaner sonder Afriforum gewees het?

Hentie Smit ·

Ek nie glo dat die EFF en ANC glo dat grond vir mense noodwendig gaan help om finansieel ‘n bestaan te maak nie. Ek was betrokke by plase wat deur die staat gekoop is en aan mense toegeken is. Van daardie plase was nie een ‘n sukses nie. Alles is vir hulle gedoen, as hulle iets sou doen, het hulle ‘n dag se loon ontvang. Ek het die slotsom gekom dat hulle nie die grond wil he nie maar die geld.

Frans C ·

En waarom het die waarhede die NP-onderhandellaars by Kodesa ontgaan? Hul stilswye is tans oorverdowend,want tydens Kodesa was hul siende blind en horende doof.

Jerry ·

Die skrywer se bekommernisse is niks nuuts nie. Ek sou die bekommernisse gedeel het met die skrywer sou die Zuptas nog aan die bewind gewees het, maar hulle is nie. Inteendeel is hulle net so hard aan die werk om CR se goeie intensies om die regte dinge reg te doen, te ondermyn. Hou op om die wa voor die perde in te span. Die 6% oordrag van grond na privaatbesit wys tog dat die intensie positief is, alhoewel dit teen n slakkepas geskied. Help dan eerder om die pas te versnel deur die ander 4000 plase aan privaatbesit oorgeplaas te kry. Grondhervorming, n groeiende ekonomie en werkskepping is ononderhandelbaar vir vooruitgang en stabiliteit. Ondersteun dit en maak dit werk vir alle Suid Afrikaners. Hou op om soos die Zuptas die goeie intensies van CR te ondermyn. Wees eerste n Suid Afrikaner en dan n Afrikaner!

Frankie ·

Jerry, jy slaan die spyker op die kop. Die enigste pad vorentoe is om grondhervorming slim en strategies te ondersteun en dit te maak werk – en sodoende seker te maak dit werk ten gunste van ALLE Suid Afrikaners. Grondhervorming, ‘n groeiende ekonomie en werkskepping is in beide die kort en lang termyn die enigste ware hoop wat SA het.

Casper Labuschagne ·

Daar bestaan net so min ‘n beperkte of gedeeltelike onteiening sonder vergoeding as wat daar ‘n beperkte swangerskap kan bestaan. Die oomblik wat die eerste onteiening plaasvind is alle eiendomsreg in SA uitgewis en die beste waarvoor almal daarna kan hoop is dat dit dalk ‘n tydjie sal neem om by jou uit te kom. Onteiening sal uiteindelik alle grond in blanke besit afneem want jy kan onmoontlik nie eers begin om die grondhonger van 40 miljoen te bevredig met die plase van 32,000 en huise van 700,000 nie.

Onteiening sonder vergoeding is ‘n magtige wapen waarvolgens die meerderheid hulself oombliklik kan verryk deur eenvoudig die eiendom van enige minderheid van hul keuse weg te neem. In Afrika sal dit eers die wittes wees wat deurloop, dan die Indiërs, dan die bruinmense, dan die Somaliërs en Pakistanis, dan die Shangaan stam, daarna die Xhosas in die suide van Natal. Daar sal altyd nog ‘n minderheid wees wie se welvaart ter wille van die regstelling van ‘n historiese onreg weggeneem moet word. Dit is ‘n nasionale selfmoord om ooit so ‘n wapen van massavernietiging op die wetboek in Afrika toe te laat.

Die staat ·

Die staat is slegs daar om publieke goedere en dienste te verskaf, dis al. Die staat sal nie custodian van my hardverdiende eiendom word nie, en sal nie my beskuldig van sondes wat ek nie gedoen het nie. Die arrogante styaat moet sy plek nou leer ken.

bgj van der westhuizen ·

anc weet beter as ons ek dink eimand is baie dom

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.