Onteiening sonder vergoeding: Só sê TLU SA

bennie-van-zyl-tlu-sa

Bennie van Zyl van TLU SA. Foto: Facebook.

Ná die ANC se konferensie in Desember 2017 is dit as partybeleid aanvaar dat die Grondwet verander moet word sodat onteiening sonder vergoeding kan plaasvind en die parlement het, na aanleiding van ‘n mosie van die EFF, dit ook só aanvaar.

Die voorwaarde wag by die ANC-konferensie gestel is, is egter dat die ekonomie nie daardeur skade mag berokken word nie en voedselsekerheid moet nie in gedrang gebring word nie.

TLU SA het onmiddellik hierop gereageer en dit duidelik uitgewys dat dit op blatante diefstal sou neerkom en dat daar geen manier is hoe bates onteien kan word sonder vergoeding en die ekonomie nie daardeur benadeel sal word nie. Kapitaal volg nie onsekerheid nie en kan daar, vanuit ʼn ekonomiese oogpunt, seker nie ʼn groter onsekerheid geskep word as juis dit nie.

Die ANC het sedert hulle die mag oorgeneem het, deurlopend met beloftes die stemvee na hulle kant probeer oortuig. In die meeste gevalle was dit met onrealistiese beloftes wat nie volhoubaar uitgevoer kan word nie. Die beloftes is besig om hulle in te haal en hulle moet nou al hoe meer drasties raak met die hoop dat die massas voor die verkiesing weer ten gunste van ʼn stem vir die ANC beïnvloed kan word. Hul gebrek aan lewering het hulle nou ingehaal. Die ontevredenheid oor hul regeerpoging blyk duidelik uit die vele onluste wat daagliks wydverspreid deur die land voorkom. Die tema van onteiening sonder vergoeding oorheers die gespreksforums en dit is heel moontlik ‘n gerieflike afleiding en rookskerm wat geskep is om die aandag af te trek van hul onvermoë om te kan regeer.

Dit is ook duidelik dat die ANC hierdie soort populistiese uitsprake maak ten einde te oorleef en die kwynende ondersteuning weer terug te wen. Die ANC stel inderdaad hul eie oorlewing hoër as die wel en weë van Suid-Afrika en al sy inwoners. Die prys gaan onbetaalbaar groot wees vir die land en daar kan tereg gevra word of die beweerde korrupsie en selfverryking van Zuma nie dalk minder negatief gaan wees as die uiteindelike gevolge van onteiening sonder vergoeding nie.

TLU SA se geskiedenis wys dit duidelik dat ons deur al die jare een van weinig organisasies was wat die proses van kruipende onteiening deurlopend uitgewys het en binne ons vermoë blootgelê en beveg het. Die beginsel van privaat besitreg en die vrye mark is ononderhandelbaar, want indien dit verdwyn is die land se toekoms ook ernstig in gedrang. Die ANC stel dit dat hul verbind is tot sosialisme en kommunisme en hul dade bevestig dit. Met die verkiesing van pres. Cyril Ramaphosa was daar by heelparty persone ‘n hoop gevestig op die toekoms, maar dit blyk uit die huidige uitsprake dat dit heel moontlik ‘n misplaaste hoop was.

Indien die Grondwet gewysig word dat onteiening sonder vergoeding aanvaarbaar is, moet Suid-Afrikaners en enige belegger besef dat dit toegepas kan word op alle vorme van eiendom. Die Grondwet bepaal juis dat bates nie tot grond alleen beperk word nie. Soos die Grondwet tans daarna uitsien, beskerm dit in elk geval nie ons eiendom nie. Ingevolge artikel 25.1 kan bates ontneem word sonder vergoeding soos wat reeds met water en minerale regte gebeur het.

Die een groot probleem waarin ons tans vasgevang sit, is die feit dat te veel rolspelers telkens die ideologies verweefde voorstelle van die ANC met ‘n versiersuikerlagie goed probeer laat lyk, dit kortsigtig ondersteun en derhalwe die ANC se planne help uitvoer. Ongekwalifiseerde ondersteuning van die regering se transformasie- en grondhervormingsbeleid plaas mense in ‘n posisie dat daar eintlik geen morele gronde kan wees om teen hierdie deel van hul beleid op te tree nie.

