Onteiening sonder vergoeding groot bron tot kommer

Deur dr. Annelie Lotriet

(Argieffoto: pixabay)

Ons bevind ons aan die begin van hierdie nuwe jaar waar ons worstel met die Covid-19-pandemie en die verreikende gevolge daarvan – nie net op menselewens nie, maar ook op die ekonomie van die land. Dit is egter ook belangrik om ʼn bietjie wyer of dalk meer spesifiek te fokus op wat vir ons voorlê in ʼn reeds geknelde land.

ʼn Goeie aanduider is president Cyril Ramaphosa se jaarlikse 8 Januarie-verklaring waar hy ʼn oorsig gee van die fokuspunte van die ANC-regering vir die jaar wat voorlê. Hierdie verklaring is dan ook die grondslag vir die staatsrede wat op 11 Februarie gelewer sal word.

Een van die fokuspunte in die 8 Januarie-verklaring wat mens tot kommer stem, is die president se uitsprake oor grondhervorming. Dit is inderdaad so dat grondhervorming ʼn imperatief bly, maar die president laat na om te noem waarom dit tot op hede nog nie suksesvol aangepak is nie. In sy verklaring verwys die president na ʼn versnelde grondhervormingsprogram en brei dan hoofsaaklik uit op onteiening sonder vergoeding as klaarblyklik een van die belangrike meganismes om dit te bereik. Verder moedig hy ANC-strukture aan om toe te sien dat art. 25 van die Grondwet onverwyld gewysig moet word sodat die grond teruggegee kan word aan die mense. Tipiese EFF-taal. Dit laat letterlik en figuurlik rooi vlae wapper.

Maar waar staan ons in die proses?

Daar is tans twee prosesse aan die gang, die een reeds sedert 2018 – die wysiging van art. 25 van die Grondwet en dan ook die Onteieningswetsontwerp. Beide hierdie prosesse kan verreikende gevolge vir die land hê en moet met ʼn fyn kam en groot omsigtigheid hanteer word.

Die proses om die Grondwet te wysig, is al ver gevorder, maar dit was reeds met die aanvang daarvan duidelik dat dit niks meer as ʼn skynproses is nie. Ten spyte daarvan dat 65% van die skriftelike voorleggings en 75% van die voorleggings wat in die parlement gemaak is, daarteen gekant was, het die ANC en die EFF dit eenvoudig verwerp en is ʼn ad hoc-komitee daargestel om die bewoording van die wysiging van art. 25 te finaliseer. Hierdie proses is nog nie afgehandel nie en die sperdatum is al ʼn paar keer uitgestel met die huidige sperdatum wat op 31 Maart 2021 verstryk.

Wat belangrik is, is dat benewens die ANC se poging om die proses deur te stoomroller en geen ag te slaan op deeglike prosesse en reëlmatigheid nie, die impak van so ʼn wysiging van art. 25 die land duur te staan kan kom.

Art. 25 is deel van die Handves van Menseregte in die Grondwet. Ons het juis nou weer met die grendelstaat gesien hoe maklik menseregte deur die regering en regeringsorgane misken kan word. Die Handves beskerm die burgers teen enige vergryp of arbitrêre aksie deur die staat. Art. 25, die eiendomsklousule, staan sentraal tot ons demokrasie en ekonomie. ʼn Ekonomie wat sedert die pandemie en die grendelstaat in ʼn krisis is.

Die ANC se huidige voorstelle vir die wysiging van art. 25 behels dat die uitvoerende gesag, die minister, die kwantum van die vergoeding sowel as die omstandighede waaronder onteiening sonder vergoeding kan plaasvind, bepaal. Dit beteken dat dit gedoen kan word deur gewone wetgewing waar slegs ʼn gewone meerderheid nodig is. Dus ʼn veel laer drumpel as ʼn vir ʼn Grondwetlike wysiging waar ten minste ʼn twee derde meerderheid vereis word.

Die ANC se voorstel behels ook verder dat die rol van die howe om billike en regverdige vergoeding te bepaal, verwyder word en dat dit in die hande van die minister gelaat word. Die grondeienaar kan ook volgens hierdie voorstel slegs die howe nader nadat die onteieningsproses afgehandel is en die proses op hersiening geneem word. Dit plaas ʼn bykans onmoontlike las op die grondeienaar.

As daar na art. 25 (2) gekyk word, dan is die vraag wat is die algemeen regsgeldende regsvoorskrif wat hier betrokke is? Dit is waar daar met veel meer aandag en omsigtigheid gekyk moet word na die Onteieningswetsontwerp wat tans op die tafel is. Hierdie wetsontwerp sal uiteindelik die Wet word wat gebruik gaan word om uitvoering aan art. 25 te gee.

