Onthou Majuba!

1024px-Majuba_LondonNews

Die Slag van Majuba. Foto: Wikipedia.org/Richard Caton Woodville, Jr.

Die Britse weermag het die Tweede Vryheidsoorlog met die kreet “Onthou Majuba!” ingegaan. Dié kreet het sy ontstaan in die laaste slag van die Eerste Vryheidsoorlog toe die Boere die Engelse oorwin het en die vryheid van die Boererepublieke herstel is. Vandag onthou ons steeds Majuba. Die afgelope naweek het honderde Afrikaners die slag by die Majubaberg herdenk en op verskeie plekke, soos Orania, word dit as ʼn vakansiedag herdenk.

In ons huidige gejaagde lewenspatroon is dit baie maklik om verwyder te raak van ons erfenis. Op Geloftedag staan ons ʼn wyle stil en herdenk die oorwinning tydens die Slag van Bloedrivier. Dié dag val darem aan die begin van die Desembervakansie. Maar Majubadag, Van Riebeeckdag en selfs Hemelvaartdag gaan ongesiens verby. Toe die vakansiedae destyds afgeskaf en vervang is met Vroue-, Jeug- en Werkersdag was daar verskeie Afrikaners wat gesê het dat hulle steeds sal vasklou aan die oorspronklike erfenisdae. Mettertyd het dit egter al moeiliker geraak en was dit maar te gerieflik om op die nuwe vakansiedae langnaweek te hou.

Om jou kultuur te herdenk verg egter nie ʼn vakansiedag nie. Jy hoef nie die dag van die werk af te kry om die heldedade van Stephanus Roos en ander manskappe te herdenk nie. Dit is veel belangriker dat die verhale bly voortleef en aan die jonger geslag oorvertel word, asook dat die vieringe wat wel steeds gereël word ondersteuning geniet.

Toe die Britte die Tweede Vryheidsoorlog met die kreet “Onthou Majuba!” ingaan, het hulle ʼn motivering in daardie woorde gevind. Dit het hulle aan ʼn vorige nederlaag herinner en hulle laat besef dat hulle nie te vol selfvertroue moet wees nie. Dit het hulle daarop gewys dat hulle kwesbaar is.

Die vraag is wat ons, vandag in 2017, “onthou”. Waaraan klou ons vas en watter leuse dien vir ons as motivering? Vandag, waar die Afrikaner as ʼn minderheid moet veg vir sy eie oorlewing, dié van sy taal en dié van sy kultuur is daar een baie gepaste slagspreuk. Vandag, met die onsekerheid en uitdagings wat ons moet trotseer, is daar wel twee woorde wat as inspirasie kan dien.

In 2017 waar ons ons eie alternatiewe moet skep en eienaarskap moet neem van ons toekoms is daardie selfde slagspreuk wat die Britte aan hulle nederlaag herinner het ook op ons van toepassing. Daarom kan ons vandag, wanneer ons op ons kwesbaarste voel, stil raak, terugdink aan die heldedade van die Eerste Vryheidsoorlog en saggies prewel: “Onthou Majuba!”

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: James Kemp

James is die hoofredakteur van Klankkoerant, ʼn nuus en aktualiteitsprogram wat ook op Pretoria FM uitgesaai word.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JC ·

Dankie julle, ek het gewonder of, en wanneer, wanneer IEMAND die dag in ons Afrikaner geskiedenis in herinnering gaan roep en vier. Dankie weereens!!

Ampie ·

Dankie James, het heeltemal vergeet van Majuba-dag. Goed om herhinder te word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.