Onteieningswet – die rooi ligte flikker

(Argieffoto: pixabay)

Die publiek het tot 10 Februarie 2021 geleentheid om kommentaar te lewer oor die Onteieningswetsontwerp.

Wat kommerwekkend is, is dat die gemiddelde mens nie besef hoe gevaarlik hierdie voorgestelde wet is nie, en hoe belangrik dit is om daarop kommentaar lewer.

In die verlede het die ANC met slim woordspeling groot veranderinge deurgevoer wat ’n wesenlike invloed op die Suid-Afrikaanse samelewing het. Kyk maar net na die nasionalisering van mineraal- en waterregte. Met die slim woorde het hulle in praktyk die regte van bestaande wettige eienaars weggeneem of so gereguleer dat dit tot groot skade gelei het. Dis ook nie anders met die Onteieningswetsontwerp nie.

Die motivering is hier telkens dat die Grondwet in art. 25 bepaal dat enige eiendom deur middel van ’n wet onteien kan word in die openbare belang. Openbare belang word dan omskryf as die nasie se verbintenis tot grondhervorming en ook hervormings wat gelyke toegang tot Suid-Afrika se hulpbronne sal bewerkstellig.

Die Grondwet se art. 25 (4) noem duidelik dat eiendom nie tot net grond beperk word nie. Die implikasie is verreikend en moet bygereken word wanneer daar in die voorgestelde wetsontwerp na eiendom verwys word. Ter stawing word daar in die wetsontwerp dan ook telkemale aangedui, “…if the property is land…”. Dit impliseer mos baie duidelik dat bepaalde handelinge voorgestel word vir grond, maar dat ander eiendom hier ook geldig is.

Ons moet nie naïef wees oor die volle implikasie van hierdie wet nie. Al word sekere eiendom wat vir onteiening teen ’n nulkoers in aanmerking kan kom, gespesifiseer, sluit dit ook sekere kategorieë van staatsgrond in. Hoe onteien die regering iets wat hulle reeds besit? Dis mos eenvoudig belaglik.

Grond wat nie benut word nie en wat vir spekulasiedoeleindes besit word, word ook uitgesonder. Wie neem hieroor ’n besluit? Wat behels die niebenutting van grond?

Die belangrikste gedeelte rondom hierdie sin in die wetsontwerp waar die kategorieë wat vir nulvergoeding oorweeg kan word aangedui word, is egter dat die nulvergoeding nie noodwendig tot hierdie kategorieë beperk word nie.

Die wetsontwerp is so vaag en wyd as moontlik geskryf – so reg in die kraal van die ANC-regering wat nou al bewys het dat hulle enige wetgewing so sal interpreteer dat hulle spesifieke ideologieë daarmee kan vestig. Ongeag die gevolge.

Sodra die beginsel van privaat besitreg op enige wyse geskend word, is dit daarna ‘n maklike pad om met enige eiendom te maak soos hulle dit goeddink, onder die vaandel van openbare belang, en sonder vergoeding.

Suid-Afrika het reeds voor Covid-19 die land bereik het, ’n ekonomiese insinking beleef en dit is deur die pandemie verdiep. Werkloosheid, en daarom ook armoede, is buite beheer. Dit is slegs drastiese ekonomiese groei wat tot ’n positiewe uitkoms kan lei.

Maar, indien die regering volhard om die Onteieningswet deur te voer en daarmee in staat is om bates sonder vergoeding te vat, lyk dit darem baie na diefstal. Veral deur die oë van rasionele beleggers wat op groot skaal in die land kan belê. Laasgenoemde is natuurlik die enigste oplossing om die Suid-Afrikaanse ekonomie te red.

Die belangrikheid van privaat besitreg kan nie genoeg as die basis waarop die ekonomie suksesvol funksioneer, beklemtoon word nie.

Die ANC is met hierdie ideologies-gedrewe stuk wetgewing besig om die inwoners van Suid-Afrika se toekoms te steel. As die party dan so danig bekommerd is oor bemagtiging, waarom ontvang die eienaars van HOP-huise steeds nie die titelaktes vir die eiendom nie?

Enige persoon of instansie wat enigsins hoop oor het vir ons land en sy mense sal met al hul vermoë hierdie drakoniese stuk wetgewing teëstaan.

Die TLU SA sal versoek om buiten skriftelike kommentaar oor die wetsontwerp, ook ’n voorlegging aan die parlementêre komitee aan te bied. Ondersteuners kan hul kommentaar aan die TLU SA stuur om by hierdie voorlegging in te sluit.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van TLU SA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Andrew ·

Ek glo die min kommetaar beteken dat die mense besig is met hul teen onteieings kommertaar.

Melinda ·

My volkie is min gepla. Hulle is dan so lief vir Biden al west hul niks waarvoor hy staan nie. Hulle is net so bly Amerika nou vinnig oppad na sosialistiese utopia soos Suid Afrika.

domheks ·

Kan ons nie liewer ‘n petisie op stel wat die mense kan teken nie? Afriforum stel asseblief vir ons een op en plaas dit op Maroela Media. Daar sal duisende dit kan teken en aanstuur.

Bennie ·

Besoek gerus TLU SA se webblad by http://www.tlu.co.za waar daar reeds sodanige petisie is wat ondersteun kan word. Daar is ook geleentheid om ‘n eie kommentaar daar te skryf wat ingedien sal word.

Fritz ·

Wys vir my een (nie twee nie, net een) petisie of vreedsame optog in die land wat al die gewenste uitwerking gehad het.

Melinda ·

Eintlik pas die onteieningswet honderd persent in met die Great Reset waarvan Klaus Scwab van die WEF praat. Dat Covid die geleentheid bied om kapitalisme by sosialisme in te skakel. En dat alle skuld vereffen word en dat die 4 de Rewolusie n goeie utopiese rigting vir die wereld is. Mnr Ramaphosa herinner ons met sy SONA s van 4 de Rewolusie ook Smart cities wat sekerlik Chinees sal wees en dan die transformasie weg van wit kapitaal. Alles is al so mooi uitgespel. Build back better with Biden. Suid Afrika dalk die Great Reset se proefkonyn?

annie ·

Nie die proefkonyn nie eerder die sondebok en nou gaan alles klopdisselboom loop in die United States of Africa met vader Biden aan geskenke uitdeel, tjeks teken en trompop-wette uitdelg. Dat die landjie so lank in die duisternis gewandel het, Biden selfs agt jaar misken het, voordat hy toestemming gekry het vir daai nose en hobbit hair jobs. Die oudste moet tog net onthou om mammie se ivory make-up op sy hande se agterkant te smeer om die donker vlekke te kamoefleer vir wanneer hy die swastika-wuif doen vir Jerusalem as Israel-hoofstad.

Frans ·

Minderheid groepe begin nou die wrange vrugte van ‘n meerderheidregering proe. Dit was van die begin af ‘n onhaalbare idee dat die grondwet minderheidgroepe se belange sou beskerm.Die Anc stoomroller besluite op alle regeringsvlakke waar hy die meerderheid stem het eenvoudig deur en is die opposisie magteloos.
Dat dit tot rampspoed lei is te sien in die verval van veral plaaslike owerhede.Kyk President Kruger was nie ‘n baie geleerde man nie maar hy het onmiddellik geweet dat die doelwit met stemreg vir almal net die Trojaanse perd was tot grond en mineraalbesetting.Ongelukkig vir ons het die Kodesaonderhandellaars nie dieselfde insig getoon nie.

Stefaan ·

Niks wat ons sê gaan ‘n verskil maak nie. Gaan lees gerus Siener se profesië.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.