Onthullings voor Zondo-kommissie: Wat nou?

Snehal Nagar getuig in Maart voor die Zondo-kommissie van ondersoek. Foto: Nokuthula Mbatha/African News Agency

Deur Wico Swanepoel

Die Zondo-kommissie na staatskaping lewer verdoemende onthullings op en die ondervraging duur steeds voort. Ons het reeds gehoor hoe die Guptas die staat gekaap en totaal in hul mag geneem het, en van talle gevalle waar persone in magsposisies hul invloed misbruik het. Dit dui ongetwyfeld op handelinge van korrupsie, en elkeen wat hierby betrek word, behoort vervolg te word.

Maar kan hierdie onthullings as getuienis gebruik word om suksesvolle vervolging van die betrokkenes te bewerkstellig?

Daar is onlangs aangekondig dat ’n nuwe direktoraat in die nasionale vervolgingsgesag (NVG) op die been gebring is om spesifiek korrupsie te takel en om getuienis te ontleed wat voor die Zondo-kommissie gelewer is. Dit is nie baie duidelik wat die metodologie van hierdie direktoraat behels nie, maar ek vermoed dat dit nie met die werkwyse van die destydse Skerpioene verwar moet word nie. Die publiek het ’n onwrikbare vertroue in die Skerpioene gehad met iemand soos adv. Gerrie Nel wat die voormalige hoof van die Gautengse afdeling was.

Die sukses van hierdie direktoraat hang af van ’n paar ononderhandelbare stappe wat die nasionale direkteur, adv. Shamila Batohi, sal moet doen om te verseker dat die onthullings voor die Zondo-kommissie gebruik kan word. Die kommissie sal aanbevelings maak, waarna die direktoraat die ontleding van die getuienis gaan doen.

Ons word tans gekniehalter deur onbevoegde en swak polisieondersoeke, inmenging in die NVG deur politici, wat selektiewe vervolging meebring. Boonop bestaan daar ’n wantroue in die oppergesag van die reg. Al hierdie gebreke het ’n teelaarde geskep vir georganiseerde misdaad wat hoogty vier. Statistieke toon dat 54% van die publiek nie vertroue in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het nie.

Die nuwe direktoraat sal inderdaad ’n haas uit die hoed moet ruk om die vertroue van die publiek te wen. Die lig aan die einde van hierdie pikdonker korrupsietonnel is dat hierdie booswigte een vir een, stadig maar seker, in die openbaar aan ons bekend word.

Die eerste stap in die regte rigting op die lang pad van herstel sal wees om ’n bekwame en bevoegde ondersoekspan saam te stel. Hierdie ondersoekspan móét gelei word deur die direktoraat wat insae in die ondersoeke moet hê.

’n Volgende stap sal wees om ’n vervolgingspan saam te stel wat sonder vrees of vooroordeel vervolging sal instel. Indien ek in Batohi se skoene was, sou ek iemand soos AfriForum se privaatvervolgingshoof, adv. Gerrie Nel, aangestel het. Dit behoort iemand te wees wat onomkoopbaar is, wie se integriteit bo verdenking is en wat bereid is om onafhanklik te funksioneer. Die sukses van suksesvolle vervolgings lê daarin dat die vervolgings onafhanklik moet plaasvind.

Die persone wat tans voor die Zondo-kommissie getuig, behoort ook in strafregtelike verrigtinge as bevoegde en verpligbare getuies gebruik te kan word. Indien die getuienis voor die Zondo-kommissie behoorlik ingespan en gebruik word, kan daar suksesvolle vervolging wees.

Ten slotte:

“Die wêreld sal nie deur boosdoeners vernietig word nie, maar deur diegene wat toekyk sonder om iets te doen.” – Albert Einstein

Dit bly elkeen van ons se plig om korrupsie aan te meld en hok te slaan. Ons mag nie die gebreke van die staat as verskoning gebruik om blind vir korrupsie te wees nie. Hoop begin by onsself. Wanneer jy nie hoop in jouself koester nie, is die hoop wat jy vir ander koester tevergeefs. Skep saam met AfriForum hoop met aktiewe optrede teen korrupsie. AfriForum is daartoe verbind om fluitjieblasers te beskerm en met die aanmeld en beveg van korrupsie by te staan. Besoek gerus AfriForum se teenkorrupsiewebblad by www.stopkorrupsie.co.za.