Die ANC word gerig deur hul Vryheidsmanifes, die Nasionaal Demokratiese Rewolusie en hul “Strategy and Tactics”-beleidsdokumente. TLU SA vind dit vreemd dat daar so baie rolspelers is wat nie kennis neem van die inhoud van hierdie dokumente nie, maar hul tog wil uitlaat oor die ANC en nog erger, van hul beleidsaspekte ongekwalifiseerd ondersteun en sodoende help om sosialisme en kommunisme te help vestig. TLU SA is nie bereid om op enige wyse die pad van vernietiging wat die ANC in Suid-Afrika inslaan, te ondersteun nie.

Die armoede en werkloosheidsprobleem in Suid-Afrika is jaarliks besig om onder ANC-beleid net groter en groter te word. Daar is net een volhoubare wyse hoe hierdie ernstige knelpunt positief aangespreek kan word, en dit is dat die ekonomie moet groei. Daarvoor is beleggings krities noodsaaklik en sal dit net gedoen word indien daar beleggingsvertroue is. Onteiening sonder vergoeding is die sekerste manier om enige potensiële belegger af te skrik om wel in die land te belê.

Indien die gesprek oor landbougrond gaan, moet die wettige eienaars daarvan, naamlik die boere self, oor hul eie eiendom die woord voer. Daar is te veel rolspelers soos sommige akademici en selfaangestelde meningsvormers wat vir die boere wil voorskryf. Geen boer het sy grond gesteel nie en is dit hul volste reg om self daaroor te besluit. Die vraag kan tereg gevra word of daardie “kundiges” bereid is om ook a.g.v. hul misplaaste skuldgevoel ‘n deel hard- en eerlikverdiende bates af te staan soos daar van boere verwag word.

Die leuens oor die geskiedenis van grondbesit in Suid-Afrika is so wyd verkondig dat mense dit al as die waarheid glo. Dit is verbasend hoe baie mense ‘n skuldgevoel ontwikkel oor ‘n verdraaide geskiedenis. Die ontwikkeling van grondbesit in ons land se volle konteks, met spesifieke verwysing na koloniale beleid wat die hoekstene vorm, moet na gekyk word en nie net dit wat om politieke redes verkondig word nie. TLU SA besef ons kan nie ‘n beter geskiedenis bou nie, maar wel ‘n beter toekoms. Geen volk in Suid-Afrika het ‘n onbevlekte geskiedenis nie en net soos die wit mense nie kan bewys by wie hulle die grond in 1652 gekoop het nie, kan die swart volke ook nie wys by wie het húlle die grond gekoop nie. Die Khoi en San wat eerste hier was, is eerstegenerasie-inwoners en die swart volke en die wit mense beide tweedegenerasie-inwoners.

Die klimaat wat die ANC en ander heethoofde oor die tyd heen geskep het, is motivering vir mense om grond te beset. Die onveilige toestande wat op plase ervaar word met al die aanvalle en moorde, sal ook deur hierdie klimaat aangestig word.

Die restitusieproses is daargestel om op ʼn wetlike wyse die ontneming van grond in die verlede reg te stel. Die feit dat die staat dit nie korrek toegepas het nie, die titelaktes grootliks teruggehou het en toegelaat het dat grootskaalse korrupsie in die proses kon plaasvind, het onder andere die afhandeling daarvan verhinder. Onderskeid moet getref word tussen die korrekte en billike teruggee van grond wat om politieke redes vervreem is wat deur middel van restitusie aangespreek moet word en die huidige aanslag op die beginsel van besitreg.

Beginsels wat ononderhandelbaar is en ekonomiese argumente

Deur slegs 1% op ‘n beginsel toe te gee, beteken dit dat daar eintlik 100% toegegee is. Na die eerste toegewing word daarna net onderhandel oor die persentasie.

Die volgende beginsels is ononderhandelbaar en dien as ekonomiese argumente:

– Privaat besitreg en die vrye mark is ononderhandelbaar.

