Onttrekking aan die Internasionale Strafhof gaan Suid-Afrika se beeld nog meer skaad

Internasionale Strafhof in Den Haag. Foto: Asser Institute.

Internasionale Strafhof in Den Haag. Foto: Asser Institute.

Op Woensdag 22 Februarie 2017 het die Noord-Gautengse hoërhof beslis dat die regering se besluit om hom aan in die internasionale strafhof te onttrek, teruggetrek moet word. Dit volg pas ná die aankondiging van ’n openbare raadplegingsproses waarin kommentaar oor die Wetsontwerp op die Implementering van die Herroeping van die Statuut van Rome van die Internasionale Strafhofwet deur die Suid-Afrikaanse parlement gevra word.

Die regering moet nog aandui of hy teen die hofuitspraak sal appelleer, maar dat dit sal gebeur, word wel verwag.

Ten spyte van die hofuitspraak kom dit voor asof die raadplegingsproses wel sal voortgaan. Dit is die jongste stap in die regerende party se onvermoeide pogings om hom aan die internasionale strafhof te onttrek.

Die hof, wat in Den Haag, Nederland, gevestig is, is ’n interregeringsorganisasie en internasionale tribunaal wat oor die jurisdiksie beskik om individue vir die internasionale misdade van volksmoord, misdade teen die mensdom en oorlogsmisdade te vervolg. Die hof se werksaamhede het in 2002 begin met die inwerkingtreding van die Statuut van Rome. Hierdie statuut is in 1998 in Rome deur ’n groep lande (insluitend Suid-Afrika) aanvaar en bepaal die funksies, jurisdiksie en struktuur van die hof.

Tans is ongeveer 124 lande ondertekenaars van die statuut, wat beteken dat hulle ook die gesag van die strafhof erken en hulle daaraan onderwerp. Suid-Afrika was een van die eerste lidlande wat die statuut geratifiseer (dit wil sê gewettig) het.

Dit is veiliger om na “ongeveer 124 lande” te verwys want in Januarie 2017 het Afrika-leiers tydens ’n beraad van die Afrika Unie (AU) ’n strategie aanvaar waarvolgens ’n beroep op alle lede van die AU gedoen is om gesamentlik aan die internasionale strafhof te onttrek. Gambië het reeds voor die beroep besluit om hom aan die hof te onttrek, maar het intussen skynbaar weer van plan verander. Burundi het onder meer insgelyks soortgelyke onttrekkingsplanne bekendgemaak.

Soos dit uit die bostaande raadplegingsproses blyk, is die Suid-Afrikaanse regering ook besig met die formalisering van ’n onttrekkingsproses. Die eerste aankondiging in dié verband het in 2015 gevolg nadat regeringshulp aan pres. Omar al-Bashir van Soedan verleen is om landuit te vlug in weerwil van ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming wat deur die internasionale strafhof uitgereik is. ’n Tussentydse bevel van die hoërhof in Pretoria dat hy nié die land mag verlaat nie, is terselfdertyd ook geminag. Al-Bashir word van talle oorlogsmisdade en -vergrype beskuldig.

Pas ná Al-Bashir se vertrek uit Suid-Afrika, toe die regering plaaslik én internasionaal onder skoot gekom het vir die hulp wat aan dié president verleen is, het ANC-leiers al genoem dat die land hom aan die strafhof sal onttrek. Hulle is deur Julius Malema van die EFF ondersteun. Malema het verklaar dat Al-Bashir teen die Weste beskerm moet word – as hy enige misdade gepleeg het, moet hy aan Afrika se eie regsprosesse onderwerp word.

Die standpunt dat die internasionale strafhof ’n anti-Afrika agenda het, word gereeld deur Afrika-lande geopper. Die hof sou sogenaamd Afrika-leiers viktimiseer. Dit is egter nie die geval nie. ’n Groot hoeveelheid van die sake wat deur die hof ondersoek is en verhore wat plaasgevind het, het wel met Afrika-lande te make gehad, maar sake met betrekking tot gebeure in Georgië, Afganistan, Colombië en Palestina is onder meer ook al hanteer.

Verder het die hof deur die jare deurlopend kundiges uit Afrika in sy strukture betrek. Die huidige hoofaanklaer van die hof is adv. Fatou Bom Bensouda wat van Gambië afkomstig is. Suid-Afrika se adv. Johan du Toit was ook al in diens van die hof. Die argument dat die hof dus vanuit ’n eksklusiewe Westerse invalshoek meerderwaardig oor Afrika oordeel, is van alle waarheid ontbloot. Moeite word juis gedoen om te verseker dat die hof sy naam as internasionale instelling gestand doen.

