Ontstaan ʼn Duitse geelbaadjiebeweging?

(Foto: AP Photo/Markus Schreiber)

Verlede naweek, op 1 Augustus, het derduisende mense in Berlyn betoog. Dit is op sigself niks besonders nie: in die Duitse hoofstad is betogings iets alledaags. Wat dit egter ongewoon maak, is dat dit ʼn betoging teen die heersende orde was, met ʼn massiewe opkoms, wat totaal en al vreedsaam verloop het en nogtans die politici en meningsvormers warm onder die kraag het.

Gewoonlik prys die magtiges deesdae betogers en betogings of neem sommer self deel, as dit gaan oor die geykte linkse vraagstukke soos klimaatverandering, die stryd teen rassisme of die Christopher Street Day-herdenking, waar die gewaande vyand nie die heersende bewind is nie, maar strooipoppe soos kapitalisme, strukturele rassisme en regses oor die algemeen.

(Foto: Christoph Soeder/dpa via AP)

Ten spyte van pogings deur die media om die betoging voor die tyd as verregs en irrelevant te brandmerk, het mense in hulle tienduisende, miskien selfs honderdduisende opgeruk. Oor die getalle word hewig gestry. Die organiseerders praat van 1,3 miljoen deelnemers, wat seker te hoog gemik is, maar die amptelike getalle van die polisie, eers 10 000, toe aangepas na 17 000 en uiteindelik na 20 000, is beslis vêr te laag en het moontlik ten doel om die betoging se impak te onderspeel.

Dit is immers deesdae in Duitsland nie meer ongewoon dat sekere feite aangepas of verswyg word as dit nie in lyn met die gewenste amptelike sienings is nie. ʼn Meer realistiese skatting is in die orde van ʼn half miljoen betogers. Hoe dit ook al sy, dit was ʼn groot klomp mense, soos die skrywer uit eie waarneming kan bevestig. Op die 2 km tussen Brandenburger Tor en Siegessäule, op die breë Strasse des 17. Juni, het mense dig aan dig gestaan. Video’s is ook van die verrigtinge geneem wat ʼn indruk gee.

Waaroor het dit gegaan?

(Foto: AP Photo/Markus Schreiber)

Die organiseerders was ʼn groep met die naam “Querdenker”, direk vertaal as “dwarsdenkers”, maar bedoelende iemand wat uit die boks uit dink. Die hooftema was om vir die verdediging van die grondwet, vir vrede en vir persoonlike vryheid en teen die regering se korona-maatreëls te betoog. Sekondêre temas was vrees vir verpligte inspuitings, skeptisisme jeens die WGO en Bill Gates se rol, woede oor ʼn partydige en aktivistiese media, die minagting van die burgery en woede op die regering in die algemeen. Al was daar dalk enkele verregses en aanhangers van samesweringsteorieë onder die betogers, was hulle hoogstens ʼn handvol.

Esoterici en selfs hippies was beslis meer opvallend verteenwoordig. Die organiseerders het hulle herhaaldelik van enige ekstremisme gedistansieer en te oordeel na die deelnemers was dit ʼn redelike deursnee van die bevolking. Trouens, die inklusiwiteit en miskien selfs vaagheid van die boodskap het meegebring dat sulke groot getalle mense daar was en niemand deur aggressie of ekstremisme afgesit is nie. Baniere en vlae was eerder die uitsondering en daar was sowel die reënboogvlag van die vredes- en gaybeweging asook enkele Duitse en streeksvlae te sien. Daar was eers ’n optog en later ʼn afsluiting met verskeie toesprake wat op grootskerms vertoon is.

(Foto: AP Photo/Markus Schreiber)

Tydens die toesprake het die polisie nog opgeruk en die einde van die betoging geëis, blykbaar omdat die korona-maatreëls soos die handhawing van sosiale distansiëring en die dra van maskers verontagsaam is. Die mense het egter demonstratief gaan sit en geskree: “Ons bly hier!”, “ons is die volk” en “sluit by ons aan”. Ná verskeie waarskuwings is die krag afgeskakel en die organiseerders is van die verhoog verwyder. Die massas mense het egter tot laat gebly om te wys dat hulle nie geïntimideer sal word nie. Al die polisie van Berlyn en omgewing sou nie eers genoeg gewees het om so veel mense te verjaag nie.