– Die enigste meganisme wat kan bepaal of ‘n besigheid en/of plaas volhoubaar bedryf word, is die ekonomiese- en markkragbeginsels.

– Internasionale konvensies moet beskerm word.

– Eiendomsreg is die basis om beleggings te lok en die ekonomie te laat groei.

– Om Suid-Afrika se toekoms voorop te stel, verg besluite wat vertroue inboesem en kundigheid behou. Opleiding van hoogstaande kwaliteit is van kardinale belang en vind dit nie na behore plaas nie.

– ‘n Politieke wil soos deur die regerende party geopenbaar, rig die land op sy toekomspad. Die waardesisteme wat oor die tyd heen deur die ANC gevestig is, veroorsaak dat kundiges sku raak om betrokke te raak. Suid-Afrika kort ‘n beter waardesisteem as wat tans deur die politieke wil van die ANC openbaar word.

– Verstaan die problematiek korrek. Daar is vir die beginsel van privaat besitreg nie ‘n halfpad wat iewers ontmoet kan word nie. Dit word óf gerespekteer óf nie. Die oneerlikheid van die ANC-regering teenoor hulle eie mense moet ook uitgelig word, wat betref titelaktes wat hulle grootliks met grondoordragte weerhou. Sonder ʼn titelakte is enige plaas gedoem tot mislukking omdat finansieringsmoontlikhede kortgeknip word. Die toepassing daarvan is agterna een ding waaroor daar nog baie onsekerheid is, maar deur dit net te sê en dan nog dit in die Grondwet te vervat, is vanuit ‘n ekonomiese oogpunt onaanvaarbaar en sal die markte dit ook vinnig uitwys.

Aksies om te doen:

– TLU SA besef dat hierdie ‘n Suid-Afrikaanse probleem is, en daar moet soveel as moontlik bondgenote verkry word en aksies van ander rolspelers, wat sin maak, moet ondersteun word. TLU SA het reeds ingeskakel by AfriSake se blitsberaad waartydens die aanwesige organisasies hul almal uitgespreek het teen onteiening sonder vergoeding en onderneem om dit teen te werk. Die onderskeie banke is ‘n belangrike rolspeler en TLU SA dien reeds saam met onder andere die banke en ander rolspelers op ‘n tegniese komitee wat werk aan bepaalde voorstelle aan die ANC.

– Kollektiewe druk moet nasionaal en internasionaal op die ANC geplaas word. Dit moet duidelik uitwys en beklemtoon word dat beleggings sal opdroog.

– Organisasies en individue moet ook elk in eie reg standpunt inneem en druk toepas. Individue behoort hul opinie sterk met korrespondensie aan die media deur te gee en lede word versoek om dit te doen.

– Sou die ANC-regering voortgaan om wel die Grondwet sodanig te wysig, sal na alle moontlikhede gekyk word, veral ook om internasionale ooreenkomste in ag te neem, om met regsaksies dit te stuit.

– Protesaksies saam met ander rolspelers sal oorweeg word waarvan die aard daarvan bepaal sal word.

– Die ad hoc-komitee vir eiendomsreg waar TLU SA op die dagbestuur dien, besin deurlopend oor al die stappe wat kollektief gedoen kan word om dit te stuit.

– Verpak die argumente suiwer en sonder emosie op só wyse dat dit oral en spesifiek internasionaal onaanvegbaar is.

– Ondersoek die moontlikheid om ‘n konferensie oor die geskiedenis van grondbesit, waar daar internasionale inkoop gekry word vir dit wat die waarheid is. Feitlik elke argument wat gevoer word ten gunste van onteiening sonder vergoeding word gebaseer op die leuen oor die wyse hoe grondbesitreg ontwikkel het deur die jare. TLU SA sal by die ad hoc-komitee só voorstel indien.

– Benut die media oor ʼn wye spektrum, insluitend kort videoboodskappe op veral sosiale media om bewusmaking te doen.

– Gesprekke met regspanne is reeds aangelê ten einde Julius Malema (leier van die EFF), Black First Land First (BLF) en die ANC moontlik aan te kla vir haatspraak en crimen injuria. Daar sal hieroor ʼn besluit ter gelenertyd geneem word.

