Onthou die saadbedryf oor die feestyd

Deur Lukeshni Chetty

(Foto: Saad Chaudhry/Unsplash)

Die feestyd is hier. Dit dui op die einde aan ʼn besige jaar en bied ʼn geleentheid vir families regoor Suid-Afrika om tyd met mekaar deur te bring, om te rus en na te dink, maar natuurlik ook om lekker saam om ʼn tafel te sit en te smul aan ʼn feesmaal.

Suid-Afrikaners gaan baie tyd in die kombuis en aan tafel deurbring soos ons die einde van hierdie lang jaar vier.

Wanneer ons hierdie disse voorberei en geniet, dink ons nie aan die rol wat voedselproduksie speel nie. Jy dink dalk aan sade net as jy hulle oor ʼn slaai strooi. Maar die saadbedryf het ʼn enorme rol in ʼn landbousektor wat seker maak dat daar kos op die winkelrakke is. In werklikheid is die indrukwekkende breedte van keuses wat beskikbaar is aan die kosverbruiker grootliks te danke aan goeie gehalte saad.

Vir jare al is die Suid-Afrikaanse saadbedryf hard aan die werk om seker te maak dat die beste plaaslike en internasionale sade en vernuwende saadtegnologie beskikbaar is aan ons boere. Vooruitgang in die wetenskap van saadteling is absoluut noodsaaklik indien ons beter en groter oeste wil hê. Danksy hierdie vooruitgang is dit moontlik om by te hou, nie net met wat die verbruiker wil hê nie maar ook om die wyer beskikbaarheid van voedsel te verseker deur die hele jaar.

Oor die feestyd wil ons veral keuses hê.

Waatlemoen, saadlose druiwe, sappige aarbeie, verkillende soorte aartappels. Selfs wanneer jy jou bierglas lig vir ʼn heildronk, weet jy dat die bier daar is danksy hopsade? Verder is sade verantwoordelik vir die dierevoer wat ʼn sleutelinset vir vleisproduksie is. Ja, selfs jou braaivleis steun op die saadbedryf. Dierevoer is ook ʼn basis van al die melkprodukte wat ons geniet – van kaas, tot die vla oor jou krismispoeding en die roomys wat ons tydens ons warm seevakansie geniet.

Die saadbedryf se verantwoordelikheid – as die beginpunt van so baie van moderne voedselproduksie – word egter gereeld misgekyk. Daar is groot groepe mense wat die plaaslike en internasionale saadsertifikasie-standaarde handhaaf, terwyl hulle ook seker maak sade word geproduseer, versprei en bemark volgens streng regulasies en wetgewing.

Hierdie aktiwiteite is sentraal tot voedselsekerheid. Nuwe tegnologieë maak dit moontlik om sade te teel wat meer aanpasbaar is by ʼn veranderende klimaat, wat meer weerstandig is teen siektes en insekte, wat die opbrengs van oeste só vermeerder dat daar tred gehou kan word met bevolkingsgroei.

Onlangs het ʼn hittegolf die land getref. Dit beklemtoon net weer die uitdagings wat boere het. Hierdie spesifieke risiko kan verminder word deur die beskikbaarheid van hoë gehalte saad wat ontwikkel en gekweek word om groter hitte-stres te hanteer.

Die saadbedryf dra ook op ʼn betekenisvolle manier by tot die Suid-Afrikaanse ekonomie in ʼn tyd waarin sulke bydrae veral nodig is.

As ʼn mens kyk na die waarde van verskillende segmente van die saadbedryf in 2022, en net onder die lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Saadorganisasie (SANSOR), word die omvang van die bedryf duidelik. Die mark vir die sade van veldgewasse verlede jaar was byna R8 miljard. Vir die handel in groente en dekoratiewe plante was dit R1,6 miljard, terwyl die produksiewaarde van die segmente R538 miljoen was. Vir die gewasse gebruik in die produksie van voer, was die waarde byna R700 miljoen.

Maar sade dra veel meer by tot die ekonomie as net die waarde van hulle direkte markte. Dis vanselfsprekend dat geen groente of graan sonder sade gegroei kan word nie. Wanneer die gewasse reeds gegroei is, word hulle nie net verkoop as kommoditeite nie, maar soos wat hulle geprosesseer word is daar ʼn hele ander waardeketting wat verder die ekonomie voed.

Onlangs het die Nasionale Oesskattingskomitee hulle finale syfers vir die somer van 2023 aangekondig. Die finale skatting vir witmielies is 8 499 965 ton, vir geelmielies 7 895 260 ton. Selfs net ʼn vinnige berekening, as ʼn mens na die kommoditeitspryse kyk, wys dat witmieles meer as R37 miljard en geelmielies R31 miljard aan die ekonomie bydra. Dit illustreer die aansienlike ekonomiese waarde wat sade ontsluit.

Bo en behalwe die grondslag vir ʼn groot deel van ons ekonomie, bied die sade ook verbruikerskeuse, iets wat ʼn mens veral hierdie tyd van die jaar waardeer. Asook voedselsekerheid, iets wat ons nooit net as vanselfsprekend moet aanvaar nie.

Sade maak meer saak as wat jy dink. Dis wel klein, maar in ʼn sekere opsig is die saadjie die hoeksteen van die ganse landbousektor. Om tred te hou met globale uitdagings moet daar vertrou word op tegnologie en vernuwing, asook geskikte regulasies en wetgewing. Sonder ʼn robuuste saadbedryf sal die feestafels in die toekoms, en ook ons daaglikse etes, aansienlik anders lyk.

  • Chetty is die algemene bestuurder van die Suid Afrikaanse Saadorganisasie (SANSOR)

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.