Ontleders verskil oor rommelstatus-monster

ekonomiese krisis

Argieffoto.

Die gesprek oor “Suid-Afrika se kredietgradering” vat weer vlam. Dit is verstaanbaar aangesien die “groot drie” kredietgraderingsagentskappe, onder meer Moody’s, Standard & Poor’s (S&P) en Fitch, weer onderskeidelik oor November en Desember van dié jaar oor die gradering sal beslis.

Die kredietgradering waarna meestal in die opsig verwys word, is meer spesifiek die gradering van Suid-Afrika se regering se soewereine staatskuld; spesifiek die gradering van langtermyn-staatskuld wat in buitelandse geldeenhede gedenomineer is. Hierdie gradering word om verskeie redes as belangrik beskou, maar veral omdat dit ʼn aanduiding van die vermoë van ʼn regering is om skuldverpligtinge aan buitelandse beleggers in plaaslike staatskuld na te kom.

Die gradering beïnvloed die koste van skuld op die markte, en is veral bepalend vir die regering se toekomstige skulddienskoste, maar ook vir alle instellings in Suid-Afrika wat geld in die effektemarkte wil leen. ʼn Swakker kredietgradering kan die toekomstige koste van skuld vir die regering sowel as ander binnelandse instellings verhoog, tesame met ander moontlike nadelige gevolge.

Daarom word dié dreigende afgradering na rommelstatus (skuldgehalte van onder beleggingsgraad) as ʼn spreekwoordelike monster-onder-die-bed uitgebeeld, tesame met die idee dat die regering, arbeid, die sakewêreld, eintlik “alle Suid-Afrikaners”, alles in hul vermoë moet doen om ʼn val na rommelkredietstatus te verhoed; maak nie saak hoe bitter die medisyne is nie.

Ontleders verskil wel oor die graad van ernstigheid van ʼn afgradering. Sommige ontleders verwag ʼn grootskaalse vlug van kapitaal soos beleggers, wat nie in spekulatiewe skuldgraderings mag belê nie, die hasepad vat. Ander ontleders wys daarop dat die markte reeds heelwat van die risiko van ʼn afgradering verreken het en dat die impak van ʼn afgradering meer beperk sal wees. Dit word gesê op grond van die premies verbonde aan finansiële instrumente wat SA se staatskuld in die CDS-markte verseker.

Volgens die tesourie se eie begrotingsdokument vir Februarie 2016 kan ʼn afgradering se impak wissel van relatief skadeloos tot uiters ongunstig, met resessie, kapitaalonttrekking en dramatiese noodbesuinigingsmaatreëls, as denkbare gevolge in die ergste geval.

Met dié moontlikheid in gedagte het die tesourie ná Desember 2015 fluks aan die werk gespring. ʼn Omkeerplan vir “fiskale konsolidasie” is in Februarie 2016 se begroting aangekondig. Verskeie buitelandse beeldpoetstoere is ook onderneem om buitelanders beleggers gerus te stel.

Volgens onlangse mediaberigte skat Moody’s tans die kans dat hulle die regering se soewereine skuldgradering sal afgradeer, as een uit drie. Hiervolgens is die kans wel nog groter dat ʼn afgradering nie in November deur Moody’s aangebring sal word nie, maar natuurlik is daar nog steeds ʼn kans, en dit skakel ook nie toekomstige afgraderings deur Moody’s, of afgradering deur S&P en Fitch na rommelstatus, uit nie.

Is daar gevolge indien ʼn rommelstatus vrygespring word?

Gestel, vir die doel van die argument, die SA regering spring wel rommelstatus in die toekoms vry. Sal die oënskynlik gelukkige toedrag van sake in geheel gesien vir mense in SA noodwendig voordelig wees? Die antwoord hierop is nie so eenvoudig soos om te sê dat ʼn vryspring van rommelstatus slegs voordele sal inhou nie, veral nie wanneer dit bloot ʼn voortsetting van sake-soos-gewoonlik sal beteken nie.

Die prentjie raak meer ingewikkeld wanneer ʼn aantal (nie-omvattende) moontlikhede in ag geneem word. Op sigself is daar twee oorhoofse moontlikhede waarna ons kan kyk. Eerstens dat ʼn afgradering na rommelstatus onafwendbaar is, en iewers in die komende jare gaan plaasvind en tweedens dat die regering rommelstatus gaan vryspring.

Rommelstatus kan om minstens drie redes op kort tot medium termyn vrygespring word, onder meer: ʼn beduidende herstel in buitelandse vraag na SA se produkte; die sukses van huidige fiskale omkeermaatreëls; of markhervormings wat handel, produksie en beleggings aanwakker.

Markdissipline

Eerstens is dit noodsaaklik om te noem dat ʼn soewereine afgradering gedeeltelik as kritiek op die huidige raamwerk van die regering se ekonomiese bestuur gesien kan word. Suid-Afrika het oor die afgelope jare ekonomies swakker as van sy eweknieë presteer, en nou tot op die punt verswak waar hy rommelstatus in die gesig staar.

Daar is reeds heelwat skade aan die ekonomie aangerig en die dreigende afgradering is simptomaties daarvan dat ʼn sameloop van sake-soos-gewoonlik, wat ideologiegedrewe burokratiese bestuur van die ekonomie met breë ekonomiese inmengingsmaatreëls, grootskaalse belasting en herverdeling, rasgedrewe arbeids- en sakewetgewing wat afwyk van meriete as hoofoorweging, en toenemende bedreigings vir privaat eiendomsregte insluit, die ekonomie van sy lewenskragtigheid gestroop het.