– Skakel met die Wêreldlandbou-organisasie (WLO) met ons slagspreuk: “Eaten today? Thank the farmer and farmworker” en “No farmer, No food, No future” en vra internasionale ondersteuning.

– Werk mediastrategie uit met bondgenote waar daar spesifiek gefokus word op swart gebiede met berigte en strooibiljette om die gevolge van onteiening sonder vergoeding uit te spel.

– Daar is reeds gesprekke met senior ANC-lede en raadgewers aan die gang. Voorstelle wat volhoubaar is, wat reeds in 2005 gemaak is, word opnuut ingedra waarbinne hul teikens bereik kan word met ekonomiese beginsels as die grondslag. Dit kan as teenvoeter dien.

– Bemark weer die beloning van R100 000 vir die persoon wat kan bewys dat enige kommersiële boer sy grond gesteel het.

– Fokus ook op Agri-Sector Unity Forum (Asuf) as voertuig wat die saak moet aanspreek. Belê individuele gesprekke met die Asuf-lede.

– TLU SA sal ʼn skriftelike voorlegging aan die parlementêre grondwetlike hersieningskomitee instuur en sal ook tydens die openbare vergaderings wat in die provinsies gehou gaan word, insette lewer.

TLU SA beskou hierdie in ‘n baie ernstige lig en versoek elke verantwoordelike rolspeler om hul gewig in te gooi en seker te maak dat hierdie gewraakte voorstel nie die einde van Augustus bereik nie. Ons is dit aan ons nageslag verskuldig om te help verhoed dat Suid-Afrika maar net nog ʼn falende land gaan word. Lede en affiliasies word versoek om enige ander voorstelle vir optrede aan TLU SA deur te stuur.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van TLU SA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Jerry ·

Sterkte Bennie, jy het baie hooi op jou vurk gelaai om nie net teenstand te bied nie maar om te oorwin. Dit gaan n opdraande stryd wees en jy gaan hulp nodig he, want die anargiste huldig presies die teenoorgestelde standpunte as jy. Ten minste sal die gematigdes in die ANC met jou saamstem op grondeienaarskap en eiendomsreg en hulle sit met die politieke mag. Jy het 2 maniere om jou dinge te doen. Jy kan dit doen soos n goeie onderhandelaar mbt gee en neem of jy kan dit op die ononderhandelbare manier doen soos ek vermoed jy dit wil doen. Hoe dit ookal sy, as jy wil taai wees, moet jy heeljaar taai wees, dit is waaraan jy gemeet sal word. Sterkte, jy en die span gaan dit nodig he! My gunsteling gesegde is “laat diegene wat die oorlog veroorsaak, die oorlog baklei”.

White Rhino ·

Ek is bly dat die wereld daar buite begin kennis neem het.

ALMAL IN DIE LAND BOERE MAAK? ·

Eerstens ‘n skitterende artikel.
Ek wil net vra: Wil Cyril nou AL sy mense nou laat boer? Moet die hele lot nou ‘n stuk grond vat en begin boer?
Wat van ingenieurs, dokters, werktuigkundiges, loodgieters, prokureurs en ander beroepe?
Ek boer nie maar boer is beslis nie net van skoffel twee bossies uit gooi ‘n pit neer en gaan wag by die bank vir jou geld nie.
Lyk my Cyril en kie het die idee dat as jy grond het is jy oornag ryk en kan maar ophou werk.
Een persoon dink ek die ware antwoord gegee op TV. Hy soek net ‘n stukkie grond om sy huis op te rig sodat hy nie huur hoef te betaal nie..Dis al. Hy wil nie boer nie!!!!
Nou stel Cyril en Julius voor al die grond moet aan die Staat behoort en die burgers “huur” die grond by die staat. : Hoe gaan hulle die huurgeld invorder by”hulle mense?”

Oom Koos ·

Ek besit 2 huise in ‘n stedelike gebied. Een word verhuur. Moet ek dit eerder nou verkoop, of moet ek wag en sien?
Die DA en die VF-Plus kon my nie ‘n antwoord/raad gee nie.

