Onthou Auschwitz, maar …

Frank-Walter Steinmeier, Duitsland se presidentm en sy vrou Elke Buedenbender in die Auschwitz-Birkenau-kamp in Oswiecim, Pole,
Foto: (AP Photo/Markus Schreiber)

Dit was vandeesweek, soos elke jaar, die herdenking van die bevryding uit die Nazi-uitwissingskamp Auschwitz op 27 Januarie 1945 – nou net ’n rapsie meer as 75 jaar gelede.

Plegtige herdenkingsbyeenkomste is in Israel en alle Europese lande gehou, en die refrein wat telkens opgeklink het, was “Nooit weer nie!”

Die Nazi’s se poging om die Jode op industriële skaal in goed georganiseerde moordfabrieke uit te wis, is ’n ongelooflik gevoelige onderwerp vir enigiemand wat hom op die gebied van die geskiedeniswetenskap wil begeef. Níks in hierdie artikel moet dus enigsins in die verste verte gesien word as ’n strewe om die ongelooflike betekenis van die Jodemoord te bagatelliseer of te ontken nie.

Die doel van die artikel is nie om weg te neem nie, maar om aan te vul. Om daarop te wys dat, terwyl die Joodse lyke – ’n geskatte ses miljoen van hulle – in die verbrandingsoonde opgestapel is, miljoene mense eweneens in die gebiede onder Josef Stalin se beheer gekrepeer, doodgemartel, vermoor of doelbewus verhonger is.

Die Franse historikus Stéphane Courtois het in 1998 in ’n studie wat opslae gemaak het, oor die morele ekwivalensie van die Hitler-Nazi’s en die Stalinistiese kommuniste geskryf: “Die hongerdood van ’n Oekraïense koelakse kind wat willens en wetens uitgehonger is deur die Stalinistiese regime, ‘weeg op’ teen die hongerdood van ’n Joodse kind in die ghetto van Warschau wat uitgehonger is deur die Nazi-regime.” [Die koelakke was ryk boere of groot grondbesitters in Rusland voordat Stalin hulle gelikwideer en gedeporteer het.]

Andrzej Duda, Poland se president, stap saam ander mense by die Auschwitz-kamp in Oswiecim, Pole in. Foto: (AP Photo/Czarek Sokolowski)

Die Israeliese historikus Dan Diner het die verskille en ooreenkomste tussen die Nazi- en Stalinistiese diktatuur só opgesom: “In die hoogfase van die Stalinisme was willekeur en angs die elikser van die totalitêre heerskap. Enigiemand kon ’n slagoffer word – teenstanders sowel as aanhangers van die regime, beule en vleiers van Stalin, sy lakeie, lede van spesiale eenhede wat met massa-teregstellings besig was, net soos onskuldige burgers en kamerade wat nie wis waarom juis hulle in die meule van die ‘rooi Inkwisisie’ vasgevang was nie.

“Gemeet aan dié willekeur, wek die heerskappy van Hitler selfs die indruk van geordende verhoudinge, ja, van regsekerheid. Per slot van rekening was die kriteria van die vervolging, om dit so te stel, objektief. Elkeen kon seker wees van sy lot, só of só. In elk geval kon die ‘volksgenote’ wat nie opposisioneel opgetree het nie, ongesteurd hul daaglikse sake doen. Vir lede van die volksgemeenskap was die regime dus verreweg minder totalitêr as die Stalinistiese Sowjetunie vir sý bevolking … Diegene wat van die volksgemeenskap uitgesluit was, is daarteenoor nie in die ongewisse gelaat dat hulle ongewens was nie … Daar was van willekeur geen spoor nie.”

Let op die analitiese, onemosionele taal. Hiér is twee professionele historici, wat hul beroep ernstig opneem, aan die skryf.

Afgesien van die miljoene ander oorlogslagoffers waarvoor Hitler regstreeks en onregstreeks verantwoordelik was, het ’n geskatte ses miljoen Jode in sy kampe omgekom. In Stalin se “Goelag-argipel”, soos Aleksander Solzjenitsin dit genoem het, is mense nie in gaskamers en verbrandingsoonde vermoor nie; hulle het deur verhongering en onmenslike harde arbeid gesterf.