ʼn Afgradering kan as ʼn ekonomiese vermaning van sake-soos-gewoonlik beskou word. Dit is geensins seker of daar noodwendig voldoende op dié soort markdissipline ag geslaan sal word nie, maar tog bestaan daar ʼn moontlikheid dat so ʼn vermaning politieke ruimte kan skep om inmenging terug te skaal en vryemarkgerigte hervormings in te stel.

Sulke hervormings kan uiteraard positiewe ekonomiese gevolge meebring – ekonomiese vryheid loop saam met ekonomiese welvaart; maar die gevaar bestaan natuurlik ook dat die teenoorgestelde gebeur en ʼn meer ingrypende sosialistiese beleidsraamwerk ʼn afgradering sal volg.

Groei

Ekonomiese groei is ʼn kernkwessie vir die kredietgraderingsagentskappe. In die opsig kan ʼn volgehoue oplewing in buitelandse vraag na Suid-Afrika se produkte (dit wat tans geproduseer kan word) ekonomiese groeikoerse laat herstel en meebring dat die risiko van ʼn afgradering na rommelstatus verklein word.

Die oplewing in die BPP-groeikoers in die tweede kwartaal van 2016 is ʼn sprekende voorbeeld van wat moontlik is. Goud- en ander edelmineraalverkope het in die tyd van die Brexit-onstuimigheid ʼn aansienlike, maar oënskynlik kortstondige, opswaai beleef wat uitvoer verhoog het en tot ʼn oplewing in die tweede kwartaal se BBP-groeikoerse bygedra het. Tog is só ʼn oplewing meestal van eksterne faktore afhanklik wat buite ons beheer is.

Voorbeelde van vryemarkhervormings wat binne die regering se vermoë is om aan te bring, sluit in: ʼn daadwerklike inperking van staatsbesteding en vermorsing; ʼn afskaling van ekonomiese inmengingsmaatreëls en rasgebaseerde sake- en arbeidswetgewing; privatisering en vermindering van staatsbeheerde instellings; en die bevestiging van privaat eiendomsregte.

Sulke hervormings sal heel waarskynlik vars lewenskragtigheid in die ekonomie kan inblaas, selfs tot die mate dat die onderliggende risiko vir afgradering, soos swak ekonomiese groei, bygelê kan word.

Huidige omkeermaatreëls

ʼn Ander moontlikheid is dat die omkeermaatreëls wat die tesourie ná Desember 2015 ingestel het rommelstatus afweer. In die konteks van die huidige staatsfinansies en die agentskappe se kommer oor skuldvlakke en begrotingstekorte is die omkeermaatreëls veral belangrik.

Die omkeermaatreëls het tot nou toe hoofsaaklik op die volgende neer gekom: ʼn verlaging van die “uitgawe plafon” op regeringsbesteding, aanpassings aan bestaande regeringsbegrotings, verruiming van belasting; en ʼn gepaardgaande plan vir die stabilisering van staatsskuldvlakke.

In geheel gesien kom dié omkeermaatreëls eintlik maar neer op ʼn voortsetting van sake-soos-gewoonlik – hoewel staatskuld en -uitgawes dalk ietwat stadiger as vantevore mag groei en belasting verder verruim is. Indien die ekonomie se lewenskragtigheid nie herstel nie, sal dié maatreëls slegs tyd kan wen.

Soos in die geval van ʼn herstel in vraag sal sukses met dié omkeermaatreëls waarskynlik beteken dat nodige hervormings uitgestel word. Rommelstatus kan miskien hierdeur vermy word, of langer uitgestel word, maar dit sal ten koste van die algehele lewenskragtigheid van ʼn ekonomie wees, wat steeds deur ongunstige beleid en ʼn hoë belastinglas belemmer word.

Ten slotte

Dit kan wees dat rommelstatus in die komende tydperk vermy mag word, maar dit sal nie op sigself beteken dat al die onderliggende probleme met die Suid-Afrikaanse ekonomie opgelos is nie. Inteendeel, dit kan selfs beteken dat die ekonomie verder weens hoër belasting en ʼn handhawing van inmengingsbeleid verswak sal word.

Uiteraard is dit nodig dat verdere afgraderings, en rommelstatus, afgeweer word, maar tog is daar in dié opsig sekere weë wat beter is as ander om te volg. Met rommelstatus wat die regering in die gesig staar, bly daar uiteindelik net drie weë oor: die weg van sake-soos-gewoonlik, die weg van wag op ʼn onsekere herstel uit die buiteland, of die weg van ʼn vryer ekonomie. My hoop is natuurlik dat laasgenoemde voortaan ernstiger oorweging sal geniet.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Gerhard van Onselen

Meer oor die skrywer: Gerhard van Onselen

Gerhard van Onselen is ʼn senior navorser by Sakeliga.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

John ·

Die een groot probleem is dat een deel van die regering sy minister van finansies se sienswyse en pogings kortwiek; hulle praat en doen nie uit een mond nie. Die president sien homself ook verhewe bo enige besparende finansiele maatreels. Hy wil spandeer, werkers vra meer en meer en studente eis ‘n getekende blanko tjekboek van die staat… en die reen bly weg…

Lance ·

Met alles wat nou al verkeerd loop en die skandes op skandes week na week verdien SA dalk maar rommel status die keer

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.