Casper Labuschagne ·

@Oom Koos, ek vermoed jy weet reeds wat jou antwoord is. Jy kan nou verkoop en ‘n slegte prys vir jou tweede eiendom kry want daar sal binnekort sommer baie eiendomme in die mark wees, of jy kan terugsit en sê, “Mogge komme” want wat sal gebeur, sal gebeur en dit vat dalk nog ‘n paar jaar voor dit gebeur en in elk geval word die plase met die meeste beeste eerste gevat en jou tweede eiendom sit verseker nader aan die onderkant van die prioriteitslys as dit by onteiening kom. Intussen kry jy darem steeds ‘n huurinkomste, want inflasie sal hand aan hand gaan met die ekonomiese agteruitgang wat met onteiening gepaard sal gaan. In Zimbabwe het hiperinflasie beteken dat mense se spaargeldjies in ‘n baie kort tydjie uitgewis was terwyl eiendomme ‘n mate van waarde behou het en steeds ‘n inkomste gebied het.

En sou die ergste gebeur sit miljoene van ons in elk geval in sak en as. “Mogge komme” is maar die enigste opsie vir die meeste van ons, dit is net diegene wat regtig ryk is wat hul eie reëls kan maak.

Eish ·

Baie maklik. Wanneer jou spiksplinternuwe motortjie buite staan en die onweerswolke steek diepblou op en die blitse streep deur die donkerte, gaan jy wag vir die hael, of as voorsorg die motor in die motorhuis trek ?

SjN ·

Puik gestel, hoop hulle kry iemand om die artikel vir hulle te probeer verduidelik.

koos ·

Dankie dankie dankie – ons moet net saam staan!!! niemand sal my eiendom vat nie daarvoor sal ek veg

Therese van Schalkwyk ·

Puik artikel!

“Kollektiewe druk moet nasionaal en internasionaal op die ANC geplaas word” …

Hoera vir AfriForum se bewusmakingspogings!

Hoera vir Australië wat die eerste dapper stap geneem het! Geen ander land het al, of sal ooit, die moed hê om die waarheid so reguit te stel nie.

Ek wil ‘n ernstige beroep op mnr. Bennie van Zyl doen om Peter Dutton van die Australiese regering te bedank vir die feit dat hy sy nek uitgesteek het vir die SA landbougemeenskap. Dutton kry dit alreeds hotagter in sy eie land en word heel voorspelbaar uit opposisie-geledere as ‘n huigelaar en rassis uitgeskel omdat hy dit durf waag om wit(!) mense te help. Dit, omdat sy hart op die regte plek sit en die onlangse videomateriaal oor plaasmoorde as ‘n groot skok vir baie Aussies gekom het.

Die Australiese hoë kommissaris, Adam McCarthy, is heel waarskynlik nie ten volle op hoogte van feite wat betref plaasmoorde nie, aangesien die Engelse pers dit selde as belangrik genoeg ag. Help die man om sy man te staan teen minister Lindiwe Sisulu.

Natuurlik mag SA nie sy boere aan ‘n ander land verloor nie, maar die aandag wat Australië op die grootskaalse versuim van die ANC-regering gevestig het, moet reg benut en waardeer word.

Casper Labuschagne ·

Maar, wat anders sal Ramaphosa kan gebruik om die vergeldingsdors van die populiste tot ‘n mate te bevredig, as dit nie die plase (met die baie beeste op) is wat hy kan wegvat nie? Ramaphosa sal iets moet doen om vinniger as Malema te hardloop in hierdie wedloop om – soos Malema dit keer op keer stel – die wittes op hul plek te sit.

Ek stem heelhartig saam met u puik punte hierbo. Maar hier stry ons met argumente van intellek teen die rou emosies van die populiste. Ek maak ‘n punt daarvan om populiste te konfronteer op sosiale media en die kern van hul eise kom daarop neer dat wittes nie in Afrika hoort nie. Die filosofie van fanonisme wat die populiste aanhang laat geen ruimte vir wittes in Afrika toe nie. Volgens hulle het ons geen reg tot eiendom in Afrika nie, gevolglik is ons (in hul oë) reeds skuldig aan diefstal van wat net aan hulle mag behoort.