Volgens die Amerikaanse historikus Robert Conquest is 15 tot 16 miljoen mense in Stalin se kampe dood. Dis duiselingwekkende getalle waarvan ’n gewone mens soos ek my geen voorstelling kan maak nie. Soos Stalin dit self sinies gestel het: “Die dood van één mens is ’n tragedie; ’n miljoen dooies is ’n statistiek.”

‘n Kers word aangesteek by die Auschwitz-kamp in Oswiecim, Pole. Foto: (AP Photo/Czarek Sokolowski)

In die Weste is ’n vergelyking soos dié tussen Hitler en Stalin steeds iets wat moed kos; in Sentraal- en Oos-Europa is dit normaal. Courtois was ’n moedige historikus.

Tog is daar hoofsaaklik drie redes wat die verskil verklaar.

Ten eerste skuil daar groot waarheid in die siniese opmerking dat die geskiedenis deur die oorwinnaar geskryf word. En in 1945 was die Sowjetunie nou eenmaal onder die oorwinnaars.

Die tweede is dat die Wes-Europeërs, anders as dié in Sentraal- en Oos-Europa, nooit self onder Stalin se hiel gely het nie. Die Nazi-oorheersing, ja, dit is steeds diep in die kollektiewe geheue ingegrif, maar wat ooswaarts gebeur het, het slegs vaagweg deurgedring.

’n Derde rede is dat linkse partye en groepe in die Weste dikwels ideologiese simpatie met die Sowjetunie gehad het. Ek onthou in die jare sewentig, toe ek in Leiden gestudeer het, het ’n linkse Nederlandse politikus ’n onderskeid tussen linkse en regse diktature (Oos-Duitsland teenoor die destydse Portugal en Spanje) getref, met ’n duidelike voorkeur vir linkse diktature.

Die Franse historikus François Furet, self ’n gewese kommunis, het dié morele oneerlikheid in sy boek Le passé d’une Illusion (“Die verbygaan van ’n illusie”) kil, klinies en akademies uitmekaar geskeur.

Ek onthou self my eie besoek aan die konsentrasiekamp Sachsenhausen, ’n halfuur per trein noord van Berlyn in die stadjie Oranienburg. As jy die kamp betree, is dit deur swaar ysterhekke met die berugte en siniese teks wat by elke kamp gehang het, “Arbeit macht frei” (werk bevry).

Sachsenhausen was in die ou Oos-Duitsland ook ’n monument, maar ná die hereniging is die aard daarvan heeltemal verander. Sowat 80% van die kamp word nou aan die Jodevervolging gewy.

Daar is wel twee afdelings van die kamp wat veelseggend is.

Die een is waar gewys word wat die karakter van die plek onder die kommunistiese bewind was. Ál die aandag is toe gewy aan die Nazi’s se vervolging van die Duitse kommuniste, al was dié maar ’n klein minderheid van die gevangenes. Oor die Jode was daar geen enkele woord nie.

Camilla Parker-Bowles, hertogin van Cornwall, steek ‘n kers aan in die Auschwitz-kamp in Oswiecim, Pole. Foto: (AP Photo/Markus Schreiber)

Die tweede afdeling lê bietjie eenkant aan die rand van die kamp. Wat min mense besef, is dat kampe soos Sachsenhausen ná 1945 naatloos deur die kommuniste oorgeneem is en dat hulle duisende potensiële teenstanders van die nuwe bewind – lank nie almal Nazi’s nie – daar nog vir jare lank opgesluit het.

Die betrokke afdeling beklemtoon die ideologiese affiniteit tussen die Nazisme en die Kommunisme, wat immers albei totalitêre bewegings is.

Dus, ja, herdenk Auschwitz, een van die grootste skandvlekke op die Europese geskiedenis. Veral omdat die misdade daar en elders gepleeg is deur die Duitsers, ’n hoogs beskaafde, Christelike volk met ’n pragtige kultuur.

Die Duitsers het sedertdien diep deur die stof gegaan en hulself, al was dit met ’n buitengewoon pynlike proses, gerehabiliteer. Die Russe het opnuut ’n sagter vorm van Stalin in die vorm van Wladimir Poetin, as leier aanvaar – nie noodwendig met entoesiasme nie, maar passief.

