Onteiening sonder vergoeding: wat nou?

Foto: Lukas/Pexels.com

Deur: TLU SA

Die openbare verhore oor artikel 25 van die land se grondwet is nog nie eens afgehandel nie, maar die ANC kondig aan dat op sy sogenaamde lekgotla besluit is om voort te gaan met die proses van grondonteiening sonder vergoeding. Terselfdertyd kondig president Cyril Ramaphosa aan dat daar klem gelê gaan word op landbouontwikkeling, en dat sukkelende boere bygestaan gaan word.

Die feit dat hy onteiening en landbou in dieselfde asem noem, dui daarop dat die twee wel deeglik met mekaar te doen het. Sogenaamde gerusstellings deur mense en instansies wat nie die realiteit in die oë wil kyk nie, en wat gesê het dat landbougrond nie noodwendig geteiken word nie, word deur hierdeur waarskynlik verkeerd bewys, terwyl waarskuwings soos dié van TLU SA, wat deeglik die realiteit onder oë sien, bewaarheid word.

Dit beteken natuurlik nie dat slegs landbougrond geteiken gaan word nie. Die grootste grondbesettings en eise om grond, kom vanuit die plakkerskampe waar die plaaslike owerhede geen dienste lewer nie, en waar mense in hagliker omstandighede lewe as in die apartheidstyd, omdat die regering sedert 1994 die grense oopgegooi het sodat enige fortuinsoeker noord van die Limpopo kan kom nes skrop in Suid-Afrika. Daarom sal noodgedwonge gekyk moet word na stedelike grond ook, en grond wat aan die staat en munisipaliteite behoort. Maar ná die ANC se aankondiging, moet ons nie na ontkenning beweeg en hoop dat dit ons nie gaan tref nie.

Die onteiening gaan almal tref.

Selfs oudminister Trevor Manuel, wat getaak is om beleggings te gaan soek, sê dat dit erg bemoeilik word met die beleid van onteiening sonder vergoeding. Ramaphosa, van wie almal gehoop het dat hy die kapitalistiese stelsel verstaan, steur hom nie aan daardie waarskuwings nie en lei die ANC reg in die onteieningsbeleid in. Hy steur hom dus nie aan die buiteland en die moontlikheid dat dit die land kan geld kos nie. Kort ná die aankondiging van die lekgotla bekendgeword het, het die rand met 16 sent teen die dollar geval. Ook dít skrik hom en sy party nie af nie.

Tydens die openbare verhore oor die grondwetlike artikel, was dit duidelik dat daar opsweping ter sprake was, en dat blanke grondbesitters in wese as misdadigers uitgebeeld is. Verteenwoordigers wat die verhore gaan bywoon het, is eenvoudig oor die hoof gesien of uitgejou wanneer goed deurdagte argumente aangebied is.

Die verhore was dus nie die moeite werd om by te woon nie, want daar word nie na ekonomiese argumente geluister nie.

Dit laat die vraag: Wat moet nou gebeur? Dit wil voorkom of die tradisionele wyse van gesprekvoering, pogings tot oortuiging op grond van rasionele argumente en bepaalde vorme van samewerking met die owerheid, nie meer werk nie. Die vraag bly egter: Wat dan? Emosies gaan hoog loop as grondeienaars summier alles staan te verloor, wat ’n uiters plofbare situasie kan veroorsaak.

Steeds (en helaas) is daar egter verskillende groeperinge wat die probleem op hul eie wil aanpak, en mekaar dan dikwels weerspreek.

As almal wat onteiening teenstaan en dit eens is dat grondonteiening sonder vergoeding flagrante diefstal is, om een tafel gaan sit en ’n strategie teen diefstal (nasionaal en internasionaal) gaan opstel, kan daar dalk vordering kom.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

50 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jan Alleman

Dit kom! En ons kan dit nie stop nie. Die kommuniste het die verwagting geskep en die skare het hulle die mandaat gegee.

Die probleem kom in wanneer die wet verander word, die eerste boer wat sy grond gaan verdedig gaan volgens wet n krimineel wees en so hanteer word.

Ons hande is afgekap en die enigste uitweg is nie n mooi gesig nie

Gerhard

Sedert 1994 onteien die ANC die arm en middelklas Afrikaners van sy heenkome deur middel van rasstellende aksie. Nie net het hulle hul nie gesteur aan waarskuwings dat dit die land se ekonomie sal benadeel nie, maar het hulle ook dit meer en meer toegepas. Rykes en grondeienaars het hulle min gesteur aan die mense se lot solank as wat hulle (die rykes) nie deur die wette benadeel was nie. Nou is dit ongelukkig die rykes en grondeienaars se beurt. Daar kan geen einde gemaak word aan dit wat besig is om te gebeur nie. Die enigste hoop vir Afrikaners… Lees meer »

Andre

Ons moet saamstaan vir selfbeskikking anders gaan ons ondergaan.

Riaan

Kan boere hulle grond aan ‘n eie tuisland beskikbaar stel en sodoende hulle eiendomsreg self beskerm?

Casper Labuschagne

Wat moet nou gebeur? Wie weet, maar die beplande veilings van plase word gekanselleer omdat geen realistiese bod ontvang word nie, die werkers in ons dorp se ingenieurswerke wat hoofsaaklik die landbou bedien sit en kaartspeel sonder werk om te doen, ek sien nie vragmotors wat kunsmis aflewer nie en en sien ook nog nie boere wat regmaak om te ploeg en lande voor te berei soos hulle gewoonlik hierdie tyd van die jaar begin doen nie. Hierdie onsekerheid oor presies wat gaan gebeur is die groot probleem. Wys vir my die boer wat ‘n halfmiljoen rand (of dikwels heelwat… Lees meer »