Ontkenners is die grootste verloorders

Deur Marius (Mo) Oelschig

Marius Oelschig reageer op Louis Bothma se skrywe, Wenners? Ek sien net verloorders.

Ek lees nie die Beeld nie. ‘n Vriend het Louis Bothma se kommentaar op die boek Ons Was Daar, wat deur genl. Jannie Geldenhuys saamgestel is, onder my aandag gebring.

Die opskrif (Ek sien net verloorders) sê dit alles; die man is hartseer en bitterbek – moontlik die grootste verloorder, al wil hy dit nie erken nie. Genl. Geldenhuys sal nie op sy stuk reageer nie. ‘n Wêreldberoemde komponis sal immers nie op die kritiek van ‘n tamboerspeler in ‘n orkes reageer nie. Tog moet iemand die man op ‘n paar foute in sy rede attent maak. Ek doen dit graag self.

Bothma word as geskiedkundige en skrywer beskryf. Geskiedkundige? – goed, ek aanvaar dit. Skrywer? – nou ja, en voorspoed vorentoe. Soldaat? – hy was dan daar; ek salueer hom. Strateeg en militêre kommentator?

Dr. Leopold Scholtz en Bothma is hasies wat in dieselfde strik gevang is. As jong luitenant leer mens gou dat ‘n pyl op ‘n kaart baie gevare kan inhou, veral as mens nie die terrein self verken het nie. Terwyl albei here dus met arrogante smadelikheid hul teorie van ‘n briljante Kubaanse westelike omvleuelingsmaneuver voorhou, is daar ‘n menigte gesoute bevelvoerder, en duisende troepe met bosoorlogervaring, wat weereens die dwaasheid van die “gemakstoelgeneraal” moet aanhoor – en kop skud.

En dan is daar verder ook twee vrae wat geeneen van die voorstaanders van ‘n Kubaanse oorwinning by Cuito Cuanavale wil of kán beantwoord nie, nl:

  • Waarom het die Kubaanse 50ste Divisie, Castro se spogdivisie vars vanaf Kuba, nie die “verslane” SAW-magte by Cuito Cuanavale aangeval, oorrompel, vernietig en na Jamba opgemars om UNITA aldaar totaal uit te wis nie? Dit was dan hul oorspronklike missie. Waarom sou hul ‘n omvleueling van bykans 600km onderneem (en dit binne trefafstand van die SA Lugmag se basisse by Ondangua en Grootfontein) teenoor ‘n vinnige aanmars van omtrent 150km? (Cuito Cuanavale na Mavinga). Ek sou ook graag saam met Bothma (of Scholtz)‘n dop wou steek sodat ons die krapperigheid van logistieke ondersteuning van so ‘n omvleuelingsmaneuver (van ‘n divisie, met tenks, deur die Angolese bos in die reënseisoen) kon bespreek.
  • Waarom was die “gesoute” Kubaanse generaal, Ochoa Sanchez, wat so heldhaftig die Suid-Afrikaners uitoorlê het, deur Fidel Castro gefusilleer? Was dit omdat hy so goed teen die SA Weermag presteer het? Of omdat hulle sleg tweede gekom het?

Indien mens egter Louis Bothma se kommentaar werklik diep ontleed is dit verstommend hoe eenders hy en genl. Geldenhuys inderdaad sake beskou. Daar is, dink ek, baie meer ooreenstemming in hul denke as wat daar verskille is. Ek merk tog een groot verskil op. Bothma is bitterbek, en hy haal sy griewe op mede-soldate uit. Genl. Geldenhuys is die moer in, en hy soek die erkenning wat sy troepe toekom. My raad aan Louis Bothma is – lees die boek my ou, die hele boek. Die boodskap is daar, jy moet dit nog net raaksien. Die SA Weermag, jy ingesluit, het die oorlog gewen. Die politici, en dit sluit die huidige regering in, het die vrede verloor.

Tydens die bekendstelling van die boek het ek ook ‘n paar woorde te sê gehad. Ek het afgesluit met ‘n aanhaling uit die geskiedskrywer Bernard Cornwell se boek Excalibur. Ek haal dit graag weer aan:

“Only a fool wants war, but once a war starts then it cannot be fought half-heartedly. It cannot even be fought with regret, but must be waged with a savage joy in defeating the enemy. A man should love peace, but if he cannot fight with all his heart then he will not have peace.”

Lees die boek, Louis – die hele boek.

  • Marius (Mo) Oelschig was die SAW se verdigingsattaché in Frankryk, voormalige hoof van die Ciskeise Weermag en het as generaal-majoor uit die SA Leër uitgetree.

Lees ook Johan Kruger se reaksie op Bothma se skrywe hier.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.