Onthou Auschwitz, maar moenie al die onbekende kampe diep in die Russiese Arktiese gebied en Siberië vergeet nie.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Oudste ·

Ook hier in Suid Afrika, Leopold moet die mishandeling en moord van die mense van alle kleur tydens die Anglo Boereoorlog nie vergeet word nie, maar in my opinie, word jy as polities verkeerd gebrandmerk indien jy dit aanroer.

Chris ·

Die snaakste skeplsel op dees aarde is die mens. Ek sien sowat ‘n weet of wat terug word die slagting van die Jode tydens die tweede wêreldoorlog herdenk. Jakkals en muishond spreek hul misnoë teenoor die gebeure uit. Net in die week stel Trump en Natanyaho ‘n plan met die Palestyne voor. Weereens is die jakkalse en muishonde weer uitgesproke oor die plan. Nou is die Jode en Trump weer die muishonde. Hoe werk dit. Ons ou landje se mense het ook veel te sê. Ons kan nie eers die ongedurigheid op die Kaapse vlaktes onder beheer kry nie. Hoe wil die mense hier ‘n stryd wat reeds eeue duur besleg. Belaglik en absurd.

Rupert Ashford ·

Dankie Leopold. Dit is vandag in hierdie deurmekaar tye waarin ons leef baie belangrik om hierdie tipe vergelyking te tref en die feite uit te lig. Dit wil lyk of dit nou lank genoeg gelede is dat die opkomende geslagte wat binnekort die besluite gaan neem by die stembus nie meer weet wat in die geskiedenis gebeur het onder die kommunisme/sosialisme nie, en mense word nie meer hierdie dinge op skool geleer nie. Die uitsprake wat gemaak word oor hoe om bv met teenstanders van sosialisme en die huidige diskoers van die klimaatsverandering debat te handel maak mens bang. Ons se maklik “never again” maar weerspreek dit dan baie maklik sonder dat ‘n haan daarna kraai.

Ettienne ·

Dankie vir ‘n baie insiggewende artikel! Ja, ons moet onthou – maar ons moet ALMAL onthou – want Volksmoorde (genocide) is nie iets van die verlede nie:

In Darfur Sudan, het daar reeds 700 000 gesterf – en dit duur voort. In Irak en Sirïe reeds 400 000. In Myanmar 400 000. Pol Pot het 3 miljoen Kambodiane uitgewis, In Rwanda het 1 miljoen Tsutsis gesterf, in Bosnia Herzegovina 600 000. In 1904 is 85% van die Hereros en 50% van die Namas in die destydse Duits-Wes-Afrika uitgewis.

Wikipedia lys ‘n minimum van 53 “volksmoorde” of “uitwissings” sedert 146BC – 38 daarvan sedert 1900 – en hierdie lys sluit nie die gebeure in die konsentrasiekampe in Suid Afrika gedurende 1899 tot 1902 in nie.

Brakenjan ·

Besoek gerus die Holocaust Museum in Israel, Jerusalem en dan is daar ook een in Johannesburg, hoor ek.
Na ek ‘n dag spandeer het by Holocaust Museum het my persepsie van wat gebeur het reg oor Europa (en nie net met die Jode nie) my baie verander.

Harry George ·

Weereens word die grootste leuen van die twintigste wereldwyd herdenk om al hoe meer geld vir die sogenaamde jode te verseker. Die misplaasde holocaust is n ” hollow cause” wat deur die geallieerdes met die dronklap en dobbelaar Churchill aan die voorpunt, asook die invloedryke jode, vooraf beplan is. Die 6milj sprokie kom al van die 19e eeu aan. Het iemand al n artikel geskryf oor die 11,4milj Duitsers wat uit hul landstreke in oos-europa gejaag is en waarvan slegs 3,3milj hul oerheimat bereik het? Wat van die opgetekende 3,4 miljoen duitse vroue en kinders wat deur die rooi leer en geallieerde magte verkrag is, sommige tot 60 keer en meer!
Leopold moet asb die tientalle geskrifte en boeke van navorsers (wat jode insluit!) wat die leuen bewys het, bestudeer en dan kommentaar lewer.

Die leuens maak mens siek! Daar is n bekende uitdrukking: “As die jode geld nodig het, stof weereens vir Hitler af!”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.