Die reaksie van die politici was woede en ontsteltenis. Aangesien dit onder geen omstandighede as regse betoging afgemaak kon word nie en daar (anders as by talle linkse betogings) absoluut geen geweld of saakbeskadiging was nie, is die fokus verskuif na die “onverantwoordelike gedrag” van die betogers wat in korona-tye geen maskers dra of afstand handhaaf nie en daardeur ander in gevaar stel. Die ironie daarby was egter dat met die groot anti-rassismebetoging sowat ʼn maand gelede, waar mense eweneens dig aan dig gestaan het sonder maskers, niemand uit die gevestigde orde enige kritiek geuiter het nie, maar in teendeel die betogers nog vir hulle “moed om op te staan vir wat reg is” geprys het.

(Foto: AP Photo/Markus Schreiber)

Nou is dit juis linkses wat die verbod of beperking van betogings en harde strawwe vir ongehoorsaamheid eis, wat die oorspronklike wese van links as teen die gevestigde orde en vir die toegeeflikheid teenoor die gewone mense op sy kop keer. Die media het veral die getalle probeer afredeneer om nie die eise en die onderwerp van die betoging en die groot steun wat dit kry te moes debatteer nie.

Die betoging het gewys dat daar groot getalle gewone mense is wat moeg is vir alles waarvoor die regering en die elite staan, en wat goed georganiseerd is sonder om tot ʼn duidelike politieke rigting of groepering te behoort. Daar was al kleiner soortgelyke betogings in die provinsiale hoofstede, maar hierdie massiewe betoging in Berlyn, met mense van heinde en ver, was beslis ʼn gebeurtenis om van kennis te neem.

Dit mag wees dat daar in Duitsland nou iets soortgelyk aan die Franse geelbaadjiebeweging ontstaan: ʼn breë beweging van links tot regs sonder bekende leiers en sonder ʼn duidelik omlynde ideologie, wat veral verenig word in hulle griewe oor dinge wat die gewone mense persoonlik raak, en in hulle afkeur vir die heersende elite. Juis vir Duitsland, wie se inwoners bekend is vir hulle wetsgehoorsaamheid en onderdanigheid teenoor die regering, is dit merkwaardig.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Therese ·

Baie interessant en ‘n verblydende verwikkeling daar in ordelike Duitsland!
Hierdie inligting sal nooit as te nimmer in ‘die ander’ publikasies verskyn nie.
Die “partydige en aktivistiese media” en linksneigende beroepspolitici het die ganse Weste in ‘n kwessie van ‘n paar dekades onherkenbaar verander/verwoes.
Mag bewegings soos hierdie momentum kry en alle ordentlik, beskaafdes insluit.

Vrijburger ·

Mmmm baie interessant en bemoedigend. Toevallig op sosiale media hiervan kennis geneem. Ook hier in die VSA was daar nie media dekking nie.

Jacques ·

Goeie artikel. Kan julle asb. meer artikels van Sebastiaan Biehl plaas?

annie ·

Duitsland… nie eintlik weet wat aan die gang is nie? Om te hoop iets positiefs kom na vore uit die nageslag van Nazi’s? Mense wat onlangs duisende Moslems ingenooi het en sodoende die hele Europa se wese aangetas het en oorheers met straftaktiek sou hulle nie onderdanig die knie buig nie? Die Duitse siel is van ‘n heel ander planeet afkomstig. Musk wil nie soheen reis nie.

Autobahn ·

Vreemde mense met wie ek op die demonstrasie gepraat het sê dit was hulle eerste keer op een en hulle is nie meer bereid om in links of regs of bo en onder verdeel en betittel te word nie.

Vriende en kollegas uit die voormalige Oos-Duitsland vind die leuns deur die politiek en veral media al so blatant en erg, dat dit nie meer nodig is om tussen die lyne te lees nie. Dit herinner hulle aan die media in Oos-Duitsland teen die einde van die kommunisme destyds.

(Op die brug staan ook fotograwe van die Antifa en Stasi-geheimdienste. Hulle maak „close-ups“ van gesigte en stoor dit en soos altyd publiseer hulle dit by Antifa platforms waar deelnemers aan sisteem-kritiese demonstrasies dan identifiseer kan word.)

´n Wonderlike en positiewe atmosfeer en gees het verlede naweek geheers.

Therese ·

Autobahn!
Lekker om van my Duitse Afrikaner te hoor wat sélf daar was.
Die fotograwe op die brug is verseker onheilspellend en vele mense word seker daardeur afgeskrik.
Die stille meerderheid in Westerse lande sal egter moet vasstaan of gaan verswelg word deur linkse ekstremiste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.