  • Wico Swanepoel is die burgerregte-organisasie AfriForum se regsadviseur vir plaaslikekorrupsiesake.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pieter ·

Ek het ‘n idee die onthullings en veral daardie oor hooggeplaasdes wat impliseer word, gaan in ‘n baie, baie groot kollosale glaskas, uitgestal word, daar sal na die onthullings en mense ge-inpliseer gekyk kan word om te sien of dit die toeskouers nie van korrupsie sal afskrik nie, maar verder gaan niks gebeur nie.

Jerry ·

Die taak teen korrupsie is enorm, want die idee van selfverryking, beheer, mag ten koste van en vernietiging van koloniale strukture is oorweldigend diep gevestig van bo tot onder by ANC kaders wat alle staatstrukture reeds beset. Wanneer jy uiteindelik n kader in n staat van beskuldiging geplaas kry by kommissies het die kader se regspanne die klaers se weergawes en gebruik hulle daardieselfde weergawes om enige ander “paper trails” te vernietig, getuies en bewyse te fabriseer en teenargumente te ontwikkel en om klaers se weergawes aan te val. Sou jy dit wel regkry om van n kader ontslae te raak word hy of sy vervang deur n kader wie lank in die ry gestaan en wag het vir sy beurt om te eet en hy of sy gaan slimmer eet as die vorige een. Om te dink geregtigheid geskied so deur reaktief op te tree is wensdenkery. Wat gedoen moet word is om teen kader wetgewing en maatreels in plek te kry wat tande het om te verhoed dat koloniale strukture, bestaande welvaart, welvaartskepping en pesioenfondse geplunder kan word. Daar is oneindig baie effektiewe maatreels wat ingestel moet word en kan word om die ANC te verhoed om van kolonialiste te plunder, maar daarvoor het jy n volk en leiers nodig wat glo in die saak om plundering ten alle koste te verhoed, n volk wat onwrikbaar glo in hulle Skepper, n volk met ruggraat en die wil om op te staan en saam te staan.

John ·

… en die catch word is ‘kommissie’. Hierdie is, soos CR self aangedui het, die vergeet-medisyne/beterword-medikasie… die cannabis vir SA na die uitvang van die Zumaìede in ons geledere… en hulle is so baie dat die land se deure en begraafplase en howe sal moet sluit as daar stappe geneem word… So what is the easy way out…. kommissies en praat en praat….

koos ·

Stel dan sommer vir Genl. Johan Booysen aan as hoof van ondersoeke.
Hy het BAIE inligting in sy kop maar is uit sy pos gedryf om kaders te beskerm.
Soos ek nou lees en dink, kan Afriforum se span maar ook gebruik word.

aj ·

As die een vinger gangreen het, amputeer dit sodat die liggaam oorleef.

Maar wat doen jy as die hele liggaam besmet is met gangreen?

Vrot tot op die been?

Sorry die ANC is terminaal siek! Niks kan hulle red nie.

Vraag is: ‘ gaan die ANC ook SA vernietig?’

aj ·

ZONDE kommunissie?

Se enigste doel is om die ANC te ‘whitewash’ van sy zonde!

Skep geleentheid en TYD vir die diewe om hul buit weg te steek en hulle “spore” dood te vee.

Dis al.

Boerboel ·

Die antwoord gaan die ANC- SA vernietig – Ja hy het alreeds, Bossa, Eskom, Polisie korupsie, misdaad raak buite beheer, op die rand van krediet af gradering, Stadsrade wat vou. Werloosheid, geen bellegers vertroue. Die koeel is deur die kerk. Daar is al baie goed geplunder, nou bly net die bietjie oor. Wat kan ons nog red?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.