My vrees is dat spesifiek die Afrikaner se taal, kultuur minderheidsregte en eiendom die bloedoffer sal wees wat ANC gematigdes sal maak om die populiste in toom te hou. Is ek verkeerd as ek so dink?

Eish ·

Daar is die kern van die probleem, netjies verwoord!
Persoonlik dink ek jy is in die kol wat die finale resultaat betref soos wat die situasie ontvou in paaiemente.

Eish ·

Baie maklik. Wanneer jou spiksplinternuwe motortjie buite staan en die onweerswolke steek diepblou op en die blitse streep deur die donkerte, gaan jy wag vir die hael, of as voorsorg die motor in die motorhuis trek ?

dr Sakkie van der Merwe ·

Bennie, Baie dankie vir hierdie uiteensetting. Vier jaar gelede was jy in Vredendal (en ander plekke) om die gevaar uit te wys. Daar was geen reaksie gewees nie nou begin die water warm raak (Cyril vergelyk ons mos met ‘n padda in ‘n pot) en skarrel die mense rond. Laat ons alle pogings aanwend om die wereld bewus te maak van plaasmoorde en onteiening, maar kom ons werk ook saam na ‘n toekoms waar ons weer “eenkant” kan wees. Sterkte.

Rynhardt ·

Selfbeskikking nou??Jy gaan nie selfbeskikking van die Anc kry nie.Vir jare word hierdie ou vervelige deuntjie geopper!Nie een Kersvader gaan vir jou selfbeskikking bring nie.Kry dit in jou kop!Daar is n hele aanslag van uitwissing aan die gang teen blankes!

Rynhardt ·

Onteiening sonder vergoeding gaan nie net tot plase beperk wees nie,maar dit moet uitgebrei word tot stedelike gebiede!Vir die Anc gaan dit oor om eienaarskap uit te wis!Die oorgewig ooms in parlement doen nie hul werk vir jan publiek nie.Die ekonoom,Mike Schussler het n spesiale boodskap gehad vir Anc en EFF wat gereeld skreeu dat blankes hul eiendomme moet verloor.Schussler se: “Afrikane besit 7,66miljoen huise(slegs eerste huise)en wit mense besit 730000.Die ander twee bevolkingsgroepe tesame besit so baie wooneenhede as wit mense.Indien die staat onteien sonder vergoeding,sal die staat tien keer meer huise vat van Afrikane as van wit mense!”

Joe ·

Nou doen jy dit liewe Elizabeth. Ek verstaan dit heeltemal goed soos dit geskryf is.

DC ·

Boere (ook stedelike grondeienaars) moet geen betreding op plase/grond toelaat. Hulp en kundigheid met al die fasette daarvan moet uitgebrei word.
Historiese grond, voor 1910, moet in totaliteit uitgesluit word v beoogde beleid. AJ Christopher het navorsing oor SA se besettingspatroon gedoen. Kyk gerus daarna veral ook met oog op selfbeskikking.
Landbou is as ekonomiese sektor te belangrik om voortsetting v huidige onsekerheid toe te laat. As regering wet en orde nalaat, bevorder “doen dit self”.
Internasionaliseer die huidige toedrag en plaas maksimum druk op ANC en grondgrypers deur internasionale vervolging.

Willeman ·

‘n Vriendelike versoek: kan al Maroelamedia se artikels wat betrekking het op grondonteiening en plaasmoorde asseblief ook in Engels aangebied word sodat ons dit onder die aandag van ons buitelandse vriende kan bring? Dit sal na my mening die veldtog ‘n aansienlike hupstoot gee indien julle dit doen.

John ·

Dit wil voorkom of die gepoer-poer oor die saak juis te make het met die verkiesing volgende jaar. Afrika glo hy kan alles doen en het die reg op alles. Elkeen wat wil boer sal graag ‘n plaas en alles daarop net so wil oorvat in die geloof dat dinge maar reg sal loop. Cyril was mos altyd net in direkteurstoele so hy glo ook hy weet hoe om al die werk in die maatskappye te doen en dinge te laat vlot. Die werklikheid gaan skokkend wees… en raai wie gaan die skuld kry as die pappot leeg staan?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.