Plaaslike pogings om aan die hof te onttrek, is ʼn verdere tree dieper terug in ʼn moeras waar menseregte en aanspreeklikheid nie geld nie. Die ANC volg tans konsekwent stappe om van ʼn kultuur van die beskerming van menseregte weg te beweeg. Binnelands is daar die minagting waarmee onder meer die voormalige openbare beskermer, adv. Thuli Madonsela, se bevindings bejeen word en grondwetlike waghondinstellings deur wanbestuur, korrupsie en kaderontplooiing lamgelê word. Gebeure op internasionale vlak weerspieël dieselfde tendens – so het AfriForum reeds kommer uitgespreek oor die toenemende wanfunksionering van die Afrika-portuuroorsigmeganisme (APOM / African Peer Review Mechanism). Verder is die SAOG Tribunaal, ʼn Suider Afrikaanse streekhof wat onder meer aan Zimbabwiese boere die geleentheid gebied het om klagtes teen pres. Robert Mugabe se grondgrypproses te lê, sonder teenkanting van die Suid-Afrikaanse regering ontbind.

In strukture van die Verenigde Nasies (VN) het Suid-Afrika in die onlangse verlede ook berug geraak weens stemme wat uitgebring is ter ondersteuning van lande met bedenklike menseregterekords, soos byvoorbeeld China. Verteenwoordigers van lede van die Solidariteit Beweging het al verskeie keer self ervaar hoe ons voorleggings aan VN-liggame oor minderheidsregteskendings in Suid-Afrika doen, net om deur ons eie regering se verteenwoordigers, ondersteun deur onder meer China en Kuba, aangeval te word en as rassiste uitgekryt te word.

Die onttrekking aan die internasionale strafhof sal beslis skadelik vir die internasionale beeld van ons land wees en ’n belangrike platform vir die beskerming van regte vir alle Suid-Afrikaners ontoeganklik maak. Om dié rede moet die onttrekkingsproses op alle moontlike wyses teengestaan word.

Die hof het (nog?) nie ’n indrukwekkende rekord nie. Tot nou toe is daar betreklik min uitsprake gelewer en die keuse van sake wat ondersoek en vervolg word, lok dikwels kritiek uit. Tog is dit ’n belangrike simboliese platform wat ook vir die stel en handhawing van nuwe ideale, grense en uitsprake in internasionale regspleging verantwoordelik is.

Die uitspraak teen Ahmad al-Faqi al-Mahdi in September 2016 met betrekking tot die vernietiging van erfenisterreine in Mali is een voorbeeld van so ’n waterskeidingsaak. Erfenisterreinskendings raak toenemend ’n kenmerk van geweldpleging teen gemeenskappe en die internasionale strafhof was tot dusver die mees prominente instelling wat lynreg hierteen standpunt ingeneem en die kwessie in die internasionale kollig geplaas het. So verleen die hof ’n stem aan mense wat reeds alle regsremedies in hulle eie lande sonder sukses geraadpleeg het en vir wie geen ander opsies om geregtigheid te verkry, bestaan nie.

As sulks is dit die morele plig van ’n land soos Suid-Afrika om nie onkrities teenoor hierdie hof te staan nie, maar juis te help bou aan die onafhanklikheid en rekord daarvan. Onttrekking lewer geen bydrae, buiten om vraagtekens oor die ontrekkende land te laat hang nie. Alle Suid-Afrikaanse instellings wat sterk oor menseregte voel behoort dus insette in die verband te lewer om te probeer verseker dat die land wel deel van hierdie hof bly – dit is in nasionale en internasionale belang.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Alana Bailey

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Johny ·

Dit is maar tipies van leiers en lande wat wette verontagsaam en menseregte verontagsaam .Hulle voel vrede vir hulle mense se Regte wat beskerm moet word .Die Persoon of Persone doen dit net om hulle bas te red om nie vervolg te word nie Dan kan hulle die wette van n Land verontagsaam tot hulle voordeel met die wete dat hulle nie vervolg sal word deur die Internasionale Strafhof nie . Hitler se Offisiere is almal tot die Dood toe veroordeel en gehang deur die Internasionale strafhof.Ek sien dit so wat goed is vir die een is goed vir die ander een .Afrika kan nie uigesluit word sonder om vervolg te word vir hulle wandade teen die Mensdom nie.Zimbabwe se Leier moet ook nog voor Strafhof verskyn en Ander Afrika leiers en Verskeie leiers van Westerse lande en Verskeie leiers van Europa en Oosterse Lande .Sonder die Internasionale Strafhof is ons Almal gedoem .Verskeie Regters van Alle Lande neem Deel om te besluit of persoon of persone en Lande Skuldig is .HULLE IS ONPARTYDIG EN STAAN IN VIR DIE MENSDOM OM HULLE N REGVERDIGE KANS TE GEE TEEN DIE DIKTATORS VAN DIE WERELD .So ASB Suid Afrika doen die Regte stap en BLY By die INTERNASIONALE STRAFHOF.Suid Afrika se GELOOFWAARDIGHEID IS OP DIE SPEL. DANKIE

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.