Een van die belangrikste rigsnoere vir wetmakers is dat ʼn wet altyd opgestel moet word met die swakste moontlike minister in gedagte. Wat ons tans by die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping hoor oor ministers se optrede, moet koue rillings teen ons rûe laat afloop oor wat met onteiening sonder vergoeding kan gebeur.

Onteiening op sigself is nie die probleem nie en word dit wêreldwyd gedoen. Dit is egter die hoe en die vergoeding wat die vraag is. Art. 25 stel duidelik dat die proses nie arbitrêr mag wees nie en moet daar dus ʼn billike administratiewe proses gevolg word. Die vraag is, is hierdie wetsontwerp billik en regverdig?

Alhoewel hierbo verwys word na art. 25 se wysiging wat (sover) beperk word tot grond, verwys die Onteieningswetsontwerp in Hoofstuk 1 in die definisie na eiendom soos bedoel in art. 25 van die Grondwet. Art. 25 (4)(b) bepaal dat eiendom nie net tot grond beperk is nie. Dus het die wetsontwerp veel weier toepassing as die beoogde wysiging van Art. 25.

Dr. Annelie Lotriet. Foto: Facebook

In die Onteieningswetsontwerp word verwys na ʼn “onteieningsgesag” (expropriation authority), hetsy ʼn staatsorgaan of persoon wat verreikende magte het. Dit is belangrik om daarop te let dat hierdie onteieningsgesag met die eienaar moet onderhandel ten einde die eiendom te bekom. Die werklikheid is dat die onteieningsgesag kennis kan neem van die eienaar (wie se eiendom die staat wil onteien) se verwagte vergoeding, maar dit slegs hoef te oorweeg en in aanmerking te neem, en  kan steeds voortgaan met die onteieningsproses (klousule 5).

Alhoewel klousule 21(1) wel voorsiening maak vir mediasie as daar nie oor die vergoeding ooreengekom kan word nie, maak klousule 21 (9) dit moontlik vir die staat om voort te gaan met die onteiening ongeag die dispuut. Inteendeel, dit laat die staat toe om besit te neem van die eiendom nog voordat die dispuut opgelos is. Dit laat die eienaar van die eiendom in ʼn uiters kwesbare situasie, veral as die staat besluit het op nul vergoeding.

Dit is ook kommerwekkend dat daar vyf omstandighede gelys word waaronder daar nul vergoeding kan wees. Die kommer is dat hierdie lys nie volledig is nie en dat dit in die hande van die staat gelaat word om na willekeur bykomende omstandighede by te voeg.

Hierdie wetsontwerp bewerkstellig ʼn onewe balans tussen die staat en die burgers, met die gewig aan die kant van die staat. Dit was en is nie die bedoeling en gees van die Grondwet nie.

In die finale analise gaan dit oor die billike, regverdige en menswaardige behandeling van die burgers van die land. Die huidige wetsontwerpe in die hande van die uitvoerende gesag wat ons tans het, noop ons almal om ons stemme te laat hoor.

Caveat posséder! / Wees gewaarsku, grondbesitter (eiendombesitter)!

  • Dr Annelie Lotriet is ‘n DA-LP.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
MT

Dankie vir die belangrike inligting , Dr Lotriet. Ek sou graag u standpunte rondom die bestaan van die sg. ‘Breëbasis- Swart Ekonomiese Bemagtiging’ (BBSEB) beginsel wou hoor, en of dit ook nie maar eintlik ‘n vorm van ‘onteiening sonder vergoeding’ is nie? Met beperkte ruimte op hierdie webblad, kan ek ongelukkig nie aan u al die vieslike ooreenkomste tussen die twee rassitiese, sosialistiese beginsels uitwys nie, maar ek wil tog glo, dat u as gesoute politikus, reeds hiervan bewus is. Kan ons dus binnekort van die DA ‘n ‘Max du Preez-tipe’ ommekeer verwag ten opsigte van u steun aan BBSEB?… Lees meer »

Karel

Nog iemand wat dink jy kan jouself uit kommunisme kry met een of ander wetlike of administratiewe proses of deur jouself daaruit te stem in n verkiesing. Sterkte.

Vrijburger

Die gevaar van hierdie wet word onderspeel en kry ook nie genoeg dekking in die hoofstroom media nie.

Lees gerus ook Dr Anthea Jeffery van die IRR se stuk ‘The Ten Year Lockdown, with worse still to come’.